Deur Johan Nortje 

Kort ná halfdag staan ons in die ry op die lughawe. Die vrou voor ons, aangetrek in wit serp, rooi baadjie en blou jeans, blaf vir die lugrederybeampte in ‘n aksent wat ek nie kan plaas nie.

Sy skud haar kop heen en weer. Tik met haar wysvinger op haar bors, dan op haar paspoort en dan weer op haar bors. Sy lyk soos ‘n ruimtewese wat vir die eerste keer kontak maak met aardbewoners wat nie haar taal kan verstaan nie. Sy blaf weer, beduie na haar tas en haal haar bankkaart uit. Die rekenaarskaal moes seker haar emosionele bagasie ook ontdek het en outomaties ‘n bykomende fooi bereken het.

Vroeër die dag was ek weereens by die plek wat ek myself belowe het: Dis die heel laaste keer wat ek hierheen kom.

Die teerpad agter die kerk is al so erg verbrokkel van reën en slaggate dat dit amper al weer ’n grondpad is. Die munisipaliteit, wat verantwoordelik is vir paaie, het ’n paar jaar gelede afgebrand. En ek vermoed mense se omgee oor instandhouding het saam met die gebou in vlamme opgegaan. Aan die ander kant lyk dit of die hele dorp op die afdraande pad is.

Ek draai om en stap terug kerk toe. Hoewel ek weet die kerk se veiligheidshek is gegrendel, toets ek dit in elk geval. Ek stap na die hoofingang om te kyk of die hoofhek oop is – ook gesluit.

Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om oor die tralies te klim, maar besluit daarteen. Indien ek betrap word, wil ek nie uitvind watter definisie van vergifnis dalk hier toegepas kan word nie. Die foto van die monument op die kerkgronde wat ek belowe het om te neem, sal moet wag.

Die hele dorp is nog nat van die vorige aand se reën. Boonop het die droewige grys wolke wat die son versper nog nie padgegee nie. Straataf is verlate winkels met goedkoop klere en meubels en ’n DIY-hardewarewinkel se deure ook gegrendel.

By die kruising is daar geen verkeer nie; almal is vandag by die stembus om hul kruisie te trek. Behalwe vir twee bakkies (die een gaar en die ander nuut) wat voor banktellers geparkeer is, is die hoofstraat byna leeg. Ek doen nie eens die moeite om links of regs te kyk voordat ek die pad oorsteek nie.

As dit nie vir die effense beweging aan die bopunt van die straat was nie, sou die paar rolbosse wat soos in ‘n Western in die pad afgetuimel kom, gelyk het of dit daar hoort.

My sak vibreer. Ek haal my foon uit en kyk na Neil se boodskap: “Kry jou by Spar. Maak gou. Ek moet nog vir ’n paar mense baai sê!”

Ek skud my kop. Amper al my ander vriende se WhatsApp-profielfoto’s is met verloop van tyd vernuwe. Eers was dit net ’n foto van hulself, toe saam met die ander helfte, en nou is daar op amper almal se profielfoto’s kindertjies. Maar Neil is een van daai wat allergies is vir tegnologie. TV-skerms sneeu in sy teenwoordigheid, en daar is altyd ’n krapperige klank as jy met hom oor ‘n selfoon praat.

’n Paar siele gooi jakkalsdraaie tussen die Spar, drankwinkel en apteek om die motreën te vermy. Dit is die enigste winkels wat vandag oop is. Teen die apteek se venster is ’n plakkaat van ’n onbekende sanger wat die gholfklub al ’n week gelede besoek het. Langsaan stap ’n paar mans met ’n bottel Klipdrift by die drankwinkel uit – seker die een plek waar almal, ongeag aansien, ras of status, nog skouers skuur. Dan stap nog ’n groep uit, elkeen met ’n quart Lion.

Neil maak die kar se deur vir my oop en ons vat die pad huis toe.

By Hoërskool Heilbron drom ’n klein skare kiesers met verveelde uitdrukkings op hul gesigte saam. Ouers met orrelpypiekinders aan die hand staan voor die worsbroodjiestalletjie, besig om bestellings te plaas. Die dae van baie kinders kry is iets van die verlede en ek wonder of die woord “orrelpypiekinders” allengs uit mense se algemene woordeskat sal verdwyn.

“Het jy al jou kruisie van verskil gaan trek?” vra Neil met ’n speelse stem terwyl hy die pers bloedkolletjie onder sy duimnael ophou; ’n stuk houtwerk het hom getref en nou lyk dit soos ’n stemmerkie.

“Nee. Ek sal dit vanaand doen nadat ek jou by die lughawe gedrop het,” sê ek toe ons by die huis stop en ek die hek ooptrek. “Die stembusse sluit eers nege-uur, so daar is nog genoeg tyd.”

Ek weet hy dryf die spot aangesien hy nog nooit aan die demokrasie-bewonderaarsklub behoort het nie. Maar sy beskouing oor ’n stemmery is deesdae besig om die reël te word eerder as die uitsondering. ’n Onlangse Freedom House-verslag getiteld Democracy in retreat wys daar is ’n wêreldwye verlies aan vertroue in die demokratiese proses.

Maar daar is ook ’n ander rede vir sy spottende opmerking: Omstandighede het hom gedwing om ’n werksaanbod in die VSA te aanvaar en ek weet hy wil nie sy vrou en kinders agtergelaat nie, selfs al is dit net tydelik.

By die huis tref ons die finale reëlings en ná ’n paar uur is dit tyd om te vertrek. Ek stap garage toe om die tasse in te laai. By die deur draai ek om. Dit is hul laaste paar minute as gesin bymekaar vir ’n lang tyd en ek wil nie daarop inbreuk maak nie. Ek wag tot Neil my roep voor ek weer ingaan.

Sy vrou sit op ’n rottangtuinstoel. Langs haar staan ’n Nestlé NAN-melkpoeierblikkie vol doodgedrukte sigaretstompies. Haar gesig lyk soos dié van ’n kind wat so pas haar gunstelingspeelding verloor het. Die trane en grimering het oor haar wange vermeng. Dit is al effens droog, maar sal binnekort weer nat wees. Hul twee kinders begin weer huil en sy volg hulle.

Drukkies, trane en ’n grap om die senuwees te verlig word vir ’n laaste keer uitgeruil voor ek en hy in die pad val lughawe toe.

Ek is nog besig om oor mev. Kleurvol langs ons in die ry te dink toe die beampte langs die blaffende verebaadjie ons nader wink. “Your boarding time is 19:00,” sê sy terwyl sy die tyd op die vliegtuigkaartjie omkring soos die X op ’n skatkaart.

Uiteindelik is alles gedoen en ons gaan sit by een van die restaurante en bestel koffie. Ons gesels oor wat was en wat is. Die goeie en minder goeie tye.

Ek kyk op my horlosie – 18:11. Ons betaal die rekening en stap na hek A.

’n Tou mense het al klaar gevorm, besig om vaarwel te sê. Ek het ’n hekel aan afskeid. Dit tref my eintlik eers dat iemand weg is as hy uit sig verdwyn – daardie oomblik as hy in die skare wegraak, deur die eerste doeanehek stap – en jy kan nie gou terughardloop en sê wat jy al lankal moes gesê het nie. Of vir oulaas die spot dryf nie. Of hom net in die oë kyk en dankie sê dat hy vir jou ’n plek in sy lewe gemaak het nie.

Vir ‘n laaste keer hap ons na mekaar. Dan omhels ons, hy sê vir my iets wat ek altyd sal bly koester, en ek kyk hoe die skare hom agter die terminaal insluk.

Ek draai om en soek op my foon vir die naaste stemlokaal.

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest