Deur Pieter de Lange

Dit was ’n Maandag in Oktober – soos vele ander weeksdae – toe ek net voor eenuur by ons huis in Kent, Engeland vir middagete aankom. Toe ek voordeur toe stap, let ek op dat Mariaan se kar nie daar is nie. Ek sluit die voordeur oop en hoor duidelik hoe iets in die huis val. Dis snaaks, dog ek toe ek instap; die kat moes seker iets afgestamp het. Meteens sien ek ’n man wat in die rigting van die deur in die stoepkamer hardloop. My eerste gedagte is dat hy dalk hier is om iets reg te maak? Maar nee; hy skarrel soos ’n windhond by die deur uit en draai volstoom heining toe. Na die oomblik van onsekerheid laat val ek my briewetas, spring om en hardloop na die klein straatjie langs die huis om die deugniet voor te keer. Hy is reeds oor die heining toe ek in die paadjie afgedreun kom, maar hy spring rats sywaarts toe ek na hom gryp en terselfdertyd skreeu: “You were in my house!”. Hy hardloop in die straat af; ek probeer nog steeds om hom in te haal toe ’n motoris stilhou en vra wat aan die gang is. Ek vertel hom toe en hy ry agter die weghardlopende inbreker aan terwyl hy vinnig ’n kort video op sy selfoon neem. Ek draf huis toe en gaan angstig saam met Mariaan – wat intussen teruggekeer het – die vertrekke deur om te kyk of iets weg is. Dit blyk dat hy eers in die motorhuis was en toe ontdek het dat die stoepkamer se deur nie gesluit was nie. Ek moes hom verras het toe hy net ingekom het, want hy het dadelik omgedraai toe hy die sleutel in die deur hoor draai en ’n lamp in die sitkamer omgestamp in sy haas om by die buitedeur uit te kom. So – hy het niks gevat nie en het ook nie fisies ingebreek nie omdat die deur nie gesluit was nie. Ons agterplaas is omhein met ’n 1,8 m-heining en die tuinhekkie was gesluit. Hy moes ’n los stuk stomp gebruik het om oor die hekkie te kom.

Die polisie is redelik gou op die toneel en sê dat iemand my gaan kontak om ’n volledige verklaring af te neem. Die forensiese span is die volgende dag hier om vir leidrade te soek, maar sonder enige sukses: die inbreker het handskoene gedra. Die polisiedame kom toe die Dinsdagaand en gebruik seker die beste deel van twee ure om ’n verklaring by my af te neem, te vra of ek met die saak wil aangaan en ons uit te vra of die gebeurtenis vir ons traumaties was en ons ontsenu het. Ek bevestig dat ek wil en bereid is om hof toe te gaan. Ons het haar ook verseker dat ons oorgerus is aangesien ons al 15 jaar sonder enige probleme hier woon. Ook dat ons in die toekoms beter gaan seker maak dat ons alles deeglik sluit, maar dat ons nie regtig ontstel is oor die voorval nie. Ek noem amper dat ons motorhuis vir 14 jaar nie eers kon sluit nie!

’n Paar dae later kry ek ’n oproep om my mee te deel dat iemand gearresteer is op grond van die video wat die motoris geneem het en dat die verdagte eers onlangs ná ’n vorige veroordeling vrygelaat is. Ek moet reël om ’n uitkenning te doen. Ek gaan toe na ’n nabygeleë polisiehoofkwartier waar die uitkenningsproses deur ’n reeks foto’s op ’n skerm gedoen word. Ek kan die inbreker nie positief identifiseer nie want hy het so ’n klapmus gedra wat sy gesig grotendeels weggesteek het. Ek dink dis seker nou die einde van die storie, maar word die volgende week in kennis gestel dat die saak wel aangaan en dat ek bereid moet wees om op vinnige kennisgewing in die hof te verskyn.

Ek ontvang ’n lywige dokument ontvang wat die hofsaak by Maidstone se Kroonhof bevestig. Ek is verbaas, want dit is die provinsie se hoogste hof met regters en juries. Ek het ’n plaaslike magistraatshof verwag, want niks is immers gesteel nie en daar was geen vingerafdrukke nie.

Die oproep om in die hof te verskyn, kom toe laat op die Donderdag voor die Paasnaweek. Ons moet inderhaas pasiënte vir dié Dinsdag kanselleer. Toe ek by die imposant gebou opdaag, word ’n plekaanwyser (usher) aan my toegewys. Sy moet my oor al die prosedures inlig en gemaklik laat voel. Toe ons begin gesels, kom dit aan die lig dat sy en haar man ’n woonstel in Kaapstad het en dat albei egpare in Februarie dié jaar in Seepunt was. Sy vertel my dat daar agt hofsale is, maar dat ons moet wag om een te kry. Sy vra my weereens of die voorval my angstig gemaak het. Ons groep voornemende getuienisse word toe na ’n leë hofsaal geneem en mooi verduidelik wat ons rol in die hofsaak sal wees. Net voor middagete word ek ingelig dat die aangeklaagde erken het dat hy in die huis was, maar dat hy nie van plan was om iets te steel nie. Sy advokaat het hom aanbeveel om skuldig te pleit. Ek word toe verskoon omdat hy erken het hy was in ons huis. Twee dae later kry ek die oproep dat hy skuldig gepleit het en dat hy twee en ’n half jaar tronkstraf opgelê is omdat dit sy sesde oortreding is.

Ek kan steeds nie help nie om te dink aan my swaer wat wreed deur inbrekers in sy huis in Roodepoort aangerand is nie lank na my eie voorval nie, en hoe traak-my-nie-agtig en onprofessioneel die reaksie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in dié geval was nie.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest