My naam is Guido Urlings, ’n 26-jarige oorspronklik van Sittard in Nederland, alhoewel ek tans in Centurion, Suid-Afrika bly. Toe Sue-Ann de Wet, projekkoördineerder van Wêreldwyd my vra om oor ’n tradisionele Kersfeesviering in die area waar ek groot geword het te skryf, het ek dadelik besluit om oor ons Kerstnachtrondgang te skryf. Alhoewel die tradisie nie so area-spesifiek of spesiaal is as wat Sue-Ann dalk sou wou hê nie, is dit onafskeidbaar gekoppel aan Kersfees soos ek dit geken het.

Die meeste dorpies en stede in die provinsie van Limburg het een of meer orkeste. Elke jaar op 24 Desember – Oukersaand – gee verskeie lede van hierdie orkeste hulle tyd saam met familie en vriende in ’n warm huis op om Kersliedere te speel deur die koue dorpies.

Anders as die res van Nederland, is die provinsie van Limburg meestal Katoliek. Afhangend van die gemeente en die priester se voorkeure, beteken dit dat daar ’n mis gehou word óf vroeg in die aand rondom 19:00, later in die aand rondom 23:00 óf op albei tye. In die geval van Nieuwstadt, waar ek vir verskeie jare deelgeneem het, was die mis om 19:00.

So teen 19:30 sal lede van die orkes buite die gemeenskapsaal begin byeenkom om hulle gereed te maak om die tuisgebonde kerkgangers met Kersmusiek buite die kerk te verwelkom. Daarna sal hulle ’n ietwat voorafbeplande roete deur die dorp volg, en stop by lukraak lamppale om Kersliedere vir waarderende gehore te speel. Sommige so waarderend inteendeel, dat ons gereeld begroet sou word met ’n ‘verwarmende’ alkoholiese verversing of versnapering.

Soos wat die aand sou vorder, so ook die alkoholinname, wat ’n effense invloed op die kwaliteit van die musiek sou hê, maar ’n taamlik opgewekte impak op die atmosfeer binne die groep. Behalwe vir die sporadiese spontane drankie of versnapering, sou nie-deelnemende orkeslede of vrywilligers ons weke vooruit nooi om hulle huise op daardie aand te besoek om te deel in hulle familie se Kersgees en om ons ’n plek te bied om droog te word in die geval van reën of om warm te word as dit te koud raak.

Rondom middernag, gewoonlik ná weerstand teen koue en reën, sal ons terugkeer na een van die lede se huis om die aand te bepeins. Hierdie bepeinsing sou dikwels tot wel in Kersdag duur, wat veroorsaak het dat die jonger musikante eers vir middagete op Kersdag aangesluit het, partymaal dalk met ’n effense hoofpyn…

Hierdie jaar, eerder as om die koue, reën of sneeu te trotseer, sal ek my eerste Kersfees in Suid-Afrika spandeer, dan eerder in ’n kortbroek en ’n t-hemp. Nietemin reken ek dat my gedagtes by daardie musikante by die huis sal wees, waar hulle Kersvreugde deur my provinsie versprei.

Guido Urlings

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest