Leesvordering:

Nuut by LAPA in Julie

Jun 29, 2020

Lapa is trots daarop dat ons gereeld fiksie en feite meng. Hierdie maand het ons vyte ook. Lekker lees!

FIKSIE

My naam is legio

Madelein Rust

Krimi

Druknaam: LAPA

9780639600154

R280,00

Renata Malan help weer die polisie om ’n moordenaar vas te trek. Dié keer besef Renata dat die geweldenaar martelmetodes gebruik wat in die ou dae gebruik is om duiwels uit mense te dryf.

Vir hierdie moordenaar gaan dit meer oor die voorafgaande marteling as die slagoffers se dood. Dat hulle sterf, is trouens ’n “ongeluk”. Gaan Renata antwoorde vind voordat dit te laat is vir nog ’n slagoffer?

Renata worstel ook steeds met die private demone wat haar lewenslank agtervolg: Waar is haar pa wat moord gepleeg het en steeds voortvlugtig is? Het sy die moordgeen by hom geërf? Durf sy toegee aan haar liefde vir Stefan?

In hierdie vyfde roman in die Malan & Coetsee-reeks vind sy uiteindelik antwoorde, maar nie al die antwoorde is noodwendig bevredigend nie.

Liefde in die tyd van Corona

Elsa Winckler

E-rotika

Druknaam: Wenkbrou

9780639604978

R49,00

Die boek is beskikbaar as e-boek.

By LAPA: https://lapa.co.za/liefde-in-die-tyd-van-corona-eboek

Op Kindle: https://www.amazon.com/Liefde-die-Corona-Afrikaans-rotika-ebook/dp/B08B1STZXN

Toe die inperking aangekondig word, het Jenna pas haar verloofde en ’n strooimeisie saam in die bed gevang. Sy het verkoue, ’n gebreekte hart en die behoefte om weg te kom van almal se simpatieke kyke. ’n Vriendin bied haar die gebruik van ’n strandhuis op Waenhuiskrans aan wat op die oomblik na die regte medisyne klink.

Vir die Jacques is die idee om vir drie weke stoksielalleen te bly die heerlikste vooruitsig. Waarop hy nie voorbereid was nie, was die lang blondine in die sitkamer van sy strandhuis. Dit maak nie saak hoe sexy sy is of hoe lank haar bene is nie, dis sy huis en die meisie moet eenvoudig ’n ander plan maak. Maar in die tyd van die Corona is niks eenvoudig nie.

Die man langsaan

Cynthia Robertson

Romantiese fiksie

Druknaam: LAPA

9780639600314

R250,00

Paloma het 20 jaar gelede alle mans afgesweer toe sy, die dag voor haar troue, uitvind dat haar verloofde haar verkul.

Dan trek daar nuwe bure in aan weerskante; die baie aantreklike en geskeide Arno aan die een kant, ook die ongelooflik sexy Sindisiwe aan die ander kant.

Arno raak betrokke by sy eiesoortige buurvrou met haar lang, geblomde rompe en mooier-as-mooi kaal voete. Hy help haar toe haar hond uitgesit moet word en maak vrede met haar astrante hoenderhaan Kallie wat tydig en ontydig by hom kom kuier. Paloma ontmoet sy familie, en vind uit dat alle families maar vreemd is op hul eie manier.

Haar nuwe buurvrou dwing haar om ’n make-over te doen; vir die eerste keer begin sy besef dat mens nie volmaak hoef te wees om liefgehê te word nie.

KINDER- EN JEUGBOEKE

Z-A-K: Die reis na Zenkion

Theresa van Baalen

Tienerfiksie

Ouderdom 13+

Druknaam: LAPA

9780799399752

R185,00

Sluit by Mitch, Lionel en Imke aan vir ’n aksiebelaaide avontuur oor vreemde wesens, astrotuie en ’n soeke na antwoorde.

Toe Mitch daardie oggend met ’n knop op sy maag wakker geword het, het hy geen idee gehad dat vreemde wesens sy tuisdorp sou binneval nie. Saam met sy gesin, en baie ander, word hy ontvoer. Saam met sy vriende, Lionel en Imke, plus haar Zenkioniet-vriende, word hulle die ruimte in gestuur.

Hier is hulle nou, iewers in die ruimte op Akaï-hulle se astrotuig.

Op Skurorinok word Mitch, Akaï en die ander van Lionel en Imke geskei. Sal hy ooit weer vir Imke of Lionel sien? Wat gaan in die geheim op Zenkion aan en hoe pas die ontvoerde Aardbewoners in die prentjie?

Z-A-K: Die reis na Zenkion is die opvolg van Z-A-K: Die Blou Planeet.

Wetenskaap

Leon de Villiers

Fiksie

Ouderdom 11+

Druknaam: LAPA

9780639600406

R135,00

Wetenskaap bestaan uit ’n versameling speelse, onderstebo, wonderlike en snaakse vyte. Dit is ’n heerlike boek vol grappige idees oor dinge. Oud en jonk gaan glimlag vir hierdie heerlike nonsens.

’n Mens wat hou van vyte, word ’n wetenskaap genoem. Jong wetenskape hou gewoonlik vyte in botteltjies aan en bêre dit onder hulle beddens.

Wanneer ’n mens goeters uitmekaar haal en dit weer aanmekaar sit, bly daar baie keer ietsies oor. Daardie oorbly-ietsies is vyte.

Het jy geweet dat idees die mis is van breinwurms nadat hulle mense se ongedinkte gedagtes geëet het?

’n Galery van katte

Ruth Brown

Kinderfiksie

Ouderdom 5+

Druknaam: LAPA

9780799399059

R150,00

Tom besoek ‘n baie spesiale kunsuitstalling waar elke skildery ’n kat bevat. Een vir een spring die katte almal uit hul rame en volg hom, totdat ’n baie groot kat hulle weer na die veiligheid van hul regmatig plekke laat hardloop.

Ruth Brown het haar eie unieke en amusante meesterstukke geskep in die styl van twaalf bekende skilders van regoor die wêreld. Jong kinders sal dit geniet om die skilderye saam met Tom te ontdek, te kyk na die toenemende aantal katte wat hom volg en om die katte by die skilderye te pas.

Hierdie sonderlinge boek is ’n puik inleiding tot kunsgeskiedenis wat deur kinders én hulle oupas en oumas geniet sal word.

Katliefhebbers moet dit nie mis nie.

Doendinge vir elke dag van die jaar

Fanie Villjoen

Aktiwiteitsboek

Ouderdom 7+

Druknaam: LAPA

9780639600642

R90,00

Hierdie boek is vir almal. Vir ouers wat hul kinders wil besig hou en weg van skerms, vir oupas en oumas wat saam het hulle kleinkinders pret wil hê tydens die vakansie, vir onderwysers wat iets lekkers soek om met hulle klasse te doen – en bowenal is hierdie boek vir kinders wat net eenvoudig iets soek om te doen.

Doendinge vir elke dag van die jaar bevat ’n verskeidenheid idees: kunsprojekte, speletjies en eksperimente; ook idees om alleen te doen of saam met vriende.

Elke aktiwiteit het ’n boksie om af te merk en ’n plek om die datum, waarop dit voltooi is, in te vul. Die meeste idees kan oor en oor gebruik word!

Dié boek is ideaal vir onderwysers om reeds in graad R te begin gebruik.

Afskop

John Hickman

Vertaler: Jaco Jacobs

Tienerfiksie

Ouderdom 11+

Druknaam: LAPA

9780799397772

R100,00

Jason is ’n goeie sokkerspeler … ’n baie goeie sokkerspeler.

Wanneer ’n talentsoeker van Orlando Pirates hom in die park sien speel, blyk dit asof hy dalk net die kans gegun sal word om dit uit sy woonstelblok tot in die premierliga te maak.

Die ander seuns speel al van kleins af saam en Jason is nie seker of hy ooit sal kan inpas nie – ook nie of hy sy vurige humeur sal kan beheer nie.

Hierdie boek lees maklik en is ideaal om trae lesers aan te moedig. Dit is gemik op leerlinge wat Afrikaans dalk as tweede- of derdetaal neem.

Magriet die stadshoender

Melanie Tait

Illustrasies: Linki Brand

Kinderfiksie

Ouderdom 5+

Druknaam: LAPA

9780799398113

R60,00

Melanie Tait is ’n bekende in mediakringe en hierdie boeke is geskryf rondom ’n werklike hoender wat haar eie dogter gehelp grootmaak het.

Nina kry ʼn spesiale geskenk vir haar verjaarsdag – ʼn hoender! Die twee is dadelik beste maats. Magriet gaan selfs elke dag ʼn eier lê, maar dan verdwyn die eiers. Is daar ’n eierdief?

Magriet hou konsert

Author: Melanie Tait

Illustrasies: Linki Brand

Kinderfiksie

Ouderdom 5+

Druknaam: LAPA

9780799398908

R60,00

Magriet is nie sommer ’n hierjy-hoender nie. Magriet kan konsert hou.

Nina kan nie wag nie, maar skielik raak Magriet se kekkel weg …

Die koning se paddaboudjies

Janneke Schotveld

Illustreerder: Verskeie

Vertaler: Jaco Jacobs

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

Druknaam: Wenkbrou

9780799397994

R280,00

Hierdie moderne storieboek bevat 15 moderne, herverbeelde sprokies deur die Nederlandse skrywer Janneke Schotveld. Die Afrikaanse teks is geskep deur die meesterlike Jaco Jacobs.

Hierdie verhale handel, onder andere, oor die ridder wat besluit om die prins van haar drome uit die kasteel van sy ouers te bevry, oor die heks, Hettie, wat ‘n besem kry vir haar verjaardag, maar nie durf vlieg nie, oor prinses Lupine wat haar bruidegom uit sewehonderd prinse moet kies, maar geen skoenlappers in haar maag voel met een van hulle nie… Wat van ’n ander prinses?

Dan is daar natuurlik ook die verhaal oor die koning wat daarvan hou om paddaboudjies te eet – totdat hy self skielik in ‘n padda verander.

Die koning se paddaboudjies is ‘n bundel geestige, hervertelde sprokies wat so effens van die tradisionele sprokiesresep afwyk.

Saam met elke verhaal is daar pragtige tekeninge van ‘n top-illustreerder, waaronder Martijn van der Linden, Thé Tjong-Khing, Linde Faas, Milja Praagman en Annet Schaap.

Die probleem met probleme

Rachel Rooney

Kleuterfiksie

Ouderom 5+

Druknaam: LAPA

9780799397918

R140,00

Het jy al ooit ʼn Probleem ontmoet? Hulle kan nogal problematies wees. Meer nog. Grootmense verstaan nie probleme soos klein mensies hulle verstaan nie. Vir ’n klein mensie is alle probleme groot probleme. Hulle moet oorwin word. Maar hoe?

Hierdie wonderlike boek help ou mense om die jonger garde se probleem met probleme ter harte te neem.

VIR DIE KLASKAMER

Leer my lees (Vlak 1): Kurrikulumstel

Jose Palmer & Reinette Lombard

Illustrasies: Zinelda McDonald

Leesaktiwiteite

Ouderdom: 5+

Skoolgrade: Gr. R-2

Druknaam: LAPA Publishers

9780639601465

R999,00

Leer speel-speel lees saam met Tippie die olifant.

Die LEER MY LEES-reeks is nie net pret om te lees nie, dit bevorder ook woordeskat en leesbegrip.

Tippie het nou sy eie kurrikulumstel vir nog verdere, interaktiewe SPEEL, LEER en ONTDEK.

Die Leer my lees (Vlak 1) kurrikulumstel sluit die volgende in:

  • 70 flitskaarte,
  • 26 alfabetmuurkaarte (A5) en ’n alfabetspeletjie (78 kaarte),
  • 20 speelkleimatte vir letter- en woordvorming,
  • 50 kaarte vir storiebegrip en kreatiewe skryfwerk,
  • 10 dubbelkant-skryf-en-afvee-aktiwiteite en
  • ’n persoonlike prentjie-woordeboek, alles verpak in ’n maklik-om-te-dra-bokstassie.
ROMANZA

Soen my, asseblief

Dina Botha

Romanse

Druknaam: Romanza

9780799399950

R95,00

Anika Stadler verhuis van Bloemfontein af om as ginekoloog en verloskundige by die Krynauw Kliniek te begin werk. Haar eerste ontmoeting met Rynard Krynauw is toe sy “wederregtelik” op die dokters se parkering by Krynauw Kliniek met haar motorfiets parkeer. Daar is dadelik ’n vonk tussen hulle, en hulle het noodgedwonge heelwat kontak met mekaar, veral toe Rynard aanbied dat Anika op hul landgoed kan kom bly.

Voor ’n oop deur

Frieda van der Westhuizen

Romanse

Druknaam: Romanza

9780799399981

R95,00

Los jy werklik jou probleme agter wanneer jy die deur daarop sluit?

Marguerite Rossouw, of Magriet, soos almal haar noem, vlug na Sedgefield om beheer oor haar eie lewe te kry. Sy het lanklaas gevoel dat sy haar eie toekoms bepaal: Haar pa het vir haar miljoene rande gelos en haar man is ’n beheervraat.  Sy gebruik die naam Melissa en vind vrede in dié kusdorpie. Hier ontmoet sy Aaron Dorfling, ’n aantreklike vreemdeling wat vir haar blyplek aanbied nadat ’n ongeluk haar van haar geheue beroof.  Wanneer sy uiteindelik haar geheue herwin, besluit sy om haar identiteit ’n geheim  te hou en steeds die naam Nina, soos die verpleegsters haar in die hospitaal gedoop het, te gebruik. Sy besef ook dat sy vir Aaron lief geword het, maar haar ou lewe saam met Paul dreig om haar nuutgevonde geluk saam met Aaron te verwoes.

Roep van die naguil

Rina Cilliers

Romanse

Druknaam: Romanza

9780639600048

R95,00

Is die roep van ’n naguiltjie Nurinke se beterwete wat haar probeer waarsku? Nurinke kan nie seker wees nie. Wat sy wel weet is dat haar impulsiewe geklouter op ’n spieëlkas om ’n reistas in die hande te kry vir ’n kuier by Frans (haar amperverloofde in Europa) asook die katastrofiese val daarna, meer as net ’n gebreekte enkel vir haar tot gevolg het: Behalwe ’n belowende loopbaan wat daarmee saam in die niet verdwyn het, is sy boonop genoop om by haar ouma op ’n Karooplaas te gaan herstel. Dis daar waar sy haar ouma se befoeterde wewenaar-buurman, Lood Verwey, met sy stom seuntjie ontmoet wat Nurinke se ewewig laat wankel. Hoekom ervaar sy opeens gevoelens waarmee sy nog nooit te doen gekry het nie, emosies wat dierbare Frans nog nooit in haar wakker gemaak het nie? Hoekom sê hierdie wewenaar vir haar dinge wat sy nie wil hoor nie, maar wat haar tot stilstand bring? Vuurwarm, hamer sy woorde in haar kop wanneer sy haar oë styf toe maak. Hoekom klink dit soos ’n vals noot in ’n andersins perfekte simfonie? Gaan impulsiewe Nurinke uiteindelik die regte besluit neem? Gaan sy haar ware emosies onderdruk of gaan sy toelaat dat haar hart vlerke kry?

Tersia se Namibdiamant

Ida Bester

Romanse

Druknaam: Romanza

9780639600017

R95,00

Soms word diamante op die mees ongewone plekke gevind.

Tersia se ideale man is die filmster Ryan Gosling. Sy meet elke man wat sy ontmoet aan haar filmheld. Die woestynlandskap van Namibië is die teenoorgestelde van haar lowerryke tuiste in Durban en die teleurstelling toe haar pos by die koffieplek oorbodig word, strook glad nie met haar Hollywood-lewensuitkyk nie. Is die blonde Duitser saam met wie sy later gidswerk doen by die spookdorp Kolmanskop werklik, soos haar oupa en ouma vermoed, ’n diamantsmokkelaar? As dit waar is, draai haar ervarings in die Suid-Afrikaanse buurland al haar lewensverwagtinge op hul kop.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest