Leesvordering:

My kind, die krimisrose blom (ek wens jy was hier) …

Des 13, 2021

“It’s heartbreaking – OR Tambo airline passengers hard hit by travel ban” (Daily Maverick, 28 November 2021). “‘I cried and cried ’: South Africans devastated over travel ban” (News24, 28 November 2021). Só lui die nuusopskrifte na die ontdekking van die Omicron-variant van COVID-19 in onder meer Suider-Afrika.


Ná Kersfees 2020, waar vele vakansieplanne vanweë die tweede vlaag van die pandemie gekanselleer en uitgestel moes word, het baie mense gehoop om die 2021-feesseisoen te gebruik om die verlore tyd in te haal. Ná nog ’n uitdagende jaar wil ons net ontspan met ’n welverdiende vakansie. Soos ons steeds ons pad deur die pandemie probeer vind, is dit veral families wat as gevolg van emigrasie ver weg van mekaar af woon wat op ’n spesifieke wyse deur die verbod geraak is.


Sommige van hierdie transnasionale families beplan al ’n geruime tyd om bymekaar te wees, om saam die Kersvakansie te kan deurbring en die tyd wat hulle gemis het, in te haal. Die gesprekke, spesiale oomblikke en tyd saam met hul geliefdes gaan nie meer gebeur nie. Vanweë die nuutste reisbeperkings vir Desember 2021 lê hierdie wens aan skerwe.


Party van hulle het daarna uitgesien om hul kleinkinders vir die eerste keer te sien.


Net een Kersfees saam…


Emigrasie en die hartseer van weg wees van mekaar af
Emigrasie is ’n onlosmaaklike deel van ons huidige bestaan. Baie Suid-Afrikaners het veral oor die laaste twee dekades ’n heenkome in die buiteland gaan soek. Dit is seker van die mees komplekse en verreikendste prosesse wat ’n persoon kan aanpak.


Elke rolspeler in hierdie proses ervaar dit op ’n unieke wyse. Aan die een kant bevind die emigrante wat hierdie lewensveranderende besluit geneem het, hulleself in ’n soort oorgangswêreld waarvan hulle moet sin maak. Hulle is ontneem van hul moedertaal, bekende omgewing, tradisionele gebruike, waardes en familiestrukture, dalk selfs die manier waarop hulle hul geloof kan uitleef. In die besonder egter, die nabyheid van familielede en geliefdes. Aan die ander kant is dié wat agterbly se geliefdes fisies nie beskikbaar nadat hulle emigreer nie.


Dit is ’n gebeurtenis wat mense se lewens onherroeplik verander. Hierdie ervaring kan nie simplisties gedefinieer word in terme van rou en verlies; of geleentheid en avontuur nie. Die emigrant het nie net binne Suid Afrika verhuis nie – hulle is fisies weg na ’n ander land, met moontlik selfs ’n ander tydsone. Daar is dus hierdie bykomende verlies van nabyheid vanweë ’n massiewe geografiese afstand. Hierdie verwydering vanweë afstand het ’n invloed op hoe die verhouding vorentoe gaan verloop. Dit kan lei tot ’n vreemde soort “chroniese hartseer ”, ’n onuitgeklaarde verlies. Een ding is seker: vir beide partye hou die emigrasieproses ’n mate van verlies en hunkering in.


Onuitgeklaarde verlies
Onuitgeklaarde verlies was al die inspirasie vir vele boeke en legendariese films, dieselfde tipe verlies waarvan ons tans in die koerantopskrifte oor die reisbeperkings lees. Dit fokus op die magteloosheid van die akteurs. Te midde van die pandemie is hierdie verlies nie swart of wit, soos die dood van ’n geliefde – waar jy finaal kan afskeid neem, rou betoon en treur, en daarna teruggaan huis toe en voortgaan met jou lewe nie. Met onuitgeklaarde verlies is daar geen rituele nie.
Onuitgeklaarde verlies is ongedefinieerd en kan onbepaald voortduur. Voorbeelde hiervan is ’n onverwagse diagnose, ’n huwelik wat tot ’n einde kom, onvrugbaarheid, ’n familielid wat besig is om kognitief agteruit te gaan, of die verlies van ’n geliefde vanweë emigrasie. Onuitgeklaarde verlies is verwarrend. Dis ’n soort verlies wat jou amper verlam laat. Pauline Boss van die Universiteit van Minnesota definieer onuitgeklaarde verlies (onopgeloste verlies) as ’n onsekere en onafgehandelde verlies wat die rouproses kan vertraag en belemmer. Boss onderskei tussen twee soorte onopgeloste verlies:


Met die eerste soort is die persoon fisiek teenwoordig maar emosioneel afwesig, byvoorbeeld iemand met Alzheimer se siekte, ernstige depressie, afhanklikheid, chroniese siektetoestande, sowel as verslawing aan werk of rekenaarspeletjies. Met die tweede soort is die persoon psigologies teenwoordig maar fisiek afwesig. Voorbeelde hiervan is egskeiding, ’n kind wat opgegee is vir aanneming en geliefdes wat geëmigreer het. Afsluiting word bemoeilik deur die wete dat die persoon wel leef, maar onbereikbaar is. Dit lei tot onbeantwoorde vrae oor wat kón gewees het, wat móés gewees het en veral die onbeskryflike verlange om by mekaar te wees.


Paradigmaverskuiwings
Hoewel reisbeperkings gewoonlik met goeie rede ingestel word, verhoed dit jou om by jou geliefdes te wees. Dit is asof iemand jou “pause ”-knoppie druk en jou lewe tot stilstand kom. Hierdie soort lewensveranderende verlies krap alles deurmekaar. Om sin te maak van die nuwe omstandighede en ’n nuwe betekenis daarin te vind is ’n persoonlike uitdaging. Daar is geen eenvoudig antwoord oor hoe om onuitgeklaarde verlies te hanteer nie.


Weet net, jy is nie die enigste persoon in hierdie situasie nie. Dit raak mense reg oor die wêreld.
Ons is geneig om die gehalte van ons verhoudings te meet aan hoeveel gehaltetyd ons saam deurbring en hoe teenwoordig en betrokke ons binne ons familiesirkel is. Ons wil dus gereeld saamkuier en op ’n praktiese manier na mekaar kan omsien. Emigrasie maak dit baie moeilik en mense wat daardeur geraak word voel soms magteloos. Emigrasie dwing ’n mens om anders te dink oor betrokkenheid en nuwe maniere te bedink om, afgesien van die afstand, steeds deel te van mekaar se lewens te bly. Dit verg dat ons anders begin dink oor hoe ons die gehalte van ons verhoudings meet en definieer.


Hoe koester ons hierdie verhoudings met ons geliefdes as ons nie by hulle kan wees nie? Daar is drie moontlike oplossings: gebruik die geleenthede wat moderne kommunikasietegnologie bied, begin planne maak vir toekomstige kuiers, en probeer aanpas by omstandighede.
Dit verg emosionele toewyding van al die partye om ’n langafstandverhouding en transnasionale kommunikasie lewendig te hou. Moderne kommunikasietegnologie bied aan families wat ver van mekaar weg is die geleentheid om in kontak te bly. E-pos, WhatsApp en Skype het kommunikasie dwarsoor die wêreld moontlik gemaak en maak dit vir transnasionale families soveel makliker om dadelik en op ’n gereelde basis met hul geliefdes te kommunikeer.


Kuiers bly egter steeds dit waarna transnasionale gesinne die meeste uitsien. Virtuele kommunikasie vervang maar net nie die genoegdoening wat mense ervaar as hulle fisies bymekaar is nie. Om tyd in mekaar se geselskap deur te bring is dus die einddoel vir die meeste transnasionale families. Daardie behoefte maak dat mense bereid is om groot afstande af te lê om by mekaar te kan wees. ’n Omhelsing en die fisiese aanraking van ’n geliefde bly iets waarop mense hoop en waarna hulle uitsien. Daar is sekere bepalende oomblikke in ’n mens se lewe: die geboorte van ’n kleinkind, ’n 21ste verjaarsdag, die laaste matriekvraestelle – oomblikke wat jy met mense na aan jou móét deel.


Ongelukkig is daar talle aspekte wat ’n groot invloed op ons lewens het waaroor ons eenvoudig nie beheer het nie. Sulke eksterne gebeure of omstandighede kan die lewe ingewikkeld maak. Maak vrede daarmee dat jy nie alle omstandighede kan beheer nie, maar wel beheer het oor jou keuses en gesindheid. Die feit dat julle nie by mekaar is nie, is nie jou of jou geliefde se skuld nie – jy kan niks daaraan doen nie. Huil jou huil, en dan is dit tyd om nuwe planne te maak. Skep nuwe rituele. Beplan solank vir Paasfees. Maak hierdie planne so gou as moontlik sodat julle iets het om na uit te sien. Moenie uitstel nie. Emigrasie laat ’n mens net weer eens besef hoe kosbaar elke oomblik saam met jou geliefdes is.

Moenie Kersfees kanselleer nie!
Die wete dat jou geliefdes net so graag by jou sal wil wees as jy by hulle, maak die verlange meer draaglik. Dit bevestig dat die verhouding vir albei waardevol is, dat julle albei saam wil wees en hierdie spesiale band wil koester. Dit beklemtoon julle liefde en omgee selfs oor tydsone heen.
Pleks daarvan om jul feestelikhede te kanselleer, beplan om jul Kersfeesete oor die internet te hê. Pluk al die krismisrose in jou tuin en dek vir ’n feesmaal. Speel “Somer Kersfees” van Laurika. Bowenal, vier dít wat vir julle as gesin en familie belangrik is. Wees kreatief en maak dit ’n geleentheid wat almal sal onthou.


Stuur jou kalenderuitnodiging met al die flair:

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy voor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest