Leesvordering:

Natuurhoekie – Kyk fyn vir die dolfyn!

Mar 12, 2024

Deur Alana Bailey

Haai- en walviskyk is deesdae gewilde toeriste-aktiwiteite, maar dolfyne kom meer algemeen en volop langs die Suid-Afrikaanse kuslyn voor as walvisse en hulle sal daarom makliker gesien en bestudeer kan word.

Hoewel daar baie soorte dolfyne in die Indiese en Atlantiese Oseaan voorkom, is daar net drie spesies wat naby genoeg aan die Suid-Afrikaanse kuslyn voorkom om maklik en gereeld gesien te word. Dit is naamlik die bottelneusdolfyn, boggelrugdolfyn en die gewone dolfyn.

Bottelneusdolfyne word beskou as van die mees intelligente en emosioneel intelligente soogdiere op aarde. Hulle is ook ’n groot soort dolfyn wat gemiddeld 300 kilogram weeg en tot 4 meter lank kan word. Vroulike bottelneuse leef meestal langer as die manlike dolfyne en skenk geboorte na ’n draagtyd van 12 maande. Daar is al gevalle aangeteken van bottelneuse wat ouer as 60 jaar geword het!

Daar is ’n klein gemeenskap van boggelrugdolfyne in die waters rondom Suid-Afrika. Hulle word maklik uitgeken aan die breë bult onder hulle geronde rugvin. Anders as bottelneuse is hulle nogal skugter en sal mense en vaartuie probeer vermy. Hulle word selde langer as 2.5 meter en weeg gemiddeld 120 kilogram. Hulle is ’n bedreigde spesie.

Gewone dolfyne is kleinerig  – hulle bereik ’n maksimum lengte van 2,4 meter. Hulle is nie skaam vir geselskap nie en sal dikwels naby mense en bote gesien word. Hulle word ouer as 40 jaar.

Omdat dolfyne in groepe saam swem, groot en intelligent is, het hulle nie veel natuurlike vyande hier buiten groter haaispesies nie. Deesdae word orkas meer gereeld in Suid-Afrikaanse kuswaters opgemerk. Dit is bekend dat hulle dolfyne jag, maar nie of dié gedrag al plaaslik waargeneem is nie.

Daar is maatskappye wat dolfynkykvaarte aanbied, maar let daarop dat dolfyne in Suid-Afrikaanse waters deur van die sterkste bewaringswette in die wêreld beskerm word. Dit is byvoorbeeld onwettig om saam met hulle te swem, maar tog word toere wat swemsessies insluit, geadverteer. Wanneer jy gaan soek na dolfyne, maak seker dat jy die wetgewing ken en gehoorsaam. Moet ook nie toeroperateurs ondersteun wat dit oortree nie.

Foto: Miguel Angel Arreola Perez/ Unsplash


Lees ook: Natuurhoekie – Rooiborsies en janfrederikke

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest