Leesvordering:

Nuut by LAPA in Maart

Mar 6, 2020

Is Maart die maand van gruwels? Van ons boeke gaan jou laat huil en jy gaan dalk van moord droom. Wees gewaarsku, dis ’n rowwe maand dié. Selfs ons lekker dik romanse maak ’n draai in die tronk!

Gelukkig is daar heerlike kinderstories om jou in te verlustig en ons Romanza-reeks stel beslis nie teleur nie.

FIKSIE

’n Ballade vir Nkunzi

Ben Viljoen

Fiksie

9780799399219

R300,00

“Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees? As jy eers dáár is, kan alles en enigiets jou droom wees.”

Daar is min verhale in Afrikaans wat armoede uitbeeld soos ’n Ballade vir Nkunzi.

Bennie Welman se pa is ’n trokdrywer, hy suip elke Vrydagaand sy geld uit. By die huis wag Bennie, die ses ander kinders en sy ma op die geweld wat sál kom wanneer Bernard Welman uiteindelik die huis in strompel.

Nes die gesin dink dit kan nie erger nie, bewys die noodlot hulle verkeerd.

Dan, een aand wanneer daar reeds weke lank nie kos in die huis is nie, vra Drien, Bennie se ma, aan hom: “Weet jy wat is die heel beste van flat rock bottom wees?”

Drien staan uiteindelik op en skep ’n mate van sekuriteit vir haar kinders.

Ben haat sy pa en meet uiteindelik ook sy kragte op teen die ou bul. Die enigste ding wat die kloof tussen pa en seun soms oorbrug is hul liefde vir musiek.

Viljoen se karakters is mense wat lééf; die leser kan met iedereen identifiseer. Die skrywer maak nooit die fout om aan sentiment toe te gee nie. Musiek is die enigste vorm van verhewenheid in hierdie afskuwelike omstandighede; dit is ook die enigste genaakbaarheid wat Bennie in sy pa gewaar.

Die boek bied hoop en het ’n mooi einde, maar daar is geen plek feetjies met towerstaffies nie.

Liewe Mamma

Esther Verhoef

Krimi (In Nederlans: Literaire thriller)

9780799399189

R315,00

Een knal en haar geordende lewe is nooit weer dieselfde nie …

Helen geniet haar werk as opgeleide teatersuster. Sy woon in ’n pragtige huis. Haar man maak verskriklik baie geld. Die drie kinders doen goed vir hulself.

Op ’n Vrydagaand gaan sy altyd gimnasium toe, want haar lewe het ’n vaste ritme. Sy kom by die huis en betrap ’n inbreker. Uit selfverweer skiet sy hom dood.

Wat nou? Meld hulle dit by die polisie aan, sal haar man se ondernemings daaronder lei.

’n Entjie verder sit Ralf en wag vir sy vriend wat vinnig-vinnig geld gaan steel by ’n ryk sakeman. Hy hoor skote klap en besef uiteindelik dat hy sy vriend nooit weer sal sien nie. Na die polisie kan hy nie gaan nie, want dan stel hy homself bloot.

Dié boek ondersoek die nadraai van daardie noodlottige aand. Helen en Ralf spook albei met hulle eie demone en skuldgevoelens.

Liewe Mamma is ’n angswekkende roman oor ’n vrou se skynbaar perfekte lewe wat kruis met dié van ’n jong gewoontemisdadiger; selfs in verre Nederland is die werklikheid nie altyd so rooskleurig soos die skyn nie.

Esther Verhoef is ’n megaster. Meer as 2,5 miljoen eksemplare van haar romans is al in Nederland alleen verkoop en sy word ook in verskeie ander tale ook uitgegee.

Liewe Mamma is die eerste van haar boeke wat in Afrikaans vertaal word.

As jy van moord droom

Deborah Steinmair

Fiksie

9780799399240

R300,00

Wat maak ʼn ma as haar sesjarige kind ontvoer word en 20 jaar later weer verskyn?

Erin se dogter wat op ses verdwyn het, klop 20 jaar later aan haar deur. Maryna praat beter Chinees as Afrikaans, sy is grotesk, het ’n daggagewoonte en sê amper nooit enigiets nie.

Erin is nie ’n emosionele mens nie, haar greep op die werklikheid is glibberig en sy praat self moeilik oor haar gevoelens. Erin is obsessief oor die man wat haar verlaat het en die jeugvriend wat steeds na haar hunker. Hoe gemaak met die kuiken wat onder haar vlerk uit gesteel is, wat deur vreemdelinge hanteer is sodat sy haar reuk nie meer eien nie, wat grootgeword en tuisgekom het om te broei?

Wie lê op loer na haar kind?

As jy van moord droom, voel dit dikwels asof jy in ’n parallelle werklikheid gemoor het uit woede; jy word met ’n knaende skuldgevoel wakker en wonder waartoe jy regtig in staat is.

Erin het haarself beskou as iemand aan wie moederinstink ontbreek, maar toe haar kind verdwyn, het haar lewe alle betekenis verloor. Nou is Maryna terug. Hoe dring Erin tot hierdie woedende vreemdeling deur? En hoe hanteer Erin haar eie woede oor wat ander aan haar kind gedoen het?

Die storie van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff was die sneller vir die roman. Daar is heelwat boeke oor kinders wat verdwyn, maar min oor ’n beskadigde kind wat terugkom.

As jy van moord droom is ’n boeiende analise van die dinamika tussen ma en dogter. Die groeiende verhouding tussen Erin en Maryna is ontroerend.

Ter wille van jou

Magdaleen Walters

Romanse

9780799399158

R250,00

Geboei aan die verlede?

Christoff de Lange is ’n lid van die polisie se taakmageenheid. Hy word valslik van dwelmhandel aangekla en kry drie jaar tronkstraf. Hy spandeer elke sent wat hy het op regshulp om sy onskuld te probeer bewys, maar as hy uiteindelik ’n kwytskelding kry, is hy steeds nie nader aan die waarheid as die dag waarop hy gearresteer is nie. Hy is sinies, bitter en werkloos.

Met die hulp van oom Bertie, ’n afgetrede sersant en sy vriend, vind hy ’n werk en ’n plek om te woon in Stoffel Myburgh se houtwerkfabriek op ’n kleinhoewe buite Johannesburg.

Juanita, Stoffel se dogter wat ook daar werk, is minder entoesiasties oor haar pa se besluit. Daar is absoluut geen plek in haar lewe vir ’n tronkvoël nie. Buitendien dra sy swaar aan haar eie bagasie.

Bloedfamilie

Elsa Hamersma

Krimi

9780799399271

R300,00

Een moord in die familie is erg genoeg, maar twee in een week raak bisar.

Soos Kain en Abel het Bart en Jakes Brink nie liefde vir mekaar nie. Bart is talentvol, aantreklik, sportief en populêr, maar ook inherent sleg en ʼn opperste skelm met geen genade vir sy medemens nie. Jakes is onaantreklik, vol skete en kwale en sonder uitstaande talente, behalwe dat hy ’n finansiële sukses van sy lewe gemaak het.

Jakes is nie verbaas wanneer Bart een aand brutaal vermoor word nie, want hy het baie vyande gehad. Tog is die familie geskok om te hoor dat die speurders vermoed die moordenaar is een van hulle.

Die tweede moord enkele dae later skep selfs meer vrae.

Is die moordgeen in die familielede se DNS? Of lê die motief vir die moorde in ʼn familiegeheim? Die moorde is oënskynlik impulsief en sonder voorbedagte rade gepleeg. Die speurders sit met min leidrade. Hoe vind hulle die moordenaar tussen die drie sibbe en vier kleinkinders?

NIEFIKSIE

Afspraak met moord

Jana Marx

Niefiksie

9780799396003

R295,00

“Daar was bloedspatsels oor die koffietafel, die banke en die banke se kussings. Peter en Joan was oortrek van steekwonde in hul rûe, nekke en agterkoppe. Nicholas het sy pa en ma gesigte na onder in ’n bloedbad op die mat in die sitkamer gekry. Hulle het hul hek en huis vir hul moordenaars oopgemaak, want hulle het ’n afspraak gehad.”

Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landswyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sakeafspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was.

Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?

Jana Marx beantwoord dié en ander vrae wat gespruit het uit een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Danksy onderhoude met diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar, poog Marx om die publiek se vrae te beantwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.

VIR DIE JONGSPAN

Maroelaboomstories

Leon de Villiers

Illustrasies: Linki Lutz

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

9780799395068

R280,00

Elke aand teen skemer klim die trop bobbejane tot bo in die groot maroelaboom. Dit is hulle gunstelingslaapboom. Almal klim en klouter op soek na die gemaklikste slaapplek.

Die klein bobbejaantjies wil nog gryp-en-knyp speel, maar die groot bobbejane raas kwaai.

Die son sak vinnig en die nag is op pad.

Wil jy ook soos die klein bobbejaantjies weet waarom olifante nie in neste woon nie, waar koedoes aan hul gedraaide horings kom en hoe buffels hulle strepe verloor het? Dan is hierdie storiebundel met vyftien diereverhale net vir jou!

Hierdie pragtige heruitgawe van Leon de Villiers se wonderlike diereverhale is deur die talentvolle kunstenaar Linki Lutz geïllustreer.

Thabo the space dude. Log book 1: Last days on Earth

Lori-Ann Preston

Illustrator: Alex van Houwelingen

Kid’s fiction

Age: 7+

9780799397901

R160,00

Thabo is sommer baie omgekrap toe sy ouers hom verras met die nuus dat hulle Mars toe trek. Nou moet hy boonop oor sy laaste dae op Aarde in ʼn dagboek skryf. Sug. Sal hy die kamp oorleef wat hom voorberei vir sy tyd op Mars? Sal hy ʼn plan kan beraam om sy twee beste pelle op die ruimteskip te kry? Dan, die belangrikste van als: sal hy ’n Mbali hom ’n behoorlike vaarwelsoen gee?

Wo(o)rdslim 2

Jaco Jacobs

Illustrasies: Zinelda McDonald

Niefiksie

Ouderdom: 9+

9780799398007

R90,00

Word speel-speel woordslim met hierdie fantastiese nuwe aktiwiteitsboek!

Ná die sukses van Wo(o)rdslim, is hier nog een! Hierdie tweede boek het baie bladsye propvol briljante blokraaisels, wonderlike woordspeletjies en lekker kopkrappers wat sal sorg vir ure se fantastiese vermaak.

Speel dit op jou eie of daag mekaar uit om te kyk wie eerste die raaisels kan baasraak!

Van die aktiwiteite in hierdie boek sluit in:

  • Tematiese blokraaisels wat saamgestel is rondom ’n verskeidenheid temas
  • Woordsoekblokke
  • Spelspeletjies
  • Letterblokke
  • Kriptogramme en ander briljante breinboelies.

Of julle nou langpad ry, op soek is na prettige opvoedkundige aktiwiteite vir die klaskamer, of sommer net lus het vir lekker woordspeletjies wat jou brein behoorlik kan laat spiere bult – hierdie bekostigbare aktiwiteitsboek is die perfekte manier om kinders se taalkennis speel-speel op te skerp.

Volledige oplossings is agter in die boek.

Rooimiere-in-die-broek, Idioom-Inkleurboek

Wendy Maartens

Illustrasies: Linki Brand

Niefiksie

Ouderdom: 5+

9780799397932

R100,00

Maak die potlode skerp.

Skiet daai doppies van die merkpenne af.

Lê op die gras, sit agterstevoor op ’n stoel, klim in die linnekas met ’n flits, of hang onderstebo in ’n boom.

Die tyd het aangebreek.

Kom ons kleur in!

Hierdie vrolike inkleurboek bevat 22 Afrikaanse idiome, elk met interessante feite oor diere.

Diereverkenners: Lola en die singende orgidee

Sharon Rentta

Kleuterfiksie

Ouderdom: 5+

9780799397239

R150,00

’n Ysbeer in die reënwoud? Natuurlik, ja!

Lola die ysbeer hou vreeslik baie van plante, maar in die Arktiese sirkel is daar nie baie blomme nie. Sy is dus op pad na die reënwoud vir ’n asemrowende avontuur.

Haar maats dink sy is verspot, maar Lola is ’n beer met ’n plan. Sy is vasbeslote om die seldsame Singende Orgidee te kry, en niks en niemand gaan haar keer nie.

Kom saam met Lola op ’n pretbelaaide avontuur en ontdek daarna die inspirerende verhale van drie regte plantsoekers.

Jaco Jacobs se heerlike Afrikaans en die besondere illustrasies maak van die hierdie warm boek ’n beer om meer rekening te hou!

Hallo, menstruasie

Yumi Stynes & Dr Melissa Kang

Illustreerder: Jennifer Latham

Niefiksie

Ouderdom: 9+

9780799397888

R262,00

Hierdie pragtige boek is ’n alles-in-een-gids met feite, wenke en inspirerende stories. Dit vertel alles wat jy moet weet oor menstruasie.

Hallo, menstruasie is ’n boek wat vir amper-tieners én vir tieners alles oor menstruasie vertel. Die skrywers van die boek is eerlik en snaaks; hulle weet presies wat in ’n tiener se kop aangaan.

Om vir die eerste keer te menstrueer kan vreemd wees – en om vrae daaroor te vra nog vreemder. Dit hoef egter glad nie so te wees nie!

Hierdie boek beantwoord tieners se vrae en kwellinge, soos hoe krampe voel en wat jy moet doen as bloed jou klere vlek.

Daar is gevallestudies, persoonlike vertellinge en vrae van regte tieners met antwoorde van regte kenners.

Ek kan vlieg

Teks & illustrasies: Fifi Kuo

Kleuterfiksie

Ouderdom: 3+

9780799397796

R140,00

Pikkewyne is gewilde onderwerpe vir prenteboeke, maar Ek kan vlieg is opvallend vir die sjarme en emosionele impak daarvan.

Klein Pikkewyn wil vreeslik graag vlieg en glo dat hy kan, ten spyte daarvan dat almal, insluitend sy pa, vir hom vertel dat hy nie kan nie.

Eers as hy in die water val, ontdek hy wat pikkewyne regtig kan doen.

Sy pa is aan Pikkewyn se sy; en so leer die jongeling dat alle pikkewyne, hy en sy pa ook, wel kan vlieg, solank hulle dit onder water doen!

Kuo se teks en tekeninge is eenvoudig, maar uitmuntend. Die leser kan presies verstaan wat Klein Pikkewyn voel, asook hoe dit moet voel om deur die water te vlieg.

ROMANZA

Omdat ons saam is

Elsa Winckler

Romanse

9780799398717

R95,00

Tannie Peet se testament bepaal dat die drie susters elkeen afsonderlik vir ’n maand in haar huis op Greyton moet woon ten einde hul erfporsie te kan ontvang. Die hond Skim speel ’n noemenswaardige rol in die verhaal en slaag daarin om telkens die held en heldin by mekaar uit te bring.

Bella is die jongste van drie susters; Leen en Livie is onderskeidelik in die vorige twee boeke van dié reeks getroud.

Wian is die apteker op die dorp en worstel met sy eie probleme. Hy moes as jong man omsien na sy drie jonger broers ná sy ouers onverwags gesterf het in ’n motorongeluk. Hy sien nie kans om weer so ’n groot verantwoordelikheid na te kom nie, daarom wil hy nie trou en kinders hê nie.

Bella is in hart en siel ’n kunstenaar, maar is deur haar vorige vriend, Leo, erg onderdruk en kon later nie meer skilder nie.

Wian se jongste broer is Conrad Visser, die beeldhouer. Hy sien dadelik Bella se talent raak en help haar om weer haar skilderwerk op te neem. Intussen groei Wian en Bella se verhouding, maar dan verskyn Leo weer op die toneel en vernietig byna alles.

Onverwags liefde

Elize Davies

Romanse

9780799398748

R95,00

As agtienjarige is Lizelle Lategan weggejaag uit haar ouerhuis en haar tuisdorp, Nelslaagte, omdat sy en Jacques, haar aangenome suster se kêrel, verlief geraak het op mekaar. Sy kry ’n interessante werk as navorser vir ’n misdaadskrywer, Hennie Schutte, maar dan keer sy seun, Steyn, terug van Amerika en krap alles deurmekaar.

Steyn wantrou Lizelle aanvanklik en beskuldig haar van allerhande valse motiewe, onder meer dat sy besig is om sy ouers se goeie harte uit te buit. Gaandeweg trek hy op ’n slim en selfs slinkse maniere die seer besonderhede van haar verlede uit haar uit en leer haar beter ken.

Toe Steyn en sy pa besluit om ’n mynramp, wat 50 jaar gelede op Nelslaagte plaasgevind het, as agtergrond vir ’n boek en ’n dokumentêre film te gebruik, word Lizelle só gedwing om terug te keer na Nelslaagte, die plek wat sy nooit weer wou sien nie en om die spoke van die verlede te konfronteer.

Steyn belowe weliswaar dat hy Lizelle sal bystaan, maar kan sy hom vertrou? Sy is baie bang vir seerkry en sukkel om hom te vertrou.

Feniks uit die vlamme

Magda Fourie

Romanse

9780799399097

R95,00

Kan die geskende goue godin herstel?

Sonika Vermeulen, ʼn loopplankmodel, se lewe verander radikaal ná ʼn gaslekkasie tydens haar broer se verjaardagpartytjie haar geskend laat.

Sy probeer om die stukke van haar lewe weer bymekaar te pas met die hulp van haar beste vriendin wat haar aanmoedig om dit weer buite haar woonstel te waag.

Dit is by ʼn partytjie van een van haar vriende dat sy die wêreldbekende plastiese sjirurg, Jacques Aucamp, ontmoet. Sonika voel onmiddellik aangetrokke tot hom, maar haar geskende liggaam weerhou haar daarvan om na hom uit te reik. Hy is bekend daarvoor dat hy perfeksie in alle vlakke van sy lewe najaag; op professionele en persoonlike vlak. Dit maak hom in haar oë net meer onbereikbaar.

Sy ontdek ʼn nuwe wêreld agter die lens van ʼn kamera, en met die hulp van haar vriende beplan sy ʼn nuwe loopbaan. Toeval veroorsaak dat sy en Jacques as gaste na gemeenskaplike vriende se huis in die Kaap genooi word en ʼn verhouding tussen hulle ontstaan. Jacques bied vir haar sy plaashuis op Wellington aan om as ateljee te gebruik en sy stem in.

Oudit op haar hart

Antoinette Venter

Romanse

9780799399127

R95,00

Luzaan en Jacques was jare gelede, tydens hulle matriekjaar, in ʼn verhouding. Pas nadat sy haar maagdelikheid aan hom geskenk het, los hy haar soos ʼn warm patat.

Luzaan word só die teiken van bespotting onder haar skoolvriende.

Wat Luzaan nie geweet het nie, is dat Jacques se ma destyds ʼn ultimatum aan hom gestel het: Hy laat staan vir Luzaan of sý sal sorg dat Luzaan se toekoms verwoes word.

Nou is dit sewe jaar later en Luzaan is aan die vooraand om vennootskap in ʼn ouditeursfirma te kry. Jacques kontak haar werkgewer en Luzaan moet teen wil en dank as deel van ʼn ouditspan na Jacques se vakansieoord gaan. Omdat sy bang is dat hy sal agterkom dat sy steeds nie van hom kon vergeet nie, oortuig sy haar ouditmaat, Marko, om haar te help om voor te gee dat hulle in ʼn verhouding betrokke is.

Dinge boemerang vinnig, want Luzaan se hart behoort nou maar eenmaal aan Jacques. Bo en behalwe die feit dat Jacques se ma steeds soos ʼn rots tussen hulle staan, is daar nog Brittany du Preez om mee rekening te hou en dan raak Marko óók nog verlief op Luzaan!

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest