Leesvordering:

Lesse uit ’n rooi “UK”-gazebo

Aug 3, 2021

deur Maxie Heppell

Hoe moeilik kan dit nou wees? Ek hét mos al ’n gazebo opgeslaan?
Maar nie ’n “UK”-gazebo nie…

Dit kom hier aan in twee bokse en ek kan voel ek sal my spiere moet wys. Die raam voel stewig, maar van aanwysings is daar nie regtig sprake nie. Die oortrektentbedryf is ’n mooi rooi en van ’n veel beter gehalte as wat ek verwag het.
Dit is ’n goeie begin!

Raam staangemaak, nou moet dit konsertinagewys uitmekaar getrek word, sodat die middelpen optrek boontoe vir die dak se nok. Gelukkig is ons twee, so dit behoort maklik te wees as ons elkeen op ’n teenoorgestelde hoek vasvat.

Die kant toe en daai kant toe, maar not-a-wiel. Daardie middelpen bly net in een posisie. Spring toe maar self in en druk hom boontoe en dit bly daar… Yes!

Vier hoeke maksimaal gestrek en al die vashouknoppies op hulle plek, kan die dak opgesit word en die vier mure ook.

Perfek!

Nou vir die afslaan … oh, boy.

Daardie pen wat nie wou op nie, wil nou nie af nie. En as die pen nie af nie, wil die vier hoeke van die raam ook nie weer plat konsertina nie.

As ons dan die pen met geweld moes opdruk, moet ons dit seker maar net weer met geweld aftrek ook.

En binne tien minute sit ons met ’n raam wat so gebuig is dat dit vir niks en geen niemand weer iets sal beteken nie.

Epic fail.

Op die foon na die vervaardiger. Sal hulle dalk die raam kan terugvat en regbuig, dalk ’n goeie aantal van die parte vervang, sodat ons weer kan probeer? Die antwoord: as daardie middelpen aanvanklik halstarrig was, was dit tien teen een ’n fabrieksfout – so hulle stuur ’n nuwe raam.

Tweede kans!

Hierdie keer is versigtigheid en ’n sagte hand ons padkaart…  En voila!
Alles werk!!

Dit is alles goed en wel wanneer ons twee is, maar so gebeur dit – en gaan dit nou al hoe meer gebeur – dat ek verder van die huis af en alleen hierdie gazebo moet opslaan.

Onmoontlik, dink ek.
Daar is nie ’n manier nie.

Maar ek vat ’n kans op Youtube: “How to set up a gazebo by yourself”. Die skeptisisme staan in hoofletters oor my dierbare man se gesig geskryf, maar hy sê niks.

Kan jy glo… Nie net kry ek ’n video met die titel “Putting up a gazebo on your own” nie, maar dit is ’n trotse Suid-Afrikaner wat hierdie girl kom wys hoe – met ’n Proudly South African Sasol-gazebo, nogal so ewe!

Saterdagoggend vroegdag is my karretjie vol gelaai en suiker ek vol moed dorp-uit, op pad om my nuutgevonde vaardigheid te beproef.

Skaars daar aangekom kan ek met groot brawade vir manlief laat weet: “It went really well! All set up, first samples handed out!”

Nie bíétjie tevrede met myself nie.

Laat namiddag word dit tyd vir oppak. Soos manlief my laat opsê het: doen alles net in reverse. En daar dop ek die toets.

Gelukkig was hierdie geleentheid nie te ver van die huis nie en ek laat vaar my probeerslae om my man by die huis te gaan oplaai. Nou moet hy help! Maar al die pad huis toe kasty ek myself. Vir hierdie grappie is daar beslis nie ekstra geld nie. Ek het dalk regtig iets verkeerd gedoen, en my gedagtes gaan op loop.

Ons sal die raam net daar waar hy nou is op ’n manier moet staanmaak om tot Maandag daar te bly, sodat ek iemand van die vervaardiger se tegniese span op ’n video-oproep kan kry om my te verduidelik hoe om hierdie hele staalpetalje weer in sy sakkie te kry.

Ek raak sommer weer moeg, net om daaraan te dink.

Stert tussen die bene laai ek my sterker helfte op en op pad terug het ek tyd om hom stap-vir-stap te vertel van my proses. Met groot liefde en sensitiwiteit probeer hy uitvis of ek onthou het om die plan van agter af vorentoe te herhaal. Ek was so seker ek het.

Daar by die verlate gazebogeraamte gekom, vat dit hom net vyf minute om vas te stel wat sy dierbare vroutjie verkeerd gedoen het, en tien minute later is ons terug op pad en stap hy by die huis in nés die Groot Rugby afskop.

In vyf minute het hy soos ’n ware heer my hand gevat en my bo-oor die modderpoel gehelp wat veronderstel was om my spierwit bruidskleed modderbruin te maak.

Ek was so dankbaar al die pad terug huistoe, want as ek moet eerlik wees – ek het geen manier gesien waarop ons hierdie tweede raam sou kon red nie. Na my mening sou dit net so vinnig op die ashoop beland as sy voorganger.

But the gazebo was intact, my pride cut down to size.

En vandag dink al heeldag daaraan of daar nie ‘n les vir my in te leer was nie …

  1. Hoe sou ek geweet het of ek ’n gazebo kan opslaan, as ek nooit ’n gazebo moes opslaan nie?
  2. Soms is die aanwysings nie baie duidelik nie.
  3. Soms is dit nie ek nie. Soms is daar ’n fabrieksfout.
  4. Soms is dit ek. Maar ek kry altyd weer ’n kans.

Hoe sou ek geweet het of ek geloof het wat hierdie berg kon uitklim, as ek nooit hierdie berg moes uitklim nie?

Soms sal my grootste, diepste en innigste geloof níé die berg skuif nie. Soms is die Here se plan dat ek bo-oor moet gaan.

Soms doen ek dit verkeerd, maar wanneer ek dit erken, sal Hy my nog ’n kans gee.

Hy toets my nie uit spytigheid nie, maar uit liefde.

Soms kry ek dit weer verkeerd.
Steeds los Hy my nie.
Steeds stap Hy nie weg nie.

Soms stuur Hy hulp, maar dit vra van my ’n leergierige en nederige gees.
Met geweld is baie dinge al op baie plekke afgebreek.

Vanaand is my hart so dankbaar dat ons Vader regtig ’n Vader van genade en liefde is.
Hy leer ons so mooi deur al die skynbaar simpel alledaagse krisisse hoe om waarlik op Hom te vertrou wanneer die vloedwater oral om ons is en ons geen land sien nie.

Hy sal ons nooit los nie.

“Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie.
Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid.
Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal.
Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin.
Moenie dink dat dit is omdat julle so goed is nie.
Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien,
is julle uit die kloue van die sonde gered.
Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n.
Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel.
Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie.
Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie.
Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het.”
Efesiërs 2:4 Die Boodskap

“For if I’d never had a problem,
how would I know my God could solve them?”

Jou temalied vir die week: Only there
https://www.youtube.com/watch?v=BppKOFLig2w&ab_channel=ShaneandShane

(Ook beskikbaar as stemboodskap op Whatsapp. Kontak my gerus hier.)

 

LEES OOK: Die lewe in Engeland – Deel 4

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest