Leesvordering:

Nuut by LAPA in Augustus

Aug 13, 2020

Ons raak diep in die maand van Augustus, wees gewaarsku! Maar soos altyd is daar lekker-lekker boeke om te lees.

FIKSIE

Nagjagter

Jan Vermeulen

Krimi

Druknaam: LAPA

9780639600338

R270,00

Die Holy Hunchback Vampire Slayer glo hy is ’n heilige wat die stad se vampiere moet uitwis. Sy eerste slagoffer vermoor hy met ’n houtpen deur die hart. Dit gebeur op die verhoog tydens die opvoering van die riller-drama, Die Boggelrugvampierjagter.

Doktor Olaf Demeyer en sy vriendin adjudant Beth Jordaan is ooggetuies saam met 104 toeskouers. Olaf se dogter Franci vertolk ’n rol in dié drama en is dus bitter ontsteld oor die gebeure.

Beth stem in om die aanvanklike ondersoek te lei. Heel gou veroorsaak die besluit spanning tussen haar en Olaf, aangesien sy vir Franci as ’n medepligtige verdink.

Olaf roep die hulp van ’n privaatondersoeker in en ontdek so dat Franci betrokke is by die Port Elizabeth Gothic Vampire Society, ’n groep jongmense wat hul vampierfantasieë uitleef.

Dan is daar ook die ware vampiere – hulle drink mensbloed.

Dit lyk vir Olaf of die boggelrug die meeste van sy slagoffers uit die twee groepe vampiere kies, maar wanneer hy die moordenaar se ware motief ontdek, besef hy honderde onskuldiges in die stad se lewe word bedreig.

Nagjagter is nie bloot ’n vampierstorie nie, dit ondersoek eerder die psigologiese toestand genaamd Vampirisme en gewone mense se aangetrokkenheid tot die mites rondom vampiere. Die boek speel in op mense se vrese vir en aangetrokkenheid tot die donker onbekende, dit ondersoek die donker kant van ’n religieuse soeke en die uitspeel van fantasieë.

Dit is ’n spannende roman wat fokus op die sielkundige en religieuse motiverings van die moordenaar, ’n moderne, eietydse vampierverhaal.

Ware Noord

Elsa Winckler

Fiksie

Druknaam: LAPA

9780639605111

R150,00

Evan Vos is jonk, speel rugby vir die universiteit se eerstespan en het altyd ’n meisie aan die arm. Die lewe is ’n lied. Tot daardie dag toe sy hart uit sy binneste geruk word. Al wat oorbly, is ’n intense skuldgevoel en woede.

Vir Evan word die oorblyfsels van die ineengetuimelde Metodiste-kerk in Somerset-Wes tekenend van sy eie omstandighede.

Tog: Drie jaar later speel hy vir die Springbokke.

Wanneer hy op die krukkelys beland weens ’n besering, vra sy pa hom om by sy konstruksiefirma as projekleier op te tree vir die herstel van ’n kerk. Op die perseel van die ou Metodiste-kerkie ontmoet hy vir Anya Breedt, die argitek met die hemelhoë hakke. Hulle is dadelik aangetrokke tot mekaar, maar Anya is ná haar mislukte verhouding versigtig vir verhoudings. Evan weet ook: Met sy bagasie kan hy niemand naby hom toelaat nie, nie voordat hy leer vergewe nie.

Die ware gebeure rakende die ineenstorting van die Metodistekerk in Somerset-Wes het die skrywer geïnspireer om hierdie verhaal te skryf, die boek ondersoek Christenskap en liefde tussen jong mense.

Plek van poue

Henriëtte Linde-Loubser

Gotiese roman

Druknaam: LAPA

9780639605296

R250,00

Stela word aangestel om ’n moeilike tiener tuis te onderrig. Maar Pavo (oftewel, die plek van poue) is nie ’n doodgewone plaas nie. In die plek van ’n plaashuis vind Stela ’n stokou kasteel. Met ’n dwerg as butler, ’n preutse huishoudster wat aandring daarop om almal “Master” en “Juffrou” te noem, ’n Sjinese kok en ’n meester wat van bui verwissel soos die weer, kriewel haar ruggraat.

Boonop hang die kasteel vol skilderye van die vorige mistress wat selfmoord gepleeg het. Stela word toenemend geteister deur nagmerries en die gevoel dat sy dopgehou word. Sy word gewaarsku teen spoke en vermoed iemand krap in haar kamer waar sy gereeld pouvere kry. Loop haar verbeelding met haar weg, of moet sy ag slaan op waarskuwings oor Pavo en sy mense?

Plek van poue is ’n gotiese roman in die tradisie van Victoria Holt.

Roekeloos

Christelle Woudberg

E-rotika

Druknaam: Wenkbrou

9780639605517

Hier te koop: https://lapa.co.za/eboeke/e-rotika/roekeloos-eboek

Ook op Amazon: https://amzn.to/3hRqsbs

Ses jaar gelede het Storm skielik uit Zara se lewe verdwyn, sonder rede of ’n verduideliking. Nou is hy terug en het een ding op die brein: Om vir Zara weer terug te wen en finaal syne te maak.

Zara is ’n onafhanklike, standvastige vrou. Behalwe as dit by Storm kom.

Vandag is hy die MMA-wêreldkampioen met ’n donker verlede wat sy nie ken nie. Binne die hok is hy ongenaakbaar, sterk, vreesloos, en gevaarlik. Selfs roekeloos. Zara ontmoet ’n nuwe Storm, een wat sy onweerstaanbaar vind.

Passie en liefde breek die mure tussen hulle af, en dit lyk tog of dié paartjie kan hoop op ’n gelukkige einde. Maar ’n duisternis hang oor hulle verhouding. Al wat vir Storm oorbly is om te veg vir hulle liefde, en vir Zara se lewe.

Die dooies praat nie

Peet Venter

Krimi

Druknaam: LAPA

9780639605135

R270,00

Tydens ’n swaar reënbui stop Thys Krige by ’n Mini Cooper wat in ’n sloot water vasgeval het. Nandia beweer dat sy wegjaag van drie mans en vra Thys om ’n belangrike dokument vir die ondersoekende joernalis Petro de Wet te stuur. Hy het seker nie meer as ’n uur met haar te doen gehad het nie. Toe gebeur dit: Geweld kom na hom toe. Nou bevind Thys homself weer voor die vraag: Hoe diep wil hy betrokke raak? Die dokument vra die jeug om by die “final struggle” aan te sluit en hulself só te bevry en te bemagtig. Daar word van opstand en gewapende mobilisasie gepraat, ’n tweede Marikana.

Hy kan seker onbetrokke bly wat die dokument betref, maar nie wat Nandia betref nie. Dit gaan oor verantwoordelikheid; hy moes haar beskerm het. By Petro wil hy weer veels te graag betrokke raak. Waar trek hy die lyn? Want Thys weet waarop dinge uitloop wanneer hy betrokke raak … Mense kry seer en gaan dood.

Dit is die sesde titel in die Thys Krige-reeks, grondonteiening is ’n belangrike tema.

Fiksie vir volwasse jongmense

Wolk

Hannes Barnard

Fiksie, Jongvolwasseroman

Druknaam: LAPA

9780799398861

R220,00

Wat gebeur as jy die apokalips misloop?

Rufus en Xandr het pas graad 10 klaargemaak en hulle ken mekaar van kleintyd af.

Hulle het al talle eerstes saam beleef – om te sê hulle is beste vriende is ʼn understatement.

Rufus, eintlik Ruth maar Xandr noem haar Rufus, se pa het egter besluit dat die gesin die land moet verlaat.

Die vriende moet afskeid van mekaar neem en beplan om hul laaste eerste – die belangrikste eerste – saam te hê.

Dis net hulle twee wat wegglip in ’n baie ou Mazda Midge om vir ʼn paar dae iewers in ʼn grot te gaan bly. Sal hulle die plan kan deurvoer?

Dinge verloop baie anders as wat hulle beplan het daar naby Clarence in die Oos-Vrystaat.

Hierdie boek is geskryf vir volwasse jongmense, en vir oumense wat steeds onthou wat dit beteken om jonk te wees en dinge vir die eerste keer te beleef.

Niefiksie

The Best of Clover World

Clover

Recipe Book

Imprint: LAPA

9780639600987

R230,00

LAPA en Clover stap al ‘n baie lang pad saam. Hierdie is die 21ste resepteboek wat Clover uitgee en dit verteenwoordig ‘n keur uit hulle wêreld.

Die Eerste Afrikaanse Kriptiese Blokraaiboek

Willem Swanepoel

Blokraai

Druknaam: LAPA

9780639600963

R180,00

Daag jou self uit!

Wil jy verder as sinonieme en glanspersoonlikhede dink vir jou blokraaisels? Sien jy kans om jou laterale denke te laat gedy? Die wonderlike woordwêreld van kriptiese blokraaisels wag.

’n Kriptiese leidraad lei jou om die bos en smokkel met jou kop. Dit verg toewyding om diep in jou algemene kennis te delf en jou weg tussen versteekte woordbetekenisse te vind.

Die Eerste Afrikaanse Kriptiese Blokraaiselboek bevat dertig nuwe raaisels en ’n meer uitdagende bonusraaisel. Kan jy dié breinbreker oplos sonder om die oplossings te raadpleeg?

Sterkte vir die reis, en onthou: ’n Toeristeskip sonder soetgoed, is duister ten opsigte van betekenis! (TOERISTESKIP met die letters S O E T verwyder = RITESKIP, skommel dan die letters en jy kry: KRIPTIES. Kripties = duister ten opsigte van betekenis.)

Kinder- en Jeugboeke

Glam-Divas-Omnibus: Talia, Didi, Lienka

Solet Scheeres

Jeugfiksie

Ouderdom: 13+

9780639600420

R320,00

Talia, Didi en Lienka is al van kleuterskooldae af beste vriendinne. Noudat hulle in graad tien is, weet hulle presies wat die skool nodig het: ’n funky agentskap wat partytjies reël, fantastiese klere ontwerp en modewenke gee. Maar as jy in graad tien is, is dit nie kinderspeletjies om almal te oorreed om jou ernstig op te neem nie.

Tussen die agentskap, meisies wat vasbeslote is om die Glam-divas se lewens te versuur en seuns wat hulle knieë lam maak, is daar nooit ’n vervelige oomblik nie.

Lees nou al drie hierdie geliefde verhale saam in een lekkerlees-omnibus. Daar is 552 bladsye in hierdie monster van ‘n boek. Uitstekende waarde vir geld en die beste ding ooit tydens grendeltyd!

Met ’n sterk fokus op entrepreneurskap kan hierdie reeks jong meisies bemagtig en inspireer om hulle belangstellings en talente te verander in vaardighede wat hulle toekoms kan bou.

Lea lief apies: Grypdiewe en gevaar

Cecilia Steyn

Illustreerder: Elanie Bieldt

Fiksie

Ouderdom: 9+

9780639600796

R135,00

Lea se ma is ’n veearts en haar pa is ’n diereregteaktivis en joernalis. Om diere te red, is in haar bloed!

Lea en haar klasmaats is op pad na ’n primaatskuiling toe om vir ’n paar dae as vrywilligers te werk. Sy kan nie wag nie, maar ’n paar van die seuns het heeltemal die verkeerde idee en dink sowaar die apies is troeteldiere! Boonop dwing Suna en Mpho vir Lea, Hazel en Nikita om al hulle werk ook te doen en hulle moet ’n kamer deel. Glad nie pret nie.

Dan begin alles skeefloop: iemand het ’n paar van die apies gesteel! En net toe Lea uitpluis wat met hulle gebeur het, begin die bos brand …

Die Projek-reeks

Maritha Snyman

Illustreerder: Zinelda McDonald

Fiksie

Druknaam: LAPA

9780639601229

R250,00

Hierdie heerlike boek bestaan uit drie titels: Projek Paddaprins, Projek Boontjierank en Projek Doringrosie. Al drie is nou saamgebundel vir meer genot en groter waarde vir geld.

Angelette, Soekie en Toni is soort van maats. Hulle is nie, soos die meeste maats, saam op skool nie. Hulle bly nie eers in dieselfde buurt nie. Hulle is maats omdat hulle winkelkinders is. Hulle ouers het winkels in die winkelkompleks, Ninapark.

Daar, in Ninapark, vind allerlei avonture plaas en enige een wat al ooit sprokiesverhale gelees het, sal besef: Elke avontuur klink amper soos ‘n sprokie!

Meisies en seuns is die hoofkarakters. Dit beteken dat ʼn groot aantal lesers met Angelette, Soekie en Toni kan identifiseer.

Vertel my nog ʼn grappie

Maritha Snyman

Illustreerder: Zinelda McDonald

Humor

Druknaam: LAPA

9780639600628

R50,00

Hoekom doen Kersfeesvader so goed karate? Want hy het ’n swart belt.

As jy wil grappies vertel by jou volgende partytjie, hier is die boek!

Maritha Snyman se Vertel my ’n grappie was BAIE pret. Hier kom nog vetter pret in Vertel my nog ʼn grappie!

Wat het die krimpvarkie die kaktus gevra? “Is jy my mamma?”

Kinders sal dol wees oor hierdie grappieboek. Koop dit vir hulle, maar lees dit eers self!

Maritha Snyman is ’n kenner en navorser op die gebied van kinderhumor. Die grappies is daarom gepas vir die ouderdomsgroep.

Teen slegs R50,00 is die boek uiters bekostigbaar.

Dolfie Weerwolfie

Paul van Loon

Illustreerder: Hugo van Look

Vertaler: Shawna-Leze Meiring

Kinderfiksie

Druknaam: LAPA

9780799399066

R160,00

Dolfie Weerwolfie kom Suid-Afrika toe. Hierdie gewilde Nederlandse reeks oor ’n jong seuntjie wat op sy sewende verjaarsdag ’n weerwolf word, is nou vir die eerste keer in Afrikaans vertaal.

Toe Dolfie wakkerword is dit nog pikdonker. Die maan skyn deur die venster. Dis ’n spesiale nag. Sewe, dink Dolfie. Uiteindelik is ek sewe jaar oud! Dan skrik hy. Skielik het hy hare regoor sy lyf! Sy hande en voete is nou pote. En hy het sowaar ’n stert! Hy is … ’n weerwolf!

Hierdie reeks is perfek vir sterker lesers of as voorleesboek vir jonger kinders, dit kan vergelyk word met Kas vol monsters-reeks deur Jaco Jacobs wat ook grilstories oor, onder andere, weerwolwe bevat. Meer as 33 000 boeke is al in daardie reeks verkoop.

Dolfie Weerwolfie: Volmaan

Paul van Loon

Illustreerder: Hugo van Look

Vertaler: Shawna-Leze Meiring

Kinderfiksie

Druknaam: LAPA

9780799399745

R160,00

Dolfie is saam met sy klasmaats op ’n skoolkamp. Hope pret en kattekwaad wag net om die draai … Een aand sit al die kinders om die kampvuur. Dis volmaan, en die onderwyser vertel ’n storie. Skielik begin Dolfie kriewel. Hy is weer besig om wolf te word! Hy hardloop geskok in die bos in. Niemand mag weet wat hy is nie! Maar Noura kom agter iets is fout en besluit om vir Dolfie te agtervolg …

Dolfie Weerwolfie is ’n baie gewilde reeks in Nederland en is reeds in Duits, Frans, Engels, Spaans, Koreaans, Japanees en ander tale vertaal.

Series Title: Learn to Read, Level 2

Jose Palmer & Reinette Lombard

Readers

Age: 5+

Imprint: LAPA

Learn to Read Level 2: Tippie and the lucky buck (9780639600468)

Learn to Read Level 2: Tippie and Fin help (9780639600475)

Learn to Read Level 2: Tippie and the skunk (9780639600482)

Learn to Read Level 2: Tippie likes to romp (9780639600499)

Learn to Read Level 2: Tippie and Fin find a nest (9780639600505)

Learn to Read Level 2: Tippie and Bud hunt (9780639600512)

Learn to Read Level 2: Tippie and the goldfish (9780639600529)

Learn to Read Level 2: Tippie and his friend (9780639600536)

Learn to Read Level 2: Tippie and the ants (9780639600543)

Learn to Read Level 2: Tippie plays a trick (9780639600550)

R40,00 each

Tippie praat reeds Afrikaans in vier reekse. Die slim olifantjie leer nou Engels ook.

Romanza

Romanza nostalgie: Madelie Human

Madelie Human

Romanse

Druknaam: Romanza

9780639605272

R125,00

Romanza is vanjaar vyftien jaar oud. Om dit te gedenk, het ons ses van die suksesvolste skrywers se gewildste stories saamgebondel as Romanza Nostalgie. Slegs 1500 van hierdie versamelstukke word gedruk. Koop joune voor hulle op is.

In die bundel is daar twee van Dina Botha se verhale.

Jy is die een: De Wet Erasmus is skoon bombefoeterd oor sy nuwe huismaat. Daar’s skielik net te veel goed, te veel vróú in sy huis. Roni versondig sy siel graag, nie bedag op wat in dié strak wetenskaplike skuil nie.

Optelgoed is hougoed: Brink de Meyer se terugkoms Sitrusville toe het al wat hubare vroumens is op hol. Almal behalwe Tharien. Hy’s van die bodorp en sy ’n motorwerktuigkundige. Maar Brink draai net om haar. Onthou hy nie hulle geskiedenis nie?

Romanza Nostalgie: Dina Botha

Dina Botha

Romanse

Druknaam: Romanza

9780639605340

R125,00

Met hierdie versamelitems vier ons vyftien jaar van ontspanning, ontvlugting en pure bederf

Duiwel in ’n snyerspak: Brandt Faber is hard, onwrikbaar, onstuitbaar. Hy draai nie doekies om nie, Leana moet hom betaal – met haar vriendskap, geselskap, haar lyf. Om wraak te neem, het sy hom nodig. Maar hý lê die reëls neer.

Mooiste man: Hy’s ’n mooi man. Te mooi. En mooi mans maak seer, vernietig. Nou is daar weer so ’n man in Zenlee se lewe, te mooi om waar te wees. Sal sy ooit aanvaar dat Bismarck Nel eerbaar kan wees?

Daar verskyn ses titels in die Romanza Nostalgie-reeks: Madelie Human, Dina Botha, Rosita Oberholser, Didi Potgieter, Elsa Winckler en Alma Carstens.

Herfsmelodie

Marilé Cloete

Druknaam: Romanza

Kategorie: Romanse

9780639600239

R95,00

Sunet en Bertie het as hoërskoolleerders in die Klein-Karoo deel geword van die uitgebreide vriendekring waaronder sy ousus Roelien en haar pa Herman ook tel. Hulle verhouding was ongekompliseerd en speels dwarsdeur hul studentejare, maar hul emigrasie as verloofdes het nie vir albei glad verloop nie.

Nou is Sunet terug in Suid-Afrika en terug in die Klein-Karoo, veilig in die vriendekring en gevestig in haar beroep as landbounavorser. Dis onvermydelik dat sy soms via Roelien iets van Bertie sal hoor, maar andersins het sy hom uit haar lewe gesny.

Wanneer Bertie egter met sy twee onhanteerbare seuntjies terugkeer na sy ousus se huis, word Sunet se lewe omvergegooi. Sy kom gou agter hy is nie meer die onbesorgde jongeling wat sy liefgehad het nie. Dit lyk nie of hy sy getraumatiseerde kinders kan hanteer nie en die tragiese dood van sy vrou het hy nog glad nie verwerk nie.

Omstandighede dwing Sunet om Bertie en die seuntjies te nooi om haar huis te deel tot hy ’n eie plek kan aanskaf. Hier ontdek albei dat ou liefde inderdaad nie so maklik roes nie en dat die moeilike tweeling eintlik net stabiliteit kortgekom het.

Toe soen jy my

Elsa Winckler

Romanse

Druknaam: Romanza

9780639600253

R95,00

Moenie vriende soen nie, dit lei net tot moeilikheid!

Toe Gabriella Tredoux een aand in ’n kuierplek op Mosselbaai vir Eben Joubert soen, verander alles. Die soen was veronderstel om haar te help om van ’n ander klewerige vent ontslae te raak. Eben is mos net ’n pel. Maar toe sy hom soen, terwyl ’n lied oor soenery in die agtergrond speel, kan sy nie langer aan hom dink as net ’n pel nie. Miskien is almal tog reg toe hulle gesê het dat Jody nog lank nie klaar is met haar matchmaking nie.

As tandarts op Mosselbaai, is Eben se lewe soos hy daarvan hou – ongekompliseerd. Wat hy van die huwelik weet, het hom vir altyd genees van gedagtes aan vir ewig en altyd, maar toe soen Gabriella hom en dis skielik onmoontlik om aan enigiets anders as aan haar te dink.

Dubbel die moeilikheid

Ciska Olivier

Kategorie: Romanse

Druknaam: Romanza

9780639600277

R95,00

Hannah of Anna? Wie is nou wie?

Hannah is by ’n onverwagse werksonderhoud terwyl sy veronderstel is om gereed te maak vir ’n geleentheid saam met haar kêrel. ’n Onderhoud waarvan hy nie weet nie. Hy sal verstaan, praat sy haarself moed in wanneer sy agterkom sy gaan dit nie maak nie. Wat sy nie verwag nie, is dat haar tweelingsuster, Anna, besluit om haar plek in te neem omdat sy nie self kaartjies vir die vertoning kon bekom nie.

Hierdie ondeurdagte besluit van Anna dompel hulle in ’n situasie waar Hannah haar suster vir die week in Derick se geselskap los. Dit lei egter tot ’n skokkende gebeurtenis. Hulle raak verloof. Derick is nie verloof aan sy wat Hannah is nie. O nee, sy was nie die een wat “ja” gesê het nie. Dit was Anna. Maar Derick weet dit nie en sy kan nie waag om hom te sê sonder om sy hart te breek nie.

Hoe keer sy hierdie weghol-trein? En dan is daar Derick se vriend, Tony. Met sy swart hare, donker oë en die glimlag wat alewig om sy mond huiwer, maak hy iets onverwags in haar binneste wakker. Iets wat haar bang maak en hoe meer hy raaksien, hoe meer wil sy van hom af wegkom. Hy skrik haar af, maar terselfdertyd lok hy haar soos ’n by na nektar. Dit maak ook nie saak hoe gereeld sy hom probeer vermy nie; hy bly op haar spoor. Hy probeer immers net sy vriend beskerm, maar sy staan die gevaar om haar hart op die verkeerde man te verloor. ’n Man wat haar sal verag as hy ooit uitvind wat werklik aangaan.

Ivoorblom vir Hai-lin

Mari Grobler

Romanse

Druknaam: Romanza

9780639600291

R95,00

Sy is die perfekte simbool van vroulike skoonheid en sagmoedigheid, nes die magnolia.

Hai-Lin kuier met vakansie in Sjanghai, China by haar ma se vriende, Su Fen en Laum. Sy gebruik die tyd om Sjanghai te verken en geniet die unieke atmosfeer van die stad en sy mense. Sy het nog net een ernstige verhouding gehad toe sy ’n student was, maar haar sogenaamd beste vriendin het hom skaamteloos afgevry. Eintlik het sy haar ’n guns bewys. Sy onthou hoe die einste vriendin lang trane gehuil het toe die rokjagter haar ook verneuk het. Dit het Hai-Lin ’n ewige gly gegee in gladdebek mans wat met al wat ’n rok dra wil flankeer. ’n Man sal eers haar vertroue moet wen, voor sy hom in haar wantrouige hart sal toelaat. Su Fen se seun, Laum is ’n droom van ’n man, maar dit lyk of hy maklik sal flankeer. Juis daarom moet sy daarop konsentreer om hom op ’n afstand te hou. Gaan haar tyd in China haar egter anders laat dink oor die liefde, en wat is die simboliek van die ivoorblom?

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest