Leesvordering:

Nuut by LAPA in Januarie

Jan 9, 2019

Welkom in 2019!

Bekostigbare vertroosting in die arms van ’n lekker boek? Dit is wat LAPA hierdie maand vir oud en jonk bied.

Wat die see gesien het

Teks en illustrasies: Tom Percival

Vertaler: Jaco Jacobs

Ouderdom: 3+

ISBN: 9780799389562

R135,00

Op ’n dag gaan Sophia saam met haar pa see toe. Hulle geniet ’n heerlike dag op die strand, totdat ’n donderstorm uitbreek en hulle inderhaas moet vlug. Sophia verloor per ongeluk haar teddie; haar spesiale teddie wat eers haar oupa s’n was, en toe haar ma s’n, en daarna hare sedert die dag toe sy gebore is.

Sophia se hart is gebreek, maar die see sien wat gebeur en dalk, net dalk, kan die see Sophia se teddie vir haar terugbring, maak nie saak hoe lank dit neem nie …

Hierdie beeldskone, spesiale prenteboek kombineer asemrowende collage-kunswerke met ’n hartroerende storie wat jou altyd sal bybly.

Wat die see gesien het is oorspronklik in Engels uitgegee as The Sea Saw. LAPA het die regte bekom en deel nou graag Jaco Jacobs se uitstekende vertaling, die pragtige storie en wonderlike prente aan alle kinderharte tussen die ouderdom 3 en 103.

Niemand is te oud om die hartseer én die mooi van hierdie beeldskone boek te geniet nie.

Hokaai, Lulu

Fanie Viljoen

Illustrasies: Elsbeth Eksteen

Ouderdom: 7+

ISBN: 9780799389371

R135,00

Die groot dag het eindelik aangebreek: Lulu verjaar! Nie eens die nare tweeling van langsaan, Alet en Alex, kan haar dag bederf nie. Veral nie toe Lulu haar verjaardagpresent kry nie – ’n ponie!

Kort voor lank begin sy met rylesse. Eers gaan dit sukkel-sukkel, maar Lulu is in haar noppies toe sy hoor die ryskool beplan ’n piekniek in die veld. Al die ruiters en hul ponies mag spesiale kostuums dra. Lulu kan nie wag om ’n oulike kostuum vir haar en haar ponie te ontwerp nie! Sy droom immers daarvan om eendag ’n beroemde modeontwerper te word.

Dan loop die uitstappie onverwags skeef – en Lulu beland pens en pootjies binne-in haar grootste avontuur nóg!

Die vorige boeke in die reeks was Oe la la, Lulu; Bravo, Lulu; Oepse daisy, Lulu en La di da, Lulu. Meer as 18 000 Lulu-boeke is al verkoop.

Thomas@ Omnibus 1

Carina Diedericks-Hugo

Ouderdom: 11+

ISBN: 9780799391091

R200,00

Die Thomas@-reeks is een van die grootste suksesverhale in die Afrikaanse kinderboekmark. Daar het oor die jare reeds 10 boeke in dié avontuurbelaaide topverkoper-reeks verskyn, sommige titels is in Engels vertaal, en Thomas se avonture het selfs tot ’n TV-reeks gelei. Meer as 180 000 kopieë van die uiters gewilde Thomas@-reeks is al verkoop.

Nou is drie van die gewilde Thomas@-stories in een waarde-vir-geld-omnibus beskikbaar:

Thomas@moord.net: Thomas is nie lus om te trek nie. Veral nie na ’n grillerige ou Victoriaanse huis nie. Sommer gou begin allerlei vreemde dinge in die nuwe huis gebeur. Thomas hoor geheimsinnige voetstappe voor sy kamerdeur, deure gaan onverklaarbaar oop en toe en sy rekenaar se drukker spoeg die een vreemde boodskap na die ander uit. Kan dit wees dat daar regtig ’n spook in die huis is? Saam met sy vriende, Hannes, Alex en Thabo, probeer Thomas die raaisel van die huis oplos… ’n raaisel wat hulle in groot gevaar laat beland.

Thomas@skerpioen.net: Thomas en Hannes kan nie wag om ’n nuwe rekenaarspeletjie te toets wat hulle by Harry van die Cyber Tiger-internetkafee gekry het nie. Iets is egter verkeerd met die speletjie. ’n Geheimsinnige skerpioen verskyn op die rekenaarskerm en Hannes is oortuig die speletjie is in werklikheid ’n gevaarlike rekenaarvirus. Hoe ver sal die skurke gaan om die virus terug te kry?

Thomas@aqua.net: Thomas-hulle sien uit na ’n wonderlike langnaweek by die see, maar dan begin dinge lelik skeefloop: Thomas ontdek ’n deurtjie in die vloer van hulle strandhuis, en dit lei reguit na die skuilplek van die gevaarlike perlemoensmokkelaar Sharky Fortuin…

In die sterre geskryf

Frenette van Wyk

ISBN: 9780799391565

R225,00

Chantilly Dubois bevind haar teen haar sin as Papillon op ’n seerowerskip. Hulle word egter deur ’n ander seerowerskip oorrompel en sy moet aanskou hoe haar liefdesdrome in bloed voor haar wegsypel. Papillon neem ’n eed dat sy op El Capitàn sal wraak neem, hoe lank dit ook al duur, haar dag sal kom.

Maande lank, oor oseane en selfs aan die Kaap de Goede Hoop, te midde van groot gevare en ontbering, volg sy hierdie man wat haar geluk gesteel het. Sy verontagsaam selfs die Kaapse goewerneur se besluite oor wat verder in haar lewe moet gebeur.

El Capitàn, daarenteen, sit sy soektog voort na die Peregrina, ’n gesogte pêrel wat die toekomstige Spaanse koningin toekom as deel van haar bruidskat.

Toe hulle paaie weer kruis, moet Papillon teenoor haarself erken dat die wraak, wat sy gekoester het, stadig maar seker gemengde gevoelens geword het. Hoe anders, in die aangesig van ’n man wat so sterk en dapper sy posisie handhaaf te midde van ’n ruwe klomp seerowers? Is dit daaroor of bloot omdat sy nie langer teen sy manlike aantrekkingskrag kan veg nie? Haat sy hom of het sy hom liefgekry? Dit is die vraag wat Papillon nie beantwoord kry nie.

Splinters van liefde

Alma Carstens

ISBN: 9780799391596

R225,00

Splinters van liefde is ’n samestelling van drie van Alma Carstens se vorige Romanzas, Kaapse draai, Tyd sal leer en Luca se obsessie. Alma is bekend vir haar fyn uitgewerkte storielyne, diepgaande karakterisering en die interessante plekke waar die verhale afspeel.

Kaapse draai: Noudat Lani se vriendin haar oorreed het om te reageer op ’n man se advertensie dat hy na ’n vrou soek wat hy beter wil leer ken, is daar nie omdraai nie. Sy sal ’n maand lank op sy wynplaas moet deurbring. Min weet sy hy het nie die advertensie geplaas nie, sy skoonsuster het! Dit is egter nie die enigste haakplek nie. Lani kan nie bekostig dat hy haar beter leer ken nie, want dan moet sy ook vertel van die hartseer geheim oor haar herkoms en dit kan sy nie met hom deel nie. Juis nie met hierdie spesiale man wat gou al haar gedagtes in beslag neem nie.

Tyd sal leer: Siënna vlug na haar vriendin in Malawi om weg te kom van haar pa wat haar in ’n huwelik wil dwing. Sy vind gou uit die eiland Likoma is nie vir sissies met ontwerpersklere en hoëhakskoene nie – ook dat sy nie die enigmatiese en uiters sexy Marco op sy bosklere moet takseer nie. Rikki stel voor Siënna en Marco trou om te verhoed dat haar pa sy sin kry. Sy stem in, want sy weet die primitiewe eiland is presies waar sy en haar beminde Marco wil wees!

Luca se obsessie: Die lenige Italianer met die helderblou oë wat Miranda se bloemiste op Valentynsdag instap, is beslis nie van plan om net so weer uit haar lewe te verdwyn nie. Sy belangstelling is ongelukkig nie van die soort wat ’n meisie laat huweliksklokke hoor nie. Miranda baklei hard teen die vernedering en ja, die hartseer. Iets omtrent hierdie man verhoed haar om hom af te skryf, hoe hard sy ook al probeer. Hy voer sy eie stryd, al weet sy nie daarvan nie.

Want die hart weet

Elsa Winckler

ISBN: 9780799391992

R90,00

Simoné hou daarvan dat dinge presies volgens haar plan verloop en haar aangetrokkenheid tot Wessel Barendse verloop glad nie volgens planne nie. Veral met haar peetma wat probeer Kupido speel! Een van Wessel se glimlagte en haar stomme hart val is sy hande.

Perfek vir my

Marilé Cloete

ISBN: 9780799392029

R90,00

Cassie het ’n begeerte om met Francois Durandt te baklei. Sy kan dit nie verstaan nie. Vandat sy hom ontmoet het, begin ’n duiweltjie elke keer op haar skouer rondfladder as hy in die omgewing is; of is dit dalk eerder vlinders?

In sy arms

Felicia Snyman

ISBN: 9780799392050

R 90,00

Delia kan nie glo haar onwillige Samaritaan is Adriaan Bromberg, haar niggie se skripsieleier nie. Ongeag hoe baie hy aan haar hart raak, dra hy swaar aan sy grootwordjare. Sal hy die bagasie van die verlede uit die weg ruim om vir haar plek te maak?

Toe vind ek jou

Ilze Beukes

ISBN: 9780799392081

R90,00

Olivia is vasbeslote om haar biologiese pa te ontmoet, maar haar nuwe bestuurder, Jean-Luc, is hinderlik aantreklik en trek haar aandag af. Sy vind vinnig uit dat die liefde jou nooit op ’n dwaalspoor lei nie.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest