Leesvordering:

Nuut by LAPA in April

Apr 10, 2019

Ons groot boek hierdie maand is Lizette Rabe se Om tot verhaal te kom. Dit is ’n niefiksieteks waarin die doyenne van die joernalistiek haar pad na heling bespreek ná haar seun se dood weens depressie. Dit is ook ’n boek waarin sy gewone mense help om, soos sy, heling te vind deur hul eie verhale neer te pen.

Oudergewoonte begin ons egter met ’n wonderlike fiksieboek. Jan Vermeulen het mense se oë laat rek met Die vyfde aspoester en nou is hy terug met Ondier. Wees bang. Baie, baie bang!

Gelukkig het ons hope leesstof vir die jongklomp, en natuurlik bied ons uitstekende Romanza-reeks ontsnapping. Madelie Human se Skakering van geluk sal veral die harte warm laat klop.

FIKSIE

Ondier

Jan Vermeulen

Spanningsroman

9780799394283

R285,00

Die hulp van die forensiese profileerder doktor Olaf Demeyer word ingeroep toe voetslaners aan die voet van Bosberg op die naakte lyk van ’n vrou afkom. Sy is vasgemaak teen ’n jong bloekom. Verskeie meswonde ontsier haar liggaam.

Olaf sien egter nie kans nie. Hy het sy praktyk gesluit. Sy rede: “Ek is oor die muur. Ek het vir te lank te veel oor hierdie soort afgronde van mense gehang, om te probeer help. Toe my eie dogter deur ’n reeksmoordenaar ontvoer word, het ek oor my eie afgrond gedonder. Tot onder in die hel. Nooit weer nie. Ek kan nie meer nie. Ek het genoeg gehad.”

Tog, so maklik is dit nie om sy rug op hierdie trauma te draai nie. Die slagoffer teen die bloekom is kaptein Jasmyn Oktober, die vrou vir wie hy lief geword het. Sy het swanger uit sy lewe gestap. Cor, hul seun, is nou twee maande oud en hy ly aan ’n ernstige hartdefek. Hy moet dringend in die Kaap kom vir ’n operasie, maar het verdwyn. Word hy aangehou? Sy uurglas is besig om leeg te loop.

“Jy het jou dogter se lewe gered,” soebat adjudant Jordaan van Somerset-Oos vir Olaf. “Kom help ons nou om jou babaseun ook te red.”

Jan Vermeulen woon in Despatch in die Oos-Kaap. Sy boeke is donker en broeiend. Grusame tonele, die dinamika tussen kulture en tradisies, ook godsdienstige gebruike, geestesversteuring, seksverslawing en kannibalisme word alles deel van hierdie rowwe rit. Die leser kan nie ophou lees nie, al is dit net om seker te maak die moordenaar is vas.

Ondier is die skrywer se tweede volwasse roman en volg op Die Vyfde Aspoester.

NIEFIKSIE

Om tot verhaal te kom

Lizette Rabe

Niefiksie; selfhelp

9780799393248

R260,00

Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie; dit is die wese van skryfterapie – in Engels bekend as journalling. Dit is waarmee hierdie boek wil help: om jouself te vind.

Skryfterapie is ’n bewese manier om deur verlies en trauma te werk, ongeag wat die aard of omvang van jou trauma is. Die titel is beskrywend – om “tot verhaal te kom” is waarmee die boek jou sal help, selfs al dink jy dat jy nie kan skryf nie.

Het jy jou werk verloor? Moes jy deur ’n egskeiding worstel? Was jy die slagoffer van misdaad? Is ’n ernstige siekte by jou gediagnoseer? Het jy ’n geliefde verloor? Die antwoord oor die pad vorentoe lê in jouself; dit is waar skryfterapie inkom.

Om te skryf is boonop iets wat jy in jou eie tyd kan doen, en op verskillende maniere; van ’n dagboek op papier, net vir jou eie oë bedoel, tot ’n digitale dagboek, soos ’n aanlyn blog, wat ander mense kan lees. Party mense dig, ander krabbel op papier … Jy kan dalk selfs jou memoires skryf. Alles help jou “om tot verhaal te kom”.

Dit is die eerste boek in Afrikaans oor skryfterapie. Om tot verhaal te kom verskaf praktiese wenke oor hoe om te skryf en verskaf ook inspirasie uit die werk van ander skrywers.

Lizette Rabe was ’n bekende en gerespekteerde skrywer en joernalis, ook die redakteur van die tydskrif Sarie, waarna sy in 2001 as professor en hoof van die nagraadse departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is.

Toe spat haar gekoesterde kring in duisende stukke met die dood van haar een seun. Al wat vir haar oorgebly het, was om met woorde te worstel. Woorde moes haar help om sin te maak uit dit wat geen sin meer gemaak het nie.

In hierdie teks help sy ander om ook, soos sy, die proses van skryf te volg om weer tot verhaal te kom.

KINDERBOEKE

101 Goggagrappe

Jaco Jacobs

Kinderboek

9780799393927

R40,00

Wat eet vegetariese vampiere? Nek-tariens en bloedlemoene.

Waarom wou die sywurm nie vir haar seuntjie ’n grappieboek koop nie? Sy was bang hy lag hom ’n papie.

Jaco Jacobs is terug met nog vier grapboeke.

101 Spookgrappe

Jaco Jacobs

Kinderboek

9780799393903

R40,00

Waar boer spoke? In begraafplase.

Wat kry jy by ’n monster-oogkundige? ’n Brul.

Elke boek bevat 101grappe waarmee lesers hul maats kan laat lê van die lag.

101 Sportgrappe   

Jaco Jacobs

Kinderboek

9780799393866

R40,00

Watter soort kryt maak ’n mens pimpel en pers? ’n Stoeikryt.

Het jy gehoor van die hokkiespan wat so opgewonde was omdat hulle vyfuur die oggend moes oefen? Toemaar, ek ook nie.

Hoekom wou die hond nie tennis speel nie? Hy is ’n bokser.

Jaco Jacobs is die skrywer van meer as 140 boeke vir tieners, kinders en kleuters. Hy weet hoe om kinders te vermaak.

101 Vakansiegrappe

Jaco Jacobs

Kinderboek

9780799393880

R40,00

Wat sê Kersvader as die Elfies hom kielie? “Ho, ho, ho nou op!”

Hoekom is seekatte en jellievisse so skaars op Saterdae en Sondae? Want hulle is weekdiere.

Klop, klop. Wie’s daar? Jaco, Jaco Jacobs. Dis nie ’n grap nie. Dis ’n feit. Dié man kan.

Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai

Fanie Viljoen

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799393132

R135,00

Ewald het nie ’n bang haar op sy kop nie – veral omdat hy deesdae die ster van die supergewilde Aksieheld Austin-rolprente is!

Die derde fliek, Onheil op Skedelbaai, word op ’n geheimsinnige eiland verfilm en dinge begin dadelik skeefloop. Die vliegtuig beland amper in ’n ongeluk, iemand probeer Ewald met ’n mes steek toe hy afswem na die skeepswrak, Sonia Blom word amper van die vuurtoring se trappe afgegooi – en daar is ’n reusehaai wat in die baai rondswem.

Dan is daar nog Melita – die geheimsinnige meisie wat glo die eiland is vervloek. Sy waarsku dadelik vir Ewald en Cardo dat mense wat te veel weet van wat op die eiland aangaan, sterf.

Hierdie asemrowende reeks avontuurverhale uit die pen van Fanie Viljoen is perfek vir jong lesers wat van stories propvol aksie en adrenalien hou!

Wo(o)rdslim

Jaco Jacobs

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799393156

R75,00

Word speel-speel woordslim met hierdie fantastiese aktiwiteitsboek! Wo(o)rdslim bevat 48 bladsye propvol briljante blokraaisels, wonderlike woordspeletjies en lekker kopkrappers wat vir ure se fantastiese vermaak sal sorg. Speel dit op jou eie of daag mekaar uit om te kyk wie eerste die raaisels kan baasraak!

Van die aktiwiteite in hierdie boek sluit in:

  • Tematiese blokraaisels wat saamgestel is rondom temas soos diere, my land, idiome en sport
  • Woordsoekblokke
  • Spelspeletjies
  • Letterblokke
  • Kriptogramme en ander briljante breinboelies

Of julle nou langpad ry, op soek is na prettige, opvoedkundige aktiwiteite vir die klaskamer, of sommer net lus het vir lekker woordspeletjies wat jou brein behoorlik kan laat spiere bult, hierdie bekostigbare aktiwiteitsboek is die perfekte manier om kinders se taalkennis speel-speel op te skerp.

Volledige oplossings word agterin die boek verskaf.

Jamie en Sebastiaan-omnibus

Martie Kruger & Martie Preller

Illustrasies: Elanie Bieldt

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799391275

R205,00

Maak gereed vir baie kattekwaad! Die geliefde verhale van Jamie en Sebastiaan is terug met ’n nuwe baadjie. Beleef allerhande avonture saam met Jamie en Sebastiaan, die spekvet, pratende kat. Hier is baie pret: van noue ontkomings uit die hande van ’n ontvoerder en glibberige woestyntunas, tot die soektog na ’n vermiste storiemol.

Meer as 12 000 boeke in hierdie reeks is reeds verkoop.

Jamie en Sebastiaan

Van die eerste oomblik toe Jamie vir Sebastiaan in die groentetuin sien lê, het hy geweet hier kom moeilikheid. Sommer gróót moeilikheid! Sebastiaan is nie net ’n gewone kat nie. Hy is ’n spekvet, grysgestreepte kat wat boonop kan práát! Al wat hy eet, is tuna en room, want dit is wat die kattedokter in die Kaap vir hom voorgeskryf het. Ouma Katie dink Sebastiaan is ’n dierbare ou katjie, maar Jamie weet van beter. Hy weet dat Sebastiaan die skoolhoof se tunatert opgevreet het en dat Sebastiaan hulle amper in die kloue van ’n smerige ontvoerder laat beland het. Die kat het boonop ’n wrede seerower se houtbeen gesteel en hy het die glibberige woestyntunas so kwaad gemaak dat hulle hom wou opkerf en in blikkies verpak …

Jamie en Sebastiaan en die storiemol

In die tweede boek kry Jamie en sy kat, Sebastiaan, ʼn baie belangrike opdrag – hulle moet die storiemol gaan soek. Die storiemol het spoorloos verdwyn en sonder haar sal al die stories op aarde opdroog. ’n Wêreld sonder stories sal ’n aaklige plek wees. Daarom vertrek Jamie en Sebastiaan dadelik op hul nuutste avontuur met die hulp van ’n slim sprinkaan en ’n pratende hysbak!

ROMANZA

Skakerings van geluk

Madelie Human

Superromanse

9780799394221

R240,00

Lea Richter is vasgevang in ’n situasie waaruit sy nie kan kom nie. Haar ma is aan ’n rolstoel gekluister, erg depressief en afhanklik van haar. Lea se onblusbare gees hou haar egter staande: Met haar kragtige motorfiets gaan sy op lang ritte en saans skryf sy romanses onder ’n skuilnaam om haar balans te probeer hou.

Om den brode is sy ook die onbesproke bibliotekaris van Fynbos.

Stef Brits, ’n motorfietsrenjaer en -handelaar, stap met sy groot stewels in haar biblioteek in en kom gooi haar saai bestaan geheel en al skoon omver. Hy is aantreklik en opwindend – die verpersoonliking van die soort helde wat Lea vir haar romanses skep.

Stef het lankal besluit dat hy nooit wil trou nie. Hy is ’n filofobiak, bang vir die liefde, maar Lea krap hom erg om.

Die hekelgroep van Skakerings besef dat hulle hul plig teenoor Lea en haar ma versuim het en beraam planne om die twee verliefdes te hulp te snel. Lea se ma onthul egter wat die oorsaak van haar psigosomatiese verlamming is en plaas ’n splinternuwe hindernis op die paartjie se pad na geluk. Kan hulle ook dít oorkom?

Skakerings van geluk is die derde boek in die Skakerings-reeks, en is voorafgegaan deur Skakerings van hoop en Skakerings van liefde.

Liefde is vuur

Serena Steyn

Romanza-Omnibus

9780799394252

R240,00

Serena Steyn se eerste omnibus bederf jou met ’n hertog in ’n magspel, ’n moeilike Fransman en ’n mooi, maar onuitstaanbare navorser.

Kameliabruid: Wanneer dit by sy land kom, praat hertog Maximillian von Flade se verstand, maar by Adelka lei sy hart hom. Om ’n hawe vir sy hertogdom te bekom, wil Max met prinses Elena, troonopvolger van Kamburg, trou. Adelka weet egter haar ou kamermaat het Jozef Rombi lief.

Die Fransman: Leiandra het nie nóg ’n Fransman in haar lewe nodig nie. Chaney het haar hart gebreek en sy maak die seun alleen groot, dankie. Trouens, die Beaurains weet nie van Hugo nie en mag ook nie. Toe Jean-Philippe Beaurain met ’n vreemde tyding sy opwagting maak, slaan haar lewe ’n nuwe rigting in.

Moetie vir ’n mooi man: Ilse het bloot die Du Buisson-landgoed besoek om ’n kruietuin te beplan en word toe soos ’n misdadiger gevange gehou. In die mooi, maar ondraaglike doktor Gerhard du Buisson se woonstel langs sy laboratorium word sy ingeperk. Hy glo vas sy het kom spioeneer. Hoe moes sy weet hy is besig met hoogs geheime navorsing?

Weer eens Lilly

René van Zyl

Romanza

9780799393798

R95,00

Lilly neem sedert graad elf besluite met haar kop en ignoreer haar hart heeltemal. Maar blykbaar het haar hart voete van sy eie en loop waar hy wil. Veral agter haar eerste liefde, Migael, en ou herinneringe aan.

Windjagter

Wilreza Smit-Theron

Romanza

9780799393828

R95,00

Karli beskou haar tyd in Walvisbaai as ’n Eat Pray Love-sabbatsreis. Sy wil net dinge doen waarvan sy hou en slegs aan die mense dink vir wie sy lief is. Maar haar mentor tydens hierdie tyd, Maks, maak romantiese gevoelens in haar wakker, versorg haar en help haar om haar eie skoonheid te sien. Hy voel soos die huis waar haar hart hoort.

Lekkerder as sjokolade

Corné van Rooyen

Romanza

9780799394160

R 95,00

Leroux is beslis een van daardie mans teen wie haar ma Riana altyd gewaarsku het. Te aantreklik, te ryk, te wonderlik vir woorde. In kort, te goed om waar te wees en as sy nie oppas nie, is sy verlief voordat sy dit weet, maar gelukkig vir haar is sy immuun teen mans.

Die ordeskepper

Bep du Toit

Romanza

9780799394191

R95,00

Carien het dringend ’n werk nodig, dus aanvaar sy die pos as Marco se huishoudster. Haar verwarrende gedagtes oor Marco skuif sy op die agtergrond, want dit pas nie in haar geordende lewe nie. Sy sal opdragte uitvoer, ’n professionele afstand behou en enige gevoelens vir hom in die kiem smoor.

 

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest