Leesvordering:

München – Duitsland

Feb 2, 2017

Ich liebe Deutschland!

Dit was my eerste besoek aan München, ’n stad wat ek nog altyd wou sien. En dit het my geensins teleurgestel nie. Uiteraard is die Marienplatz die eerste plek waarheen enige toeris gaan – die sentrale skakel waar toeriste mekaar ontmoet. As jy die trein verlaat en met die trappe na bo gaan, sien jy toeriste vanuit alle rigtings kom en gaan. Sommige kom aangestap van die Hofbräuhaus in Bräusstraße of van onder die Altes Rathaus (ou stadsaal), en die kanse is goed dat hulle via Neuhauserstraße kom, ’n bekende inkopiestraat. Die Marienplatz bly maar ’n ongelooflike bymekaarkomplek of die perfekte plein om ’n Duitse eetdingetjie te eet – sommer op een van die bankies.

 

 

Nes tipiese toeriste het ons die Hofbräuhaus opgesoek om die beroemde bier en kos op die proef te stel. Die plek was toe onder die toeriste, maar ons het darem ’n plekkie oorkant ’n eensame Japanner gekry wat vriendelik genoeg was om sy tafel met ons te deel. Ons het dit gate uit geniet en die volgende dag teruggegaan om te sien of die orkesgroep aan die speel was. Ek het ’n paar foto’s geneem en toe maar weer verkas. Die plek is stiller deur die dag; ek stel dus voor dat mens deur die dag gaan om die plekkie werklik te kan beleef.

Foto: Phillip Grobler

Ons het Ons Ons het ook die Residenz München gaan opsoek. Dit is ’n pragtige paleis en die moeite werd om te besoek. Die naaste moltreinstasie is die Odeonplatz, en die ingang na die paleis is in Residenzstraße. Jy sal met ’n oudiogids toegerus word wat die hele geskiedenis en ander interessante feite oor die Residenz sal verklap.

 

 

’n Cool plek om te besoek as jy na die Englisher Garten (Engelse tuin) op pad is, is die Eisbachwelle, waar branderplankryers bymekaarkom en hulle vaardighede ten toon stel. Jy kan hulle sommer van die brug af dophou.

 

 

As jy die Engelse tuin van die Eisbachwelle se kant benader, moet jy seer sekerlik die Chinesischer Turm (Chinese toring) besoek. Dis ’n wonderlike plek waar mens ná die lang stap kan ontspan en ’n pretzel kan eet – en bier en pretzels gaan tog so lekker saam! Jy sal ’n hele paar interessante mense in die tuin raakloop: van kaalbas sonaanbidders tot aspirantkrygshere soos in die tweede foto hieronder!

 

 

Net ’n klipgooi van die Marienplatz is die bekende Peterskirche (Peterskerk). Jy kan die bykans 300 trappe uitklim om bo uit te kom en ongelooflike uitsigte oor München te kan aanskou. Dis bietjie beknop bo, maar elke trappie werd.

 

 

Op my emmerlys was ’n besoek aan die Dachau-konsentrasiekamp naby München. Mens kan nie anders as om te dink aan wat daar met so baie mense gebeur het nie. Ek dink die krematorium is die ergste plek om te besoek, asook die gaskamer reg langsaan. Dis miskien nie die gelukkigste toeriste-aantreklikheid nie, maar beslis ’n besoek werd.

Soos jy om die Marienplatz heen drentel, sal jy deur die pragtige Viktualienmarkt stap. Kyk uit vir die skare in die biertuin en die varsproduktemarkie wat dit omring.

 

 

Ons het gestap tot by die Olympiapark, waar die Duitsers die Olimpiese Spele in 1972 aangebied het. Mens kan heerlik rondwandel – jy sal ook verby die BMW-museum en -wêreld stap. Daar is ’n paar kraampies wat pannekoek en koffie verkoop. Ons het ons s’n geëet terwyl ons op ’n koppie gesit en oor die park uitgekyk het.

 

 

Ná die terrorisme-aanval vroeër in die stad, is ons besoek aan München deur verhoogde sekuriteit gekenmerk. En tog het ons die tydjie in München terdeë geniet.  Danke schön, München!

 

 

Phillip Grobler is ‘n onderwyser in Oman gedurende die skooltermyn, maar ‘n reisiger en fotograaf wanneer hy ook al die geleentheid kry! Die reisgogga het hom gebyt die heel eerste keer toe hy op ‘n vliegtuig geklim het vir sy eerste vlug. Vandaar was daar geen omdraaikans meer nie! Besoek  www.saffatravels.com om meer van Phillip se blogs en pragtige foto’s te sien.

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest