Wat is jou identiteit? Baie van ons sal eenvoudig antwoord Afrikaner, ander Suid-Afrikaner, Suid-Afrikaner in die buiteland of bloot Afrikaanssprekende. Identiteit is ’n baie belangrike komponent in die vorming van ’n persoon. Daarom is dit noodsaaklik om ook jou wortels verder terug te soek as net jou ouers en grootouers.

Talle bekende Afrikaanse families het hul wortels in Frankryk en hul verbindenis met Suid-Afrika vandag is te danke aan die koms van hul Franse voorouers na die land. Die vlugtelinge wat gedurende die sewentiende eeu na die Kaap van Goeie Hoop gekom het staan gemeenskaplik as die Franse Hugenote bekend.

Die Franse Hugenote is beskou as mense wat ’n onwrikbare Protestantse geloof gehad het. Wel, dit moes onwrikbaar wees, want dit is juis vanweë hul geloof en in opstand teen die praktyke van die Rooms-Katolieke Kerk in Europa dat dié mense hul vaderland verlaat het. In Frankryk is hulle vervolg weens hulle geloof nadat koning Lodewyk XIV in Oktober 1685 die Protestantse geloof in dié land verban het, en dit het aanleiding gegee tot ’n uittog van Protestantse Franse.

Die uittog het tot ’n wêreldwye verspreiding van Franse Hugenote gelei. Navorsing toon dat nagenoeg 80 000 na Nederland, 50 000 na Brittanje en 43 000 na Duitsland gevlug het. Sowat 20 000 het ook na Switserland en 10 000 na Ierland gevlug, terwyl kleiner groepe na onder meer Denemarke en Rusland uitgewyk het. Sowat 200 het uiteindelik ook hul weg na die Kaap gevind. Hulle moes duisende kilometers ver reis na die onbekende en onontwikkelde suidpunt van Afrika – na die Kaap van Goeie Hoop. Die eerste Franse Hugenote wat hierheen gevlug het, het in 1688 aan boord die skip Voorschooten in Saldanhabaai aangeland, waarna daar in die daaropvolgende jare nog verskeie skepe met vlugtelinge gekom het. Die reis van Europa na die Kaap het tussen vier en ses maande geduur en in dié tyd is die vlugtelinge aan uitdagings soos siekte, storms en ’n gebrek aan skoon water en voedsel blootgestel.

Ná hul aankoms in die Kaap is die Franse op plase gevestig – veral langs die Bergrivier en tot sover as die Paarl. Hulle het probeer om met onder meer sy en olywe te boer, maar sonder veel sukses. Die waarde van hul bydrae tot die vestiging en uitbouing van wynbou in die land is egter onmeetbaar. Hoewel die aantal Hugenote wat hulle uiteindelik aan die Kaap gevestig het klein was, het die koms van dié Franse vlugtelinge ’n groot impak op die Europese bevolking aan die Kaap gehad. Teen 1700 het nagenoeg ’n sesde van die Europese bevolking uit Franse Hugenote bestaan.

Die druk van die Nederlanders in die Kaap het beteken dat die Franse dit moeilik gevind het om hul kultuur te behou. Daarom het die Franse kort voor lank vernederlands. Wat egter behoue gebly het, was hul standvastige geloof; ’n geloof wat vandag nog onder Afrikaners kenmerkend is.

Navorsing toon dat tot 20% van die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika vandag hul wortels kan terugtrek na Franse stamvaders. Die Hugenote-stamvaders se nasate is vandag wyd oor Suid-Afrika (en die wêreld) versprei en sluit onder andere die families Cronjé (oorspronklik gespel Cronier), Du Preez (Du Pre of Du Prez), Hugo (Hugot), Jordaan (Jourdan), Malan (Mallan), Nortjé en Nortier, Retief (Retif) en Roussouw (Rousseau) in.

Planne vir die oprigting van die bekende Franse Hugenote-monument in Franschhoek het reeds in 1938 begin, maar die monument is om verskeie redes (waaronder die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog) eers in 1945 voltooi. Dit is deur J.C. Jongens ontwerp en  uiteindelik op 7 April 1948 ingewy. Die kenmerkende drie hoë lugboë op die monument simboliseer die Drie-eenheid. Bo-op die middelste boog is ’n son en kruis wat die son van geregtigheid en die Christelike geloof simboliseer. Die vroulike beeld voor die boog-monument is gemaak deur die bekende beeldhouer Coert Steynberg. In die een hand hou sy ’n Bybel en in die ander ’n gebreekte ketting. Die mantel wat van haar skouers val, wys heen na die afgooi van onderdrukking. Sy is geplaas op ’n aardbol wat wys na haar spirituele vryheid. Op die aardbol self is ’n Bybel, harp, koringgerf en druiwestok en ’n spinwiel – wat onderskeidelik heenwys na die elemente van die Franse se kultuur en bydrae – dus geloof, kuns- en kultuur, land- en wynbou en die industrie.

Besoek gerus Kraal Uitgewers se webtuiste vir die nuutste leesgenot.

Lees ook: Kraal Uitgewers: Waar “broodnodige” geskiedenis lééf

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest