Haar naam was Johanna van der Merwe en vir die meeste mense beteken dié naam vandag nie veel nie, maar as 12-jarige meisie wat die Groot Moord by Bloukrans in 1838 oorleef het, is Johanna (ook bekend as Hannie) van der Merwe en ander soos sy, helde wie se verhale onthou moet word.

Die gebeure wat tydens en ná die moord op Piet Retief en sy makkers afgespeel het, kan as van die onstuimigste tye vir die Voortrekkers beskou word. Nadat Retief op 6 Februarie vermoor is, het die Zoeloe-impi’s uitgetrek om die trekgeselskap ook aan te val. Die Trekkers het uitgespan by Bloukrans en ander plekke langs die Boesmansrivier. Hulle was rustig en het glad nie ’n aanval verwag nie en daarom was die trekgroepe ente uit mekaar langs die riviere.

Die historikus J.C. Visagie wat voorheen aan die departement geskiedenis by die Universiteit  Stellenbosch verbonde was, skryf in ’n insiggewende artikel in Beeld in September 2000 dat duisende Zoeloes in die vroeë oggendure van 17 Februarie 1838 “niksvermoedende gesinne aangeval en vermoor” het. Die aanval was onverwags en wreed en die ware omvang van die aanval, wat vandag ook as die Groot Moord bekend staan, het eers teen dagbreek vir die oorlewende Trekkers duidelik geword.

“Die gras het aanmekaar gekoek van die bloed wat vrylik gevloei het; die waens was verpletter of verbrand; die hele omgewing was wit van die vere van beddegoed wat stukkend gesny en uitgeskud is; babas is nog in die arms van hul moeders met assegaaie deurboor sodat die lyke aanmekaar vasgesit het,” skryf Visagie.

Ten spyte van die bitter hartseer tonele wat oorlewendes begroet het, was daar egter ook mense wat wonderbaarlik die aanval oorleef het. Hoewel bronne verskil, word daar gereken dat sowat 40 Voortrekkermans, 56 -vroue en 185 -kinders asook as meer as 200 bruin mense dié nag vermoor is. Een kind wat dié aanval oorleef het, was Johanna van der Merwe. (Een van die ander kinders wat die aanval oorleef het, was Catharina Prinsloo. Albei dogters was tussen 10 en 12 jaar oud.)

Johanna is die oggend ná die Groot Moord gevind waar sy onder die lyke van ander kinders gelê het. Sy self het nagenoeg 20 assegaaisteke opgedoen en oorleef deur die liggame van kinders wat reeds vermoor is oor haar te trek en onder die lyke te skuil! Erasmus Smit, ’n bekende Voortrekkerprediker, verwys op 22 Februarie 1838 in sy dagboek na Johanna. Hy het die gewondes wat die aanval oorleef het, besoek en skryf: “was bij ’n jong meisje, Vander Merwe, die wel 18 wonden heeft.”

In ’n studie oor Johanna se herkoms en voorouers wat in 2000 in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis verskyn het, skryf Gideon de Kock en Janet Melville oor ’n treffende ontmoeting wat Johanna jare later gehad het met die man wat haar ná die 1838-aanval gekry het:

In die herinneringe van Willem Jacobus Naude (gebore 1854.02.28), seun van Philip Jacob Naude (Jacob genoem) en Anna Elizabeth Sophia van der Bergh opgeteken toe hy 85 jaar was, vertel hy van die volgende gebeurtenis:

“Dit was na die Basoetoe-oorlog van 1865-66, ons was met die wa op die dorp (vermoedelik Bethlehem) vir kerk. My vader het by wa op ’n stoel gesit, daar kom toe ’n vrou met krukke aangeloop en vra ‘Waar is oom Jacob Naude?’ Iemand sê toe ‘Daar sit hy.’ Sy stap na hom, omhels hom en gee hom ’n soen. Die oubaas se oë het gerek en hy het die vrou verwonderd aangekyk. Sy sê toe onder ’n vloed van trane: ‘Oom Jacob, ken oom my nie meer nie? Ek is Johanna van der Merwe wat oom daar in Natal na die Bloukrans moord onder die lyke uitgehaal en so ver gedra het na die ander laer. Ek kom oom nogmaals bedank vir wat u vir my gedoen het, want ek het my lewe aan u te danke.’ Hierdie gebeurtenis het ek self aanskou, dit was ’n hartroerende toneel.”

Johanna was tot haar dood mank as gevolg van die aanval en is as ’n ware heldin onthou.  Een van die gedenkwaens van die 1938-trek is na haar vernoem en later selfs ’n duikboot van die Suid-Afrikaanse vloot.

Johanna is in 1888 oorlede, ná ’n lang en vol lewe. Daar het reeds 182 jaar verloop sedert dié hartseer aanval wat haar naam in die geskiedenisboeke verewig het. Die duikboot, die SAS Johanna van der Merwe, is ondertussen herbenoem na die SAS Assegaai. Tyd en omstandighede kon dalk haar verhaal vervaag, maar die dapperheid van ’n 12-jarige dogtertjie mag nooit vergeet word nie!

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest