Leesvordering:

Korter belastingindieningstydperk sal druk op belastingbetalers plaas

Mei 28, 2018

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangedui dat die belastingindieningstydperk hierdie jaar drie weke korter sal wees om hulle meer tyd te gee om inligting wat aan hulle verskaf is te verifieer en oudits af te handel. Volgens die SAID-webtuiste is die sperdatum vir elektroniese indiening van belastingopgawes deur belastingbetalers wat nie vir voorlopige belasting geregistreer is nie, na 31 Oktober vervroeg in plaas van die laaste week in November.

Barendine Duvenhage, besturende vennoot by NomadIQs, sê Suid-Afrikaanse belastingbetalers wat in die buiteland werksaam is, kan onder meer druk as voorheen wees om bewys te lewer dat hulle in die buitelandse jurisdiksie belasting betaal het. Om belasting op buitelandse inkomste in Suid-Afrika te vermy, moet belastingbetalers (veral mense met korttermynopdragte) krediet eis vir belasting wat in die buiteland betaal is. “Om die belastingkrediet te eis, moet jy bewys lewer dat belasting betaal is en nie in die ander land verhaalbaar is nie. Dié bewys is gewoonlik ’n aanslag wat deur die buitelandse inkomste-owerheid uitgereik is.” Sonder dié bewys sal die SAID nie ’n aftrekking toestaan nie en die Suid-Afrikaner sal óf in Suid-Afrika weer belasting moet betaal en wag vir ’n terugbetaling óf aansoek doen om uitstel van betaling om boetes en rente te vermy terwyl hy vir die nodige dokumentasie wag.

Duvenhage, ook ’n lid van die persoonlikebelastingwerkgroep van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters, sê belastingbetalers kan hul opgawe indien voordat hulle bewys ontvang. Die belastingbetaler sal ’n paar dae hê om dokumente in te dien nadat die SAID vir ondersteunende dokumentasie vir die eis gevra het. “Net soos ons nie die SAID met die finalisering van ’n aanslag kan aanjaag nie, kan ons ook nie om die SAID tevrede te stel ’n buitelandse regering aanjaag om bewys te lewer dat belasting betaal is nie.” Sy sê probleme met die eis van belastingkrediete is nie nuut nie. Die probleem kan egter deur die korter indieningstydperk vererger word. “In baie gevalle verskil ons belastingjaar van die belastingjaar in buitelandse jurisdiksies, wat ’n tydsverskil veroorsaak. Hoe korter die belastingindieningstydperk is, hoe meer druk sal daar op die belastingbetaler wees,” sê sy.

Duvenhage sê belastingbetalers wat nie betyds bewys kan lewer nie, sal moontlik beswaar moet aanteken en aansoek doen om uitstel van betaling terwyl hulle vir die bewys wag dat hulle in die buitelandse jurisdiksie belasting betaal het. Dit gaan ’n bykomende administratiewe las en moontlike koste meebring. Sy sê die SAID se elektroniese liasseringstelsel (eFiling) is van die beste ter wêreld en sy beveel aan dat belastingbetalers wat nog nie vir eFiling geregistreer het nie dit so gou as moontlik doen.

Indien die voorgestelde nuwe sperdatums vir die indieningstydperk aanvaar word, moet mense wat nie vir eFiling geregistreer is nie hul opgawes teen 21 September indien. “Daar is geen rede waarom belastingbetalers nie hul opgawes vroeër kan indien nie,” sê sy. Hulle maak egter op hul werkgewers staat om hul belastingsertifikate (IRP5’e) betyds en sonder foute uit te reik en op hul mediesefonds- en finansiële maatskappye vir bydraesertifikate. As belastingbetalers in besit is van ondersteunende dokumente wat hul inkomste en uitgawes toon, is daar geen rede om die indiening van opgawes uit te stel nie. “Suid-Afrikaanse belastingbetalers behoort meer bewus te wees van hul belastingverpligtinge en hulle moet ’n poging aanwend om opgawes vroeër eerder as later in te dien.” Beslastingbetalers wat die SAID wil besoek om hulp te vra met die indiening van hul opgawes, moet dit so gou as moontlik doen. Hoe nader die sperdatum kom, hoe besiger raak SAID-takkantore en -inbelsentrums.

Duvenhage raai belastingbetalers aan om te sorg dat al hul ondersteunende dokumente in ’n formaat is wat vir die SAID aanvaarbaar is. Mediese- en banksertifikate word dikwels met wagwoorde beskerm en kan nie opgelaai word voordat die wagwoord verwyder is nie.

Voorlopige belastingbetalers wie se belastingaangeleenthede meer kompleks is en wat meer as een inkomstestroom het – soos huur- of rente-inkomste – het nog tot einde Januarie om hul opgawes in te dien.

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest