Leesvordering:

My mond mis my mense die meeste

Okt 7, 2019

In ons tweede jaar in die VSA nooi kerkvriende ons oor vir Thanksgiving. Ek bied aan om ’n eg-Suid-Afrikaanse nagereg te bring. Per WhatsApp vra ek my jarelange vriendin Nelia vir haar uithaler-malvapoedingresep.

Dit voel of ek ’n toonbeeld van alle Afrikanervroue se talent in die kombuis gaan wees. Ek sien klaar in my pessimistiese geestesoog hoe hierdie Amerikaners agterna vir almal vertel dat Afrikaners nie juis lekker kos kan maak nie.

Niks kan skeefloop nie, dis net malvapoeding, sê ek vir myself in ’n verbete poging om die twyfel in my eie bakvernuf te oorkom. Was ek toe verkeerd! Baie dinge kan skeefloop as ’n Suid-Afrikaner in Amerika probeer bak.

Eerstens is die meel hier heel anders: growwerig soos mieliemeel. Later sou ek ontdek mens kry wel die soort meel wat jy in fyngebak gebruik – jy moet net beter daarna soek.

Dan is daar die kwessie van room, ’n uiters belangrike bestanddeel in Nelia se malvapoeding. As die Amerikaners cream sê, bedoel hulle melk. As hulle half and half sê, bedoel hulle helfte melk, helfte room. Wat ek vir die malvapoeding benodig het, was whipping cream – kloproom!

Ek het nie geweet nie!

Ons Amerikaanse vriende het die malvapoeding beleefd geëet, maar niemand het vir tweede porsies gevra nie. As verteenwoordiger van Afrikanerbakkuns het ek klaaglik misluk. Skuus, almal by die huis … My malvapoeding het meer soos kluitjies gelyk en gesmaak.

So van kluitjiesbak gepraat – dis die tweede plek waar ek as ’n Afrikaanssprekende veral in Amerika sukkel: om stories te vertel.

My moedertaal het so ’n kleurryke seggingskrag. Ek besef dit die meeste as ek Afrikaanse idiome probeer vertaal en ek eers moet verduidelik wat ek daarmee bedoel. Nou die dag vertel ek vir my haarkapster ons sê jy moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie. Engels het nogal ’n lekker ekwivalent hiervoor: Don’t borrow trouble. Maar die Afrikaanse weergawe skep net ’n soveel duideliker prentjie. In mý kop, altans. Die uitvangslag is natuurlik by die woord bult. Hoe vertaal mens dit? Don’t go fetch the baboon behind the hill is die beste waarmee ek vorendag kon kom.

My haarkapster het gefrons. Ek kon sien sy verstaan nie lekker wat ek probeer beduie nie.

Later het ek besef: Om dié sêding regtig te snap, voorveronderstel drie dinge. Jy moet ʼn bobbejaan ken. Jy moet ʼn bult ken. En jy moet ’n kommerpot van ’n kind van Afrika ken, wat positiewe sinne met nee begin.

Soos: “Hoe gaan dit, Koos?” “Nee, dit gaan darem nog goed, dankie.”

Op ’n ander keer probeer ek vir iemand vertel van ’n paar reste Frans wat in Afrikaans oorgebly het, soos hierdie uitdrukking: Moenie sê: “Fonteintjie, fonteintjie van jou sal ek nooit weer drink nie.” Blykbaar kry mens hierdie sêding nie in Nederlands nie, maar wel in Frans.

Weer eens is daar ʼn skaflike Engelse ekwivalent: Don’t burn your bridges. Maar probeer bietjie hierdie beeldryke Afrikaanse uitdrukking in Engels vertaal en jou turf sit. Never say little fountain, little fountain, from you I shall never drink again.

In die eerste plek is daar die digterlike herhaling van die aanspreek van die fontein. Dan is daar die Afrikaanse verkleiningsvorm. Al hierdie dinge gaan verlore in die oordra na Engels. Dis sulke tye dat ek besef dis met my mond wat ek my mense en my land die meeste mis. Dis die dinge wat ek wil eet en die dinge wat ek wil sê waaroor ek die meeste treur.

Party dae raak ek net uitgekuier en wil sommer net huis toe. (Uitgekuier! Daar is nog ’n onvertaalbare Afrikaanse woord.)

Huis toe gaan is op die oomblik nie moontlik nie. Dis die “miskien eendag” wat my staande hou. En ’n grootse dankbaarheid in my hart vir die internet en moderne tegnologie wat dit steeds vir my moontlik maak om daagliks nog my geliefde Afrikaans te kan lees en hoor.

Dankie, Wêreldwyd, dat julle ons almal so min of meer nog bymekaarhou!

Met groot verlange hier diep uit die diaspora

Marisa Haasbroek, Maryland, VSA

 

Meer oor die outeur

Marisa Haasbroek

Marisa Haasbroek is ’n bekroonde Afrikaanse skrywer, maar ook ’n tuisskoolma wat weekliks in Afrikaans by oolfant.com blog. Om haar verlange na Afrikaans en Suid-Afrika te besweer, ontwikkel sy aanlyn kursusse oor Afrikaanse taalleer en hoe om in Afrikaans te skryf. Sy hoop om dit só vir Afrikaanssprekendes die wêreld oor makliker te maak om aan te hou om vir hulle kinders Afrikaans te leer. Sy glo kennis van Afrikaans bied vir ons kinders ’n venster op Europa, want as ’n mens Afrikaans kan lees, kan jy dan taamlik maklik ook Nederlands leer lees.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Laat jou taal leef – selfs al is jy in die buiteland

Laat jou taal leef – selfs al is jy in die buiteland

As jy in die buiteland woon en werk is dit maklik om van jou moedertaal verwyderd te raak. Selfs al slaag hulle daarin om steeds genoeg Afrikaans te kan praat, het baie Suid-Afrikaners in die buiteland steeds ’n behoefte om hulle taal lewendig te hou. Hoe kan jy...

Natuurhoekie – Olifantkalfie by die Shingwedzirivier

Natuurhoekie – Olifantkalfie by die Shingwedzirivier

’n Olifantkalfie geniet ’n modderbad in die Shingwedzirivier in die Krugerwildtuin, en wys vir sy ma dat hy dié tegniek soortvan bemeester het. Olifante kommunikeer op vele wyses, insluitend met geluide van ’n baie lae frekwensie – selfs soms te laag vir die menslike...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week.

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week.

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Afrikaanssprekendes ‘huiwerig’ om inenting te kry...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest