Kersfees kom vroeg in Amerika. Om die waarheid te sê, die dag ná Halloween. Net mooi op 1 November prop die Amerikaners die opblaasspoke in hul voortuine se elektriese verlengkoorde uit, blaas dit af en pak dit weg op die solder.

Dan sit hulle summier af winkel toe (so lyk dit vir my) en loop koop ’n Kersboom. Die winkeliers moet dit te wagte wees, want asof met ’n towerstaf is dit presies ook dan wanneer die eerste Kersbome in die winkels verskyn. Baie Amerikaners versier dan nog nie groot vir Kersfees nie, maar die boom word gekoop en party mense sal hom klaar opmaak ook.

Die eerste Sondag ná Halloween skuif die tyd in Amerika ook weer met een uur aan, want dan is dit die einde van dagligbesparingstyd (daylight savings time). Dit beteken dat jy een oggend nog in stikdonkerte opstaan, maar darem nog lig het as jy om vyfuur huis toe gaan. Die volgende dag is dit skielik baie ligter wanneer jy opstaan – maar o, wee, teen vyfuur is dit pikgitswartdonker. Gedoem-tot-depressie-donker.

’n Maand ná Halloween is dit tyd vir Thanksgiving; die Amerikaansste van al die feeste. Kalkoen, pampoentert en drankies met kaneel en naeltjies is stapelkos. In November gooi die Amerikaners pumpkin spice by alles – selfs rooibostee! Rooibostee kry ’n mens verbasend genoeg oral in Amerika te koop.

Dis die naweek ná Thanksgiving wanneer die Kersversierings regtig uitgepak word. Party mense doen moeite. As hulle ’n groot boom in hul voortuin het, sal hulle hul tuindienste vra om liggies tot in die boonste toppie te laat hang.

As jy ’n kind van Afrika is, bly dit egter vreemd om Kersfees met soveel donker en koue tegemoet te gaan. Dis dié tyd van die jaar wat jou vreemdelingskap die felste is; die tyd wanneer jy voel of Totius se gedig, “Die wêreld is ons woning nie”, in jou hart ingebrand is. Dit vat immers meer as rooibostee (met of sonder pumpkin spice!) om tuis te voel.

Geen wonder dat die mense van die koue en donker noorde ’n fees soos Kersfees – waarin lig so ’n groot rol speel – uitgedink het nie. Lig, en baie eet. Nou dat ons hier bly, kan ek begin insien hoekom mense elke Desember hul vuiste rebels teen die donker lug gebal het en (sonder om hulle aan die lang maande van koue wat nog voorlê te steur) ’n tamaai eterasie van stapel gestuur het.

“Die son sal weer terugkom,” moes hulle mekaar seker oor en oor verseker het terwyl hulle aan die kosbare wintervoorraad smul.

“Die son sal weer terugkom,” moes hulle geprewel het terwyl hulle gemesmeriseer na die vrolike vuur staar en hoop die hout hou tot April.

“Die son sal weer terugkom,” moes hulle die dag ná die fees gekreun het toe hulle met ’n babelaashoofpyn wakker word.

Sonhonger en bibberend van die koue het ons gesin ook tydens ons eerste Kersfees in Amerika desperaat na meer lig gaan soek.

Ek het sulke wonderlike herinneringe aan Kersliggies wat in Desember in Suid-Afrika se strate verskyn het. Ek kan ’n rit een Desember deur Adderleystraat in Kaapstad onthou. ’n Ander keer was daar die besoek aan Happy Valley in Port Elizabeth. Daar was die liggies op Germiston-meer en dié van Joubertpark in Johannesburg.

Toe my haarkapster hier in Amerika dus vertel van die liggieskouspel wat die Busch Gardens-pretpark elke jaar vir Kersfees aanbied, het ons summier na Williamsburg, Virginië – seker so vier uur van ons af – afgesit.

Soos altyd as een of ander gebeurtenis in Amerika gereël word, was daar derduisende mense. Ons monde het oopgehang oor hoe bedeesd Amerikaners kan toustaan: goedgemanierd en sonder om in te druk. Eers om met busse na die pretpark aangery te word, toe elke keer wat een ’n beurt op een van die wipwaritte wou hê, en dan weer elke keer wat ’n mens iets moes koop om te eet.

Oor die wipwaritte sal ek liewer so min as moontlik sê. Hierdie antie het nie meer die maag of die jare om in karretjies rond te jaag, regaf in skagte te val of onderstebo soos ’n vlermuis te hang nie!

Ek wil liewer vertel van die liggies. Wat ’n skouspel! Om elke hoek en draai begroet nog ’n boom jou, van kruin tot stam in derduisende wit of geel liggies getooi. Die geur van Glühwein hang in die lug en afhangende van die ‘land’ waarin jy jou in die park bevind, speel “O, holy night” of “Stille Nacht” of “Noël, Noël”.

Die hout Kersversierings wat in Switserland gemaak is, is so mooi dat ’n mens net wil kyk en kyk. Koop kan jy nie, nie eens met dollars in jou sak nie, want dis peperduur.

Kyk, dit ís Amerika en dit ís Kersfees, so eet is ’n groot deel van die ervaring. Daar is ’n groot eetforum, waar hamburgers (vanselfsprekend!) tot getrekte varkvleis (ons vertaling van pulled pork) en gekrummelde hoender (nou nie die kolonel se resep nie, maar steeds ’n groot Amerikaanse gunsteling) te koop is.

Ons sê altyd as ons moet sê wat Amerikaners se supertalent is, dit hul organisasievermoëns sou wees. Alhoewel die toue lang slange vorm, is die bediening verbasend flink en na ’n kwartier of so het jy jou kos en kan jy in die groot eetsaal gaan sit. Soos gewoonlik is dit selfbediening met plastiekborde en -koppies. Selfs jou wyn drink jy uit ’n plastiekglas.

In die eetsaal is daar ’n verhoog en omdat alle Amerikaanse kinders skynbaar aangebore akteurs en musikante is, sing en dans hulle tog te fraai op die maat van die meer feestelike Kersliedjies. Rudolf die rendier met sy rooi neus, We wish you a happy Christmas, Let it snow, let it snow …

Rooi en wit en plek-plek groen duik in dié kostuums op. Soms sing die eters tussen die happe hamburger lustig saam.

Maar dis die liggies buite wat ons lok. Op een plek is ’n hele waterval met liggies gebou. Laataand is daar ’n indrukwekkende vuurwerkvertoning. Ons staar verwonderd daarna, gô-uit, maar ons lighonger is bietjie gestil.

Toe ons terugry Maryland toe, sê ons nie vir mekaar: “Die son sal weer terugkom,” nie.

Wat ons dink, is: die Seun sal weer terugkom en ons saam neem na ons Ware Land toe. En … dalk is dit tog moontlik dat Hy Amerikaans ook verstaan!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Marisa Haasbroek
Marisa Haasbroek
Marisa Haasbroek is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer, maar ook ’n tuisskoolma wat weekliks in Afrikaans by oolfant.com blog. Om haar verlange na Afrikaans en Suid-Afrika te besweer, ontwikkel sy aanlyn kursusse oor Afrikaanse taalleer en hoe om in Afrikaans te skryf. Sy hoop om dit só vir Afrikaanssprekendes die wêreld oor makliker te maak om aan te hou om vir hulle kinders Afrikaans te leer. Sy glo kennis van Afrikaans bied vir ons kinders ’n venster op Europa, want as ’n mens Afrikaans kan lees, kan jy dan taamlik maklik ook Nederlands leer lees.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest