Leesvordering:

Nuut by LAPA in Junie

Jun 4, 2019

Ons skop af met drie uitsonderlike romans wat elkeen die wenkbroue sal lig, maar soos altyd is daar genoeg vir die jongspan en ook vir diegene wat hulself wil verloor in ’n tradisionele romanse. As jy ’n Engelse vriendin het wat goed wil lyk sonder haar klere, moenie verder kyk as ons nuwe kookboek, Nude, nie!

Fiksie

Juniemaand se aanbod is ’n angswekkende spanningsroman, ’n baie ontradisionele romanse en ’n keiharde jeugroman oor ’n seun wat altyd moet weghardloop van die gereg, totdat hy leer om vir ’n doel te hardloop.

Doodsengel

Madelein Rust

Spanningsroman

9780799395129

R315,00

Magdalena Bakkes moor vir die derde keer in haar lewe en kies om te vlug, weg van die molestering en geweld wat haar kinderjare gekenmerk het. Niemand, behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie; en niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie.

Sy sal nooit weer in ’n sel sit nie, al kos dit wát.

Sy veg om ’n fasade van normaliteit te behou, help haar kliënte en bied Sondagskoolklasse aan vir ’n groep elfjarige weeskinders wat net so seergekry het,. Dit alles gebeur terwyl sy haar blinde ma ondersteun en die sielkundige nagevolge van verkragting en moord probeer verwerk.

Is daar onheil by die kinderhuis? Hoe diep en wyd strek die boosheid? Is haar ma werklik in die greep van demensie, of is daar iets anders, iets ergers aan die gang? Sal die groep vigilantes daarin slaag om die moord toe te smeer, of sal die groot polisieman sy woord gestand doen en die moordenaar aankeer?

Doodsengel is Rust se sesde roman en het ’n splinternuwe hoofkarakter. Dit is dus nie deel van haar reeks met doktor Renata Malan as hoofkarakter nie.

Wees gewaarsku: Dit is nie ’n verhaal vir sensitiewe lesers nie; van die tonele is erg ontstellend.

Sypaadjie

Alma Rossouw

Algemene fiksie

Druknaam: Wenkbrou

9780799395150

R190,00

“Drawwers is die go-getters, eintlik dink ek net hulle hardloop weg van iets. Elke oggend staan hulle op en gaan draf op die donnerse selfde sypaadjie. Die dansers, soos jy, dans deur die lewe. Hulle is met min tevrede en dan dans hulle daaroor. Die drinkers sit agteroor en lag vir die drawwers en dansers.”

“Met ander woorde, sit die drinkers op die kantlyn?”

“Nee, die drinkers sit in die middel van die pad en wag vir die drawwers en dansers om te besef dat almal eendag doodgaan.”

***Leah het haar lus vir die lewe verloor. Sy is jonk, suksesvol en hardkoppig. Sy verlaat Johannesburg om een van die haar besigheid se takke in Kaapstad reg te ruk.Daar ontmoet sy weer vir Hannah, wat ’n bietjie meer as net ’n vriendin was tydens haar universiteitsdae.Gaan sy, Hannah, ’n veilige sypaadjie wees, of ’n glibberige, maar opwindende afdraaipad?Sypaadjie is ’n romantiese drama met ’n interessante kinkel. Die storie word vertel uit ’n tipiese millenniër se oogpunt, daar is baie vrae oor die liefde, romanse en seksuele oriëntasie. Soms is die karakters effens konserwatief en naïef, maar nooit vervelig nie. Leah worstel met vrae waarmee baie jong meisies deesdae sukkel, veral Afrikaanssprekende, Suid-Afrikaanse meisies. Hoe vind ek ’n balans tussen liefde en my loopbaan? Is dit nog die moeite werd om jou hart op die spel te plaas? Die storie herinner aan Annie on my mind deur Nancy Garden en South of Sunshine deur Dana Elmendorf.Sypaadjie is die tweede boek wat onder die druknaam Wenkbrou verskyn.

Spoekie

Jason Reynolds

Vertaler: André Trantraal

Jeugfiksie

Ouderdom: 13+

9780799389241

R180,00

Hardloop. Dis al wat Spoekie ken. Van die aand dat Spoekie se pa hom en sy ma met ’n geweer in die straat afgejaag het, hardloop hy vir al die verkeerde redes. Vasgevang in ’n omgewing vol geweld en misdaad, sien Spoekie geen uitkomkans nie. Al wat hy doen, is moeilikheid maak – en dan hardloop hy daarvan weg. Tot die dag wat hy vir Coach ontmoet – Coach wat al Olimpiese medaljes gewen het en die natuurlike talent in Spoekie dadelik raaksien. Spoekie kan die beste atleet in die stad word. Maar gaan sy verlede hom inhaal, of gaan hy uiteindelik leer jy kan nie vir jouself weghardloop nie?

Hierdie boek deur die veelbekroonde Jason Reynolds is meesterlik deur André Trantraal in Kaapse Afrikaans vertaal.

Jason Reynolds is op die oomblik een van die bekendste jeugboekskrywers ter wêreld. Hy woon in Brooklyn, New York, en sê baie van sy werk is daarop gemik om seuns aan te moedig om meer te lees.

André Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler. Hy is die skrywer van die strokiesprentboeke Stormkaap en Coloureds. Sy strokiesprentwerk, geskryf in sowel Kaaps as Engels, het al in Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus en Cape Times verskyn, en is ook in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal. André se Engelse vertalings van die Kaapse gedigte van sy broer Nathan Trantraal het in ’n uitgawe van die New England Journal verskyn. Hy en sy broer werk gereeld saam en is pioniers in die bevordering van Kaapse Afrikaans.

Niefiksie

Nude: A banting and keto cookbook

Armand Aucamp

Recipe book

9780799393491

R295,00

Nude is ’n vertaling van Armand Aucamp se blitsverkoper Armand kook kaal. Dit is die ideale geskenk vir jou Engelse vriende. Elkeen van hierdie 50 oorspronklike resepte, van onthaalkos, vleisgeregte en ontbyt tot vinnige happies, drankies en lekkernye, het Armand self gemaak en geproe tot hulle lekker genoeg was om in die boek te sit.

Vir die jong lesers

Vakansiepret 3: Die kolwyntjiekompetisie

Theresa van Baalen

Illustrasies: Zinelda McDonald

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

Bladsye: 56

9780799394016

R125,00

Jana en Alisha sien mekaar net wanneer hulle gesinne vakansie hou op Duinebaai. Hierdie vakansie beloof om báie opwindend te wees.

Alisha kry ’n pamflet wat ’n kolwyntjiekompetisie aankondig. Dit maak almal opgewonde – selfs vir Jana se jonger boetie, Tiaan.

Jana en Alisha oefen sommer reeds voor die kompetisie hoe om kolwyntjies te bak. By die kompetisie verloop dinge nie so glad nie. ’n Kat, gejaag deur ’n hond, storm by die kompetisie in. Voor enige iemand kan keer, is die deelnemers se kolwyntjies op die vloer. Gelukkig kan Jana en Alisha die kompetisie red!

Skielik lyk dit of vandag die beste dag óóit gaan word!

Hier is ’n lekkerleesreeks vir meisies, met ’n sterk fokus op humor, vriendskap, vakansiepret en avontuur.

Vakansiepret 4: Sand, see en dolfyne

Theresa van Baalen

Illustrasies: Zinelda McDonald

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

Bladsye: 56

9780799394030

R125,00

Jana en Alisha is beste vakansiemaats en groot opwinding heers in Duinebaai – ’n nuwe glyplank is by die swembad opgerig! Jana, Alisha, Tiaan en Rudie is gretig om by die nuwe glyplank af te gly. Ongelukkig vir die maats is die res van Duinebaai ook opgewonde oor die glyplank en is dit stampvol by die swembad. Jana, haar ma en Alisha besluit om eerder roomys te gaan eet en daarna in die see te swem. Asof in ’n droom, swem en speel dolfyne saam met hulle. Dit is beslis die beste dag óóit!

Wilde Wikus

Jaco Jacobs

Illustrasies: Alex van Houwelingen

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

Bladsye: 48

9780799394900

R125,00

Het daar ’n zombie-virus uitgebreek? Is ruimtewesens besig om die aarde aan te val? Het iemand ’n hele weermag ninjarobotte losgelaat? Waarom wil Wikus se beste maat, Rico, dan skielik nie meer Vrydagmiddag by hom kom kuier nie?

Die waarheid is nog erger as zombies, ruimtewesens of ninjarobotte. Rico het ’n nuwe beste maat; iemand wat baie opwindender as Wikus is.

Wikus besluit om ’n plan te maak.

Wilde Wikus is ’n humoristiese, toeganklike boek geskik vir beginner- en intermediêre lesers.

Jaco Jacobs woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy twee dogters, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetel-luislang.

Selfs die luislang dink Wikus is nogal wild.

Die In-Opleiding-reeks: Ruimtevaarder in opleiding

Cath Ard

Illustrasies: Sarah Lawrence

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 7+

Bladsye: 48

9780799392463

R140,00

Hierdie reeks leer kinders van jongs af dat hulle wetenskaplike beroepe moet oorweeg. Hulle kan onder meer ’n ruimtevaarder, wetenskaplike, dokter of ingenieur word.

Ruimtevaarder in opleiding leer die jong leser meer oor die ruimte, sterrekunde en die lewe aan boord van die Internasionale Ruimtestasie.

Die In-Opleiding-reeks: Wetenskaplike in opleiding

Cath Ard

Illustrasies: Sarah Lawrence

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 7+

Bladsye: 48

9780799392470

R140,00

Met oorgenoeg nuttige inligting en interessante feite oor die lewe van verskillende beroepsmense sal hierdie reeks boeke jong lesers leer hoe om wiskunde en wetenskap te gebruik om die wêreld te ontdek, mense se lewens te red en geboue en masjiene te bou.

Wetenskaplike in opleiding leer kinders oor basiese chemie, biologie en fisika.

Die In-Opleiding-reeks: Ingenieur in opleiding

Cath Ard

Illustrasies: Sarah Lawrence

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 7+

Bladsye: 48

9780799392494

R140,00

Ingenieur in opleiding wys jong kinders hoe ingenieurs wiskunde en die wetenskap gebruik om die geboue en masjiene te bou wat ons elke dag sien.

Die reeks is ideaal vir skoolprojekte. Die prettige illustrasies, praktiese wenke en interessante inligting maak dat kinders moeilike onderwerpe maklik sal verstaan, en skep belangstelling in ’n verskeidenheid beroepe van ’n jong ouderdom af. Kinderboeke oor verskillende beroepe is skaars. Hierdie boeke vul dus daardie leemte.

Die In-Opleiding-reeks: Dokter in opleiding

Cath Ard

Illustrasies: Sarah Lawrence

Niefiksie vir kinders

Ouderdom: 7+

Bladsye: 48

9780799392487

R140,00

Eenvoudige aktiwiteite help kinders om hul vaardighede op ’n prettige wyse te toets en die inligting wat hulle geleer het te versterk. Kan die leser ’n ruimtetuig herstel, ’n chemiese reaksie veroorsaak, die perfekte verband draai of ’n wolkekrabber bou? Dit is als in hierdie reeks vervat.

Dokter in opleiding vertel die leser hoe dokters, verpleegsters en paramedici lewens red.

Romanse

Soene in ’n sandkasteel

Frenette van Wyk

SuperRomanza

Bladsye: 304

9780799395099

R240,00

Daniella het haar man verneuk. Hy het van haar geskei, maar nou wil hy hul huwelik herstel.

Sy gaan besoek ’n ou kasteel in Europa; haar eksman betaal vir die duur wegbreek. In die vreemde word sy gekonfronteer deur haar verlede se geraamtes, veral toe sy Remi ontmoet en op hom verlief raak terwyl hulle die kasteel ontdek.

Sy glo sy verdien nie meer liefde nie, veral toe dit klink of Remi getroud is. Hy is dus taboe vir haar.

Daniella hoor later Remi is wel geskei. Sy is egter te bang om hom te vertel van haar egskeiding, want sy vrou het hom immers met ’n ander man bedrieg. Remi sal Daniella tog nie kan oorsien weens dieselfde oortreding nie?

Jy maak my gelukkig

Verskeie outeurs

’n Bloemlesing vol romanse

Ouderdom: 16+

Bladsye: 452

9780799394597

R160,00

Dit is die tweede bloemlesing wat deur LAPA Uitgewers onder die vaandel Jongliefde uitgegee word. Soos die vorige bloemlesing bevat hierdie een agt novelles. Al agt het sprokiesmooi eindes.

Roekelose harte – Marilinda Murray: Adele is op vakansie om van haar eks te vergeet, nie om ’n plaasvervanger vir hom te kry nie, maar een kyk in Lance se broeiende blou oë en haar hart vat vlam.

Toe-oë-afspraak – Madelie Human: Die skrywer J.J. Jooste se suster stel vir hom ’n assistent aan sonder sy medewete. Eers wil hy niks weet nie, maar Martinet kan dalk net die vrou van sy drome wees.

Legkaart van die hart – Ildé Grové: Helene moet Lientjie Swart word vir haar eie veiligheid. Sy moet haar familie, werk en vriende verlaat – vir hul veiligheid. Gun die noodlot haar egter ’n beskermengel in die vorm van Theuns Krige?

’n Wye, wye horison – Madeleine Malherbe: Stella herstel by die gastehuis Paradys ná die ontnugtering van haar huwelik. Chris kom ondersoek ’n vliegtuigongeluk daar naby. Sy leer om weer te vertrou. Dan daag haar eksman egter op …

Gelykbreekliefde – Ernalize du Toit: Behati draai om en sien ’n man net binne die deur. Dit is onmoontlik om hom mis te kyk en die geur van sy naskeermiddel tref haar onmiddellik. Dit is asof die volle prentjie haar in 4D oorrompel; ’n verraderlike rukbeweging ontsnap uit haar bors.

Bie op haar hart – Antoinette Venter: Sy het ’n ontwikkelende sangloopbaan en help om haar beste vriendin se sopkombuis te ondersteun. Mika het min dus tyd vir iets anders. Daar is beslis nie tyd vir die skilderydief Jean-Pierre, wat met die sopkombuis wil help nie. ’n Ander vrou besit reeds Jean-Pierre se hart, maar Mika se hart ignoreer die prioriteite.

’n Liefdeskeuse – Malene Breytenbach: Mona woon die skryfskool by om weer haar skryfvaardighede op te knap. Liefde is die laaste ding op haar prioriteitslys, maar die misdaadskrywer Winston Webb trek haar aan – en stoot haar weer weg. Waarom voel dit asof haar held twee verskillende mense is?

Beter vir haar hart – Jessica Venter: Richard het jare gelede Melanie se hart gebreek, maar selfs met ’n stukkende hart was sy steeds lief vir hom. Nou is hy terug en sy voel weer die vrees dat hy nie haar liefde sal beantwoord nie.

Genoeg vir my

Marilé Cloete

9870799394665

R95,00

Alexandria Muller is ’n tandarts én skrywer op soek na haar eie liefdesverhaal in die asemrowende Kroasië. Hier ontmoet sy die sjarmante Christiaan Beukes, ook ’n tandarts, in ’n kafee en hulle is onmiddellik aangetrokke tot mekaar. Dit is in die prentjiemooi Dubrovnik waar hul liefdesverhaal begin.

Christiaan is ongetwyfeld aangetrokke tot Alex. Hulle knyp hier en daar alleentyd af met die Kroatiese see as agtergrond. Albei besef hoe vinnig die liefde kan blom met die natuurskoon en passie as aanhitser. Hoe maak hulle wanneer hulle uiteindelik na die werklikheid moet terugkeer?

Liefde uit Italië

Alma Carstens

9780799394696

R95,00

Lisa se ma was ’n Suid-Afrikaner, en al het sy by haar pa in Italië grootgeword, droom sy om haar ma se familie te ontmoet. Ten spyte van haar tante se waarskuwings vlieg sy halsoorkop na Suid-Afrika om haar langverlore familie op te soek.

Op Goedgevond vind sy egter uit dat alles nie is soos sy haar voorgestel het nie. Haar ma se jonger, aangenome broer, Werner, wantrou haar en glo sy is agter erfgoed aan. Al Lisa se pogings om hom van die teendeel te oortuig, misluk. Maar hy het nie rekening gehou met haar vurige Italiaanse humeur nie. So maklik laat sy haar nie verwilder nie.

Ek, jy en Rome

Analize Theron

9780799394726

R95,00

Isabel Villani staan op die punt om haar professoraat in rotskunsstudies te verwerf. Sy neem ’n welverdiende breek in Italië. Saam met haar vriendin gaan sy op ’n kort toer voordat sy alleen agterbly om ’n kort kursus in rotskuns by ’n universiteit in Rome aan te bied.Op die toer ontmoet sy vir Marco, wat met sy diep stem en uitsonderlike oë haar verlei en dreig om haar fokus van haar werk en haarfyn beplande toekoms te steel.

Liefde ruik soos katjiepiering

Frieda van der Westhuizen

97807993946757

R95,00

Alles in Hansie Liebenberg se lewe loop gelyk skeef, maar sy gaan nie dat dit haar onderkry nie, al voel sy haar beskermengel laat haar in die steek. Sy besluit alle mans is nou taboe en sy gaan alleen en manloos haar onafhanklikheid aan haarself bewys. Toe sy per ongeluk die bruidsruiker van katjiepierings op ’n troue vang, weier sy om waarde te heg aan die ou bygeloof. Sy gaan ook nie dat ’n soen, net daarna, van die ongelooflike sexy Luca van Rhyn haar van stryk bring nie.

Ongelukkig is dit onmoontlik om Luca te vermy wanneer sy uitvind die woonstel waarin sy gaan bly, is in sy tuin. Hy is gedurig net ’n hanetreetjie weg met sy sexy lippe, sy aanloklike lyf en sy onweerstaanbare magnetisme.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest