’n Ontnugterde belastingbetaler skryf ’n rukkie gelede dat belastingbetalers wat die vermoë het ’n morele plig het om hul finansiële ondersteuning van die onderdrukkende bestel te onttrek deur te emigreer.

Dié opmerking het my nogal herinner aan Ayn Rand se epiese novelle Atlas shrugged. In die breë handel die verhaal oor ’n groep entrepreneuriese mense wat hulle aan ʼn staat onttrek waar hul vryheid om op te tree al meer aan bande gelê word deur ’n onderdrukkende meerderheid wat hulself in allerhande komitees organiseer om alles te reguleer. (Dit klink nogal bekend!) Die entrepreneuriese mense gaan skep dan vir hulself ’n vryemark-heilstaat in afwagting op die noodwendige mislukking en einde van die bestel waaraan hulle ontsnap het.

Die vraag of daar ’n morele verpligting op dié rus wat wel die vermoë het om hul steun aan ’n onderdrukkende bestel te onttrek, kan nie ligtelik opgeneem word nie. Van my familielede wat die land verlaat het, het juis aangevoer dat een van die redes vir hul emigrasiebesluit was dat hulle nie die diskriminasie teen hul eie gemeenskap verder wou finansier nie.

Almal van ons weet dat so ’n heilstaat in werklikheid nie bestaan nie – alle plekke het voordele en nadele. As voorbeeld kan daar genoem word dat dit hier by ons steeds oorwegend maklik is om wapens te besit, terwyl dit in byvoorbeeld Australië meer beperk en elders selfs onmoontlik is. ’n Belangriker verskil is dat die meeste mense hier in suidelike Afrika Christene is, wat veroorsaak dat hier ook baie kerke is om van te kies. In die Westerse lande waarheen die meeste Afrikaners emigreer, is Christene ’n minderheid.

Die meer bepalende werklikheid is egter dat dit vir die meeste gewone middelklasgesinne eenvoudig nie moontlik is om te emigreer nie. Die debat oor bly of gly is dus eintlik maar ’n debat vir ’n welgestelde, goed gekwalifiseerde elite – vir gewone middelklasgesinne is dit lugkasteelpraatjies. Mens moet ook nie die fout maak om te dink dat dié debat uitsluitlik in sogenaamde wit kringe gevoer word nie. Een besoek aan Australië is genoeg om jou te laat besef dat goed gekwalifiseerde en welgestelde mense van alle kulture en tale voor hierdie keuse te staan kom – ontnugtering oor die falende staat is wydverspreid.

Geen mens wil in ’n land bly om maar net ’n doring in die vlees van die regerende elite te wees nie. Gewone mense wil graag vry, veilig en voorspoedig leef en wil veral die vooruitsig hê dat ’n mooi toekoms op hul kinders wag. Hoe dan gemaak?

Die enigste praktiese oplossing om ’n toekoms te skep – binne die agteruitgang van gewone mense se leefwêreld weens ’n toenemend mislukkende staat – is selfbestuur deur gemeenskapsinstellings. Die staat se prestasie oor die afgelope 25 jaar het immers bewys dat ’n toekoms nie van bo af gegee gaan word nie, maar dat dit van onder af gebou sal moet word.

As jy nie van die toekoms hou wat die regering vir jou bied nie, en jy wil of kan nie skuif nie, sal jy eenvoudig moet inspring en sélf ’n ander toekoms bou. ’n Samelewing wat gevorm word deur die vestiging van sterk gemeenskapsinstellings (byvoorbeeld skole, kerke en burgerlike organisasies) sal die lugleegte kan vul wat die afwesige staat laat – en op dié wyse ’n toekoms moontlik maak.

’n Wyse man het op ’n dag vir my gesê dat mens moet kies om óf op die vasteland, óf op die eiland te bly – sommige mense mors hul hele lewe deur voortdurend tussen die vasteland en die eiland te swem.

Besluit wat jy wil doen – en as jou hart by die vasteland lê, hou op om oor die see na die eiland te staar, steek jou hande uit jou moue en werk saam met jou gemeenskap vir daardie toekoms wat jy graag vir jou kinders wil hê.

Barend Uys is hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum.

 

 

 

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest