Leesvordering:

Kersfees in Kanada

Des 11, 2019

Cathy Kotzé

Kersfees in Kanada is ’n betowerende belewenis! Kersvader woon nie verniet in die noorde van die land nie (aldus die Kanadese!) …

Boonop is Kanadese deur die bank Kersvader se helpers – veral as dit met die uitdeel van geskenke

te make het. Die woorde “’Tis the season for giving” word baie ernstig opgeneem. Die Heilsleër se Samaritaanse beurs lewer geskenkgevulde skoendose aan behoeftige kinders regoor die wêreld. Duisende Kanadese vul dié skoendose met speelgoed, skoolbehoeftes, lekkergoed, sepies, tandeborsels, waslappies en so meer wat sorgvuldig uitgesoek word. Lees meer oor dié projek: https://www.samaritanspurse.ca/pack-a-shoebox/?sc=SD19XDOCCS.Dis vir ons ’n fees om die winkels in te vaar en geskenkies uit te soek. Ons voeg gewoonlik ook ’n kort briefie en ’n gesinsfoto in elke skoendoos. Ek hou daarvan om ’n pakkie groentesaad vir elke kind se ma in te sluit.

Ek twyfel of Kersvader een kind in Kanada oorslaan. Elke inkopiesentrum spog met ’n speelgoedrit (of dan toy drive) en daar word gewoonlik berge splinternuwe speelgoed ingesamel.

’n Besoek aan Kersvader by ’n inkopiesentrum – hier praat hulle van die mall – is ’n groot geleentheid. Elke kleinding pryk in ’n splinternuwe Kersuitrusting wat versigtig uitgesoek is, want die foto saam met Kersvader moet perfek wees.

Huise word feestelik in liggies getooi. Alle huise het kragproppe aan die buitekant – spesiaal vir Kersliggies. Dit bly egter ’n vrek koue gedoente: Jou vingers voel gevries, jou neus wil afval, jou ore brand, maar jy string moedig honderde liggies aan die geute en in bome en struike.

Dan is daar min dinge wat Kersfees so tuisbring as ’n lewendige Kersboom in die huis. Die dennegeur is oral.

Ons het ’n paar Suid-Afrikaanse Kerstradisies met ons saamgebring. Ons kinders het altyd vir Kersvader ’n briefie geskryf en dit op die kaggel gelos nadat ek of my man dit eers gelees het om “te kyk vir spelfoute”. Die volgende dag was daar gewoonlik ’n antwoord van Kersvader af.

In Kanada word die briefie van Kersvader af deur een van sy elwe afgelewer en sy voetspoortjies is altyd duidelik in die blink groen elwesand wat “per abuis” op die kaggel gemors is.

Ek, my dogter en kleindogter bak steeds regte Suid-Afrikaanse Kerskoekies: Jan Smutstertjies, soetkoekies, koffiekoekies, Romany Creams …

Ons kuier gesellig in die kombuis saam, speel Kersmusiek en vul die huis met die heerlike geure van die varsgebak.

En dan, uiteindelik, is dit Oukersdag.

Die North American Aerospace Defense Command volg Kersvader se tog regoor die wêreld op hul webwerf by https://www.noradsanta.org/

Mens kan dit ook uit Suid-Afrika volg.

Toe ons kleindogter kleiner was, het sy ’n spesiale towersleutel van Kersvader gekry wat sy buite aan die voordeur gehang het. Nét hy kon dit gebruik om die deur oop te sluit.

In ons huis word Kersgeskenke op Kersoggend uitgedeel.

Ons Kersete is suiwer Suid-Afrikaans: skaapboud en ham, gebakte aartappels, skuimpatats, boontjies,  gemengde groente en soms Japie se gunsteling vir nagereg.

Ons het mettertyd geleer dat, hoewel Kersfees in Kanada min van die Christusverhaal behou het, die kern van Godsboodskap egter nooit verlore gegaan het nie. Groot Kersetes word vir werkloses, dwelmverslaafdes, bedelaars en straatmense gereël – en dis dikwels plaaslike politici wat agter die kospotte staan.

Elkeen by dié ete ontvang ’n geskenk, gewoonlik serpe, handskoene, kopmusse en toiletbenodigdhede. Voedselbanke het genoeg kos om aan behoeftiges uit te deel.

Kersfees is anders as in Suid-Afrika, maar die wonder daarvan leef voort.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest