As ek terugkyk op my beroepslewe, dan is klasgee in Thailand sekerlik die moeilikste werk wat ek nog ooit gedoen het. Ek sal later verder hierop uitbrei.

In hierdie artikel gaan ek ligtelik met die woord onderwyser om. Die meeste van die Westerlinge wat Engels in die skole gee, is nie gekwalifiseerde onderwysers nie. Soos in my vorige artikel genoem, is dit gewens om die basiese TEFL-sertifikaat te bekom sodat jy suksesvol in die klaskamer kan wees. Persone met onderwysgrade gaan in die toekoms beslis voorkeur kry, aangesien die huidige regering al die departemente ondersoek, korrupsie probeer uitroei en poog om ernstige probleme op te los.

Baie jongmense kom Thailand toe en werk in skole om vir hulle vakansie hier te betaal. Die probleem is dat die meeste van hulle nie besef wat die implikasie is van hulle houding teenoor die werk wat hulle doen (of nie doen) nie. As sogenaamde onderwysers kom en gaan of nie omgee vir die kinders vir wie hulle probeer Engels leer nie, ly die studente skade. Vir die meeste van die Thaise studente is die enigste kontak wat hulle met Engels het deur middel van die tydelike buitelandse onderwysers by hulle skole. Sommige van hierdie “onderwysers” is maar negentien of twintig, het geen lewenservaring nie en is by die skole net vir die geld. In baie gevalle is jeugdigheid en voorkoms die enigste “vereistes” vir hulle aanstelling. Die kinders weet baie keer uit ondervinding dat hul onderwysers nie gaan bly nie en is dan ook nie baie gewillig om na die onderwyser te luister wat op die oomblik in hulle klaskamer is nie.

Dit is maar hoe dit werk in die meeste Engelse klaskamers in Thailand. Ek kan nog baie meer sê oor die onderwysdepartement en die Thaise kultuur se houding teenoor Westerse invloed op Thailand en in die klaskamers, maar julle sal verstaan dat ek weens die huidige politieke situasie nie daaroor kan uitbrei nie.

Lees ook: Hoe om ‘n Engelse onderwyser in Thailand te word

Enige buitelander wat op hierdie stadium in Thailand Engels in skole gee, sal kan vertel hoe moeilik dit is. In die meeste staatskole is daar geen motivering om Engels te leer nie en dit is ʼn konstante oorlog in die klaskamers om studente te kry om te luister. In staatskolleges hoef die studente nie eens by jou klaskamer op te daag nie al betaal hulle ouers baie geld ekstra vir hierdie klasse.

In internasionale Engelse programme soos die een waarin ek by ʼn privaat skool werk, is die situasie ʼn bietjie anders, maar die stresvlakke bly baie hoog. ʼn Privaat skool hier is nie dieselfde as in Suid-Afrika nie. Dit is uit en uit ʼn besigheid. Die direkteur van só ʼn skool hoef nie ʼn opvoedkundige te wees nie; daar word van hom/haar verwag om die aandeelhouers gelukkig te hou.

Die grootste probleem wat ons ondervind, is dat Thaise onderwysers bitter min verdien, ongeveer 15 000 Baht (R5 000) per maand. Westerse buitelanders wat Engels gee, verdien vanaf 28 000 Baht (ongeveer R9 500) tot 35 000 Baht (R11 700) per maand. Gekwalifiseerde onderwysers verdien baie meer en sommige internasionale skole betaal veel meer as die gewone skole. Thaise onderwysers beskou buitelanders dus in ʼn negatiewe lig.

Ander probleme wat ons ondervind, is die konstante rugstekery van ander Westerse persone wat saam met ons werk. Dit veroorsaak dat baie buitelanders (soms goeie onderwysers) hulle werk onregverdig verloor en dat hulle niks daaraan kan doen nie.

Dit lei ons na die volgende probleem – kontrakte in Thailand is nie die papier werd waarop hulle geskryf is nie. Kontrakte word baie eensydig opgestel met geen beskerming vir die werknemer nie. Sake kan verder vererger indien jy deur middel van ʼn agentskap by ʼn skool aangestel word. Baie agente is gewetenloos en stel glad nie in jou as persoon belang nie, net in die bedrae wat hulle elke maand kan in. Kontrakte is bysaak.

Die probleme wat ons hier in Thailand ondervind, is baie kompleks en kan nie in ʼn kort artikel sinvol bespreek word nie.

Ons word baie gevra hoekom ons die werk nog doen. Die antwoord is eenvoudig: Ons moet werk en ons dra die kinders se belange op die hart. Daarom is dit vir ons so moeilik as die “backpackers” inkom en om selfsugtige redes die werk kom doen, maar niks vir die studente en hulle omstandighede omgee nie.

As ʼn mens die samewerking van die direkteur (skoolhoof) van ʼn skool en sy personeel het, sal jy lekker werk, andersins is dit baie moeilik. Dit is gewoonlik ʼn situasie van ʼn toe bek is ʼn heel bek; stilbly is die beste.

Om die lesse te gee, is nie moeilik nie, maar ek voel ʼn mens moet darem ʼn bietjie lewenservaring hê. Ons is meer as net onderwysers. Die kinders in Thailand word onder baie, baie moeilike omstandighede groot en ʼn onderwyser sonder empatie kan ʼn verdere negatiewe invloed op probleemstudente hê.

Een voorbeeld van só ʼn kind was verlede jaar in my klaskamer. Hy was toe vyf jaar oud. Die een onderwyser het hom as dom, onnosel en onopleibaar beskou. Ek was hierdie kind se klasonderwyser en het gou-gou besef dat daar ʼn slim jongman onder daardie lagie stoutigheid skuil. Deur middel van my Filippynse assistent het ek uitgevind hy is ʼn alleenkind en gewoond om sy sin te kry. Hy is ook Chinees, wat vooroorsaak dat hy goeie skoot eiesinnigheid het. Ons het hom eenkant laat sit en hom kans gegee om sy take op sy eie te voltooi, maar nie spesiale aandag aan hom gegee nie. Hy het ook, nes sy klasmaats, spesifieke take in die klas verrig, soos om die witbord skoon te maak. Hy is nie toegelaat om stilstuipe te kry nie. Mettertyd het hy begin aanpas in die klaskamer, geleer om te deel en hoe om met die ander kinders om te gaan. Die uiteinde? Hy het een van die topleerlinge in die Kindergarten 3-groep geword en is aan die einde van verlede jaar by ʼn baie goeie internasionale skool in Bangkok aanvaar.

Nou ja, nou het ek julle ʼn dieper kykie gegee in hoe dit is om hier skool te hou. By ʼn volgende geleentheid sal ek julle ʼn kykie gee in wat elke dag in ons klaskamers gebeur.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest