Angolese/Suid-Afrikaanse visumvrystellings

Die minister van binnelandse sake het onlangs aangekondig dat ʼn ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Angola bereik is waarvolgens ʼn wedersydse outomatiese 90 dae-visumvrystelling geld vir Suid-Afrikaners wat na Angola reis en vir Angolese wat na Suid-Afrika reis. Die voorwaarde is dat ʼn maksimum van 90 dae toelaatbaar is in ʼn siklus van een (1) jaar, met dien verstande dat geen besoek langer as 30 dae is nie. Ingevolge hierdie vrystellingsooreenkoms word visums outomaties by aankoms in Suid-Afrika of Angola uitgereik. Dit voorspel veel goeds vir handelsgeleenthede, reise en toerisme tussen buurlande.

Nuwe ontwikkeling rakende Zimbabwiese burgers wat aansoek gedoen het vir die Zimbabwiese vrystellingspermit, maar wie se aansoeke nie teen 31 Desember 2017 afgehandel is nie

Houers van Zimbabwiese spesiale permitte (ZSP) wat kwalifiseer en betyds aansoek gedoen het vir Zimbabwiese Vrystellingspermitte (ZEP) se aansoeke sal nie teen 31 Desember 2017, wanneer die ZSP verval, afgehandel wees nie. Die departement van binnelandse sake het pas ʼn riglyn vrygestel waarin verklaar word dat die houers van ʼn ZSP wat aansoek gedoen het vir ʼn ZEP-visum en in besit is van ʼn kwitansie van die Visumfasiliteringdiens (VFS) wat die indiening van die aansoek bevestig, na die sperdatum van 31 Desember 2017 in afwagting op die uitslag van die ZEP-aansoek in die land mag aanbly, ongeag of dit vir werk, studie of besigheid is of omdat hulle hier woon. Al wat hulle moet doen, is om die kwitansie wat die ZEP en VFS uitgereik het by hul paspoort te dra; die kwitansie moet ook bevestig dat die fooi vir die verwerking van die aansoek betaal is. Op grond hiervan kan hulle verder in Suid-Afrika werk, studeer of woon.

Die sperdatum vir die indiening van aansoeke om ZEP-visums is ook tot die einde van Februarie 2018 uitgestel. Dit bied aan die houers van ʼn ZSP ʼn verdere geleentheid om aansoek te doen vir die nuwe ZEP.

Die jaar wat verby is

2017 was ʼn besonder moeilike jaar wat immigrasie- en burgerskapsreg betref. ʼn Toename in die aantal vals visums en visums wat uitgereik is deur bedrog te pleeg, kenmerk 2017 op die visumfront. Prokureurs wat in immigrasiereg en die hantering van visums spesialiseer, is onderworpe aan die regspraak en aan etiese en dissiplinêre kodes asook sanksies van die verskillende statutêre regsverenigings. Daar word egter nie van persone buite die regsberoep verwag om as immigrasiepraktisyns te registreer nie, dus het ʼn hele bedryf sonder enige aanspreeklikheid opgeskiet. Ongelukkig doen baie swendelaars ongelooflik vreemde goed om die vreemdste visums te bekom. Dit doen nie afbreuk aan die klein kern van hoogs bekwame en doeltreffende immigrasiemakelaars wat die beroep beoefen al is hulle nie prokureurs nie.

Die toenemende aantal “slegte” permitte is kommerwekkend. Voorstelle in hierdie verband is in die verlede aan die direkteur-generaal van binnelandse sake en die minister van binnelandse sake gemaak, maar dit lyk asof alles op dowe ore geval het. Toe die Forum van Immigrasiepraktisyns van Suid-Afrika (FIPSA) deur ʼn wysiging in die Immigrasiewet vernietig is, het alle oorblyfsels van aanspreeklikheid verdwyn. ʼn Lewenskragtige assosiasie met ʼn groot landwye lidmaatskap, bates in die vorm van geld in die bank, ʼn eksamen wat deur Unisa goedgekeur en in letterlik enige sentrum in die land geskryf kon word, het tot ʼn einde gekom toe artikel 46(1) van die Immigrasiewet in 2005 geskrap is. Dit was ʼn groot teleurstelling en jammerte omdat die vereniging destyds op pad was na akkreditasie deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAQA) en ʼn kursus voorberei is wat deur SAQA geakkrediteer sou word indien wetgewing dit toegelaat het. Hopelik sal hierdie saak in die komende jaar ondersoek word, aangesien dit vir baie gesinne ongelooflike hartseer veroorsaak het as hulle geglo het hulle kry behoorlike, normale visums, maar presies die teenoorgestelde gekry het.

Die departement van binnelandse sake word steeds deur groot agterstande en vertragings geteister. Hierdie situasie word verder gekompliseer deur ʼn toename in die aantal totaal verkeerde besluite wat die beregtingspanne neem en waar aansoeke verkeerdelik en onbehoorlik geweier word. Hopelik sal die nuwe minister hierdie aspek ook ondersoek.

ʼn Verdere komplikasie wat ontstaan het, is dat die benadeelde aansoeker slegs twee keuses het waar ʼn verkeerde besluit geneem is. Die eerste is om weer aansoek te doen, meestal op dieselfde dokumentasie. Die tweede is om by die direkteur-generaal van binnelandse sake aansoek te doen vir ʼn hersiening ingevolge Artikel 8(4) van die Wet. Die probleem met laasgenoemde opsie is dat baie aansoeke ses maande tot ʼn jaar of langer neem om af te handel ten spyte van ʼn kabinetsbesluit dat aansoeke vir hersiening en appèl binne agt weke afgehandel moet word. Dit laat aansoekers in groot onsekerheid. As die doel van ons immigrasiewette onder andere is om kundige buitelanders te lok, maak dit ʼn bespotting van die stelsel.

Die direkteur-generaal van Binnelandse Sake neig verder om alle petisies om afstand te doen van enige van die vereistes in die immigrasieregulasies uit te stel. Dit veroorsaak ʼn groot agterstand in die verwerking van kwytskeldingsaansoeke wat dit onmoontlik maak om te voorspel hoe lank ʼn kwytskeldingsaansoek sal neem. Dit negeer soms die rede vir ʼn visumaansoek heeltemal of maak dit onmoontlik om ʼn oorsese aansoeker vir ʼn pos te oorweeg. Ons moet onthou ons het nie ʼn oneindige poel hulpbronne of vaardighede nie en daar moet stappe geneem word om vaardighede te behou of om dit wat eenvoudig nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie te werf. Die eerste keuse moet altyd wees om ʼn Suid-Afrikaner in diens te neem, maar die werklikheid is dat sekere vaardighede soms eenvoudig nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

Laastens is een van die grootste probleme om ʼn beampte sover te kry om op ʼn e-pos te reageer. Dit word verder bemoeilik deur die vraag of ʼn telefoon beantwoord sal word. Hou in gedagte dat fakse nie meer gebruik word nie. Dit is dus onmoontlik om te weet of ʼn boodskap ontvang is. As daar geen antwoord is nie, is die enigste aanname wat gemaak kan word dat die e-pos geïgnoreer word en dat niemand daarop gaan gereageer nie. Dit skep ʼn groot probleem in hierdie verband.

Die pad vorentoe

Suid-Afrika bly deel van die wêreld en nie net deel van die vasteland nie. Die realiteit van die toekoms is dat spesiale vaardighede, en inderdaad vaardighede in die algemeen, in aanvraag is en verskuif kan word. Lande wat vaardighede benodig, fasiliteer die invoer van sulke vaardighede deur dit aantreklik en administratief redelik maklik te maak vir hoogs geskoolde persone om die nodige werkvisums te bekom. Hopelik sal dit in die komende jaar in ag geneem word met die formulering van ʼn nuwe immigrasiebeleid en immigrasiewet of ʼn wysiging van die huidige wet en nuwe regulasies.

Indien u enige navrae het oor immigrasie of burgerskapskwessies, moenie huiwer om ons kantoor by enquiries@immigration.org.za te kontak nie. Skryf “GI – Wêreldwyd-kollig visumnavraag” in die onderwerplyn.

Julian Pokroy
Spesialis- immigrasieprokureur

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Pin It on Pinterest