Leesvordering:

Lughawens is storiefabrieke

Jan 26, 2022

Deur dr. Sulette Ferreira

“Laaste stap op Stilbaai se strand”. Op pad na die lughawe dink ek weer aan die foto wat jy op Instagram geplaas het, van ons twee op die strand. Ek wil vir jou iets oor die foto sê, maar daar is ’n knop in my keel en die trane sit vlak, so ek sluk my woorde en kyk eerder anderpad. Ek weet mos nou al sedert jy geland het dat jy weer sal moet teruggaan. Na jóú wêreld toe.

Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer verloor op die lughawe nie. Maar nou dat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die mees delikate oomblikke van afskeid en die rou intieme emosies wat daarmee gepaardgaan, moet plaasvind in ’n gebou wat vir logistieke doeltreffendheid ontwerp is. Geen plek vir die regte seer-verhale wat hulself daarbinne afspeel nie. Net nóg ’n storie in die storiefabriek wat ons lughawens noem.

Hoeveel opgewonde én hartseer Suid-Afrikaanse emigrasieverhale speel nie jaarliks daar af nie? Opgewonde, want vir jou, my kind, weerspieël dit ’n nuwe begin. Hartseer, vir my, jou pa, en sibbe, want vir ons wat agterbly weerspieël dit ’n warboel van gemengde emosies: dankbaarheid dat ons kinders gelukkig en veilig is, maar terselfdertyd die verlange, afskeid, verlies. Soos Kurt Vonnegut dit uitdruk: “It’s the emptiest and yet the fullest of human messages: Good-bye.” En noodwendig speel dit af in hierdie onpersoonlike ruimte wat so ’n  belangrike skakel in die ketting van emigrasiegebeure is.

Van al die veranderinge en uitdagings wat mense deur die loop van hul lewens moet hanteer, is min so verreikend en kompleks soos wanneer geliefdes emigreer. Emigrasie is nie ’n unieke verskynsel nie. Statistiek dui daarop dat 3,5% van die wêreldbevolking tans buite die grense van hul geboorteland woon. In 2019 was die beraamde getal internasionale emigrante reeds 272 miljoen. Volgens die World Migration Report 2020 het daar teen die einde van 2018 na beraming reeds een miljoen Suid-Afrikaners in die buiteland gewoon. Die emigrasie van familielede in Suid-Afrika is dus ’n algemene verskynsel: ons is beter ingelig en wil vestig waar weivelde beter is. Maar hoe gemaak om die slaggate van komplekse rou te hanteer?

Drie fases van skeiding

Die emigrasieproses is nie eenvoudig nie en raak elke gesin op ’n ander manier. In ouers se ervaring van hul kinders en kleinkinders se emigrasieproses kan daar basies drie fases onderskei word; elk uniek, met sy eie uitdagings wat eers afgehandel moet word alvorens daar na die volgende fase aanbeweeg kan word.

In die eerste fase, die pre-emigrasiefase, is voorbereiding deurslaggewend en word die besluit om te emigreer al dan nie, beredeneer. Die redes om óf te bly óf te gaan word teen mekaar opgeweeg. Alhoewel die tydsverloop van dié fase van gesin tot gesin verskil, is logistieke reëlings ’n sleutelkomponent: Gaan die skuif tydelik of permanent wees? Wat neem ek saam, wat gee ek weg en wat gooi ek weg? Besluitneming vir hierdie ingrypende en lewensveranderende stap is immers ’n komplekse interaksie van faktore. Alhoewel hierdie fase gepaard kan gaan met ’n onsekerheid oor die onbekende, gaan dit ook gepaard met ’n opgewondenheid oor die avontuur wat voorlê, en die reis is deel daarvan. In hierdie fase verteenwoordig die lughawe ’n deur, nie net na die onbekende nie, maar na nuwe geleenthede vir die volwasse kind, nou emigrant. Vir beide kinders én ouers is die lughawe dus ’n plek van wesenlike verandering.

In die tweede fase, die fisiese weggaan, is die voorbereiding afgehandel en die kinders in die proses om fisies te vertrek. Dit is ’n kort, maar baie kragtige en emosiebelaaide fase. Ongeag hoe lank daarop voorberei is, ervaar ouers en kinders dikwels op hierdie punt ’n intense, tasbare verlies. Die finale groet op die lughawe lê voor.

So vertel ’n ma: “Vir my was die heel, heel ergste toe my oudste dogter vir my sê sy wil nie hê ek moet saamgaan lughawe toe nie. Ek het die hele dag lank by die werk gehuil, maar later besef dit was tog ’n goeie idee.”

In hierdie fase verteenwoordig die lughawe ’n plek gevul met gemengde emosies soos hartseer, opgewondenheid, vrees vir die onbekende en eensaamheid as gevolg van die wete dat jy na ’n stiller huis terugkeer. Ons vermy die afskeid van geliefdes en wil dikwels nie oor die afskeidsproses praat nie. Ons gee soms voor, tot op die laaste nippertjie, dat dit nie werklik gaan gebeur nie. In ’n poging om meer opgewasse te wees teen die moontlike seer, gebruik ons vermyding en ontkenning. Dit lei egter dikwels net tot ’n meer emosionele afskeid.

Vir sommige persone is dit beter om liewer vooraf, en nie noodwendig by die lughawe nie, afskeid van die kinders te neem om sodoende die impak van die proses te versag. Sommige mense groet tuis, of net op enige ander plek behalwe die lughawe. Vir ander is dit belangrik om tot op die laaste oomblik bymekaar te wees en hulle wil dus graag by die lughawe afskeid neem. Hoe dit ook al sy, dis goed om daarvan bewus te wees dat die groet dalk meer emosie kan ontlok as wat jy verwag het. Gun jouself dus die geleentheid om die hartseer en al die emosies wat met die groet gepaardgaan te ervaar.

Daar is geen voorgeskrewe rituele oor hoe om dié “totsiens-sê” te hanteer nie en daarom is dit belangrik om julle eie rituele te ontwikkel. ’n Klein, persoonlike geskenk soos ’n gelukbringertjie wat met die afskeid oorhandig word, kan ’n nuwe ritueel vir die groetslag skep. Die beste hanteringsmeganisme blyk egter te wees om dadelik ná die afskeid planne te beraam oor wanneer julle mekaar weer kan sien. Beplan jou volgende besoek nog voordat jou kinders vertrek het. Ongelukkig is kuiers nie vir almal beskore nie. Vir diegene wat dit wel kan bekostig, bied dit ’n tydlyn van hoop om na uit te sien. Andersins is dit raadsaam om kuiersessies oor die kuberruimte te reël.

In die laaste fase, dié van ná-emigrasie, het die kinders en kleinkinders die land verlaat en hulself in hul nuwe omstandighede gevestig. Die besef dat gesinne se fisiese ervarings en samesyn tot ’n einde gekom het, het ingesink. Die effek van skeiding deur geografiese afstand is nou ’n harde werklikheid.

Met kinders se besoeke aan hul geboorteland is die lughawe opnuut weer belangrik. In hierdie fase verteenwoordig dit die toegangspoort tot die kinders wat geëmigreer het. Ouers wat in Suid-Afrika agterbly meen die eerste afskeid is nie die ergste nie – dit raak in der waarheid elke keer moeiliker! ’n Ouer stel dit soos volg: “Nee, dit raak nie makliker nie. Dit is soos iets in jou wat afgesny is en wat eers terugkom as die kinders terug is. Nee! Dit word nie makliker nie. Inteendeel.”

Die afskeid is telkens weer moeilik omdat ouers besef dat die besoek net tydelik was en dat die kinders en kleinkinders weer terugkeer na húl wêreld: húl nuwe tuiste. Lughawens is tegelykertyd ’n besige maar ook ’n eensame ruimte vir die ouers wat pas hul kinders en kleinkinders moes groet, veral wanneer daar onsekerheid is of hulle mekaar weer binnekort gaan sien.

Verhoudings is kosbaar

Wees realisties. Daar was ’n beperkte tydperk waar jy fisies die rol van die aktiewe en betrokke ouer gespeel het, wat eenvoudig nie vir ewig voortduur nie. As ouers is ons geneig om aan daardie rol en aan ons kinders te wil vasklou. Emigrasie dwing ons om hierdie neiging te bevraagteken, en die kinders fisies te laat gaan. Vir die ouers wat agterbly, veroorsaak die emigrasie teenstrydige emosies: terwyl hulle dankbaar en verlig is dat dit met hul kinders goed gaan, sou hulle tog soveel eerder wou hê dat die kinders steeds fisies deel van hul lewens kon bly. Dis juis hierin wat die paradoks van ouerskap lê.

Emigrasie leer ons om nie net oomblikke nie, maar ook verhoudings, te koester. Behou dus kontak! Rekenaars, selfone en die internet is in hierdie digitale era jou vennote. Verskeie video- en stemtoepassings kan steeds ’n gevoel van direkte toegang tot mekaar se lewens gee. Bly op hoogte van gebeure in jou kinders en kleinkinders se lewens. Hulle het steeds jou ondersteuning as ouer nodig en oor die afstand en tydsones heen kan jy steeds ’n belangrike bydrae lewer met jou wysheid en onvoorwaardelike liefde. Dink jou ook in hulle leefwêreld in en hou die gesprekke interessant. Bly positief – hulle moet immers lus wees om weer te bel of weer te kom kuier!

’n Paar laaste gedagtes

Terwyl die vertrek van ons kinders om hulself oorsee te gaan vestig baie aktueel is, is die wenke wat in hierdie artikel vervat is, net soveel van toepassing op die afskeid van ander familielede wat jy op die lughawe moet gaan groet.

Dis nie slegs die ma’s wat verlang en gemengde emosies ervaar nie. Alhoewel mans dikwels meer op praktiese aspekte fokus, is die afskeidsproses vir ’n pa net so moeilik. Alhoewel hulle nie sommer sal huil nie, moet mans ook bereid wees om oor hul emosies te praat. Om die uitdrukking van hierdie emosies te vermy kan maklik tot langdurige en onopgeloste rou lei.

Die lughawe is ook die ruimte waar ek jou weer deel van mý wêreld kan maak, alhoewel ek weer eens nie kan belowe dat ek jou beskaafd gaan groet nie. Jy sal my nie kan miskyk nie: ek gaan die een wees met die ballonne wat sê: “Welkom by die huis, my liefste kind!”

Dr. Sulette Ferreira is ’n familieterapeut in privaat praktyk wat spesialiseer in die berading vir, en navorsing oor gesinne wat emigreer of deur emigrasie geraak word. Kontak haar by sulette.ferreira@gmail.com of besoek www.drsulette.com.

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy vor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Potchefstromers  in België

Potchefstromers in België

Ons het hierdie week met Aimee le Roux en haar man gesels wat hul hele lewe lank in Potchefstroom gewoon het en binne drie maande al hulle besittings verkoop het en met ses tasse na ’n klein dorpie in België getrek het. Sy vertel ons van hulle eerste sneeu-ervaring,...

Die “hulle” wat naaste aan ons is

Die “hulle” wat naaste aan ons is

Vrydag was weer ’n pad-dag, en ek het so baie gehoor wat ek graag wil onthou. Onder andere die volgende: Een van die wonderlikste dinge om te sien, is hoe God jou idees verander.Tony Evans Deel van grootword is om groter te dink, wyer te droom – en daarmee is niks...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest