Leesvordering:

Nuut by LAPA in Augustus

Aug 16, 2019

Jaco Jacobs lewer ’n monsterpizza af. Jan Vermeulen smokkel met harte. François Bloemhof soek spoke, Theresa van Baalen soek lewe op ander planete en Cecilia Steyn soek maniere om seeskilpaaie se lewens te red. Jaco Jacobs se alterego, Lize Roux, pronk boonop met ’n hele omnibus vol perdestories.

Maar wag!

Ons open Augustus se lys met twee besondere boeke wat afspeel in KwaZulu-Natal. Hannes Barnard se debuut is iets om te aanskou en Bets Smith wend ook haar blik na die sterre. François Bloemhof lewer boonop ’n riller (ja, ons het twee Afrikaanse boeke van hom) en Erla Diedericks neem die leser op ’n rillerreis deur die wêreld van ’n geskeide vrou wat op vyftig haar liefdeslewe met die internet wil regmaak.

Romanza bied heerlike ontvlugting van die alledaagse – een van hulle is deur Sophia Kapp!

Fiksie

Halley se komeet

Hannes Barnard

Druknaam: Wenkbrou

Literêre fiksie

9780799395464

R320,00

Hierdie boek gaan vroeg-vroeg reeds wenkbroue lig, want die begin is kru, vol k-woorde en allerlei goed wat die leser wil laat weghardloop. Dan groei die karakter.

Die roman speel af in 1986. Pete de Lange is ’n sestienjarige Afrikaanse seun vanaf Dannhauser, ’n klein dorpie in Natal. Pete wil rugby speel en hy wil met meisies vry. Noudat hy in standerd agt is, dink hy die eerste span het plek vir hom, die seniors se bus het hokkiemeisies vir hom en die lewe is mooi.Dan gebeur ’n insident wat sy lewe vir altyd sal verander. Vir ’n aantal angswekkende minute dink hy selfs dat hy gaan sterf voor hy ooit met ’n meisie sal kan vry. Om te lééf is egter soms moeiliker as om te sterf. Veral as jy onder die vinger van PW Botha staan en jy bevind jouself in ’n diep gemors saam met ’n swart seun en ’n Indiërmeisie.Gaan 1986 van Pete ’n man maak? Of gaan dié jaar ’n klein rimpeling wees wat sal verbygaan as ’n mens nie mooi kyk nie – soos Halley se komeet gemaak het?Hierdie boek tref diep. Enige een wat al ’n ouer was, sal ook weet dat die gesprekke tussen pa en seun oor meisies en die eerste span nogal uniek is.Die einde is iets ysliks.Halley se komeet is ’n uitstekende grootworddrama met geloofwaardige karakters en ’n sterk storielyn. Die skrywer beskryf daardie spesifieke era van ons geskiedenis met besondere vernuf.

Dooiegety

Bets Smith

Druknaam: LAPA

Spanningsroman

9780799395679

R285,00

Die liggaam van die mees geliefde inwoner van ’n vreedsame kusdorpie word in ’n rotspoel op die strand gekry. Haar vriendin Daleen, ’n professionele fotograaf, besef dit is nie ’n normale verdrinking nie, want Nerina het gely aan hidrofobie.

Daleen ontdek dat alles op die dorp nie so onskuldig is soos dit voorkom nie.

Raaiselagtige kodewoorde in tienergesprekke, wat sy tydens haar fotosessie by die skool se winterbal raakhoor, versterk haar kommer oor ’n partytjie waarheen Dalri, haar dogter, genooi is. Sy weet: GNOC is ’n akroniem vir get naked on camera. Dit maak haar bekommerd, want hierdie fotosessies is nie bloot om kuns te maak nie.

’n Kriptiese waarskuwings wat sy ontvang, verklap die skuldige se ongemak met haar stokperdjie: fotografie van die naghemel wat met lang sluiteropeninge geneem word om ligbane te skep. Dít impliseer dat sy dalk nader aan die antwoorde is as wat sy besef. Wát die antwoorde is, bly egter vir haar duister.

Almal lyk naderhand verdag, selfs die outistiese tienerseun oor wie Nerina haar ontferm het.

Dan raak dinge erger. Baie erger.

Bets Smith is bekend vir haar diep menslike verhale. In hierdie roman gebeur dit weer: Let byvoorbeeld op na die Mula-winkel, wat die gemeenskap dien deur middel van Nerina Labuschagne, die slagoffer, se rommelherwinningsprojek, ’n gemeenskaplike groentetuin en ’n gepaardgaande voedingsprojek. Daaruit groei ’n bring-en-koop-winkel, die Mula Swop Shop, waar kinders met hul verdienste uit rommelopruiming lewensmiddele kan koop. Nerina help ook met die verfraaiing van die dorp.

Dié roman lees lekker, maar is uiteindelik soveel meer as bloot ’n verhaal oor ’n moord op ’n kusdorpie.

Dieretuin

Francois Bloemhof

Druknaam: Imbali

Riller

9780639911014

R297,00

Carl Lourens keer terug na Kaapstad se Noordelike Voorstede om sy jonger broer te red uit die kloue van Die Dieretuin en die mense wat daar bly:

  • Maxie Tredoux, die vrou met die styfgetrekte gesig,
  • haar seun Leo met sy liefde vir geweld,
  • en haar dogter Mandie met die speelse, onrustige geaardheid.

Maxie Thorpe is Carl se tannie, die weduwee-matriarg van die huis en die meesterbrein agter die familie-fortuin. Sy beheer ook alles wat in die kelder van hulle spoghuis in Durbanville plaasvind; dié huis wat bekend is as Die dieretuin.

Carl en sy jonger broer, Robbie, het by hul ryk tante en oom gaan bly ná die wrede plaasmoord op hul ouers. Soos Carl grootword, ontdek hy hoe hulle werklik hul geld maak.

Hy verlaat die skool en gaan vir ’n aantal jaar weg, maar sy skuldgevoelens wat wentel om sy broer wat steeds in Die Dieretuin woon, dwing hom om terug te keer met die hoop om Robbie te red. Robbie is nou ook klaar met skool en tot Carl se ontsteltenis werk hy ook vir die Thorpes; Robby het boonop verlief geraak op hul rebelse dogter Mandy.

Skokkende geheime word blootgestel wanneer Carl probeer om Robbie te red.

Dit is ’n baie donker roman met ’n hele aantal skokkende wendings en word beslis nie aanbeveel vir sensitiewe lesers nie.

Die boek is ook in Engels beskikbaar as Feeding Time (ISBN 9780639911021).

Niefiksie

Seks, leuens en die internet

Erla-Mari Diedericks

Druknaam: Wenkbrou

Niefiksie

9780799393415

R280,00

As jy ’n boek verwag deur ’n volmaakte, pyn-in-die-gat prinses oor hoe om liefde en kalmte te vind, soek dan verder. Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee.

Dit is snaaks.

Dit is hartseer.

Dit is smaakvol.

Dit gaan chauviniste kwaad maak.

Dit is die eerste niefiksieboek wat onder Wenkbrou se vaandel verskyn; geskep onder die fyn leiding van Marida Fitzpatrick.

Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf Erla die wilde wêreld van aanlynafsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot.

Hierdie boek gaan oor die soeke na die self en die oeroue stryd tussen die brein en die hart. Die vraag is net: Wie gaan dié keer wen?

Seks, leuens en die internet is deel van die immergewilde selfhelp-genre en kombineer die onderwerpe van verhoudings, seks en selfondersoek.

Erla-Mari Diedericks is ’n joernalis, rubriekskrywer en outeur. Sy is al meer as 28 jaar ’n joernalis en het al vir byna elke publikasie in Suid-Afrika geskryf, selfs vir Playboy. Tans skryf sy rubrieke vir Netwerk24 wat dikwels mense laat regop sit.

Dié boek, soos haar rubrieke, bevat talle komiese gebeurtenisse waarmee lesers kan identifiseer. Seks, leuens en die internet is Erla-Mari Diedericks op haar beste.

Armand kook kaal – die maer uitgawe

Armand Aucamp

Druknaam: LAPA

Kookkuns

9780799396072

R295

Armand Aucamp is een van die aantreklikste mans in Suid-Afrika. Aanhangers begeer óf sy lyf óf om soos hy te lyk. Nou deel hy sy geheim met almal: Hy eet kaal, gestroopte kos as deel van die sogenaamde Banting- of ketoleefstyl. Met ’n hoëvet-laekoolhidraat-dieet hou hy daardie Adonis-lyf in stand en maak sy bewonderaars mal.

Armand kook kaal, met sy 100 resepte, het van die rakke af gevlieg! Toe kies Armand sy 50 gunstelingresepte vir ’n lekker kompakte weergawe van die boek: Armand kook kaal – die maer uitgawe! Nes sy ouer, dikker boetie is hierdie boek propvol heerlike, oorspronklike resepte – van onthaalkos, vleisgeregte en ontbyt tot vinnige happies, drankies en lekkernye. Armand het elkeen self getoets en geproe! Stap vir stap, en met pragfoto’s daarby, wys hy jou hoe om smuldisse uit gesonde bestanddele te skep en te geniet sonder dat jou figuur daaronder ly.

Vir die jongspan

Oopmond

Jan Vermeulen

Tienerfiksie

Ouderdom: 17+

9780799389319

R200,00

Die wenner van LAPA se jeugromankompetisie het geland!

Sewe maande ná haar hartoperasie begin Madelaine Taaibosch vermoed daar is iets verkeerd. Sy is seker die skenkerhart wat in haar borskas klop, is ’n gebroke hart. Die dokters verseker haar daar is niks met die hart verkeerd nie, maar sy begin vreemde dinge sien, dinge uit die verlede, dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Wanneer Madelaine op haar antieke hemelbed lê, verskyn die Franssprekende Camille en dan begin sy in die verlede terugreis. As Koba raak sy verlief op Buks, wat sterf wanneer hy haar tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Engelse beskerm. Sy word Madelaine Taillefert en haar lewe word nog eens deur haar beminde, Hildebrand von Solms, gered. Dan is daar Brand, die rekenaar- en geskiedenisboffin wat graag navorsing oor sy stamboom doen. Hy vind uit Buks was sy pa se oupagrootjie en dat Hildebrand von Solms ook een van sy voorvaders was. Brand se oorlede meisie se hart klop nou in Madelaine se bors.

Terwyl Madelaine en Brand die geheime van die verlede stadig, maar seker, ontrafel, is hulle gewikkel in ’n stryd teen tyd voordat die hart in Madelaine se borskas ophou klop.

Hierdie asemrowende jeugroman deur die bekroonde skrywer Jan Vermeulen laat die grense tussen droom en werklikheid, ook die hede en die verlede, meesterlik vervaag in ’n wegholrit van ’n liefdesverhaal wat jou meesleur tot op die laaste bladsy.

Oopmond is ’n uitdagende, boeiende roman vir jong volwassenes. Temas soos sterflikheid, orgaanskenking, tweede kanse, reïnkarnasie, tydreise en tienerromanse word ondersoek.

Jan Vermeulen is tans ’n uitblinker in die jeugboekgenre. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2015 wen hy die LAPA Jeugromankompetisie met sy boek Asem, wat ook deur die internasionale kinderboekliggaam IBBY as ereboek aangewys word. In 2017 is hy ’n naaswenner van die Sanlamprys vir Jeuglektuur met Soen, en in 2018 wen hy LAPA se jeugromankompetisie vir die tweede keer in ’n ry met Oopmond.

Jan en sy vrou, Diana, woon in die Oos-Kaap.

Spooksoeker: Die geheime lêer van Warno

Francois Bloemhof

Tienerfiksie

Ouderdom: 13+

9780799395037

R200,00

“Glo jy nie in spoke nie? Nou maar goed, dis reg so. Maak nie saak nie. Hulle glo in jóú.”

Warno Alberts is ’n doodgewone ou wat in ’n doodgewone plek met die naam Sekelrivier bly. Hy hou boonop van sy ma én sy pa. Duh, dis darem simpel, nie waar nie?

Ongelukkig het hy ook ’n broer, Ziaan. Ziaan het die IK van ’n deurknop, maar selfs dít is waarskynlik doodgewoon in so verre dit broers betref.

Die probleem is dalk juis dit: Warno is regtig doodgewoon, behalwe, natuurlik, dat Warno geheime lêers het waarin hy die doen en late van spoke neerskryf. Wat meer is: Daar is ook ’n aantal spoke wat hóm dophou!

Spooksoeker bestaan uit vier lêers wat deur Warno onderhou word. So tussen die spooksoekery deur, kry hy darem ’n soen van Melissa, én ’n hangertjie!

Hierdie boek gaan jou laat ril van lekkerkry.

Z-A-K: Die Blou Planeet

Theresa van Baalen

Wetenskapfiksie

Ouderdom: 13+

9780799394054

R185,00

Waar kom hierdie inligting vandaan?

[UITERS GEHEIM – MAG NIE OPENBAAR GEMAAK WORD NIE]

Planeet Aarde: Ruimtewesens het in Deltaville geland. Inwoners van die dorp is ontvoer. Twee tienerseuns weet. Name: Mitch en Lionel. Hulle wil mense red. Gevaar.

Planeet Zenkion: Imke. Half-Blou Planeter, half-Zenkioniet. Haar ma was ’n Aardling. Stel baie belang in die Blou Planeet. Wil baie graag daarheen reis. Gevaar, veral as aanvalle op Blou planeet eskaleer.

Ondersoek dringend.

[EINDE – VERBRAND DADELIK]

Kan tieners die inwoners van twee wêrelde red? Is daar ’n Zenkion-Aarde-Komplot waarvan Mitch en Imke nie weet nie? Is hulle lewens in gevaar?

’n Grootwordgids vir meisies

Anita Naik & Phil Wilkinson

Illustrasies: Sarah Horne

Niefiksie vir jongmense

Ouderdom: 11+

9780799393941

R135,00

’n Grootwordgids vir meisies is ’n vriendelike, gerusstellende en positiewe gids vir meisies wat puberteit nader.

Die boek verduidelik al die veranderings wat met tieners gaan gebeur soos hul grootword en berei hulle voor om te verstaan hoe hierdie veranderinge hulle sal laat voel. Dit dek alles van menstruasie en die ontwikkeling van borste, tot die hare op haar lyf en persoonlike higiëne vir meisies.

Anika Naik en Phil Wilkinson behandel enige bekommernisse wat jong lesers mag hê oor wat “normaal” is, verbeter jong lesers se selfbeeld en stel hul gerus oor al die veranderinge wat hul gaan ondergaan tydens puberteit.

Die boeke bevat ook leefstyladvies oor onderwerpe soos gesonde eetgewoontes en oefening, en baie belangrike inligting oor hoe puberteit die teenoorgestelde geslag beïnvloed.

’n Grootwordgids vir seuns

Anita Naik & Phil Wilkinson

Illustrasies: Sarah Horne

Niefiksie vir jongmense

Ouderdom: 11+

9780799393934

R135,00

’n Grootwordgids vir seuns is ’n vriendelike, gerusstellende en positiewe gids vir seuns wat puberteit nader.

Die boek verduidelik al die veranderings wat met tieners gaan gebeur soos hul grootword en berei hulle voor om te verstaan hoe hierdie veranderinge hulle sal laat voel. Dit dek onderwerpe soos al daardie hare wat oral begin uitkom, die stem wat iewers gaan breek, die buie en selfvertroue, of die gebrek daaraan, by seuns wat nie meer ’n kind is nie en skielik die wêreld van manwees moet aandurf.

Anika Naik en Phil Wilkinson behandel enige bekommernisse wat jong lesers mag hê oor wat “normaal” is, verbeter jong lesers se selfbeeld en stel hul gerus oor al die veranderinge wat hul sal gaan ondergaan tydens puberteit.

Die boeke bevat ook leefstyladvies oor onderwerpe soos gesonde eetgewoontes en oefening, en baie belangrike inligting oor hoe puberteit die teenoorgestelde geslag beïnvloed.

Lea lief seeskilpaaie: Avonture by die akwarium

Cecilia Steyn

Illustrasies: Elanie Bieldt

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799395716

R125,00

Lea se ma is ’n veearts en haar tannie werk by die akwarium se seeskilpadreddingsentrum. Om diere te red en te rehabiliteer is in haar bloed! Toe Lea die kans kry om saam met haar familie see toe te gaan, sodat hulle haar tannie kan gaan help met die seeskilpaaie, kan sy nie wag nie.

Haar sussie, Lola, het egter net ooghare vir Amelia Ametis: die gewilde popsangeres wat ’n groot konsert hou!

Lea beleef allerhande onverwagse avonture by die akwarium: ’n siek pikkewyn, ’n onbeplande swem in die haaitenk en Amelia Ametis wat opdaag met skilpaddopjuwele!

Lea moet nou iets doen om die seeskilpaaie te probeer red. Toe kry sy ’n blink plan!

Lea lief seeskilpaaie: Avonture by die akwarium is ’n opwindende eerste boek in ’n nuwe reeks vir meisies.

Die stories het ’n sterk ekologiese en omgewingsfokus. Die pragtige, kleurvolle illustrasies is deur die jong en talentvolle nuwe illustreerder Elanie Bieldt gedoen.

Hier kom ’n groot lekker!

Webslim: Hoe om aanlyn veilig te bly

Ben Hubbard

Illustrasies: Beatriz Castro

Vertaler: Jaco Jacobs

Niefiksie vir jongmense

Ouderdom: 9+

9780799393958

R140,00

Kinders weet deesdae hoe om inligting op die internet te bekom lank voor hulle werklik kan lees of skryf.

Hoe hou jy jou kind veilig? Maak haar/hom webslim groot.

Nooi jou kind om die wonders van die internet saam met Anzil en Chris te ontdek. Saam leer hulle hoe om veilig te wees terwyl hulle die web verken. Leer hoe om veilig te wil bly op sosiale media, hoe om ’n slimfoon of e-pos te gebruik sonder om nare verrassings af te laai, of deur kuberboelies lastig geval te word.

Hierdie boek is ’n gids vir die lewe aanlyn. Vind meer uit oor privaatheid, virusse, selfone, digitale burgerskap, wagwoorde, digitale voetspore, speletjies, kuberboelies, trolle, die sosiale media en baie, baie meer.

Stalmaats Omnibus 4

Lize Roux

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799394085

R185,00

Clare Balding het gesê: “If you are fearful, a horse will back off. If you are calm and confident, it will come forward. For those who are often flattered or feared, the horse can be a welcome mirror of the best in human nature.”

Hoe waar is dit nie? Daar is iets magies aan die verhouding tussen perde en mense, meer nog wanneer die stalmaats van die Dagbreek-ryskool betrokke is.

Die laaste vyf immergewilde Stalmaats-boeke is ook nou in een lekkerleesomnibus beskikbaar. Kom word deel van die pret en avontuur saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats!

Hierdie omnibus bevat die volgende titels: Wegholrit, Waaghals, Perdepiekniek, Pretrit en Perdediewe.

Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die soutwatergogga

Henry Ferreira

Illustrasies: Alistar Ackermann

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

9780799394887

R125,00

Cowboy Koekemoer en sy getroue kameelperd, Shorty, ontspan by die see. Daar, onder die skaduwee van ’n palmboom, koop hulle klappersap by Kaptein Superkoos.

Dit is ’n heerlike strand en nie lank nie, of Koekemoer en Shorty is albei op ’n branderplank. Hulle geniet die golwe vreeslik.

Maar iets is nie pluis nie. Hoekom is die strand so stil?

Kaptein Superkoos vertel hulle van die soutwatergogga wat mense terroriseer.

Nou is Koekemoer en Shorty gereed: G’n skelm sal in hulle pad staan nie, al is dit vakansie!

Monsterpizza

Jaco Jacobs

Illustrasies: Yolandi Prins

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

9780799395730

R115,00

Zia se pa het die beste werk op aarde.

Hy maak nie siek mense gesond nie.

Hy leer nie stout kinders somme doen nie.

Hy werk by Planeet Pizza.

As haar pa op sy rooi bromponie klim, lyk hy vir haar soos ’n superheld.

Vanaand is die aand! Vanaand gaan Zia vir die heel eerste keer saam met hom op sy bromponie ry. Hulle gaan drie REUSAGTIGE monsterpizzas aflewer!

Alfonso se pizza is propvol van alles, maar veral knoffel; en as Alfonso sê ’n pizza is groot, dan bedoel hy dit.

Dus, as ’n mens sulke pizzas aflewer, kan jy vreemde mense ontmoet en baie vreemde dinge kan met jou gebeur, veral as Jaco Jacobs iets daarmee te doen het!

Yolandi Prins se fabelagtige tekeninge maak hierdie boek monsterspesiaal.

LAPA het al meer as 1,2 miljoen boeke van Jaco verkoop, en ons gaan nog baie meer vir hom verkoop in die toekoms.

Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, sy twee dogters, drie honde, ’n kat en ’n troetelluislang. Hy en sy gesin is mal oor pizza. Die luislang lyk gewoonlik soos ’n vlieënde piering ná ’n baie groot pizza heel afgesluk is.

Romanza

Hartsbesit

Anna van Tonder

SuperRomanza

9780799395617

R240,00

Minni Minnaar verloor haar kleinsakeonderneming in Pretoria se middestad omdat al die kleiner winkels gesloop moet word vir die oprig van groter geboue. Haar vriendin, Roda, nooi haar om op Roda se ouers se plaas te gaan kuier terwyl sy bestek opneem van haar lewe en moet besluit oor die pad vorentoe.

Hier ontmoet sy vir Zak Erasmus. Hy is ’n baie aantreklike boer met ’n aangename persoonlikheid, maar hy roer niks in haar nie. Die stug Duitse wewenaar, Wolfgang Falkenrot, van die plaas Falkennest, laat egter ou hunkeringe weer ontwaak.

Wolfgang soek ’n au pair vir sy vierjarige dogter en Minni sien dit as die uitkoms waarop sy gehoop het.

Minni, eens ’n weeskind, het uiteindelik nou ook ’n gesin – veral toe haar babaseuntjie gebore word.

Dié storie is ’n troste LAPA-boek, propvol inspirasie.

Web van liefde

Rykie Roux

Romaza-Omnibus

9780799395648

R240,00

Web van liefde bevat drie van die gewilde Rykie Roux se vorige verhale.

Roux se boeke word gekenmerk deur standvastige, onafhanklike heldinne, vurige helde en interessante storielyne. Net reg vir ’n naweek in die bed, toegespin in ’n web van liefde!

Mariek en die magnaat: Mariek dra swaar aan haar eksverloofde se geldverduistering. Pieterjan Ungerer glo sy is ’n fortuinsoeker wat haar web ook vir hóm gestel het. Sy weet hy is vol leuens gepomp, maar hoe bewys sy haar onskuld?

Satynprinses: Niene O’Kelly wil nie die beeldskone erfgenaam van haar ouma se kosmetiekryk wees nie. Sy is in wese ’n vlieënier. Brink Viljoen kom haal haar in Botswana, maar sy is ontuis in O’Kelly’s se gange, haar hart onveilig by Brink.

Naweekbruid: Marguerite trou met Andreas Steyn, ’n briljante argitektuurstudent, al weet sy hy het haar nie lief nie. Sy word ’n naweekbruid, want sy verlede haal hom in.

Tweede kans op geluk

Sophia Kapp

Romanza

R95,00

9780799395495

Nanette het pas haar werk verloor en sy weier om ’n sent van haar man se familie te aanvaar. Sy was drie jaar gelede nie genoeg vir die De Langes nie, en veral nie vir Barry de Lange nie. Tog, haar seuns se oupa het pas ’n hartaanval gehad en hulle wil graag hê die seuns moet op die familieplaas, Geluk, kom kuier.

Sy sal dit doen vir haar seuns, maar sy gaan nie weer gedwee en geduldig wees indien hulle haar soos ’n indringer laat voel nie. Wie sy is, het bestaansreg.

Maar dinge is nie hoe sy dit onthou nie. Haar seer en swaarkry is eg, maar is dit dalk net een kant van die storie? Sy leer haar skoonouers ken, ook haar swaer Barry.

Ontstig, ontdek sy dat ’n man wat sy al die jare maklik kon afmaak as ongevoelig, entlik iemand is wat weet wat die liefde is en hoe diep dit kan reik.

Altyd net jy

Elsa Winckler

Romanza

R95,00

9780799395525

Leah het Max ontmoet toe sy 10 jaar oud was en iets het op daardie oomblik met haar gebeur. Op haar agtiende verjaarsdag soen hy haar, maar toe sy hom die volgende oggend gaan soek, help hy ’n ander vrou in ’n motor. Nou, tien jaar later, word sy gevra om ’n onderhoud met die wêreldbekende Max Campbell te voer. Vir die eerste keer gaan hulle weer alleen in ’n vertrek wees. Dit behoort nie saak te maak nie, of hoe? Sy is mos lankal oor hom.

Die oomblik toe Max vir Leah op haar agtiende verjaarsdag soen, het hy geweet dis ’n fout. Die intense emosies wat hy ervaar het, is tog nie volhoubaar nie. Hy besef dié tipe liefde kan hom vernietig, daarom sê hy niks oor die model wat hy in die taxi gehelp het nie.

Liefde is wynrooi

René van Zyl

Romanza

R95,00

9780799395556

Die toegewyde sangeres, Karista Leclus, haat rugbyspelers – hulle speel mos beter met haar gevoelens as rugby! Marcel hét haar immers vir ’n trompoppie gelos.

Wanneer Gareth O’Neill – die onmoontlik-aantreklike rugbyspeler – haar amper vertrap, is sy woedend. Goed, hy hét verskoning gevra en hy hét die blouste oë wat sy nóg gesien het! Sy kan egter nie Marcel se verraad vergeet nie.

Hulle moet nou saamwerk vir ’n gesamentlike hen- én haanpartytjie in die Bosveld, en wanneer hy sy flikkers gooi, kan sy sweer hy speel vuil, maar sy kan nie vergeet dat Gareth net nóg ’n rugbyspeler is nie. Sy kan dit nie bekostig nie, want daar is hierdie keer té veel op die spel.

Aandsterbelofte

Judy Troskies

Romanza

R95,00

9780799395587

As gevolg van ’n verlede van seermaak, hardloop Abby weg wanneer iets te ernstig raak. Dus eindig sy haar verhouding met James; maar hy sal alles in sy vermoë doen om haar terug te wen.

Dan koop Abby ’n stuk grond wat sy graag wil ontwikkel, want dit het betekenis vir haar en ou liefde, Armand Steyn. Wanneer Armand ná agt jaar uit Amerika terugkom en probeer om die grond terug te koop, vlieg die vonke en ou emosies word herleef.

Abby en Armand se liefde vir die stuk grond naby ’n rivier en hul gewoonte om sononder te ontmoet, herinner hulle albei aan die belofte wat hulle baie jare gelede op die Aandster gemaak het.

Wat van James?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest