Leesvordering:

Kersfees in my liggiestad…

Jan 9, 2019

Deur Charlene Breytenbach

So op Oukersaand sit ek op ons stoep en kyk terug op die laaste 10 jaar se Kersfeesvieringe. My ouers is in Suid-Afrika en my man se familie is in Nieu-Seeland. Ons probeer om oor die Kersseisoen by ’n familie te wees, maar dis nie altyd moontlik nie – vlugte is duur en verlof is soms min. Laasjaar was my eerste Kersfees in Suid-Afrika in 9 jaar. Vir sommige sal dit vreeslik wees om te dink hulle was 9 jaar laas saam met familie op Kersdag, maar ’n mens tel darem nie die jare af soos dae nie en dit gaan eintlik vinnig.

Kersfees in Suid-Afrika is almal by die see – Johannesburg/Gauteng is ’n spookstad. Die meeste maatskappye sluit en almal vat bietjie ’n tydjie af om by hul mense te wees.

So dalk wonder julle hoe Kersfees sal wees as jy nie in jou vaderland is nie:

Hier in Australië gaan die meeste families ook met vakansie en sluit meeste maatskappye vir die week tussen Kersfees en Nuwejaarsdag. Sydney is ’n gewilde stad so hier raak dit vreeslik besig. Baie toeriste kom kuier en geniet die groot en pragtige stad. Hier is so ’n lekker vibe – liggies is die hele stad vol, kore sing in die hoofstrate en Kersliedjies speel oral. Amper elke voorstad het ’n Kerskonsert in ’n parkie met ’n Kersvader, koor, kosstalletjies en vuurwerkvertonings om als af te sluit. Ons was dié jaar by Manly en dit was wonderlik. Daar is soveel aktiwiteite waaraan ’n mens kan deelneem en plekke om te sien. Te veel om te noem. Darling Harbour het elke Saterdagaand in Desember die mooiste vuurwerkvertonings. Daar is ook ’n hele paar strate waar die huise vreeslik mooi versier is en ’n mens kan rustig in die aand gaan stap en liggies kyk. Dis ook lekker om te sien hoeveel moeite die maatskappye hier doen. My maatskappy het ’n Kersvader gehad en vir elke kind ’n geskenkie gegee, waar ander maatskappye weer ’n familiedag by ’n park met klomp aktiwiteite aanbied.

Oukersdag is die meeste mense by vriende en famille; baie gaan strand toe of hou iewers piekniek. Baie mense geniet seekos gedurende die feesgety met “a prawn on the barbie”. ’n Ander gewilde opsie is ook ham of kalkoen met vars slaaie. Op Kersoggend sal sommige gaan draf of stap saam met hul klub of selfs saam met die res van die gemeenskap met ’n georganiseerde halfmarathon of 10 km-wedloop. Ander gaan kerk toe en spandeer tyd saam met familie en vriende. Die meeste winkels en restaurante is op Kersdag toe, maar die 26ste is die dag vir winkels – daar is baie groot uitverkopings op “Boxing Day”!

As dit jou eerste Kersfees buite Suid-Afrika is, kan dit dalk ’n donkerder tyd wees as wat ek hier verduidelik… Dan is jou meubels dalk nog op pad van Suid-Afrika af of jy het nog nie ’n kerk of drafklub gevind nie. Jy het dalk nog nie vriende ontmoet wat jy gemaklik is om oor te nooi nie… Ongelukkig selfs na 10 jaar van ver wees voel ’n mens steeds die eensaamheid as jy stil raak gedurende Kersfees. ’n Mens reflekteer op nog ’n jaar van oorwinnings en teleurstellings, met of sonder jou mense. Jy mis jou gunstelingstrand of -winkelsentrum, maar die grootste gat in jou hart is die mense.

Maar soms is jy gelukkig en bou jy met tyd vriendskappe wat soos familie voel. Jy kry vriendinne wat soos sussies raak of ander se ouers wat later soos jou ouers voel. Ander is weer gelukkig en hul families kom kuier oor Kerstyd of immigreer ook of miskien is daar goedkoop vlugte en verlof en sien jy jou gunstelingstrand, -winkel of -mense.

Dié jaar kyk ek terug met ’n dankbare hart! Ek is dankbaar vir so ’n pragtige stad met soveel geleenthede en soveel wonderlike mense. Ek is dankbaar vir vriendskappe – nuut en oud. Ek mis vriende nuut en oud, in Suid-Afrika en buite Suid-Afrika! Ek verlang na my familie maar ook is ek so dankbaar vir die voorreg wat ons laas jaar gehad het om saam met hulle te wees.

Ek is dankbaar vir ’n gesonde, geseënde jaar vol liefde en ek sien uit na wat 2019 inhou. Ek hoop julle het die stukkie van Australië geniet en dat julle ’n geseënde Kerstyd in Suid-Afrika sal hê. Mag 2019 vir almal ’n jaar van genesing, gesondheid, vrede en liefde wees!

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest