Leesvordering:

Nuut by LAPA in Februarie

Feb 8, 2019

Liefde, kuberkrakers en wetenskap

Februarie is die maand van die liefde en LAPA was nog nooit skaam om mee te doen nie. Ons het ook talle lekkerleesboeke vir die jongmense.

Plus: Daar is ’n splinternuwe, Engelstalige kuberriller deur Peter Church.

Kompetisie: Die liefde in jóú se Afrikaans

LAPA Uitgewers soek manuskripte oor die liefde wat Afrikaans in al haar tonge uitbeeld. Die liefde is wel ’n universele taal, maar dit klink darem baie lekkerder in jou eie dialek of variëteit.

Om dít te fasiliteer hou ons ’n kompetisie waarin ons vra: Hoe klink die liefde in jóú se Afrikaans? Praat jy of jou karakters Kaaps, Johannesburgafrikaans, Namakwa-afrikaans of Oranjerivierafrikaans? Klink die Afrikaans van die Weskus anders as die Afrikaans van die Ooskus?

Ons wil weet; en ons wil weet oor die liefde, want dít is iets wat ons almal verstaan.

Daar is geen genrevoorskrif nie, solank dit ’n lekkerleesverhaal van tussen 45 000 en 75 000 woorde oor die liefde is. Soos Afrikaans, het die liefde baie vorme. Enige dialek of variëteit van Afrikaans word aanvaar, LAPA soek egter opsetlik na verhale wat Afrikaans in al haar tonge uitbeeld; die keuse van wenners en publiseerbaarheid sal hierdeur beïnvloed word.

Die prysgeld is soos volg:

  • R20 000 vir die wenverhaal
  • R10 000 vir die naaswenner
  • ’n Debuutprys van R5 000 word uitgeloof. Dié prys sou moontlik ook aan die wenner of die naaswenner toegeken kon word.

Die sluitingsdatum vir voorleggings is middernag 3 Februarie 2020.

Vir ’n kopie van die kompetisiereëls, kontak kompetisie@lapa.co.za

Romanse

Huis van geheime

Malene Breytenbach

SuperRomanza

9780799391626

R225,00

Mona begin ’n splinternuwe lewe met die skep van ’n gastehuis wat spesifiek op skrywers gemik is. Vir haar is dit nuut en opwindend, want haar afgelope huwelik het haar broos gelaat. Nou staan sy weer op haar eie bene.

Mona kry met skrywers van alle soorte te doen, sommige aspirerend, ander so bekend dat hulle werk in verskeie tale vertaal word. Tydens die Woordfees op Stellenbosch is daar veral een bekende skrywer wat die vroue op hol het. Sonder dat sy wil, besef Mona dat sy teenwoordigheid haar allesbehalwe onaangeraak laat.

Nugter en verstandig weet sy dat iemand wat ander vroue ook laat swymel, moeilikheid kan beteken. Dit gebeur wel. Van die mededingende vroue vind uit hoe die wind waai en word haar vyande.

Mona se eksman gun haar boonop geen geluk nie en kort voor lank word haar eienaarskap van die huis, haar nuwe lewe, bevraagteken. So ontvou Huis van geheime in ’n verhaal met talle spanningselemente en allerhande verrassende wendings.

Lesers sal baie hou van Mona en die suksesvolle skrywer wat haar so onverhoeds betrap. Dié twee is nie bloot aantreklik nie; hulle is albei hoogs intelligent en talentvol.

Malene Breytenbach is nie verniet een van die talle Romanza-skrywers wat met ’n PhD spog nie. Gewoonlik is sulke inligting van min nut vir ’n leser, maar in hierdie geval skryf Breytenbach vanuit die maag van die Afrikaanse letterkundige Establishment, en sy doen dit trots onder die Romanza-vaandel. Breytenbach en haar man het albei aan die US gedoseer en was van meet af aan betrokke by die US Woordfees. Sy het al meer as vyftig romanses geskryf, bo en behalwe die literêre verhale wat ook al uit haar pen gekom het.

Haar vorige boek met die universiteit as agtergrond, Die professor en die beterweter, is op Goodreads geklassifiseer in die jy-waag-dit-nie-om-neergesit-te-word-nie-kategorie.

Hoekom dan nie? Die maand van die liefde is ook mos daar vir mense wat hulle brein kan gebruik, nie waar nie? LAPA is skaamteloos trots op ons Romanza-aanbod. Almal is welkom.

Onweerstaanbare passie

Marijke Greeff

Romanza-Omnibus

9780799391657

R225,00

Marijke Greeff is ’n gekwalifiseerde bibliotekaris wat begin skryf het toe sy nie meer in ’n biblioteek kon werk nie. Haar werk is bekend om die vurige liefdestonele, onweerstaanbare helde, sterk heldinne en die interessante kinkels in die storielyne. Dit is mos wat ’n mens van LAPA verwag in die maand van die Liefde, nie waar nie?

Marijke het al verskeie romanses geskryf en is reeds met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon.

Onweerstaanbare passie is ’n samestelling van drie van haar vorige Romanzas.

’n Ongewone meisie: Toe Juli Baxter se biologiese pa haar as lyfwag vir Zack huur, beskou sy dit as bloot ’n opdrag. Sy kom egter gou agter sy het haar lelik misgis. Wie haat Zack genoeg om hom te wil vermoor? Wat is die betekenis van die wit angeliere wat telkens voor ’n aanslag op sy lewe by Zack afgelewer word? Die spanning – ook tussen Zack en Juli – bereik ’n hoogtepunt toe Zack die moordenaar uitlok, maar byna self in sy eie strik trap. Juli oortree natuurlik elke reël van professionaliteit wanneer sy voor Jack se manlike sjarme swig.

Soleil en die sakeman: Soleil het van kleins af ’n heldeverering vir Jason gekoester, sedert haar ma as huishoudster in sy pa se diens getree het. Sy is skaars agtien toe sy die passie in hulle verhouding ontdek. Kort daarna verdwyn Jason – waarheen, weet nugter alleen. Nou, twaalf jaar later, het sy haar mediese studie voltooi en Jason is terug. Soleil kan nie eens teenoor haarself erken met hoeveel drif sy hierdie man liefhet nie. ’n Ander kant van Jason word egter ook nou duidelik: dié van ’n berekende sakeman. Van haar droom om ’n kliniek vir minderbevoorregtes te heropen wil hy niks weet nie. Is sy aandrang op ’n skynverlowing ook deel van sy sakemansvernuf?

Formuleliefde: Jarod Hunter speel nie met sy mededingers en vyande nie. Hy word nie verniet Die Jagter genoem nie. Dié Formule Een-wêreldkampioen ver­pes die media, en Catherine is juis ’n joernalis – met die opdrag om sy verlede oop te krap en sappige brokkies aan haar lesers op te dis. Jarod weet nie sy is ’n verslaggewer nie en laat haar onder valse voorwendsels naby hom toe. Ná sy vrou se geheim­sin­nige motorongeluk steur hy hom nie aan vroue nie, maar Cat kan hy nie weer­staan nie; totdat hy agterkom dat sy ’n lid van die media is en hy die intiemste besonder­hede oor homself op haar koerant se voorblad lees.

Sterlig en soene

Thea Holland

9780799391473

R90,00

Antjie is lief vir Tom, maar trou? Nee, dankie. Die huwelik is ’n strik waarin jy trap! Maak sy ’n fout toe sy die troue weer uitstel? Sy het dit immers voorheen al gedoen, toe het Tom haar vergewe.

Thea Holland woon by die see en haar belangstellings strek so wyd soos die hemelruim. Die lewe is vir haar ’n geskenk waarvoor ’n mens nooit dankbaar genoeg kan wees nie.

Lank, donker en gevaarlik

Madelie Human

9780799391534

R90,00

’n Verhouding, so kort op die hakke van die verbreking van haar verlowing, is vir Lizma ondenkbaar, maar vertel dit nou vir haar ongehoorsame hart; veral as Joe Schoeman net naby haar kom.

Madelie Human het voltyds begin skryf nadat sy die onderwys verlaat het. Om romanses te skryf is iets is wat sy nog altyd graag wou doen.

Die spel van liefde

Corné van Rooyen

9780799391503

R90,00

Tot Izette se ontsteltenis is die nuwe, sexy prokureur niemand anders as haar eksman nie. Gelukkig is haar gevoelens vir Markus iets van die verlede, maar sy soene saai steeds verwoesting in haar hart.

Corné van Rooyen was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.

Blomme vir Melissa

Ciska Olivier

9780799392197

R90,00

Eers los Nico Roussow haar met ’n gebroke hart en nou verwag hy ’n tweede kans. Wel, nie weer nie. Melissa dink sy het ’n goeie houvas op haar hart, maar dit luister nie en voor sy weet, dompel sy haarself van voor af in die verderf.

Ciska Olivier is ’n plaaskind van Namibië wat in haar eie wêreld van lees en skryf geleef het totdat sy haar eie storieboekheld ontmoet het.

‘n Kuberriller

Crackerjack

Peter Church

Crime Thriller

Imprint: Catalyst Press

9781946395115

R265,00

Die jong, intelligente en sexy Carla Vitale word met die hand gekeur om Supertech, Afrika se voorste onafhanklike ingenieursfirma, te bestuur. Een Vrydagmiddag in Kaapstad word haar droom verpletter toe haar baas en mentor, Nial Townley, verdwyn en sy luukse voertuig aan die voet van Chapmanspiek gevind word. Carla besef US$20 miljoen uit Supertech se oorsese rekeninge is weg. Ná drie maande het die polisie nog geen leidrade nie.

Carla is sonder werk, sonder ’n motor, en sonder ’n foon. Sy soek hulp by die een mens wat sy dink sy kan vertrou: ’n kuberkraker en aanlyn makelaar, Daniel Le Fleur. Hy handhaaf egter ’n lae profiel in Bantrybaai en wil nie die aandag op hom vestig nie.

Vir die jongmense

Video-idees

Tim Grabham

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799390599

R140,00

Maak fantastiese video’s en animasie: Droom jy daarvan om die volgende YouTube-sensasie te word? Hou jy net daarvan om video’s te maak? Moet jy ’n vlog vir ’n skoolprojek maak? Ontdek die videomaakproses van draaiboek tot skerm, met praktiese wenke, raad en kortpaaie vir jou eie, opwindende projekte tuis.

Hierdie boek bevat al die inligting wat jy nodig het om jou eie video’s te maak. Ontdek die beste kamerahoeke, leer hoe om videomateriaal te redigeer, hoe om jou video aanlyn te kry, en hoe om veilig op die internet te bly.

Gaan jy jou eie weervoorspelling opneem? ’n Kosmaakdemonstrasie verfilm? Jou troeteldier se lawwe toertjies op video vaslê? Video-idees bevat alles wat jy nodig het om die beste video’s tot nog toe te maak – van die keuse van jou kostuums tot daardie baie belangrike post-produksie-kortpaaie.

Of jy nou spesiale geleenthede opneem, jou eie animasievideo’s maak, ’n rekenaarspeletjie resenseer of ’n musiekvideo maak, hierdie briljante boek kan jou dalk help om ’n ster en ’n videojoernalis te word!

Danksy die groei in selfoontegnologie is die maak van video’s vir YouTube, tuisvermaak en klasprojekte deesdae ’n gewilde stokperdjie, selfs vir jong kinders. Hierdie boek is ’n eerste in Afrikaans – ’n praktiese gids wat jong lesers wys hoe om hul eie video’s te maak, te redigeer en selfs aanlyn te plaas (met die nodige inligting oor internetveiligheid).

Briljant! Opwindende eksperimente vir jong wetenskaplikes

Robert Winston

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799390650

R240,00

Hierdie prettige boek is propvol feite en ongelooflike buitelugeksperimente wat ontluikende jong wetenskaplikes kan help om hul omgewing te verken. Gebruik huishoudelike items en maak ’n watervuurpyl wat in die lug opskiet om jou meer van lugdruk te leer, of blaas reusagtige borrels om te wys hoe oppervlakspanning werk. Maak ’n wurmplasie en kyk hoe wurms in die grond wriemel, of bou ’n vlieër en ontdek die sleutel tot aërodinamika.

Met fantastiese foto’s, duidelike stap-vir-stap-illustrasies en gedetailleerde instruksies sal jong slimkoppe sommer uit die staanspoor nie kan wag om weg te spring met die eksperimente nie. Elke aktiwiteit bevat ’n verduideliking wat die fassinerende wetenskap agter die eksperiment verduidelik, en dit gee voorbeelde uit die regte lewe om alledaagse wetenskaplike beginsels in aksie te sien.

Hierdie boek is propvol opwindende projekte wat jong wetenskaplikes en buitelug-entoesiaste sal inspireer en hulle die buitelewe laat verken sodat hulle hul wêreld beter kan leer verstaan. Dit is ’n moet-hê-boek vir elke jong wetenskaplike wat nuuskierig is oor die wêreld en is perfek vir skoolprojekte.

Robert Winston is ’n bekende Britse professor, mediese dokter, wetenskaplike, skrywer en die aanbieder van verskeie BBC-televisiereekse oor die wetenskap

Vind uit! Kodering

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799389746

R130,00

Ontdek die verstommende krag van rekenaarprogrammering en hoe dit alles rondom ons beïnvloed. Leer hoe ons kode gebruik, hoe rekenaars kode interpreteer, en vind meer uit oor die geskiedenis van kodering – van Ada Lovelace en vroeë program­merings­tale tot vandag se Python en Scratch en baanbrekers soos Steve Jobs en Mark Zuckerberg. Loer binne-in ’n rekenaar, leer meer oor die internet, toeps en speletjies, en vind uit hoe jy kan leer kodeer.

Vind uit! Aarde

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799389715

R130,00

Ontdek die struktuur van die aarde, van sy rooiwarm kern tot die berge, woestyne en oseane op die planeet se oppervlak. Vind uit waarom ons seisoene het, hoe die watersiklus werk, en waarom ons bevolking groei. Wat is die aarde? Waarom het ons grond nodig? Hierdie fantastiese boek bied kernfeite oor aardrykskunde op ’n prettige en opwindende manier aan sodat jong lesers die wonders van ons planeet kan verken – van aardbewings tot berge, vulkane tot riviere, en ekostelsels tot die rotssiklus.

Vind uit! Wetenskap

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799389708

R130,00

Leer wat die verskil tussen atome, molekules, mengsels en verbindings is; vind uit hoe plante werk; en sien die watersiklus in aksie. Hierdie boek gaan beslis jou volgende skoolprojek vir natuurwetenskap inspireer, en dit verduidelik presies wat wetenskap is en hoe dit werk. Vind uit waaruit materie bestaan, hoe die voedselketting inmekaarsteek, en hoe die weer werk. Ontdek hoe elektrisiteit en magnetisme ons alledaagse lewe beïnvloed. Doen jou eie eksperimente om die inligting te laat lewe kry!

Vind uit! Haaie

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799389722

R130,00

Maak van naderby kennis met allerlei haaispesies en leer hoe om hulle uit te ken, watter die sterkste is, en veel meer. Kyk hoe ’n haai se skelet lyk, leer wat elektroresepsie is, pas die eiers by die regte haaisoort, en vat ’n hap van hul verskillende diëte. Vergelyk verskillende oseaanhabitats, liggaamsgroottes, sterte, sintuie en veel meer. Jy kan selfs ’n onderhoud met ’n haaikenner lees, en uitvind hoe jy die oseane kan help bewaar om bedreigde haaie te beskerm.

Vind uit! Robotte

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799389739

R130,00

Ontdek die mees fantastiese supercool tegnologie. Hierdie boek is propvol asemrowende feite oor kinderuitvinders, robotte met gevoelens, robotspeelgoed en
-speletjies, mensagtige robotte en veel meer. Vind uit hoe en waarom robotte gemaak word, hoe hulle mense tans help, en hoe hulle ons in die toekoms gaan help. Ontdek hoe rekenaars robotte ontwikkel en bou, en hoe ingenieurs robotte met spesifieke vermoëns ontwerp, byvoorbeeld om te loop, spring, Mars te verken of ploftoestelle skadeloos te stel.

Vind uit! Ingenieurswese

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799389753

R130,00

Ontdek die fassinerende wêreld van ingenieurswese. Vind uit hoe konsepte soos hefbome, katrolle, wiele en asse werk, en hoe tegnieke mettertyd verander en ontwikkel het. Ontdek asemrowende ingenieursprestasies deur die geskiedenis heen, van koetse uit Antieke Egipte tot die bou van die Eiffeltoring – en vind meer uit oor die ingenieurs wat dit gebou het. Hierdie boek dek onderwerpe soos stoom­enjins, vuurpyl­tegnologie, vliegmasjiene, brûe, geboue, robotte en veel meer.

Zackie Mostert en die fantastiese fliek

Jaco Jacobs

Illustrasies: Alex van Houwelingen

Fiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799390629

R95,00

Zackie en Vincent is baie opgewonde, want hulle gunsteling-aksieheld maak ’n splinternuwe fliek en die vervaardigers soek jong akteurs om daarin te speel. Die twee maats kan nie wag om vir ’n oudisie te gaan nie.

Ongelukkig wil Anton ook graag ’n rol in die fliek hê. Anton is die grootste boelie, grootprater en moeilikheidmaker in die skool – en hy kan karate doen! Hy gaan sy bes doen om seker te maak Zackie en Vincent het nie ’n kans om ’n rol in die fliek te kry nie …

Gelukkig weet jong lesers dat Zackie en Vincent altyd ’n plan kan maak.

Hierdie is die sestiende boek in die baie gewilde Zackie Mostert-reeks. Meer as 93 000 kopieë van dié reeks is reeds verkoop, want Zackie en Vincent is altyd slim genoeg om Anton te uitoorlê.

Zackie Mostert en die monster-melkskommel

Jaco Jacobs

Illustrasies: Alex van Houwelingen

Fiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799390612

R95,00

Dit is skoolvakansie. Zackie en Vincent gaan sommer hope pret hê. Hulle gaan swem, skaatsplank ry in die parkie en met hulle watergewere speel. Soos gewoonlik is Anton, die boelie, ook in die omtrek. Hierdie keer het hy iemand wat hom gaan help om Zackie-hulle se pret te bederf. Boonop het mevrou Langenhoven kuiergaste vir die vakansie – Zackie en Vincent word dus gedwing om met die vervelige tweeling te speel.

Gaan dit die aakligste vakansie ooit wees?

Gelukkig maak ’n splinternuwe restaurant sy deure oop en hou ’n kompetisie om te kyk wie die meeste monster-melkskommels kan drink.

Nou lyk dit of die vakansie dalk groot pret kan wees, die wenner kry immers ’n splinternuwe, wilde, woeste watergeweer as prys!

My maats kom kuier! Speletjies, vasvrae, bederf-idees en dinge om te maak

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799390605

R140,00

Hou die beste oorslaappartytjies tot nog toe! Net een ding is lekkerder as ’n uitslaapaand, en dit is om een te beplan. Met alles van speletjies en vasvrae tot bederf-idees en middernagfeeste sal jou idees nooit opraak met My maats kom kuier! nie.

Hierdie essensiële gids tot partytjiebeplanning is propvol aktiwiteite, temas en dinge om te maak wat jou maats vir dae aan die praat sal hou.

Leer hoe om ’n visgraatvlegsel te vleg, ’n natuurlike gesigsmasker te skep of selfs om kamma-skemerkelkies aan te maak! Doen dan die vasvrae om jou ware vriendskapstyl te ontdek.

Hierdie boek is ’n gids vir jong meisies om hul eie oorslaappartytjies te beplan. Die boek bevat verskeie idees vir temas, aktiwiteite en geskenke wat jong meisies self kan doen – met deeglike aanwysings en veiligheidswenke.

My maats kom kuier! is ’n moet vir fantastiese aande saam met jou vriende.

1 000 nuttige woorde

Dorling Kindersley

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 5+

9780799391817

R160,00

Aan alle ouers: Voorlees is baie, baie belangrik wanneer jou kind in Graad R is, want volgende jaar gaan sy/hy self daardie woorde begin raaksien en lees. Kinders wat met selfvertroue begin lees, het minder struikelblokke om te oorkom.

Juis daarom is hierdie boek uiters belangrik, reeds voor ’n kind skool toe gaan. In Graad R begin die lesertjie woorde herken, in Graad 1 begin daardie einste lesertjie die woorde lees!

Hierdie prettige, kleurryke woordeboek is ideaal om die jong leser se taal- en geletterdheidsvaardighede te ontwikkel en te verbeter. Saam met die volop selfstandige naamwoorde, werkwoorde en byvoeglike naamwoorde is daar ook allerlei opwindende onderwerpe soos wilde diere, beroepe, storietyd, die plaaslewe, kleure, vorms en getalle. Daar is volop dinge om te sien op elke bladsy en vyf eenvoudige stories stel nog meer woorde aan die lesertjies bekend. Daardie selfvertroue help om vroeg reeds die jongspan se lees- en skryfvaardighede te ontwikkel.

Die boek bevat ook heelwat besprekingspunte om taalontwikkeling aan te moedig.

Hierdie boek is geskep in samewerking met ’n vooraanstaande opvoedkundige konsultant, Penny Coltman, en is geskik vir kinders wat nog nie lees nie, beginnerlesers en almal wat Afrikaans wil leer.

Stalmaats: Omnibus 3

Lize Roux

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799391336

R185,00

Die volgende vyf boeke in die Stalmaats-reeks verskyn nou saam in een lekkerlees-omnibus. Deur hulle saam uit te gee, kan ons elke storie verkoop teen ongeveer R37,00 elk – alles pogings van LAPA om kinders aan die lees te hou in benarde ekonomiese tye.

Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats!

Of hulle nou aan ’n perdekompetisie deelneem, vakansie by die see gaan hou of geld insamel om mishandelde en hawelose perde by ’n skuiling te red, waar Anri en haar maats is, sal daar altyd hope pret wees! Natuurlik is die katterige Vinette gedurig besig met allerlei planne om die lewe vir die res van die Stalmaats moeilik te maak.

Dan is daar Jacques, die ryskooleienaars se seun met sy blou oë, wat net so mal is oor perde en Anri se hart vinniger laat klop.

Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels:

  • Sirkusperde
  • Afskeidsrit
  • Perdespeurders
  • Rivierperde
  • Stormnag

Sanri Steyn Omnibus 1

Theresa van Baalen

Illustrasies: Johann Strauss

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799390711

R180,00

O, gonna. Sanri Steyn se neus jeuk en dit beteken … hier kom ’n storie! Eintlik kondig ons sommer vier stories aan!

Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word, en nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees: Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie.

Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – as daar nie ruimtewesens oorkant die straat intrek nie, probeer iemand die hele skool se kinders in zombies verander! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou.

Sanri hét bekend geword. Meer as 21 500 kopieë van die gewilde Sanri Steyn-reeks is reeds verkoop. Vir die eerste keer is die eerste vier Sanri-stories nou in een lekkerlees-omnibus beskikbaar. Dit beteken elke storie kos net R45,00 – ’n winskoop; en net reg vir die tyd wanneer almal moet terug skool toe en die beursies plat is.

Hier volg iets meer oor elke storie.

#1: Doktor Zombos se geheime formule

Die Raaiselfontein Gazette sal mos propvol opwindende nuus wees, glo Sanri, maar sommer gou vind sy uit alles is nie pluis nie. Waarom tree almal so vreemd op? Wat het die lekkergoedfabriek daarmee te doen? Saam met haar nuwe vriend, Markus, besluit Sanri om die geheim te probeer ontrafel …

# 2: Die aliens oorkant die straat

Toe daar nuwe mense oorkant die straat intrek, begin Sanri se neus kriewel – soos altyd wanneer sy ’n lekker sappige storie ruik. Hoekom trek die nuwe mense een nag tydens ’n woeste donderstorm in? Waarom ry hulle met so ’n vreemde borrelkar? Waarom tree die twee kinders met hulle silwerwit hare so snaaks op? Sanri is seker die nuwe bure is aliens. Sy moet net die bewyse kry, anders kan sy vergeet daarvan om ’n storie daaroor te skryf.

# 3: Die seun met die superkat-kragte

Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe seun in hulle klas ontmoet. Felix tree baie vreemd op – hy klouter oor mure, eet regte vissies op sy pousebrood… en hy het ’n ongelooflike geheim! Kort voor lank is daar groot moeilikheid op Raaisel­fontein, want ’n nare rotskurk en sy weermag van rotte beplan om die dorp oor te neem.

# 4: Die spookmeisie van Raaiselfontein

Sanri is teen hierdie tyd gewoond daaraan dat vreemde dinge op Raaiselfontein gebeur. Toe brille links en regs begin wegraak, kry sy dadelik snuf in die neus. Dan maak Sanri en Markus kennis met ’n spookmeisie.

Sanri Steyn Omnibus 2

Theresa van Baalen

Illustrasies: Johann Strauss

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799390728

R180,00

Sanri Steyn se neus jeuk sommer baie woes, want ons bied nog drie stories in ’n nuwe omnibus!

Hier volg iets meer oor elke storie.

# 5: Die monsters van Middernagstraat

Sanri se neus begin kriewel toe ’n vreemde ding een middag in Middernagstraat gebeur. As Sanri se neus kriewel, beteken dit net een ding – sy ruik ’n storie! Sanri is byna doodseker sy het gesien hoe een van Claudia Müller se oulike skoothondjies ’n oomblik lank in ’n monster verander; ’n nare monster met bloedrooi oë, ’n bek vol vreesaanjaende tande en vreemde stekels op sy rug en nek. Markus is oortuig Sanri se verbeelding werk weer oortyd, maar dan begin troeteldiere in Raaiselfontein verdwyn …

# 6: Die nag van die weerwolwe

Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe meisie in hul klas, Chrissie de Wolfe, ontmoet. Waarom het Chrissie ’n sappige rou steak in haar kosblik? Wat soek sy by die slaghuis en waarom koop sy soveel vleis? Hoekom lyk dit of sy supersterk is? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie … Sanri is oortuig die nuwe meisie in haar klas is ’n weerwolf. Hoe gaan sy en Markus dit bewys?

#7: Die vampiere van vlermuishoogte

Sanri kan nie wag om haar beste vriend, Markus, se neef te ontmoet nie. Danté en sy gesin bly in Vlermuishoogte – ’n geheimsinnige ou kasteel. Iets is egter nie pluis nie. Waarom het Danté se pa ’n skaduwee soos ’n vlermuis? Is Markus dalk in gevaar?

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest