Leesvordering:

Nuut by LAPA in Julie

Jul 3, 2019

Ons het ’n uitsonderlike lys boeke vandeesmaand. As jy van moderne sprokies hou, kies reguit koers na die jeugboekafdeling. Of, dalk nie, want dan mis jy ’n puik spioenasieverhaal, ’n storie oor ’n ma en dogter wat eers enige hart sal laat ween, en dan laat lag. As jy te vinnig omblaai, gaan jy ook die koninklike teepartytjie mis in ons niefiksie-afdeling.

Goed, jeugboeke: Fanie Viljoen, Leon de Villiers, Tania Unsworth en Annabel Allers skep almal verhale wat jou hart op verskillende maniere sal raak.

Ons Romanza-afdeling het ook heerlike avonture én aktuele probleme. Kortom, jy wil ons boeke hê!

Fiksie

’n Redelike hoeveelheid moeilikheid

André Krüger

Fiksie

Druknaam: Wenkbrou

9780799395433

R285,00

Robert Ferreira is in die pekel. Sy vrou het spoorloos verdwyn. Hy is seker haar Portugese familie het iets daarmee te doen. Om dinge te vererger, vereis sy bevelvoerder in die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie dat hy deelneem aan een laaste geheime sending, al is dit teen sy wil…

Dit het alles begin met die kaping van die passasierskip, die Santa Maria, in Kabinda. Watter rol het die Amerikaners en Mossad gespeel? Wat van die Russe; waar pas hulle in?

Robert sal enige iets doen om sy vrou op te spoor; hy vermoed immers dat sy bevelvoerder meer van haar weet as wat hy wil voorgee.

Intussen vind die menseslagting by Sharpeville plaas. Robert bevind homself in ’n al hoe groter morele dilemma: Moet hy regtig kies tussen sy geloof en sy werk? Watter keuse sal hom nader aan die waarheid bring rakende sy vrou se verdwyning?

Soos in enige goeie spioenasieverhaal besef die leser en die hoofkarakter gou dat moraliteit vervlietend en vaag is. Ook dat omdraai onmoontlik is wanneer jy reeds die donker aangedurf het.

Die leser word deel van Robert se sending na plekke soos Siprus, Portugal en Beiroet, waar hy vir Julia Breytenbach, ’n Britse SIS-agent ontmoet. Saam moet hulle Ursula Schreiner, ’n gehate terroris, vastrek.

André Krüger is ’n spioenasieskrywer in ’n ander klas. Dit sit nie in enige ou se broek (of boek) om deur Joan Hambidge geprys te word vir ’n “uitstekende debuut” nie. Sy eerste roman, Die twee lewens van Dieter Ondracek, is in 2013 bekroon met die UJ-prys vir beste debuutwerk.

Oor sy tweede, Komplot, skryf Kerneels Breytenbach: “’n Meevoerende, groots-opgesette roman uit die era van die koue oorlog. Afrikaanse spannings- en spioenasieverhale sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Is jy reg vir ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid?

Die lewe vir beginners

Bernette Bergenthuin

9780799395303

R285,00

Carla Kasselman se lewe val uit mekaar nadat haar man die reg in eie hande neem, ’n onnoembare daad pleeg en die skuld op haar pak. Hy neem alles van haar af weg, eers haar babaseuntjie, dan haar blonde krulkopdogtertjie. Lewensmoeg en sonder hoop vlug sy na Sannasklip, ’n eenvoudige Weskusdorpie waar die eksentrieke tante Doreen haar weer op die voete help.

Die lewe raak weer draaglik, en aangenaam voorspelbaar, totdat ’n weerbarstige grootwildjagter se Landie sonder brandstof voor haar voordeur gaan staan. Carla ontdek dat die lewe bestaan uit probeer en weer probeer.

Meer as twintig jaar later sien sy weer haar dogter.

Mignon is gebroke, verslae en sonder ’n wil om voort te gaan. Carla bring haar saam Sannasklip toe. Skuldgevoelens en verwyte verteer ma én dogter. Is daar lig aan die einde van die tonnel? Of lê die lig dalk in Sannasklip se vuurtoring waar die aantreklike besigheidsman, Bernard Bartman, besig is om ’n restaurantkoninkryk te vestig?

Mignon ontdek dat sy meer is as ’n lappop én dat sy in staat is om lief te hê.

Die lewe vir beginners is ’n storie oor heel word – van begin en weer begin en óórbegin.

Hoewel die roman ernstiger is as die skrywer se vorige werke, is dit deurspek met Bergenthuin se heerlike sin vir humor en deernis.

Dié boek, wat kort na die Steinhofskandaal verskyn, illustreer die impak wat so ’n korporatiewe skandaal op die familielede van die aandadiges het.

Niefiksie

Clover Teepartytjie

Clover

Resepteboek

9780799393392

R280,00

Jy’s trots Suid-Afrikaans, maar ken die name van al Harry en Kate se kinders?

Jy kuier graag in Afrikaans, maar swymel oor fyngebak?

Dan is daar ’n koninklike boek wat net reg is vir jou kombuis. In Clover Teepartytjie deel ons 55 smulresepte vir al daardie lekkernye wat op jou teetafel behoort te pronk as jy wil uithaal. Ons help jou om botterbroodjies met dekadente room en konfyt te skep, ons deel die geheim van ’n veerligte sponskoek en vertel als oor die beste, elegantste southappies suid van die ewenaar.

Die fotografie sal jou mond laat water en jou inspireer om jou voorskoot aan te trek. Die Clover-produkte, wat jy heel waarskynlik reeds in jou kombuis het, sal jou help om flaters te voorkom.

Nooi jou vriendinne, sit jou beste stringetjie pêrels om jou nek en maak jou porseleinteepot warm. Jy mag nou wel Afrikaans wees, maar jy het ’n koninklike teeparty om te beplan.

Kinder- en Jeugboeke

’n Ou soos jy

Annabel Allers

Tienerfiksie

Ouderdom: 13+

9780799394764

Emma is vasbeslote – dié vakansie gaan sy ’n ou kry. Hy gaan na soutwater ruik en sal haar vir eens en vir altyd kan laat vergeet van haar beste vriendin se broer, Christiaan, wat haar buitendien nie eens raaksien nie.

Toe sy kort na hul aankoms by Jeffreysbaai ’n sekere blonde branderplankryer raakloop, klop haar hart sommer dadelik vinniger. Emma ontdek boonop ’n boek wat stap vir stap verduidelik hoe om ’n ou se hart te wen en sy besluit om die uitdaging te aanvaar. Sy gaan die boek se raad volg en die beste vakansieromanse ooit hê!

Wat kan verkeerd loop?

In 2017 is Annabel Allers se debuutroman, Kupido.com, gepubliseer. Dit was ’n groot lekkerte. Dié een sal ook wees!

Die meisie wat gedink het haar ma is ’n meermin

Tania Unsworth

Vertaler: Lydia du Plessis

Kinderfiksie

Ouderdom: 11+

9780799391138

R200,00

Stella was nog altyd die eenkantkind in die familie. Sy loop in haar slaap en sy is bang vir die water, alhoewel sy geboei is daardeur.

Vir Stella is die grootste raaisel haar ma, wat oorlede is toe Stella agt jaar oud was. Wie was haar ma? Hoekom het sy vir Stella ’n hangertjie gegee wat “die belofte van die see” genoem word? Niemand kan vir Stella antwoorde gee nie. Haar pa is te hartseer en haar ouma se geheue versleg.

Dit is net deur die see te trotseer dat Stella regtig die antwoord op haar grootste vraag kan kry: Was haar ma ’n meermin?

Die meisie wat gedink het haar ma is ’n meermin is ’n aangrypende verhaal oor gesinne, verlies, vriendskap en ontdekking.

Tania Unsworth meng fantasie en realiteit op ’n boeiende, poëtiese wyse wat steeds ’n vinnige pas handhaaf vir jong lesers. Hierdie boek sal enige leser, van elf tot baie oud, meesleur met dieselfde magiese, emotiewe krag as die oseaan.

Pieksel

Fanie Viljoen

Illustrasies: Fanie Viljoen

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799394108

R145,00

Vossie de Vos is alleen. Stoksielalleen. Sy ma en pa is altyd besig met werk, werk, werk. Sy tuisskoolonnie, mevrou Moerdyk, het ’n humeur soos ’n dreigende donderstorm. Vossie het niemand om met hom te speel of om hom geselskap te hou nie; nie eens die man wat pizza aflewer wil met hom praat nie.

Vossie is baie goed met elektroniese toestelle. Op ’n dag besluit hy om vir hom ’n maat te bou; al wat hy nodig het, is hope planne en allerhande goeters en katoeters.

Pieksel, sy nuwe maatjie, neem vorm aan.

Die oomblik toe Pieksel se ligte aanskakel word en sy ratte klikketie-klak begin beweeg, verander Vossie se hele lewe.

Pieksel is ’n briljante robot! Hy kan praat, speel, boeke lees en hy is die wêreld se beste boomklimmer. Saam met Pieksel is elke dag ’n avontuur, en Vossie hoef nooit weer alleen te wees nie!

Pieksel is ’n moderne sprokie met intertekste wat tot diep in die verlede strek, dink maar aan Mary Shelly se Frankenstein. In die hande van die meesterverteller, Fanie Viljoen, is Pieksel toegangklik vir almal tussen 9 en 109.

Die groot koelte

Leon de Villiers

Illustrasies: David Griessel

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799389258

R170,00

Die wêreld het verander. Dit is warm en dit het jare laas gereën. Die bome is weg. Al die ys het gesmelt.

Sedert Feliks se mense sonder hom weggetrek het, bly hy alleen op ’n strand, met net ’n lafhartige leeu, ’n veglustige seemeeu en ’n trop lastige bobbejane as geselskap.

Op ’n dag is daar seilskepe op die horison. Aan boord is die bevelvoerder, kaptein Blou, en haar vreesaanjaende bemanning. Hulle is ysbere wat die wêreld vol swerf op soek na die laaste oorblywende ys. Toe die bere voet aan wal sit, wil hulle Feliks dadelik opvreet. Die ysbeer-kaptein is egter seker sy ruik iets geheimsinnigs in sy bloed; sy glo Feliks kan hulle gaan wys waar die laaste ys is.

Wat volg is ’n swerftog die onbekende in, om ys iewers in die berge te gaan soek. Terwyl Feliks die ysbere aanvanklik op ’n dwaalspoor lei, begin hy stadig maar seker besef hul reis kan dalk die wêreld verander, mits hy die bere kan oortuig van sy droom oor die Groot Koelte.

Hierdie meesleurende fantasieverhaal is deur meesterverteller Leon de Villiers. Dit is ’n aksiebelaaide storie wat knetter met vonke van humor, kraakvars taal, kreatiwiteit, deernis, hoop – en ’n onblusbare liefde vir die natuur.

’n Kat se kans: Verhale van vurige en kordate katte

Kimberlie Hamilton

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799393125

R200,00

Katte, natuurlik! Vir té lank is daar té min gesê oor hoe ongelooflik katte is. Hierdie boek vertel die (ware!) verhale en allerlei geheime oor kordate katte.

Daar is verhale oor katte wat lewens red, katte wat muise in allerlei geskiedkundige geboue vang, katte wat Hollywood-sterre geword het en selfs ’n brawe klein katjie wat die Nazi’s om die bos gelei het. Moenie vergeet van die interessante feite oor mistiese katte nie, en wat van katte aan boord van skepe?

Kortom, dít is ’n purr-fekte boek vir katliefhebbers!

Hoe werk dit? 33 Projekte vir slimkoppe

Carol Vorderman

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 9+

9780799393200

Weet jy van kinders wat daarvan hou om probleme op te los? Wonder hulle hoe dinge werk? As die antwoord “ja” is, is hierdie boek net reg om hulle nuuskierig oor die ingenieurswese te maak.Die boek bevat allerlei projekte wat kinders sal help verstaan hoe die wêreld werk. Die boumateriaal is maklik bekombaar en die konsepte is maklik om self te voltooi.Die inspirerende stories van Leonardo da Vinci, Mae Jemison en Elon Musk word ook vertel.

Saam kan ons enige iets doen

Caryl Hart

Kinderboek

Ouderdom: 3+

9780799393972

R140,00

’n Vriend is iemand spesiaal, van wie jy baie hou.

Iemand wat jou goed laat voel en wat jy kan vertrou.

Waar jy ook al kom, loop jy nuwe mense raak.

Kyk, dis nou jou kans, jy kan altyd vriende maak!

Vriende kan ses bene hê, of dalk vier, of dalk twee, ’n vriend is enige iemand vir wie jy omgee!

Hierdie prenteboek vier vriendskap, deernis en diversiteit, dit handel oor inklusiwiteit en diversiteit. Saam kan ons regtig enige iets doen.

Hierdie prenteboek sluit nou aan by die skrywer se vorige boek Meisies kan enigiets doen.

Romanza

Verlore skatte

Malene Breytenbach

Superromanse

9780799395334

R240,00

Frances Wright, ’n botanis, en Riek Vanbrugh, ʼn herpetoloog aan die Universiteit Stellenbosch, gaan saam met ’n Britse argeoloog, John Mansfield, se ekspedisie na die Amasone-reënwoud in Peru. Saam met hulle gaan ’n antropoloog van Kaapstad Universiteit, asook Jack Berry, ’n avonturier, skrywer en fotograaf vir National Geographic.

Vanaf Iquitos stuur hul borg, Carlos Carraldo, hulle per boot, kleiner rubberbote en dan te voet die reënwoud in.

Die fauna en flora is uitsonderlik. Dit blyk egter gou, tot Frances, Riek en Jack se ontnugtering, dat die ekspedisie se vernaamste doel is om ’n legendariese goue beeld by die verlore stam van Huakan te gaan steel.

Dinge loop dan skeef; hulle verdwaal het en hul portiers dros.

Terwyl hulle in die reënwoud is, moet hulle mekaar leer ken. Jack Berry kry al meer respek vir Frances.

Met sy hulp ontdek Frances ’n seldsame orgidee, en in Jack ’n verlore skat.

Hierdie heerlike liefdesverhaal is vol verrassings met onverwagte afdraaipaaie, net soos die reënwoud waar alles, fauna en flora ingesluit, eksoties, dog gevaarlik, is.

Is jy dapper genoeg om die avontuur aan te durf?

Liefde vind ’n pad

Elsa Winckler

Romanse

9780799395365

R340,00

Liefde vind ’n pad is ’n samestelling van vier van gewilde Elsa Winckler se vorige Romanzas.

Elsa se heldinne is onafhanklik, hardekwas en nie skaam om hulle sê te sê nie.

Haar helde is sterk en manlik, maar ook sensitief vir die onderskeie heldinne se behoeftes.

Perfekte formule: Elena is pas aangestel as die laboratoriumanalis in ’n wynkelder en sy moet vinnig leer. Veral vir een man moet sy bontstaan: die onweerstaanbare, humeurige wynboer met die karamelbruin oë en verskeie gebreekte vroueharte op sy kerfstok.

Elena dans egter nie na sy pypenie, want ’n plaas is nie vir haar nie. Hy verkies boonop ’n meisie met ervaring, Elena het nog nooit eens ’n vaste verhouding gehad nie. Tog blyk dit dat Elena vinnig kán leer – oor meer as bloot net wyn.

Liefde sonder voorbehoud: Selfs ’n internasionale model se hartsbegeerte word nie noodwendig vervul nie. Dit weet Lynette maar alte goed sedert hierdie man twee jaar gelede haar lewe ingestap het. Nou moet sy terug New York toe en steeds weet hy amper niks van haar nie. Sy wat wil vermurwe voor hawelose kinders en diere, sy wat beplan om ’n wesie aan te neem.

Byvoordele gewaarborg: Lichen glo sy is ’n koue vrou, maar dan ontmoet sy vir Regard, wat haar bloed laat bruis en haar hartklop op loop jaag. Regard sien egter nie kans vir ’n langtermynverhouding nie, wel vir ’n vriendskap met byvoordele.

Dis juis daar waar die knoop lê, want Regard trap in sy eie strik en weet nie hoe om daaruit te kom nie. Kan ’n trouring en babas die gewaarborgde byvoordele wees waarna albei soek?

Brug na haar hart: Eva loop Henno ná vyf jaar onverwags raak en besef sy het hom nog geensins vergeet nie – ook nie die soen van destyds nie.

Hulle bring ’n onvergeetlike tydjie in die Tankwa Karoo deur, maar Henno glo nie aan langtermynverhoudings nie en sy begeer ’n tradisionele sprokieshuwelik met al sy lief en leed.

Dit is egter in Japan, waar sy dit wat sy nie kon glo nie, voor haar oë sien en weet die brug na haar hart is nie ’n hersenskim nie.

Net een kans

Louise Minnaar

Romanza

9780799395273

R95,00

Lara ontmoet iemand op die vreemdste manier denkbaar: in die verkeer, op pad werk toe. Sy is egter oortuig dat dit ’n mal man is wat uit een of ander gestig ontsnap het – watter tipe mens, wat ál sy varkies op hok het, sal ’n vreemdeling in die verkeer sien en oortuig wees dat hy doodeenvoudig net met die meisie móét praat?

Toe sy hom baie deeglik laat verstaan dat sy nie saam met ’n versteurde man eers sal gaan koffie drink nie, daag hy by haar werk op en dring daarop aan om sáam met haar te werk. Die aanbod is te goed om van die hand te wys, maar Lara maak dit baie duidelik dat dit uitsluitlik ’n professionele verhouding sal wees.

Net een kans ondersoek hoe afwesige ouers ’n volwassene se siening van liefde beïnvloed. Lara se pa verlaat haar en haar ma wanneer sy ’n baba is, en haar ma het konstant nuwe liefdes in haar lewe. Sy het dus ’n fobie vir verhoudings en vertrou nie baie maklik nie.

Haar hartsbegeerte en meer

Ciska Olivier

Romanse

9780799395242

R95,00

Jana breek vir ’n rukkie weg Boskloof-gasteplaas toe, maar dit is nie om te gaan ontspan nie. Sy het ’n ouditeursondersoek wat sy hier moet kom doen. Wanneer sy haar op die eerste dag al woordeloos vind in die teenwoordigheid van die nutsman, wek dit onmiddellike opstand in haar oorversigtige hart.

Gys toets haar uithouvermoë, maar sy weier volstrek om hierdie man met die deurdringende blou oë, moedswillige glimlag en gemaklike houding toe te laat om haar van haar doelgerigte lewenspaadjie af weg te lok. Boonop weet hy nie wie sy werklik is nie en meer nog, watter man soek dan nou ’n halwe vrou? Selfs al spat die vonke wanneer hulle soen.

Lank, donker en verleidelik

Madelie Human

Romanse

970799395211

R95,00

Suster Tessa Vermaak is gelukkig; wel, dinge kan seker beter wees. Haar kêrel is ietwat van ’n chauvinis, haar werk kan op die spel wees en haar hart klop darem té vinnig wanneer haar nuwe pasiënt – die verleidelike wildveearts, Herman Schoeman – na haar kyk.
Herman word aangeval deur ’n groep moorddadige renosterstropers wat hom steeds jag, en die trauma van die aanval het skade gelos wat hy nie aan enigiemand, veral Tessa, wil erken nie. Hoe kan sy selfs droom om langs ’n man te slaap wie se nagmerries haar in gevaar kan stel?
Wanneer Herman haar ’n werk aanbied as sy assistent, besef sy gou dat dit, om in die nabyheid van hierdie aantreklike vreemdeling te werk, sy eie gevare inhou.
As dokter Herman Schoeman haar hart breek, sal nie hy óf sy van dié tipe besering kan genees nie.

Soen ʼn vreemdeling

Dina Botha

Romanse

9780799395181

R95,00

Gabrielle de Klerk gebruik die Kiss a Stranger-app om die laaste item op haar wenslysie vir haar matriekvakansie in Parys te verwesenlik. Die speletjie het ongeskrewe reëls: geen inligting mag uitgeruil word nie, en geen planne mag gemaak word om mekaar weer te sien nie. Net ’n soen, en dan moet jy aanbeweeg. Maar kan Gabrielle verby die man van haar drome beweeg wanneer sy hom weer jare later raak loop, en boonop deur sy ouma gevra word om funksies vir hom te reël waar hy die room van die land se beskikbare jong dames kan ontmoet en onder hulle ’n trouvrou vir hom soek?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest