Leesvordering:

’n Paar algemene wanopvattings oor belasting en buitelandse inkomste

Mei 11, 2022

En die kopsere wanneer ’n mens dit nie reg verstaan nie

Deur Amanda Visser

Suid-Afrikaanse belastingbetalers wat in ander lande werk, kan ’n krediet eis vir die belasting wat hulle in die oorsese regsgebied betaal het. Hulle verstaan egter soms nie heeltemal hoeveel hulle mag eis nie.

Belastingbetalers kan slegs die belasting wat hulle in ’n ander land betaal het eis as ’n krediet op die belasbare inkomste en nie die volle bedrag wat hulle betaal het nie, waarsku Carmen Westermeyer, wat onlangs ’n virtuele bespreking oor algemene belastingkwessies gefasiliteer het wat deur The Tax Faculty aangebied is.

Sy het ’n eenvoudige voorbeeld gegee waar ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner R2,5 miljoen verdien het vir werk in die buiteland. Hy het gekwalifiseer vir die buitelandsebelastingvrystelling wat tot op R1,25 miljoen beperk word.

Die regte manier

Om ’n berekening te doen vir belastingdoeleindes, moet die belastingvrygestelde bedrag van R1,25 miljoen afgetrek word van die R2,5 miljoen bruto inkomste, wat die belastingbetaler dan laat met ’n belasbare inkomste van R1,25 miljoen.

“Slegs die helfte van die bruto salaris is belasbaar en dus kan slegs die helfte van die korting geëis word. So iemand kan nie die volle bedrag oorsese belasting wat betaal is as ’n krediet eis nie,” sê Westermeyer.

As die belastingbetaler dus R500 000 belasting oorsee betaal het, is hy slegs geregtig om ’n vermindering op die belasbare inkomste te eis en nie die bruto inkomste wanneer hy sy Suid-Afrikaanse belastingopgawe indien nie.

Sy verduidelik dat daar twee toetse is wat toegepas word. Eerstens is die kortingsbedrag gelyk aan die hoeveelheid oorsese belasting wat betaal is op die bedrag wat in die belasbare inkomste ingesluit is; en tweedens kan die kortingsbedrag wat geëis word nooit hoër wees as die Suid-Afrikaanse belasting betaalbaar op die bedrag wat in die belasbare inkomste ingesluit is nie.

Die toedelingsvraagstuk

Nog iets wat verwarring veroorsaak is die kwessie van toedeling (apportionment) waar buitelandse inkomste gekoppel is aan inkomste wat in Suid-Afrika gegenereer word. Westermeyer gee weer die eenvoudige voorbeeld van ’n ingenieur wat aan ’n bouprojek in Afrika werk, huis toe kom en dan weer op ’n ander projek buite Suid-Afrika werk. Hy beweeg dus gereeld in en uit Suid-Afrika uit.

As ’n Suid-Afrikaanse belastinginwoner moet die ingenieur die werksdae wat hy in die buiteland gewerk het en die werksdae wat hy in Suid-Afrika gewerk het toedeel.

As die persoon egter twee verskillende werkskontrakte het – een wat suiwer van toepassing is op die werk wat in die buiteland gedoen word en een wat van toepassing is op werk wat in Suid-Afrika gedoen word – is daar geen toedeling nie.

“Jy moet deur middel van jou indiensnemingskontrakte dubbeld seker maak jy kan bewys dat jy verskillende werkgewers het en nie werk vir jou oorsese werkgewer doen terwyl jy in Suid-Afrika is en andersom nie.”

Die algemene reël vir wêreldburgers is om vas te stel of hulle belastinginwonend is in ’n sekere land of nie. Dit is belangrik, want sodra ’n Suid-Afrikaner ’n nie-inwonende belastingbetaler word in Suid-Afrika, is sy buitelandse inkomste nie meer relevant vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes nie.

Belastinginwonend of nie

“Die meeste probleme duik op wanneer mense vir ’n tyd lank in die buiteland werk en nie-inwonend word in Suid-Afrika, maar hul salaris word steeds in Suid-Afrika verklaar. ’n Mens moet baie mooi seker maak op watter punt word jy nie-belastinginwonend in Suid-Afrika,” sê Westermeyer.

“Sodra jy nie-inwonend word, word jou buitelandse inkomste irrelevant vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt en sal jy slegs belas word op jou inkomste vanuit Suid-Afrikaanse bronne.” Dit sluit huur, rente en ander inkomste van Suid-Afrikaanse bronne in.

Carmen Westermeyer

As iemand dubbele burgerskap het, bepaal die beslissende reëls (tie-breaker rules) in die dubbelbelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en die ander land watter een van die twee lande die reg het om die persoon te belas.

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. ‘Komitee moet Phala...

Onderneming in die Kollig: Reisgenoot

Onderneming in die Kollig: Reisgenoot

Reisgenoot is ’n klein onderneming wat boutique-reisdienste aan ons kliënte bied, insluitende vlugte, toere, bootreise en hotelle regoor die wêreld. Jy kan jou soektog en bespreking aanlyn doen net wanneer dit jou pas, terwyl ons bedrewenheid en ondersteuning jou stap...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest