Leesvordering:

“Ma, Pa: Ons gaan emigreer”

Jul 22, 2022

Dit kan uitdagend wees om die nuus te deel dat julle beplan om te emigreer.

So, julle oorweeg dit nou al vir ’n hele ruk om te emigreer. Julle weeg die voordele en nadele teen mekaar op: Moet ons bly of moet ons gaan?

Ons verskuif soms van die bekende na die onbekende omdat daar “iets iewers” is wat beter voorkom as dit wat ons tans het, en die enigste manier om daardie “iets” te kry is deur weg te gaan. Dit is ’n uitdaging om daardie skuif te maak om ’n beter lewe vir jouself, jou lewensmaat en jou kinders te skep.

Jy het al die inligting tot jou beskikking oorweeg en die besluit is geneem: Ons gaan emigreer!

Botsende emosies

Van al die veranderinge waardeur ’n mens in jou lewe kan gaan, kan ’n mens met sekerheid sê dat emigrasie een van die omvattendste en mees komplekse prosesse is in vergelyking met ander situasies waar verandering plaasvind – vir die persoon wat emigreer sowel as vir die wat agterbly. Om oorsee te verhuis, hetsy dit tydelik of permanent is, is ’n  geleentheid wat vir die meeste mense net eenmaal in ’n leeftyd oor hul pad kom. Dit kan terselfdertyd angswekkend, asembenemend, opwindend, vreesaanjaend en stimulerend wees. So ’n lewensveranderende besluit kan nie ligtelik geneem word nie, veral as daar afhanklikes is wat in die proses ontwortel kan word.

Die hoeveelheid mense wat Suid-Afrika in die laaste paar dekades verlaat het, het drasties toegeneem en verskeie redes word daarvoor aangevoer: politiek, onveiligheid, werksgeleenthede, of ’n smagting na avontuur en om nuwe plekke te ontdek. Dit is gewoonlik meer as een rede wat mense die besluit laat neem om te emigreer. Sommiges verlaat die land en beplan om permanent te emigreer, maar kom dan weer ná ’n ruk terug. Ander beplan om net tydelik oorsee te gaan en besluit dan om onbepaald daar te bly.

Moeilike besluite

Die “drama” van emigrasie begin gewoonlik lank voordat ’n mens die land fisiek verlaat. Daar is baie praktiese reëlings wat getref moet word: die verkoop van ’n huis/huise of voertuie, visums moet gereël word, bankrekeninge en versekering moet oorgeskuif/gekanselleer word, daar moet gesoek word na ’n nuwe blyplek en skole – dit alles is ’n administratiewe nagmerrie! In hierdie warrelwind van logistieke reëlings is dit maklik om jou geestelike welstand af te skeep. Hierdie fase kan jou sielkundig so uitput dat jy dalk mag begin wonder of dit alles ooit die moeite werd is.

Al hierdie administrasie en logistieke reëlings vergelyk egter nie naastenby met die  emosionele warboel en chaos wat jy moet deurgaan in die maande voor die groot trek nie. ’n Groot deel van hierdie emosionele aspek van emigrasie is die oomblik wanneer jy jou geliefdes, wat so ’n belangrike rol in jou lewe speel, moet inlig dat jy emigreer.

Hoekom is dit belangrik om vir jou geliefdes te sê dat jy weggaan?

Emigrasie is selde ’n eendimensionele ervaring – daar is baie mense betrokke, nie net die persoon wat emigreer nie. Selfs al is dit jou eie keuse om te emigreer, sal dit steeds ’n baie spanningsvolle tyd vir individue en families wees. Ter wille van jouself en jou geliefdes wat agterbly, moet jy hulle betyds inlig dat julle oorsee gaan. Sodoende kan hulle deel wees van die proses, die nuwe inligting prosesseer en ’n manier vind om sin en dalk uiteindelik  vrede te maak daarmee. Die mense wat die naaste aan jou is kan begin gewoond raak aan die idee dat die verhouding soos wat dit was, nou gaan verander, en hulle kan hulleself begin voorberei vir ’n nuwe lewe sonder jou naby hulle.  

Vir jou as emigrant sal hierdie uitgerekte proses baie makliker verloop as jy weet dat jou familie, en veral jou ouers, dit goedkeur. Volwasse kinders soek dikwels steeds die goedkeuring en seën van familielede, en veral hul ouers, as hulle lewensveranderende besluite neem wat die groter familiegroep beïnvloed – byvoorbeeld emigrasie.

Deur jou besluit openhartig te kommunikeer, sal dit verseker dat verhoudings op ’n gesonde wyse voortgesit word. Dit skep waardevolle kommunikasiekanale en baan die weg vir toekomstige gesprekke.

Wanneer en waar moet jy die nuus breek?

Daar is nie ’n voorgeskrewe tienpuntplan om aan jou geliefdes die nuus te breek dat julle op pad is nie: sorg egter dat jy goed voorberei is. Jou tydsberekening moet korrek wees. Dit is feitlik onmoontlik om te besluit presies wanneer julle jul geliefdes moet vertel dat julle beplan om te emigreer. Jy is dalk onwillig om die nuus oor te dra omdat jy bang is dat daar ’n negatiewe reaksie daarop gaan wees. Dit sal egter net jou stresvlakke verhoog as jy die las alleen dra deur die nuus vir jouself te hou. As jy bekommerd is dat een van jou ouers emosioneel gaan reageer, moet jy dalk oorweeg om eers die ander ouer daarvan te vertel. Dit is onregverdig om van jou ouers te verwag om hierdie nuus in ’n kort tydsbestek te verwerk, moet dus nie wag tot op die laaste nippertjie nie!

Hoewel elke emigrasiesituasie uniek is, is dit oor die algemeen beter om jou geliefdes daaroor in te lig sodra jy ’n besliste besluit geneem het. Dit laat meer tyd om daaroor te gesels en vir die daarstel van ’n ondersteunende omgewing. As dit moontlik is, moet die planne ten minste ’n paar maande voor die tyd gekommunikeer word. Tydsberekening is dus belangrik. Jy wil nie hê jou geliefdes moet by iemand anders uitvind van jou planne nie: vertel hulle self.

Kies die omgewing waarbinne jy die nuus wil breek sorgvuldig. Oorweeg ’n plek waar hulle die meeste op hul gemak sal wees om uiting te gee aan hul emosies. Reël ’n afspraak in ’n plek wat privaat is, soos jou ouerhuis. Neem jou tyd en vertel vir hulle in detail wat jou toekomsplanne is en die redes vir jou besluit. Gee hulle tyd om dinge vanuit jou oogpunt te probeer insien. Wees bewus daarvan dat hulle dalk uitgesluit mag voel. Wees bedagsaam en empaties wanneer jy die nuus aan jou ouers oordra. Jy kan op die positiewe fokus, soos om die maniere te bespreek waarop julle in kontak sal bly met mekaar – gereelde besoeke, oproepe en e-posse.

Wat om te verwag

Naby familie en vriende sal moontlik nie baie opgewonde wees oor die feit dat jy weggaan nie. Dit is ’n normale reaksie dat familie en nabye vriende gevoelens soos hartseer, teleurstelling en angstigheid sal ervaar in so ’n situasie. Hul reaksie kan wissel van seergemaak of kwaad tot konfrontasie, of enigiets tussenin. Die groot nuus kan dalk veroorsaak dat ou koeie uit die sloot gegrawe word. Hulle reaksie op vorige afskeide kan ’n goeie aanduiding wees van hoe hulle nou gaan reageer.

Dit gee ’n mens ’n bietjie gemoedsrus om te weet dat ouers wat van die begin af betrokke is by die besluitnemingsproses minder weerstand sal toon oor hul kinders se besluit om te emigreer. Dit gaan nie die verlies wat die ouers ervaar minder verminder nie, maar as hulle deel is van die proses, is hulle beter voorbereid op julle weggaan.  

Hierdie soort gesprekke kan nooit eensydig wees nie, jy moet dus weet dat jy dalk moeilike vrae sal moet beantwoord. Wees voorbereid op jou ouers se terugvoer – hulle sal wil voel dat jy op hul bekommernisse reageer. Hulle sal dalk meer wil weet, soos hoekom jy wil weggaan en of jy jou toekomsplanne goed deurdink het. Jy moet weet wat die antwoorde op hierdie vrae is – vir jou eie gemoedsrus, maar ook sodat jy dit sinvol aan die mense wat vir jou omgee kan verwoord. Hulle het duidelike, konkrete antwoorde nodig om hulle gerus te stel.

Neem eienaarskap van jou besluit

Jou besluit om te emigreer het ’n rimpeleffek op elke rolspeler en hierdie emosionele wipwarit begin wanneer jy jou geliefdes oor jou planne inlig. Daar is nie ’n maklike manier om die nuus aan jou ouers oor te dra dat jy en jou gesin (wat dalk hul kleinkinders insluit) binnekort gaan wegtrek nie. Deur goed voorbereid te wees, is die kanse beter dat jou familie jou hul volle ondersteuning gaan gee. Op die manier word daar ’n veilige omgewing vir jou en jou geliefdes geskep tydens die eerste paar uitdagende maande ná julle emigrasie.

Wat hul reaksie ook al mag wees, jy moet eienaarskap neem van jou besluit. Wees dapper genoeg om te sê: “Dit is wat ek besluit het. Dit was ’n moeilike besluit, maar dit is my keuse. Ek neem volle verantwoordelikheid daarvoor.”

Sulette Ferreira is ’n migrasieterapeut in privaat praktyk. Kontak Sulette by:

sulette.ferreira@gmail.com
www.drsulette.com
www.instagram.com/drsulette

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy voor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest