Leesvordering:

’n BAK kalorie-booster-mannebasaar (sonder pampoen)

Des 2, 2020

’n Klompie vindingryke manne van Brisbane Afrikaanse Kerk (BAK) het besluit om weg te breek van die tradisionele kermisidee. Aanvanklik is net twee reëls neergelê. Reël 1: Slegs kalorieryke kossoorte soos boerewors, kerrie en rys, heerlike koeksisters en pannekoek sal voorgesit word. Reël 2: Geen slaai of groente nie! Die manne het om een of ander rede onaangename herinneringe aan slaai en groente uit hulle kinderjare en jeug, en die grootste sondebok is pampoen.

Nou kyk, heelwat van die manne is kort ná die Tweede Wêreldoorlog gebore en kos was skaars. Net pampoen was in oorvloed beskikbaar en dit is drie maal per dag opgedis. (As ’n mens ’n ordentlike woord soos “dis” nou so onverskillig kan gebruik!) Dan is pampoenkoekies boonop tussen die drie hoofmaaltye ook nog as ’n versnaperinkie voorgesit. Daar was nie daardie tyd Purity op die mark nie, en as kinders moes ons permanent wurg aan die pampoen. Ek onthou nog hoe ek my moeder (’n formidabele vrou) ordentlik met ’n stroom pampoensop geblerts het sodat sy vir drie dae soos ’n pampoenspook gelyk het.

Die manne het die hele basaar gereël. Die vrouens kon bystaan, en hulle het hulle goed van hulle taak gekwyt, maar vir vredesonthalwe het hulle maar liewer nie ingemeng nie.

BAK is in Februarie 2020 gestig en die eerste diens is op 16 Februarie gehou. Tans het ons reeds 100 lidmate en verwelkom ons elke Sondag ook heelwat besoekers. Meer as 500 mense het die kalorie-booster-basaar bygewoon en ’n wins van ongeveer $9 500 (± R120 000) is gemaak.

Maar geld is nie alles nie. Die samesyn van geliefdes in Christus was van kardinale belang. Afgesien van die heerlike eetgoed, soos sosaties, boereworsrolle, pap en wors, kerrie en rys, en vetkoeke met maalvleis, was daar ook die stouter goedjies soos pannekoek, koeksisters, malvapoedings, Peppermint Crisp-tert en draairoomys. Die organiseerders het wyd en syd uitgeblaker dat die stoute goedjies die belangrike kalorie-boosters is. Die kinders het permanent gehink tussen pannekoek en koeksisters en dan van hulle oortollige energie ontslae geraak op die springkasteel. En het hulle energie gehad! Dit laat my wonder of ons nie op ’n gereelde basis ’n paar dae voor ’n atletiekbyeenkoms ’n kalorie-booster-basaar moet aanbied nie?

Ds. Gawie Cloete is ons herder en leraar. Hy en Alba het ’n paar maande gelede by ons aangesluit nadat ons hom van Wes-Australië af beroep het. Beide van hulle is gebore en getoë Namibiërs (Suidwesters), later Nieu-Seeland en Wes-Australië. En nou is ons gemeente inderdaad ryklik geseën met ’n hardwerkende, talentvolle en liefdevolle leraar. En dan is hy boonop ’n uitstekende kok, veral as dit by kerrie en rys kom. Hy en Alba was ietwat oranje in die gesig ná ’n paar dae in die kombuis om hulle kerriedis voor te berei. Nou moet ek dadelik noem dat ek van ordentlike kerrie en rys geleer het toe ek as student deur Suidwes-Afrika gereis het – eintlik was dit die beste kerrie en rys ooit. Dit was op ’n baie klein dorpie en in ’n baie klein restaurantjie, en die kok was ’n plaaslike inwoner met die naam van “Gapsie”. Gerugte het die rondte gedoen dat Gapsie sy naam gekry het omdat hy sy hoofbestanddeel by die plase in die omtrek gegaps het, maar almal het hom oorgesien omdat sy kerrie en rys die allerbeste was. Ná ’n paar monde vol van ds. Gawie se kerrie en rys het ek terstond geweet dat Gapsie sy leermeester was! Gelukkig het ds. Gawie darem nie alles by Gapsie geleer nie, want ek is nie bewus van enige skape in die omtrek wat verdwyn het nie … Hy is darem nie verniet ’n uitmuntende predikant nie!

Dan kom ons by ’n laaste sakie, en dit gaan oor die ongedissiplineerde verorbering van pannekoeke en koeksisters op so ’n kalorie-booster-basaar. Daar is ’n paar manne by BAK wat ’n ernstige probleem met suikersiekte het – ek self ingesluit. Maar ek kon nie help om waar te neem hoe hierdie manne (natuurlik nie ek nie!) verlangend voor die koeksister- en pannekoektafels getalm het nie, en dit was nie lank nie of hulle het behoorlik ingeklim en voorgegee dat die suikersiektestorie net lawwe praatjies is. Snaaks dat die suikersiektemanne nou, ná die basaar, gereeld hulle vingers prik maar dan die bloeddruppeltjie aflek met die woorde: “Sjoe, maar so ’n bloeddruppeltjie proe darem wraggies soos ’n bobaas koeksister.”

Die vrouens by BAK is natuurlik in hulle noppies met hulle kalorie-booster-manne, en dit lyk vir my daar is op ’n meer gereelde basis, veral in die kombuis, ’n stille respek vir die manne. Hulle word nou op ’n gereelde basis versoek (eintlik gesoebat) om die kokery oor te neem. Maar dit gaan natuurlik maar van korte duur wees, want manne wat met so ’n uitmuntende idee na vore kom, laat hulle nie maklik beïnvloed nie!

Johann

Kontak gerus die Brisbane Afrikaanse Kerk (BAK) by admin@bak.org.au.

Ons is ook op Facebook.

Besoek http://bak.org.au/wat-glo-ons/ vir meer besonderhede oor die kalorie-booster-basaar.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest