Deur Suné van Heerden

Maroela-fontein, Maroela Media se splinternuwe aanlyn gemeenskap waar niemand vir jou loop vertel jy klets te veel nie. En daai idee wat vroegoggend soos ʼn meerkat kop uitsteek? Ons wil hoor.

Maar hokaai net. Daar is meer om oor huis toe te skryf.

Op Maroela-fontein gaan ons klets van hanekraai soggens tot die genneryter laatnag sy laaste dampe uitblaas. Ons gaan idees uitruil en spog met kookvernuf wat enige basaartannie hoendervleis sal gee. Kom beleef in Maroela-fontein samesyn tot by die laaste droesem van jou koffiekan.

Maroela-fontein is jou digitale dorp – dis deel van Maroela Media, waar jy as lojale leser kan tuis voel en ʼn bietjie meer voordele kan geniet as lesers wat sommer net wil lees sonder om hulle intrek in ons dorp te kom neem. Dit maak nie saak waar in die wêreld jy is nie – nou kan jy deel wees van ʼn digitale dorp waar die windpomp altyd draai, “beurtkrag” ʼn vloekwoord is en jy altyd ʼn holte vir jou vellie sal kry.

En net soos ons nuus is dit gratis om op Maroela-fontein in te teken. Dis mos wa’ jy hoort!

Voordele vir jou as inwoner

Kommentaar

As jy ʼn inwoner van Maroela-fontein word, gaan jy talle ekstra voordele hê wat nie vir ander lesers beskore is nie. Die belangrikste is dat jy slegs met jou Maroela-fontein-verblyfpermit (jou geregistreerde gebruikersnaam en wagwoord) sal kan kommentaar lewer.

Die burgemeester sal jou ook gereeld op e-pos op hoogte hou van alles wat op die dorpsplein gebeur, want skinder is net skinder as dit lelik is.

Erebalkies

As jy ʼn aktiewe dorpsbewoner is, gaan ons jou ook vereer vir jou betrokkenheid by Maroela-fontein met allerhande erebalkies, sodat jy presies kan sien hoe jou aansien in die dorp toeneem. Daar is byvoorbeeld die Groentjie-erebalkie (wat jy ontvang sodra jy deel word), ʼn Klikkiebek-erebalkie (wat jy ontvang as jy Maroela Media se artikels met jou vriende deel) en as jy regtig gelukkig is, dan ken die burgemeester ʼn Kansvatter-erebalkie aan jou toe – dis soos daai goue sterretjie wat die graad 1-juffrou op jou voorkop geplak het.

E-poskaarte

En as jou geliefdes ver van jou af is op Valentynsdag of Braaidag en jy dalk wens jy was daar met ʼn gradeplegtigheid of ʼn troue of ʼn verjaarsdag, dan is ons e-poskaarte jou antwoord! Nou kan jy digitaal jou hart deel in mooi, pittige Afrikaans wat jy sommer per e-pos direk uit Maroela-fontein kan stuur (geen posgeld betaalbaar nie).

… en meer

Jy kan boonop ook met pittige emosie-karakters presies wys hoe jy oor ʼn spesifieke kommentaar of berig voel, want mens het soms nie genoeg woorde om presies te sê wat jy graag wil nie. Tussendeur wag daar sommer ʼn hele paar verrassings vir jou, want ons is mos bure en huisvriende!

Sprei die piekniekkombers en nooi gerus jou vriende uit om ook deel te word van Maroela-fontein. Dis hier waar ons ʼn Afrikaanse gemeenskap gaan bou.

Maroela Media
Maroela Media
Maroela Media is ‘n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela – gemeenskap wil wees.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest