Leesvordering:

Naweek Nadink – Daar is stilte in die oog van ‘n tornado – Deel 2

Mei 23, 2018

Ek gaan uitwei oor wat vryheid vir my beteken in Engeland teenoor Suid-Afrika. Ek voel vryheid is soos skoonheid; dit gaan oor jou persoonlike voorkeure en lewensuitkyk. Maar een ding is seker, vryheid is nooit verniet nie.

Een ding wat jy moet verstaan, veral as jy nog nooit vir ’n paar jaar oorsee gebly het nie, is dat dit nie jou land is nie. Maak nie saak of jy ’n paspoort het of nie. Daar is iets baie spesiaals aan landgeboortereg. Dis jou land … jy’t bloed in die grond, maak nie saak wie wat sê nie. Mense deel ’n sekere manier van praat (bv. voertsek!) en dink. Dit het vir my ekstra spesiaal en belangrik geword na 14 jaar weg. Suid-Afrika is my land. Punt.

Die groot blou lug in Suid-Afrika is darem maar ’n wonderlike ding. Die horison en grond lyk groot en pragtig en jy voel werklik vry. Die lug ruik ook anders, iets wat my negejarige opgemerk het nadat sy hier aangekom het. In Engeland skyn die son ’n gemiddeld van 60 dae in Londen. Jip, jy’t reg gelees. ’n Klein grys lug wat jou vasgevang hou in jou heelwat kleiner huis. Natuurlik kan jy warm aantrek en uitgaan, maar o magtig, dis harde werk … veral die modder en water orals. Suid-Afrika se huise en tuine is groter en selfs al bly jy binnenshuis, kry jy nie sommer engtevrees nie. In ’n tipiese Suid-Afrika huis kan die kinders nog lekker binnenshuis rondhardloop.

Baie mense en lande beskou die gratis mediese dienste in Engeland as ’n groot vryheid en voorreg. Dit is beslis ’n baie duur voorreg om ’n Suid-Afrikaanse staatshospitaal te vermy, maar met mediese fondse kan jy vinnig geholpe raak of jou naaste hospitaal besoek. In Engeland is jy eerstens adresgebonde, wat beteken jy mag nie in ’n ander dorp of area se hospitaal gaan lê of self die dokter besoek nie. As jy ongelukkig genoeg is om in ’n area te bly waar die hospitaal uit sy nate bars, kan jy maklik twee maande wag voordat jy geholpe raak. Dit veroorsaak baie stres en konflik as so iets gebeur, veral as daar baie onsekerhede of vrae is.

Internet in Suid-Afrika is die helfte stadiger en data is dubbel so duur as in Engeland. Daar is geen plek in Londen waar jy nie enige oomblik toegang tot vinnige en gratis Wi-Fi kan kry nie. Dit maak die lewe makliker. Trouens, die Engelse is besig met wetgewing wat sê dat dit jou reg as mens is om ten minste 15 MB-internettoegang te hê anders maak dit inbreek op jou menseregte.

Uiteet in Suid-Afrika en vele vorms van vermaak is nog relatief goedkoop. Jy sal dubbel betaal in Engeland om byvoorbeeld ’n Westend-vertoning te gaan kyk. Goedkoop uiteet sal twee mense ten minste R500 kos en dis as jy jou met die R75-draughts gedra.

In die meeste parke en velde in Engeland mag jy nie oop vure maak nie, wat beteken jy mag nie braai waar jy wil nie. Jy mag ook nie in die meeste mere, damme of riviere swem nie. Dit was een van die mees tragiese dinge daar. Aan die ander kant word spoedkameras gebruik om jou op gevaarlike plekke te laat stadig ry en nie om jou te probeer uitvang vir boetegeld nie. Trouens, dis teen die wet in Engeland om jou nie te waarsku van ’n spoedkamera en selfs ’n mobiele kamera nie.

Karre is baie goedkoper in Engeland, veral tweedehandse karre. Jy kan maklik ’n gebruikte klein karretjie in ’n baie goeie toestand vir R18 000 aankoop. As jy nie hierdie tipe geld het nie, kan jy op ’n bus of trein spring. Ek het dit altyd geniet om elke nou en dan op ons klein dorpie se bus te spring na ons naaste “groot dorp” 20 minute weg, sodat ek kan rondkyk. Volle R50 retoer gekos. In Suid-Afrika kos karre nie net duurder nie, mense vergeet prima hier is 10% en daar 1,5%. Mense in Suid-Afrika besef nie dat hulle huis dalk baie goedkoper is as daar nie, maar dat hulle maandelikse premie meer is as gevolg van die rentekoers.

So gepraat van rentekoerse, in Suid-Afrika speel verhoudinge en vertroue ’n groot rol in saketransaksies. In Engeland is die proses rigied en baie keer is ’n rekenaarprogram in beheer. Ek word herinner aan ’n bankbestuurder van die verlede wat ’n “grys besluit” kon neem teenoor die huidige “swart-of-wit”-besluit van ’n rekenaarprogram.

’n Laaste vinnige voorbeeld is die minimumloon in Engeland, wat R133 per uur is. Dit beteken dat as dit relatief goed gaan met jou, jy dalk vir ’n halwe dag per week jou huis kan laat skoonmaak, maar jy gaan nog steeds jou eie klere was en stryk. (Terloops, jy betaal niks minder as R170 per uur vir huishulp nie.)

Daar is nog so baie vergelykings wat ek kan tref, maar ek wil jou nie verveel nie. My punt is dat daar vir elke plus of vrede ’n minus of beperking is, en mense wat dink die gras is groener in ’n ander land, is naïef.

Die grootste ontnugtering is weereens wanneer jy besef dat jy nie deur jou mense en kultuur omring word nie. Daai oomblik wanneer jy alleen buite staan en braai onder ’n sambreel in die grys en nat.

Lekker week verder, en onthou: Aanhouer wen!

 

Lees ook: Naweek Nadink – Daar is stilte in die oog van ‘n tornado – Deel 1

 

Kom luister:

Meer oor die outeur

Jacques Basson

Na wonderlike kinderjare in Riebeeckstad en vele jare op Kovsie-kampus ten einde my potspel (pool game) te vervolmaak (halwe waarheid) en ’n besigheidsgraad te voltooi, begin my korporatiewe verkope en bemarkingsloopbaan in 1999 met die Coca-Cola maatskappy. Coca-Cola se bestuursontwikkelingsprogram, Kusile, het my besigheidskundigheid vinnig ontwikkel en vyf addisionele maatskappye en senior rolle in Suid-Afrika en Engeland later – vir onder meer Parmalat, Ecolab, Luxottica en Polaroid Eyewear – begin ek ’n kommersiële skoonmaakbesigheid, VanBroc Cleaning, in 2007, gevolg deur ’n gesamentlike onderneming met ’n kommersiële skoonmaakbesigheid in Austin, Texas in 2012. Na 14 jaar in Engeland het ek en my gesin vroeg in 2018 Suid-Afrika toe terug getrek en ons woon tans in Centurion. Natuurlik is Klipkouers-podsend die nuwe babatjie in die besigheidsfamilie en ek het julle hulp nodig met kind grootmaak!

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest