Leesvordering:

Moenie vlieg sonder ’n vangnet nie …

Sep 1, 2023

Deur Alana Bailey

Onlangse gebeure soos natuurrampe, geweldpleging en natuurlik die Covid-19-pandemie het ons geleer dat grense op kort kennisgewing kan sluit, wat mense se immigrasieplanne lelik omver kan werp. Die doel van hierdie artikel is nie om enige persoon van migrasie af te skrik, hulle keuse te beoordeel of veroordeel nie, ook nie om oordrewe negatief te klink nie, maar bloot om ’n paar praktiese sake te noem waaraan mense wat immigrasie oorweeg, moet dink sodat hulle ’n ingeligte keuse hieroor kan maak.

1. Werkloosheid is ’n werklikheid 

Enige negatiewe gebeure soos die bogenoemde het ’n invloed op werkloosheidsyfers. Dit geld nie net vir die gebiede waar dit voorkom nie, maar ook in lande wat een of ander sakeverhouding het met die land wat geraak word.  Al lyk ’n land nou na ’n aantreklike immigrasiebestemming, kan dinge verander en mag werkloosheid skielik styg. 

2. Laaste in, eerste uit

In baie lande en maatskappye geld die beginsel van laaste in, eerste uit, met ander woorde as jy die mees onlangse aanstelling is, is jy die eerste wat moet gaan as personeel besnoei word.

3. Lojaliteit lê dikwels by eie burgers eerste

Suid-Afrikaners sal altyd met die plaaslike gemeenskap se werkloses kompeteer. Veral as jy nog nie ’n plaaslike werksrekord het nie, gaanmag dit moeilik wees om ander werk te vind.

By die Amerikaanse Statue of Liberty word reëls uit die gedig The New Colossus van Emma Lazarus aangehaal wat lui “Give me your tired, your poor, Your huddled masses yearning to breathe free, The wretched refuse of your teeming shore.”

In die werklike lewe word immigrante selde in dieselfde romantiese lig beskou. Hulle word dikwels gesien as mededingers om skaars hulpbronne, of selfs as opportuniste. Moet dus nie verwag dat spesiale oorweging aan die nood van ’n Suid-Afrikaner of Suid-Afrikaanse gesin op vreemde bodem geskenk gaan word nie.

4. Maatskaplike hulp is nie noodwendig vir buitelandse burgers toeganklik nie

Hoewel baie lande uitstekende sorg vir hulle burgers en ander inwoners beskikbaar stel, soos mediese sorg of toelae in geval van werkloosheid, is dit nie outomaties vir almal beskikbaar nie. Soms word dit gekoppel aan jou status in die land (jou tipe verblyfpermit) of selfs aan hoe lank jy reeds daar woon. Steun met mediese behandeling mag selfs afhanklik wees van inligting oor jou kans op herstel, of lewensstylkwessies soos jou gewig.

5. Ander Suid-Afrikaners is nie ’n vangnet nie

Suid-Afrikaners in die buiteland sorg soms nogal op wonderlike wyse vir mekaar, maar dit is vrywillige hulpverlening wat nie gewaarborg kan word of onbeperk sal aanhou nie. Dit geld selfs wat jou eie vriende en familie in die buiteland aanbetref.

6. Ongelukke gebeur ongelukkig

Die ou spreekwoord lui dat daar geen waarborge in die lewe is buiten belasting en die dood nie. Ongelukke kan nie altyd voorspel word nie – iemand met die beste werksaanbod kan skielik val en sy rug breek, of ’n voortslepende siekte soos kanker kry, skielik om ’n egskeiding gedagvaar word, of uitvind dat die agent deur wie hy immigreer het, ’n bedrieër is.

7. Grense kan enige tyd sluit

Omdat rampe, pandemies en geweld gebeur, kan grense sluit, wat beteken dat ’n mens in ’n ander land gestrand mag raak  – dalk selfs op jou eie koste. As daar nie vir hierdie gebeurlikheid voorsiening gemaak is nie, kan dit rampspoedig vir jou begroting wees.

Hoe nou gemaak?

Die antwoord is om te kyk watter vangnette bestaan.

Moet in die eerste plek nie brûe in Suid-Afrika verbrand voor jy vertrek nie. Hou jou verhouding met vriende, familie, kollegas en werkgewers goed.

Moet ook nie skuld agterlaat wat vervolging mag beteken as jy sou moes terugkeer nie. Vertrek met ’n skoon blaadjie.

Moenie polisse afkoop of eiendom verkoop voor jy doodseker is dat jy nie gaan terugkeer nie.

Vind uit watter versekering alles beskikbaar is, byvoorbeeld in geval van siekte vir mediese sorg en in geval van langdurige of permanente ongeskiktheid vir repatriasie of plaaslike sorg. As dit aan jou werksaanbod gekoppel is, vind uit wat sou gebeur as jy skielik afbetaal sou word.

Al is julle huwelik hoe gelukkig, maak seker watter beskerming een lewensmaat sal geniet as die ander een sou wegval, om watter rede ook al.

As jy deur ’n agent werk, maak seker daar is voldoende onafhanklike bewyse van die persoon of maatskappy se betroubaarheid.

Doen navorsing oor die bestemmingsland se arbeidswetgewing. Gesels vooraf met ander Suid-Afrikaners daar om te hoor hoe hulle dit ervaar – nie vriende en familie nie, maar mense wat onbetrokke is by jou en aan jou ’n eerlike mening sal gee. Net omdat ’n land in die sogenaamde Eerste Wêreld is, beteken nie noodwendig dat die wetgewing daar meer beskerming vir ’n werknemer as in Suid-Afrika sal bied nie.

’n Aantreklike werksaanbod is goeie nuus, maar vra jouself af as dit sou teruggetrek word, is daar ’n aanvraag vir mense met jou ervaring en kwalifikasies in die bestemmingsland, sodat jy ander planne kan maak as jy die aanbod of aanstelling verloor?

Hou ook die nuus dop – as die risiko van ’n finansiële ineenstorting, politieke onrus of ander negatiewe gebeure in die land van jou keuse bestaan, sal berigte daaroor wel verskyn.

Om te migreer is een van die mees ingrypende en duurste besluite in ’n individu of gesin se bestaan. Bogenoemde klink besmoontlik na ’n klomp moeite, maar mag dalk net die verskil tussen voorspoed en ’n ramp beteken.

Foto: stas-ostrikov-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest