Leesvordering:

’n Brief van ’n boer se vrou

Apr 5, 2018

Hierdie brief het oorspronklik op Maroela Media verskyn op 23 Maart 2018.

Die skrywer verkies om anoniem te bly, ter wille van haar en haar gesin se veiligheid

Ek het vir ’n lang tyd vreeslik met myself geworstel oor of ek hierdie brief moet skryf of nie… Of ek dalk gaan krap waar dit nie jeuk nie, of slegte terugvoer of kritiek gaan kry. Maar dis tot daarnatoe, want ek kan jou belowe ek is nie die enigste vrou in Suid Afrika wat so voel nie. Ek weet dit, want ek het al talle dokumentêre films en video’s gesien waar ek in trane uitbars omdat ek 100% verstaan wat die vrou in die film deurgaan.

Ek is getroud met ‘n hoenderboer, ons het ’n agt maande oue seuntjie en ons bly op ’n plaas.

’n Pláás… Ons almal wou op ’n plaas grootword, of smag daarna om ons kinders op ’n plaas groot te maak. Daar waar jy vir ure as kind buite kon jol en net huis toe gaan wanneer jy honger is. Maar vandag, vandag is dit nie meer alles maanskyn-en-rose nie. Die afgelope tyd hoor ons baie sienings en menings van die mans af, maar vandag vertel ek jou uit die mond van ’n boer se vrou hoe dit is om deesdae op ’n plaas in Suid-Afrika te bly.

Eerstens: ek is nie ’n “boervrou” nie; ek weet nie wat dit verg om dag-in en dag-uit te boer nie, so ek voel ek verdien dit nie om myself ’n boervrou te noem nie. Maar ek is wel ’n trotse “boer se vrou”.

Elke vrou of mamma het vrese van haar eie, maar ek dink ons almal het een vrees in gemeen: ons vrees vir ons eie, ons mans en ons kinders se lewe. En as jy ’n boer se vrou is, weet jy wat dit is om in die oggend wakker te word met ’n hart vol dankbaarheid dat agt gewapende mans nie deur die nag jou dogtertjie kom verkrag het of jou seuntjie met kookwater kom verbrand het nie. Jy weet hoe dit voel om wakker te word en jou man se gesig te sien en te weet julle het nog ’n nag oorleef. Daarna staan julle op, haal die pistole onder jul kussings uit en haak dit, saam met die tweerigtingradio’s, aan julle gordels. Dan stap jy na die kamerdeur toe, skakel die alarm af, sluit die kamerdeur oop, sluit die veiligheidshek na jou kamerdeur toe oop en maak seker al die deure en vensters is nog gesluit en die honde lewe nog. En dan, eers dan, gaan jy kombuis toe om jou ketel aan te sit.

Net om die hele dag agter slot en grendel in jou huis deur te bring, want dit word oor en oor by jou ingeprent: “Hulle kom vir jou wanneer jy dit die minste verwag…” Dit beteken jy gaan nie buitentoe nie, en as jy buitentoe gaan, is jou kinders in die huis, jou pistool en radio aan jou sy en jy maak die tuin nat met een oog oor jou skouer (want netnou oorval hulle jou terwyl jy in die tuin besig is). Wanneer dit naby vyfuur kom, begin jy al die gordyne toetrek en die vensters toemaak, sodat hulle nie kan sien wat in die huis aangaan nie. Teen agtuur doen ons ’n radiotoets om seker te maak al die ander boere in die omgewing is veilig (vir nou).

Voor ons kamer toe gaan, sit ons verskillende ligte aan en af sodat hulle net nie kan sien waar ons is, of ons roetine kan dophou nie… Ons sit nie in die TV-kamer en TV kyk nie, ons gaan sluit ons agter al die deure en tralies in die kamer toe sodat ons ten minste ’n bietjie van ’n waarskuwing het indien hulle deur die garage of kombuis inkom.

Wanneer jou man uitgeroep word omdat daar voer, mielies of hoenders gesteel word, bid jy die ure om tot hulle veilig tuis kom terwyl jy geen vrees of bekommernis op jou gesig mag wys nie, anders word die kinders bang. Vir hulle sê jy: “Ag nee wat, daar is niks om oor bekommerd te wees nie, alles is okay, moenie bang wees nie…” Kyk, ek sal eerder heeldag vrees en vir my kind se onthalwe aan alles dink wat moontlik kan gebeur as dat daardie onskuldige lyfies moet verstaan wat regtig aangaan.

Natuurlik slaap my seuntjie by ons in die kamer, al het ek die mooiste kamer vir hom gemaak net voor hy gebore is. Hy slaap by ons, want netnou kan ek nie gou genoeg by hom uitkom nie, of hulle gebruik hom teen my en my man. Waar gaan steek ek hom weg? In watter kas druk ek my baba in sodat hulle net nie by hom moet uitkom nie? Hoe hou ek hom stil dat hulle hom nie moet hoor nie?  Hoe smeek jy dat hulle met jou kan maak net wat hulle wil, solank hulle hom net uitlos?

Ons praat nie eens oor grondonteiening nie… Kyk, ek sê dalk nou die ongewilde ding, maar ek is té lief vir my man en kind om hulle prys te gee vir grond. Wat is daardie grond vir jou werd as daar niemand meer is om saam ’n sukses te maak daarvan nie? Ek emigreer eerder  Australië toe en pas aan by ander mense se gewoontes as wat ek by my man en kind se oop graf moet gaan staan (dis nou as jy dit oorleef). Soos my swaer sê: “Ek gaan kuier eerder vir my boetie in ’n ander land as wat ek vir sy graf gaan kuier.” Maar dit is elke persoon se eie keuse, hierdie is net myne… Ek sal nie twee keer dink om eerder te verhuis om seker te maak my kind kry ’n regverdige kans op ’n toekoms nie. Dis hartseer om te dink ek moet my land, my familie en my vriende agterlaat, maar nou ja, ’n mens doen wat jy goed dink en wat jou hart vir jou sê, want anders sit jy met die “wat as…” of “as ek net vroeër…” die dag as iets wél gebeur.

Hierdie is maar net ’n paar van my vrese as ’n boer se vrou wat in vandag se Suid Afrika op ’n plaas bly… Ek’s seker ek is nie die enigste vrou wat so voel nie, en ek weet daar is soveel vrouens wat al hierdeur en deur baie erger is. Vandag sê ek vir jou, boer-se-vrou: “Ek salueer jou.” Ek haal my hoed af vir jou en vir elke vrou wat elke dag aan goed soos hierdie moet dink net omdat jy op ‘n plaas in Suid-Afrika bly.

Ek dink aan jou. My gebed vir jou is dat jy, jou man en jou kinders vir nog ’n dag gespaar sal bly.

Liefde

’n Boer se vrou

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest