Leesvordering:

ʼn Virtuele rooi suigstokkie vir my kleinkind

Jul 21, 2023

Dr. Sulette Ferreira

“… jy kry ʼn kleinkind, en ek kan vir jou sê dis die grootste pluspunt van als. Jy is nie liewer vir jou kleinkind as vir jou kinders nie; jy het jou kleinkind op ʼn onbeskryflike manier lief want jy weet hierdie  kind is deel van jou kind, en al wat jy wil gee is liefde. Dit is hoekom grootouers veronderstel is om daar te wees, want hulle gee die suigstokkie al sê mamma dis sleg vir jou tande. Dit is die rol, die suigstokkie – en dit is van my af weggeneem.”

So beskryf ’n transnasionale ouma haar rol as ouma. ’n Grootouer word gebore wanneer ’n kleinkind gebore word. Die verkryging van die eretitel Ouma of Oupa word deur talle grootouers gesien as een van die mees betekenisvolle emosionele gebeurtenisse in hulle lewens. Tog kan die merkwaardige aankondiging dat jy ’n grootouer gaan word gedemp word deur hartseer, veral wanneer die verwagtende ouers – jou kinders – kontinente en selfs tydsones vêr van jou af woon.

’n Grootouer se nabye betrokkenheid by ’n kleinkind het ’n positiewe uitwerking op die emosionele welstand van beide die grootouer en die kleinkind. Om na die kleinkind om te sien verskaf aan die grootouer, veral die ouma, ’n geleentheid om haarself te verlustig in ’n verhouding wat baie uniek van aard is.

Die moontlikheid om ’n betekenisvolle verhouding met ’n kleinkind te ervaar word grootliks bepaal deur deurlopende kontak tussen hierdie drie generasies: die grootouers wat agterbly, die volwasse kind wat emigreer het, en die kleinkind. Om die ouma steeds deel te laat voel van die gesin, is dit noodsaaklik dat die kinders gereeld foto’s van die kleinkinders stuur en hul daaglikse aktiwiteite en belangrike mylpale met haar deel. Op dié manier bly die grootouers steeds deel van hul kleinkinders se lewens. Die kinders vorm dus ’n belangrike skakel tussen die grootouer en die kleinkind en het ’n verantwoordelikheid om die verhouding in stand te hou, veral wanneer die kleinkinders nog baie jonk is.

Hoe gee jy as ouma vir  jou kleinkind ’n suigstokkie as julle kontinente vêr van mekaar af bly?

Om die pluspunte van liefdevolle verhoudings met kleinkinders ten volle te geniet, is daar geen plaasvervanger vir fisieke nabyheid nie. Besoeke, indien moontlik, is die beste manier om jou kleinkind se nuwe wêreld te leer ken en te ervaar. Dit laat jou toe om deel te wees van jou kleinkind se nuwe omgewing en om nuwe herinneringe te skep.

Die ander alternatief is internetkommunikasie soos byvoorbeeld e-pos, Skype, WhatsApp en FaceTime. Dit is baie belangrik dat grootouers vertroud raak met digitale kommunikasietegnologie en die nodige vaardighede aanleer om met hulle kleinkinders op hierdie platforms te kan kommunikeer. ’n Ouma wat betrokke wil bly in die lewe van haar kleinkind kan innoverend en kreatief wees deur byvoorbeeld haar skootrekenaar te gebruik om die kleinkinders virtueel te leer om ou familieresepte baas te raak. Maak afsprake met die kleinkind om spesiale aktiwiteite te doen, soos om elke week op ’n sekere tyd ’n storie voor te lees of ’n bordspeletjie te speel. Kontinuïteit word sodoende in die grootouer-kleinkind-verhouding bewerkstellig.

Vind jou unieke manier om die band met jou kleinkind te versterk. Pak die uitdaging  met entoesiasme aan om sodoende jou liefde as grootouer vir jou kleinkind uit te leef, selfs oor kontinente en tydsones heen.

Dr. Sulette Ferreira
Beradingsterapeut | Familiebemiddelaar | Emigrasieterapeut
www.drsulette.com

LEES OOK: My kind emigreer – hoe nou gemaak?

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy voor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest