Dit is vanjaar 120 jaar sedert die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Dié oorlog, van 1899 – 1902, tussen Boer en Brit het tot die lewensverlies van duisende vroue en kinders in konsentrasiekampe gelei en ’n geslag verarm, verslae en verwese agtergelaat.

Die oorlog het sy letsels gelaat, maar die boere het ná die Britte se verskroeideaarde-beleid weer na hul verwoeste plase en oorblywende karige besittings teruggekeer om oor te begin.

Daar is vandag talle verhale oor wat met ons voorouers tydens die oorlog gebeur het. Daar is verhale van onmenslike pyn, lyding en hartseer, maar ook van geloof, hoop en liefde  waaruit ’n nuwe geslag vandag weer inspirasie put.

Een só ’n verhaal is die van Anna Christina Isabella (Tannie Tok) Muire (néé Boshoff) wat op 30 Desember 2016 in die ouderdom van 84 jaar oorlede is.

Haar verhaal is onlangs deur haar dogter, Elzabé Pieterse van Pretoria, ontdek toe sy deur van haar oorlede moeder se goed gegaan het. Sy het op ’n merkwaardige getikte briefie op vergeelde papier afgekom. Uit die trant van die brief wil dit voorkom asof tannie Tok die inhoud daarvan meer as twintig jaar gelede aan iemand gedikteer het.

Hier volg die verhaal.

 

Die Verlore Skat

As kind het ek hier aan die voet van die Waterberge opgegroei. My ouers het ons kinders dikwels vertel van die Boere wat teen die Britse magte geveg het; dit is al amper 100 jaar gelede.

Dit was vir my so wreed om te luister as ons ouers vertel het hoe die Engelse soldate die huise op die plase afgebrand het en die vroue en kinders na die konsentrasiekampe geneem het.

Sommige van die boervroue het vroegtydig van hulle juwele en mooi porselein of silwerware begrawe. Daar was van die vroue wat selfs van hul meubels in grotte weggesteek het. So ook het my oumagrootjie ’n trommel met kosbare artikels met die hulp van ou Kleinbooi begrawe.

My ouers het vertel dat my moeder nog klein was toe hulle na die konsentrasiekamp geneem is. Daar het my oumagrootjie toe ook na ’n lang siekbed gesterf. Na verloop van tyd is daar baie vroue en kinders onder haglike omstandighede in die tente waarin hulle moes bly, oorlede.

Toe die oorlog ná drie lang jare verby was, kon die vroue en kinders weer terugkeer na hul plase met huise wat meestal afgebrand was. Die Boere het ook teruggekom met hul perde. Almal was maer en baie arm. Omdat hulle so arm was en geen geld gehad het nie, het my ouma onthou van die skat wat oumagrootjie met die hulp van Kleinbooi begrawe het.

Die swart man, wat so getrou was, was toe seker ook al oorlede, want hy het nie teruggekom nie. So het my oupa en ouma begin soek na die kosbare skat, maar hulle kon dit nêrens vind nie.

Later is my grootouers oorlede en het my ouers, wat toe reeds getroud was, op dieselfde plaas gewoon.

As kind het ek ook dikwels gehoor hoe die grootmense praat oor die trommel vol waardevolle goed wat hulle nêrens kon vind nie. Hulle was maar altyd op die uitkyk na ’n geskikte plek waar dit dalk begrawe kon wees. Dit was vir my as kind heerlik op die groot ou familieplaas. Ek is later getroud en weg stad toe. My ouers het nog vir baie jare op die plaas gebly. Later is hulle ook oorlede en my broer het die plaas geërf en daarop geboer. Alles was nog maar dieselfde. Die ou huis was nog daar. My broer het egter, nie ver van die ou opstal nie, vir hom en sy vrou ’n nuwe plaashuis gebou. Hulle is ook al bejaardes en baie sieklik.

Omdat ek daar grootgeword het, gaan my man en ek nog dikwels na die plaas om vir my broer te kuier. Dit is heerlik om daar op die stoep te sit en te gesels en ver oor alles uit te kyk.

Die ou vrugteboord staan nog al die jare daar en ook die goed versorgde begraafplaas  waar baie familielede begrawe is. Daar is klein ou klipgraffies met groot wit skulpe op, wat vroeër jare glo volop in die veld opgetel kon word.

Nou, na amper honderd jaar, het ek die verlore skat ontdek! Ons twee, ek en my man, wat al self senior burgers is, het op die 15de Januarie 1997 plaas toe gegaan om blomme op die grafte van my ouers te sit en om ook by my broer en skoonsuster te gaan kuier.

Ons moeder het op die 15de Januarie verjaar en ons vader is 25 jaar later op die 15de Januarie oorlede. Ek het met weemoed daar tussen die grafte geloop en hier en daar stil gaan staan. Die hek het ek later toegemaak en koers gekry na die ou vrugteboord langs die leivoor. Daar loop weer ’n sterk stroom water na al die goeie reëns wat in die omgewing geval het. Mens kon sien daar was onlangs ’n hewige storm, want baie boomtakke is afgebreek en afgedraai. Dit is net ’n stormwind wat takke so kan afskeur. Met verbasing merk ek dat selfs die ou appelkoosboom uit die aarde geruk is. Hy lê daar op die grond soos ’n gevalle reus.

My gedagtes gaan ver terug en ek onthou hoe ons as kinders in sy stewige takke rondgeklouter het en van die heerlike goudgeel appelkose geëet het. Stadig neem ek plaas op die dik omgevalle boomstam. Dit is amper asof sy aanraking iets heiligs in my gedagtes na vore laat kom en alles wat so baie, baie jare in my hart weggebêre was het ek een vir een uitgehaal – stadig en versigtig – want dit wat jy in jou hart wegbêre, is vir jou kosbaar.

Party maak seer, daarom hanteer jy dit versigtig, want die baie jare het jou geleer om jou van sekere dinge te distansieer, want jy het geleer jy is broos en hoe ouer jy word hoe teerder is daardie gedagtes.

Ek sit daar by die boom met my gesig in my hande en verlang…. verlang na ouers, broers en susters wat al amper almal oorlede is. Ekself was die jongste van ’n groot gesin. Ek dank God vir die kosbare jare wat ek op die familieplaas kon deurbring.

Baie later het ek opgestaan en weer die ou appelkoosboom bekyk en in my hart het die vraag opgekom: “As jy ou appelkoosboom ’n storie kon vertel, wat sou jou mooiste herinneringe wees. Sou jy die gelag van kinderstemme hoor, vertel van kinders wat in jou takke rondklouter, of is daar ook ’n seer herinnering wat vir jou kosbaarmooi is wat jy graag sal wil vertel?

“Hoekom het jy so oud geword? Jy het vyf geslagte sien kom en gaan. Jy het hier gegroei, jou wortels diep in die rooigrond geanker. Hoekom was jy altyd bereid om vir ons familie vrugte te dra? Was dit jou manier om vir ons te sorg met jou vrugte? Jy het mos ook moeilike jare geken…. maar ons kon altyd appelkose eet en konfyt kook.”

Met ’n seer hart het ek nog ’n keer om die boom geloop en toe ek by die wortels kom moet ek eerlik erken dat ek nog nooit na wortels van ’n boom gekyk het wat so wreed uit die aarde geruk is nie.

Alles in die natuur is vir my mooi, selfs hierdie wortels vol rooi modder. Vir my was dit iets groots. Ek sien die grootheid van God daarin, want net Hy kan toelaat dat die wind sulke verwoesting saai. My oë val toe op die snaakse vierkantige voorwerp tussen die rooi modder wortels. Ek buk af en raak daaraan. Dit is ’n stewige trommeltjie! Ek gaan sit weer op die boomstam en staar daarna. Dit kan net een ding wees! Dis die skat wat oumagrootjie onder die toe nog jong appelkoosboompie met Kleinbooi se hulp begrawe het. Dis die verlore skat waarna almal gesoek het!

Nadat ek weer krag gekry het na die lam gevoel is ek vinnig na my broer se huis toe. Hulle het op die stoep gesit en koffie drink. Verbaas het hulle na my gekyk, want hulle kon sien ek is opgewonde. Met stamelende woorde het ek hulle vertel van die vierkantige voorwerp daar tussen die appelkoosboom se wortels.

Almal het dadelik opgestaan en ons is saam na die boom. Die twee sterk manne het die kissie losgemaak en ons het almal die rooi modder daarvan afgevee. Ek het vir broer gesê: Kan dit miskien die skat wees waarvan al die vorige geslagte gepraat het?

Op die stoeptafel het die mans die trommeltjie neergesit. Hulle was net so verbaas soos ek. Hulle het dit oopgebreek en die deksel stadig gelig. Binne-in die trommeltjie was iets in ’n seildoek toegedraai. Ons het dit oopgevou en ’n pragtige Statebybel met koperbeslag uitgehaal. Op die eerste paar bladsye was die name van ons voorouers en hulle ouers en kinders se name geskryf. In ’n klein seilsakkie, toegebind met ’n dun voorslagriempie was ’n silwer sakhorlosie, ’n paar goue ponde en ’n goue troupand.

My broer het opgekyk en vir my gesê: “My klein sustertjie, jy wat die jongste in die familie is, jy is die een wat die kosbare inhoud van die trommeltjie vir jou moet neem. Ons is almal oud en ek weet jy sal dit vir die nageslag bewaar, want jy het dit ontdek. Dit is joune.”

Toe ek weer alleen was, het ek met my hande oor die groot ou Familiebybel gestreel. Dit was so ongelooflik mooi en kosbaar….. Die woord van onse God… ’n Groter skat kon geen mens ontdek nie.

(Dit is tot op hede nog onbekend wat van die Bybel en die inhoud van die trommeltjie geword het, maar familielede is besig om dit te probeer naspeur.)

Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Forum Nuus se webtuiste.
Forum Nuus is AfriForum se digitale nuusplatform waar daar hoofsaaklik oor nuusgebeure, veldtogte, projekte en kwessies berig word wat die burgerregteorganisasie op een of ander wyse direk raak of waaroor ons ’n opinie huldig. Forum Nuus is ook die platform waar AfriForum se nuusvideo’s gedeel en nuuskommentaar geplaas word.

Alet Rademeyer
Alet Rademeyer

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest