Leesvordering:

Kuala Lumpur: Van Petronas-tweelingtorings na Heli Lounge Bar

Jul 15, 2020

Wat om in Kuala Lumpur, Maleisië te sien, eet, drink en doen

Met enkele van Suidoos-Asië se beste besienswaardighede, kos, en drankies, is Kuala Lumpur (KL) verreweg een van die opwindendste stede om te besoek. In hierdie reeks kry jy al die inligting wat jy nodig het om na die gewildste trekpleisters in Kuala Lumpur te gaan kyk asook oor die lekkerste wat jy daar kan eet, drink en doen – en nog ‘n paar topwenke ook.

Bewonder die Petronas-tweelingtorings

Die Petronas-tweelingtorings wat Kuala Lumpur se stadsbeeld oorheers, is waarskynlik die bekendste besienswaardigheid in die stad en beslis een van dié wat die meeste besoekers lok. Die torings is in 1996 voltooi en het in 1999 vir die publiek geopen. Dit is 451,9 m hoog, het 88 verdiepings en is verreweg die hoogste geboue in Kuala Lumpur. Dit was ook die hoogste ter wêreld tot in 2004 toe die 509,2 m hoë Taipei 101-gebou voltooi is. Die Petronas is egter steeds die hoogste tweelingtorings ter wêreld en dit is waarlik een van Kuala Lumpur se ikone.

As wolkekrabbers jou fassineer, of as jy ‘n mooi foto van die KL-silhoeët wil neem, gaan op ‘n toer deur die beroemde torings. Die toere is goed georganiseerd; alle besoekers moet kleurgekodeerde koorde om die nek dra om seker te maak elkeen bly by die regte groep en hou by die toerskedule. Nadat jy jou vooraf bespreekte kaartjie gekry het, sal jy met behulp van ‘n hologram ingelig word oor veiligheidsprosedures in die gebou. Daarna word jy met ‘n groot hysbak geneem na die SkyBridge wat die twee torings op die 41ste en 42ste verdieping verbind. Die SkyBridge hang 170 m bo die grond en is ‘n uitstekende plek om foto’s te neem met die stad in die agtergrond. Maar jy moet gou maak, want jy kan net omtrent tien minute op die ingeslote brug spandeer.

Hierna gaan jy met die hysbak na die 88ste verdieping waar jy op die 88ste verdieping op die uitkykdek kan rondloop. Dit bied ‘n fantastiese 360°-uitsig oor Kuala Lumpur en op ‘n helder dag kan ‘n mens kilometers ver sien. Na 15 minute word jy teruggeneem na die hysbak en die toer eindig in die geskenkwinkel waar jy na hartelus peperduur aandenkings kan koop.

Die hele toer duur ongeveer 45 minute en ‘n kaartjie vir ‘n volwassene kos ongeveer R320. Die Petronas-torings is van Dinsdag tot Sondag tussen 09:00 en 21:00, oop maar is op Vrydae tussen 13:00 en 14:30 gesluit. Jy kan die beskikbare tye op die Petronas-torings se webwerf nagaan en vooraf kaartjies bespreek vir ‘n toer deur die torings.

As jy die torings liewer van die grond af wil bekyk, gaan na die fonteine buite die Suria KLCC-winkelsentrum op die Petronas-torings se grondverdieping. Die uitsig is veral saans skouspelagtig; wees dus voorbereid op skares selfienemers. Maak seker jy vat ‘n wyehoeklens saam sodat jy die beroemde torings in geheel onder skoot kan kry, of koop ‘n lens by een van die vele smouse wat daar rondhang. Die pragtige KLCC-park, nog een van die stad se groot trekpleisters, bied ook ‘n wonderlike uitsig oor die Petronas-torings.

Gaan stap in die KLCC-park

Die welige, lowergroen tropiese KLCC-park is in skrille kontras met die stad se grys geboue en swart paaie. Dit is gewild onder beide inwoners en besoekers en almal geniet dit om soms daarheen te ontvlug. Die park is in 1998 onder die waaksame oog van die Brasiliaanse argitek Roberto Burle Marx gebou om “die wêreld op te voed en sensitiewer te maak vir die belangrikheid van die natuur”.

Die park is een van die voorste groen plekke in die besige stad. Baie van die ryk, diverse flora waarvoor Maleisië bekend is, is te siene in dié park wat subtiele veldtogte loods vir die bewaring van die land se biodiversiteit. Meer as 1 900 inheemse bome van 74 verskillende spesies, waaronder 66 verskillende palmspesies, is doelbewus in die park geplant om voëls te lok. ‘n Mens hoor die inheemse voëls en trekvoëls, soos die Asiatiese koekoek, die hele park vol sing.

Sit gerus drie tot vier uur opsy om die park behoorlik te verken terwyl jy in Kuala Lumpur is. Al is dit net ‘n bietjie groter as 50 hektaar, is daar vele pragtuine en mensgemaakte elemente om te ontdek en geniet – alles heeltemal gratis. As jy ‘n drawwer is, toets gerus die gewilde 1,3 km lange drafbaan. En as jy kinders by jou het, is die reusekinderpark en openbare swembad ‘n moet; dit is ook alles gratis.

Afgesien van die bome, tuine, uitgestrekte grasperke, kinderpark en swembad, is daar ook ‘n enorme mensgemaakte meer van 10 000 m² met ‘n 43 m lange brug oor. Voor die Petronas-torings by die meer, met die gepaste naam Simfonie-meer, word daagliks om 20:00, 21:00 en 22:00 lig- en musiekvertonings aangebied. Sorg dus dat jy in die aand ook deur die park stap.

Moet liewer nie in die KLCC-park rook nie. Rook is verbode in openbare plekke in Maleisië, en van 1 Junie 2019 af kan enigiemand wat in ‘n openbare plek soos die park rook ‘n maksimum boete van bykans R40 000 of tot twee jaar gevangenisstraf opgelê word. Dit sluit vape en e-sigarette in; wees baie dus versigtig.

Geniet drankies in die Heli Lounge Bar

‘n Yskoue skemerkelkie in ‘n byderwetse dakkroeg moet op almal se reislysie wees. In Kuala Lumpur kan jy regtig uit die bestes kies, want die stad huisves van Asië se beste dakkroeë. Die een wat egter bo al die ander uittroon, Heli Lounge Bar.

Die Heli Lounge Bar is in die Menara KH-gebou in die gewilde Bukit Bintang-distrik in Kuala Lumpur geleë. Bedags word die 36ste verdieping as ‘n landingstrook vir helikopters gebruik. Van Maandag tot Saterdag om 18:00 word dit egter omskep in ‘n fantastiese skemerkroeg. Omdat ingeligtes dit probeer geheim hou, is dit moeilik om inligting oor die Heli Lounge Bar te bekom, om nie praat van om die plek op te spoor nie. Maar hier het jy nou die scoop!

Die Heli Lounge Bar het twee aparte vlakke – ‘n nagklub op die 34ste verdieping en die kroeg op die 36ste verdieping. As jy ‘n tafel wil hê, moet jy sorg dat jy teen 17:00 daar is. Dit is ‘n uiters gewilde plek en jy moet bereid wees om amper te baklei vir ‘n stoel. Gaan met die hysbak in die gebou na die 34ste verdieping waar jy kan betaal. Die nagklub met sy lugvaarttema maak stiptelik 17:00 oop. Die kroeg se toegangsfooi is ongeveer R200, maar dit sluit jou eerste drankie in; ek beveel die lietsjie-Martini ten sterkste aan. Dan moet jy tot 18:00 wag om teen die steil trappe op te klim tot by die beroemde kroeg op die 36ste verdieping.

Op die landingstrook is daar baie plastiektafels en -stoele en ‘n paar sagte banke waarop jy kan sit as jy vinnig en entoesiasties genoeg is. Kelners neem bestellings vir drankies en versnaperinge en jy kan ontspan op maat van die DJ se koel dansmusiek. Dit alles is natuurlik baie lekker, maar die eintlike rede waarom jy na die Heli Lounge Bar moet gaan, is vir die uitsig. Van die langdingstrook op die 36ste verdieping af het jy ‘n ononderbroke 360°-uitsig oor die hele Kuala Lumpur. Dit is verreweg die beste plek in die hele stad om die sonsondergang te bewonder.

As jy net ‘n paar drankies en die sonsondergang wil geniet, is gemaklike klere soos ‘n kortbroek en oop sandale piekfyn. Na 21:00 is die kroeg egter formeel en moet jy gepas aangetrek wees; mans moet dan langbroeke en formele skoene dra.

Lees ook: Kuala Lumpur: Tempels en grotte

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest