Leesvordering:

Merkel se migrasiewaansin – Pieter de Lange

Jun 30, 2016

Die Brexit

Die afgelope paar weke het ek daarvan oortuig geraak dat ons net sowel kan stem om die Europese Unie (EU) te verlaat. In hierdie deel van Kent was daar ʼn duidelike verlaat-gevoel, miskien omdat dit is waar die grootste invloei van immigrante plaasvind. Die “little Englanders”, soos David Cameron hulle uit die hoogte noem, het Europa op sy kop gedraai. Die “bly”-propagandiste het ʼn betreurenswaardige gewoonte gehad om uit die hoogte te praat met die laer klasse wat nie wou deel bly van Klub Europa nie. Ten spyte van al die nasionale en internasionale finansiële kundiges en instellings se sterk ekonomiese argumente en waarskuwings teen Brexit, het die gewone lede die status quo ferm verwerp en gestem vir selfbeskikking en teen Duitse oorheersing. Nou sit ons waarskynlik met hoër pryse in die winkels, ʼn hoër inflasiekoers en laer huispryse en die pond het reeds gedaal tot die laagste vlak sedert 1985. Die finansiëledienstesektor is ʼn groot deel van die VK se ekonomie, want Londen is die grootste finansiëledienste-uitvoerder ter wêreld; die toekoms van hierdie deel van die ekonomie is nou onseker, om die minste te sê.

Die feit dat die kiesers van die tweede grootste ekonomie gekies het om die Europese Unie te verlaat, sal waarskynlik ʼn reuse-invloed hê op die toekoms van die EU asook op die Verenigde Koninkryk van Brittanje en Ierland. David Cameron het reeds bedank en die Arbeiders se Jeremy Corbyn sal seker óf op sy swaard val óf uitgestoot word, want groot dele van die Arbeiders se hartland het gestem om te “verlaat”.

Radio Four het ʼn opname in Swede aangehaal wat aangedui het dat die meerderheid Swede ook die EU sal wil verlaat as die Britte dit doen. Die ander Nordiese lande voel dalk ook so, want met die uitsondering van Finland het hulle nooit eens Euro gebruik nie. Oorkant die kanaal is daar ook ernstige geluide en gerugte van ʼn moontlike Frexit (Frankryk) of Nexit (Nederland). Die Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, het onmiddellik maatreëls aangekondig om die bal aan die rol te sit vir nog ʼn Skotse onafhanklikheidsreferendum toe die “bly”-stem die oorwinning noord van die grens behaal het. Hoe hulle ekonomie gaan oorleef met die lae olieprys is ʼn ander kwessie. Die grens tussen Noord-Ierland en die Republiek sal heringestel moet word en Spanje het reeds sy Gibraltar-eise hernu.

Waarom het die gewoonlik verstandige Britte hierdie drastiese en moedige keuse gemaak? Die grootste rede is dat hulle bang is hulle lewenswyse word bedreig deur massamigrasie. Kernwaardes sal altyd seëvier oor finansiële wenslikheid. Jonathan Haidt, ʼn prominente sosiale en kulturele sielkundige, het tot die gevolgtrekking gekom dat intuïsie voor strategiese denke kom. Een van my ouer pasiënte wat ʼn bankier was, het my in sy vertroue geneem en opgemerk dat hulle al honderde jare immigrante kry, maar  dit was min genoeg om geleidelik te integreer. Maar nou voel hulle oorweldig. Dié wat deel van die EU wou bly en voor die referendum liefde en verdraagsaamheid bepleit het, is reeds besig met ʼn sinlose kafpratery oor rassisme en xenofobie en nou sien ons volgens Libby Purves in The Times “elitism erupting like a poisoned boil as the culturati weep into their lattes while demonising the poor, old and insecure”.

In die jare sewentig en tagtig het ek vier jaar lank in Londen gewerk en ek kan goed onthou hoe die konflik in Noord-Ierland en die gevegte tussen Margaret Thatcher en die vakbonde altyd die slegte nuus oorheers het; dit het gelyk of dit net vir ewig aanhou en aanhou. Gewelddadige botsings tussen Turke en Grieke in Siprus en later die Falkland-oorlog het die nuus in verskillende tydperke oorheers. Suid-Afrika en Rhodesië/Zimbabwe en die gepaardgaande rassekonflik was ook daardie tyd gereeld in die nuus. Die busse en moltreine is beman deur Wes-Indiërs wat in die begin baie diskriminasie moes verduur, maar hulle is geleidelik geïntegreer sonder dat hulle enige bedreiging vir die kultuur ingehou het, want hulle praat min of meer dieselfde taal en hulle het ʼn Christelike agtergrond.

In 1968 het Enoch Powell nogal ʼn opskudding veroorsaak met sy “Rivers of Blood”-toespraak; dit het in die sewentigerjare steeds weerklink en kan dalk nog blyk profeties te wees. Die grootste kultuurkwessie in 1976 was die Sikhs wat toegelaat is om met hul tulbande en sonder helmets fiets te ry. Vanaf 1989 kon hulle ook op bouterreine werk sonder die andersins verpligte harde hoede. Dit was nogal ʼn buitengewone U-draai vir ‘n samelewing waar gesondheid en veiligheid oorheersend is.

Maar sedert ons aankoms in 1999 is daar ander kwessies in die nuus; dit het verskuif na die imams wat haat en geweld in moskees en tronke verkondig, eermoorde, verminking van vroulike genitalieë en later die grootskaalse voorbereiding en seksuele uitbuiting van jong meisies in Rotherham en elders, meestal deur Pakistanse mans, toenemende anti-Semitisme en selfs “breast ironing” van jong swart meisies. Dit is ernstige kulturele bedreigings wat nie geïgnoreer kan word nie. In 2012 het selfs die koningin byvoorbeeld verplig gevoel om haar uit te spreek oor die feit dat die berugte Abu Hamsa toegelaat is om voort te gaan met sy radikale preke in die Finsbury Park Moskee. Dit het gelei tot onvermydelike politieke gevolge soos bewys is deur die groei van die UKIP.

Maar om net die EU te verlaat sal nie die migranteprobleem oplos nie, want net soveel immigrante kom van elders en die grootste kultuurbedreiging vir byvoorbeeld vroueregte, kom in elk geval nie uit die Oos-Europese lande nie. Die Britse regering se migrasiebeleid oor grensbeheer is duidelik in die moeilikheid, selfs sonder die EU. David Frum, die voorsitter van die Amerikaanse dinktenk Policy Exchange, benadruk dat “Borders are as necessary to a free society as laws; they are the first law that makes a country a country”.

Migrasie behoort hoofsaaklik ʼn bestuursuitdaging te wees in ʼn volwasse, ontwikkelde ekonomie. Jy moet in staat wees om die vaardighede en ervaring wat jou spesifieke situasie vereis, in te voer en ook nog werklike vlugtelinge te huisves.

Noudat ons die EU verlaat, is daar steeds ʼn behoefte aan gewillige en vaardige hande in die boubedryf en die vrugtebedryf – werk wat die werklose Britte blykbaar nie wil doen nie, omdat jarelange voordele ʼn trae laerklas geskep het en die eerlike, hardwerkende Britte voel met reg die immigrante hou lone laag.

Australië se stelsel van puntetoekenning is in heelwat EU-debatte genoem. Die Verenigde Koninkryk moet nog ver vorder voordat dit daardie punt sal bereik. Die EU se inherente gebreke om ʼn gemeenskaplike monetêre beleid te probeer afdwing op sulke uiteenlopende ekonomieë soos dié van Griekeland en Finland en die najaag van die hersenskim van vrye beweging van mense in die EU as dit nie eens die buitenste grense van Europa kan beveilig nie, het die EU se geloofwaardigheid drasties laat afneem. Is daar enige ander ekonomiese blok in die wêreld waar die grense tussen die lidlande opgehef is?

Hoe lank voor die volgende Griekse skuldkrisis na die oppervlak kom?

Geen enkele land kan toevlug bied aan al die ekonomiese migrante uit arm lande nie. Angela Merkel het ʼn dapper maar ondeurdagte en roekelose besluit geneem sonder om eers die CDU se Beierse sustersparty, die Christen-Sosiale Unie (CSU), of Duitsland se bure in te lig voordat sy dit gedoen het; dit het gelei tot ʼn woeste instroming van immigrante soos in ʼn Ou-Testamentiese toneel. Hierdie besluit het verreikende gevolge gehad; dit het die behoefte laat ontstaan aan ontsnapping aan die aaklige Siriese situasie, maar ook aan dié van ander arm lande wat op soek is na ʼn beter lewe en dit beïnvloed steeds die verafgeleë Griekeland en Masedonië. Die Duitse kanselier is gevolglik gedwing om ʼn ooreenkoms aan te gaan met ʼn toenemend despotiese Turkse leier. Die Europese beginsel van vryheid van beweging is dramaties bewys as inherent swak en onwerkbaar. Haar motiewe kon eerbaar gewees het, maar daar is duidelike bewys dat massamigrasie ʼn ernstige bedreiging is vir ʼn liberale samelewing. Dit is daar vir almal om te sien: Merkel, die teenreaksie in Frankryk met Le Pen, in Holland waar Geert Wilders prominent is, in Oostenryk waar die Vryheidsparty amper die laaste verkiesing gewen het, in die VK waar UKIP met rasse skrede groei en inderdaad ook in die VSA waar Trump ongelukkig al gewilder raak.

Simon Reeve, ʼn TV-joernalis wat baie bekend is vir sy wêreldwye reisprogramme, was in Februarie op die Griekse eiland Kreta. Hy was verstom toe skepe vol vlugtelinge daar aangekom het terwyl hulle besig was om ʼn film te vervaardig. Simon het natuurlik met meegevoel geluister na die stories van swaarkry en lyding en het op die ou end die mense in trane omhels. Toe hy het in die versengende hitte wegry, het hy opgemerk dat hierdie uitgeputte vlugtelinge nou 30 kilometer moes loop na ʼn vlugtelingsentrum. Hy sien toe twee vroue en een van hulle dra ʼn baba. Hy het gestop en gesê hulle moet inklim en hulle het dit dadelik gedoen. Maar toe hy probeer aanry, het hul manlike landgenote met geweld aan die motor gestamp en die vroue beveel om uit die motor te klim, want hulle mag nie saam met ʼn man alleen reis nie. En toe hulle uitklim, het nie een van die mans ʼn vinger verroer om hulle te help om die baba te dra nie en die twee vroue moes maar op hul eie aansukkel. Hierdie Siriërs was uitgeput en het desperaat gelyk, maar dit was ʼn verstommende demonstrasie van hul siening van vroue se minderwaardige rol in die samelewing. Die skrikbeeld van ʼn miljoen Siriërs met Duitse paspoorte binne ʼn paar jaar was prominent in die koorsagtige debatte.

Ons beleef dalk die begin van die Europese Unie se einde en die geskiedenis kan dalk bewys dat Angela Merkel se oomblik van “migrasiewaansin” inderdaad die laaste strooi was wat die kameel se rug gebreek het.

Pieter de Lange

Lees ook Merkel’s migration madness: Is ‘Brexit’ beginning of the end for EU?

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest