Alexander Mickel se brief word gepubliseer net soos hy dit aan Maroela Media gestuur het. Die brief is nie geredigeer of teksversorg nie. –Red

 

Liewe vriende van Afrikaans

Dis Moedertaaldag en ʼn heerlike geleentheid om aan my Maroela-brief te herinner wat ʼn jaar gelede gepubliseer is. Sal ek daaraan moet herinner dat ek eintlik Duitssprekend is en myself Afrikaans geleer het? My brief is baie gedeel en versprei. Ek was erg uit die veld geslaan deur al die mense se reaksies en die mooi terugvoer wat ek ontvang het. Ek en my Afrikaanse brief het by baie harte uitgekom. Ek kon dit nie glo dat my Afrikaans beter is as dié van mense wat dit as moedertaal het nie. Dit het my ongelooflik geraak dat mense vir my geskenke, veral boeke, gestuur het. Ek waardeer al die moeite om iets vir my Duitsland toe te stuur en ek bly baie dankbaar oor al die gebeure! Ek het baie oulike en dierbare mense leer ken.

Ek het ook ondervind dat baie mense in Duitsland wil hoor hoe Afrikaans klink. Nogal by werksonderhoude! Voornemende hoofde of die mense van die personeelafdeling het in my CV raakgesien dat ek Afrikaans praat en versoek: Sê asb. iets in Afrikaans! Óf ek het kollegas laat weet dat ek besig is met die taal en hulle wou dadelik hoor hoe dit klink. Ek voldoen natuurlik aan hulle wense! Ek het onlangs met die groepleier en ʼn kollega ʼn gesprek gevoer. Ek kan nie onthou hoe ons by plaaslike Duits uitgekom het nie, maar my hoof wou weet hoe ʼn sekere woord of uitdrukking in ʼn ander Duitse dialek gebruik word. Ons het nie mooi geweet nie en skielik vra hy vir my hoe mens dit in Afrikaans sou sê. Ek het gesê dat hy “pragtig” of “heerlik” sou kon sê. Toe raai hy dit is in Duits “prächtig” en “herrlich” onderskeidelik. Hy het tevrede by die kantoor se deur uitgestap.

Ek het nou van my eie ondervindings gepraat, maar wat het nog verder in die Afrikaanse wêreld gebeur? Belangrike boeke het verskyn asook nuwe outeurs en nuwe webwerwe, nuwe Afrikaanse kortleerprogramme en mense praat oor belangstelling in Afrikaans, veral ook in die buiteland. Kom ons som dit mooi op:

  • Binne een jaar het gesaghebbende normeringsbronne vir Standaardafrikaans verskyn. In die eerste plek sal ons die 11de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS)moet noem wat omvattend verwerk is.
  • Wannie Carstens se betrokkenheid by die bevordering van Afrikaans het gelei tot die onlangse verskyning van die 6de uitgawe van sy boek Norme vir Afrikaans, met ʼn nuwe subtitel van ‘Moderne Standaardafrikaans’, én hy het pas, in samewerking met E.H. Raidt, Deel 1 van Die storie van Afrikaans, die lig laat sien.
  • Verder is daar ook Pharos se Afrikaansgids
  • En moenie van die 6de uitgawe van die HAT vergeet wat alreeds in 2015 verskyn het nie – hierdie boek moet voortdurend in die oog gehou word. Ek is bly om dié boek te hê wat ʼn geskenk was van Karien Brits van die ATKV.
  • Daar is ook Elsabé Brits se fantastiese biografie oor Emily Hobhouse onder die titel, Geliefde Verraaier, die wenner van 2017 se kykNET-Rapport boekprys vir niefiksie. Ek het hierdie boek baie geniet.

Twee ander belangrike toekennings moet ons aandag kry: Antje Krog, ʼn Suid-Afrikaanse digteres, het 2017 die Hertzogprys vir poësie vir haar bundel Mede-wete ontvang én 2018 die Nederlandse literatuurprys Gouden Ganzenveer. Baie geluk aan Elsabé Brits en Antje Krog! Die ATKV vermeld ook Suzie Matlhola (ATKV) se deelname by die Week van de Afrikaanse roman 2017 in Nederland (koördineerder: Ingrid Glorie). Die Afrikaans-in-Soweto-projek organiseer op vyf plekke Afrikaanse klasse in Soweto. Boonop het Suzie in 2017 die Kokertoekenning  geborg deur die “Bemagtiging deur Afrikaans” deur die Afrikaanse Taalraad ontvang.

Oor die algemeen is dit baie lekker om te lees dat dit goed gaan met die Afrikaanse boeke (soos op 3 Augustus 2017 deur afrikaans.com daaroor berig):

  • In Augustus was daar ook goeie nuus vir Afrikaans: Susan Lombaard het in haar Maroela-redakteursbrief berig dat die Afrikaanse lesersmark beduidend gegroei het.
  • Boonop het die FAK ʼn digitale tydskrif (INK) vanaf Augustus gratis laat verskyn.

Naas Afrikaanse boeke en koerante is daar ook nuwe webwerwe wat in Afrikaans publiseer.

  • Op 24 Januarie 2018 is die webtuiste Voertaal geloods wat ‘n gesamentlike inisiatief van Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland en LitNet in Suid-Afrika is.
  • Verder is daar VAALNEWSREAD wat gebeurtenisse in Afrikaans en Engels gepubliseer. Die man agter VAALNEWSREAD is die joernalis, digter en outeur Zalman S. Davis.

Nie net die Afrikaanse lesersmark groei nie, maar ook die belangstelling van Afrikaans in die buiteland. Op die akademiese vlak beteken dit ʼn mens kan Afrikaans as universiteitsvak onder meer in Nederland, België, Oostenryk, Tsjeggiese Republiek, Duitsland, Pole, Rusland, Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika neem. Dat Afrikaans ook wortels in Europa het, mag dalk die rede wees van die groot belangstelling in die taal in Europese lande, skryf Annelise de Vries en Jhua-Nine Wyrley-Birch op Maroela Media.

Die webblad, Afrikaans in Europa, het intussen ʼn nuwe baadjie gekry en is gelaai met inligting oor Afrikaans, Suid-Afrika en sy mense. Die eerste leerstoel vir Suid-Afrikaanse tale literatuur en kultuur aan die Universiteit van Gent is ook onlangs ingestel en Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria het in Oktober 2017 sy intreerede daar gelewer. Daar word die vak Afrikaanse taal en letterkunde aangebied wat deel van die bachelor-opleiding is. Dit gaan oor taalgeskiedenis, taalverwerwing en Afrikaanse literatuur soos LitNet op 27 September bekend gemaak het.

ʼn Ander positiewe ontwikkeling is dat mens nou die taal volledig aanlyn kan aanleer. Daar is ʼn geakkrediteerde kortleerprogram van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat wat met die ondersteuning van VivA (die Virtuele Instituut vir Afrikaans) aangebied word. Vanaf Januarie 2018 kan belangstellendes inskryf vir Gesellig Afrikaans 1 en 2.

Het julle al van Keurboslaan gehoor? Dis ‘n Afrikaanse moedertaal graad 1 klas wat in Januarie 2018 sy deure vir die eerste maal in Knysna oopgemaak het. Eerste studente-aansoeke is 2017 ontvang, word op hulle webtuiste vermeld.

Ek het nou baie oor literatuur en Afrikaansonderrig gepraat. Maar daar is nog musiek! Ek dink ons almal was uit die veld geslaan om van Camille van Niekerk te hoor. Camille is eintlik Amerikaans, haar man Afrikaans. Sy sing die mooiste Afrikaanse liedjies (Maroela Media het op 23 November 2017 berig) en sy sit haar video’s op YouTube en Facebook. Gaan volg haar daar gerus, dis heerlik!

Daar is ook ʼn positiewe ontwikkeling met betrekking tot finansiële ondersteuning van voornemende studente. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vermeld op hulle webtuiste, dat hulle vir die 2017-studiejaar oor die R6 miljoen se aansoeke ontvang het waarvan 73 beurse toegeken is. Vir 2018 sal weereens ’n beperkte aantal studiebeurse beskikbaar wees vir M- en D-studie in enige vakrigting (geestes- of natuurwetenskappe). Naas beurse-sake is daar ook menings van leerders van die FH Odendaal Hoërskool, wie se huistaal onderskeidelik Zoeloe, Sotho of Tswana is en wat verkieslik in Afrikaans onderrig wil ontvang, soos Virginia Keppler in The Citizen vermeld. Daar is klaarblyklik ʼn groot behoefte vir leerders en studente om in Afrikaans te studeer.

Dit is alles baie positiewe ontwikkelings.

Boonop verwelkom ek Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se woorde dat Afrikaans een van die land se mees ontwikkelde Afrikatale is. Miskien is dit ʼn keerpunt in die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika? Ons is nie in staat om die verlede te verander nie, maar ons kan van vandag af ʼn verskil maak aan die toekoms. Ons bly Afrikaans praat!

Met die beste wense uit Duitsland,
Alexander Mickel

 

Hierdie brief het oorspronklik op Maroela Media se webblad verskyn.

 

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest