Die meeste lande het ’n weerhoudingsbelasting op dividende wat in die hande van die aandeelhouer belas word. Die koers van belasting op dividende wat teruggehou word, kan in sommige gevalle tot 35% wees.

Dubbelbelastingooreenkomste maak egter voorsiening vir ’n laer koers as die amptelike koers van die land waar die dividend uitgereik word. In die meeste gevalle is die maksimum weerhoudingsbelastingkoers 15%, maar dit kan so laag soos 5% wees.

Dubbelbelastingooreenkomste is gewoonlik daarop gemik om belastingreëls te verslap ten einde handel en belegging tussen lande te stimuleer, en hoewel hierdie verdrae tweesydig beding word, bly dit onderhewig aan verskillende vertolkings.

Die verdrag tussen Suid-Afrika en Nederland het vanjaar in albei lande in die hof gaan draai, hoofsaaklik om te bepaal wanneer ’n land toegelaat word om dividendbelasting terug te hou wanneer maatskappye dividende aan maatskappye met buitelandse aandeelhouers betaal.

Ari Davidowitz, besturende direkteur van WTax, wat daarin spesialiseer om terugbetalings van weerhoudingsbelasting vir individue, batebestuurders en pensioenfondse te kry, sê in baie gevalle hou belastingowerhede belasting teen hulle land se amptelike koers terug in plaas van die koers waarvoor die dubbelbelastingverdrag voorsiening maak.

Hy verwys na Richemont, ’n weeldegoederebeheermaatskappy wat in Switserland gebaseer is. Suid-Afrikaners met direkte aandeelhouding in Richemont het gevind dat 35% van hulle dividende deur die Switserse belastingowerheid teruggehou word ten spyte van die dubbelbelastingooreenkoms tussen die twee lande wat vir ’n dividendweerhoudingbelasting van 15% voorsiening maak.

In Frankryk is die weerhoudingsbelastingkoers 30%, maar die dubbelbelastingooreenkoms met Suid-Afrika stel die koers op 15%.

Davidowitz sê baie persone laat dit maar daar as gevolg van die omslagtige en ingewikkelde proses wat gevolg moet word om terugbetaling te eis van die oormatige bedrag dividendbelasting wat teruggehou is.

Groot maatskappye het gewoonlik wel eisvorms op hul webtuistes, maar dit kan moeilik wees om die regte vorms te kry. Baie van die vorms is in die taal van die land waarin jy belê.

Keith Engel, HUB van die Suid-Afrikaanse Instituut van Belastingberoepslui, sê die ideaal sal wees om regstreeks met die buitelandse maatskappy te skakel en seker te maak dat die regte bedrag belasting (ooreenkomstig die verdrag) teruggehou word.

“Die bewyslas van die verdrag is op die belegger, en as ’n maatskappy nie weet van watter land die belegger is nie, word die verstekbedrag teruggehou.”

Osman Mollagee, internasionale belastingvennoot by PwC, verduidelik dat Suid-Afrika eers in 2012 ’n dividendweerhoudingsbelasting gekry het. Die land se dubbelbelastingooreenkomste het dus nie daarvoor voorsiening gemaak nie.

Voor implementering in 2012 moes al die bestaande verdrae – ongeveer 80 –herbeding word om voorsiening te maak vir ’n weerhoudingsbelasting op dividende wanneer daar ’n vloei tussen die verdraglande is.

Mollagee sê die Suid-Afrikaanse regering is onwillig om ’n weerhoudingskoers van nul persent toe te laat. “Ons basiese reël is 20% (aanvanklik 15%) weerhoudingsbelasting, en die toegeeflikste koers is 5%.”

Op die oomblik is daar net een land – Koeweit – met wie Suid-Afrika sy verdrag herbeding het wat steeds direk kwalifiseer vir die nulkoers weerhoudingsbelasting op dividende. Die verdrag is nog nie bekragtig nie sedert dit ongeveer vyf jaar gelede onderteken is.

Die hofsake in Suid-Afrika en Nederland laat egter die kollig val op die “mees-begunstigde-nasie”-konsep. Die verdrae tussen twee ander lande – Swede en Nederland – maak nie vir belastingvrystelling op dividendbetalings voorsiening nie, maar hulle het die mees-begunstigde-nasie-klousule in hulle verdrae met Suid-Afrika.

“Dit is basies ’n verdragbepaling waar die verdraglande ooreenkom dat hulle oor die verdragbepalings onderhandel en ooreengekom het, maar as een land (Suid-Afrika, Swede of Nederland) vir ’n ander land ’n beter bedeling gee, wil hulle ook daardie beter bedeling hê,” sê Mollagee.

Omdat Koeweit die beter bedeling met die dividendweerhoudingskoers het, dring Swede en Nederland ook op die beter bedeling aan.

Engel sê die Koeweit-verdrag met die nulkoers is op sigself van weinig belang, vandaar die gebrek aan dringendheid vir verandering. “’n Mees-begunstigde-nasie-klousule in die verdrag met Nederland – saam met die Sweedse verdrag – het egter dodelik geword vir Suid-Afrika as gevolg van die potensieel groot uitvloei,” sê Engel.

Davidowitz se raad vir Suid-Afrikaners wat internasionaal belê, is om bewus te wees van weerhoudingsbelasting, wat die koers is van die dubbelbelastingverdrag tussen Suid-Afrika en die land waarin hulle belê, wat die amptelike weerhoudingsbelastingkoers in die beleggingsland is en wat werklik teruggehou word.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Amanda Visser
Amanda Visser
Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest