Leesvordering:

Nuut by LAPA in Mei

Mei 9, 2019

Daar is ’n splinternuwe ruimte onder ons LAPA. Die druknaam Wenkbrou brei ons aanbod uit na meer literêre fiksie, en Smit Motors is ons eerste publikasie in hierdie stal. Die druknaam LAPA sal skaamteloos aanhou om lekkerleesboeke in Afrikaans uit te gee, en wie is beter as Chanette Paul vir hierdie maand se lekkerleessensasie? Onder Catalyst Press praat ons met die internasionale mark oor Afrika, in Engels. En moenie van Romanza vergeet nie! LAPA bly jou leestuiste, ons aanbod word net groter.

Fiksie

Smit Motors

Réney Warrington

Literêre fiksie

Druknaam: Wenkbrou

9780799394566

R285,00

Smit Motors is ’n moderne, plaaslike dorpsroman met intertekste in die wêreldliteratuur.

Petra Smit erf onverwags haar oupa se werkswinkel in ’n klein Vrystaatse dorpie. Daar is kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie.

Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Die einste slagter is ook die buurman. Hy is ’n vroueslaner en skeep sy seun af, maar het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so iemand verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit.

Petra, eintlik ʼn stadsjapie, besef sy hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom.

Dinge word nog moeiliker toe Arno, ’n reus van ’n man met die psige van ’n kind, aan haar deur kom klop. Arno word dan vriende met die slagter se seun, Monty.

Hierdie drie buitestaanders se diep menslike storie word vervleg met dié van Susan, ’n kunstenaar wat nie meer kuns maak nie en vasgevang voel in ’n luukse Sweedse kunstepark. Gaan sy kan vrede maak met die Afrikademone wat haar al veertig jaar lank jaag?

Vanuit die skaduwees hou Johanna, Monty se oppasser, alles met wantroue dop.

Smit Motors sluit by ’n internasionale tendens aan. Aan die einde van 2018 skryf Arthur van Amerongen in De Volkskrant ’n siniese stuk oor die moderne “dorpsroman” en “over de aantrekkingskracht van het Germaanse platteland op grootstedelijke Grünen-hipsters die op zoek gaan naar het verlorene – wat dat ook moge wezen”. Hy verwys ook na twee topverkopers: A Year in Provence (Peter Mayle) en Driving Over Lemons (Chris Stewart). Albei neem hy met ’n knippie sout.

Warrington skroom nie om die mooi én die lelik van ’n kleindorpse verblyf te wys nie. Sy laat nooit toe dat haar karakters net stereotipes word nie.

Die skrywer en regsgeleerde Bettina Wyngaard sê oor Smit Motors die volgende:

“Onthutsend, ontstellend, hartverwarmend: Smit Motors is ’n moetleesboek wat die leser nie sommer gou sal vergeet – of kan neersit – nie. Noem dit Afrikaanse fiksie se antwoord op Of Mice and Men, behalwe dat Warrington se skryfstyl uniek en uitsonderlik haar eie is. Hierdie eerste publikasie van Wenkbrou gaan meer doen as wenkbroue lig. Dit gaan harte vermurwe. Moenie loop nie. Hardloop. Gaan koop Smit Motors. Hierdie teks verdien ’n ereplek in elke boekrak.”

Johan Jack Smith, die uitgewer, sê: “So hoekom hoort die boek by Wenkbrou? Maklik. Die val buite genres. Die laat die leser vrae vra en dink as hulle die boek toemaak. Dit kyk anders na verhoudings. Dis oor randfigure.”

The Wall

Max Annas

Crime Thriller

Imprint: Catalyst Press

9781946395146

R245,00

The Pines, ’n sekuriteitskompleks in Oos-Londen, beskerm die huiseienaars teen misdaad. Die probleem is: Niemand gaan die jong man beskerm wat agter daardie mure vasgekeer is nie.

Moses wil by die huis kom, waar sy vriendin en ’n koue bier vir hom wag.

Sy motor breek in ’n verlate straat. Hy glip in by The Pines, ’n sekuriteitskompleks, met die hoop om hulp te kry by ’n universiteitsvriend wat daar woon. Daar in die “wit” wêreld lyk alles kalm, ordelik en veilig. Die probleem is, Moses voel hier meer as ooit soos ’n buitestaander. Toe maak hy ’n verskriklike fout.

Rasprofilering en klaspolitiek vorm die agtergrond van hierdie intense riller. Annas skram nie weg van kwessies soos wapengeweld en rassisme nie, maar uiteindelik is The Wall tog ’n boek vol humor.

Mike Nicol, die skrywer van Agents of the State en Sleeper, sê: “As jy hou van krimi’s wat vinnig en snaaks is, dan is The Wall die boek vir jou.”

Max Annas het jare lank aan die Fort Hare-Universiteit in Oos-Londen klas gegee.

Lira

Chanette Paul

Druknaam: LAPA

Vrouefiksie

9780799394474

R340,00

Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak, maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed, veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ’n ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is immers wat sy vir ’n lewe doen: Sy neem ou goed en maak hulle nuut, nuttig en mooi.

Lira beland op Vywerbaai, waar sy ’n winkeltjie vir haar opsikleerprodukte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem, is enorm en teenspoed bly nie uit nie, maar sy bly vasberade om ook haar eie lewe te kan opsikleer.

Daar is ’n legende wat almal op Vywerbaai ken: Ter wille van sy kinders sal ’n man sy taaibosspies deur ’n vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat die kinders kan eet. Lira neem die legende, opsikleer dit en maak dit die tema van haar winkel.

Deur harde werk wen sy die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ’n vierde, maar dan verloor sy haar hart op die verkeerdste man denkbaar: Hy het ’n sterwende vrou en ’n kind wat Lira haat.

Gaan die waarskuwing in die legende Lira se hart aan flarde ruk? Nie as dit van haar en die sterk vroue om haar afhang nie! Soos haar vriendin Corali sê: “Ons vywervroue laat ons nie f*kken opvreet nie. Deur geen man, vrou of kind nie.”

Chanette Paul is self besig om legendaries te raak. Lira is die skrywer se 45ste boek en is die eerste van haar nuwe trilogie wat in 2019 sal verskyn. Soos Langenhoven van ouds skryf Chanette suiwer om te vermaak, maar daar is baie diepte in haar werk.

Lesers wat haar Maanschijnbaai-tweeluik verslind het, sal bly wees om te hoor dat die vroue van Vywerbaai dieselfde sterk eienskappe toon as die vier legendariese “Calitz-slette”.

Niefiksie

Hekel en word heel

Nadia de Kock en Hilda Steyn

Niefiksie

9780799384840

R280,00

Hier is ’n hekelboek met ’n verskil. Vir die eerste keer in Afrikaans vertel vroue hoe hekel hulle deur moeilike en donker tye gehelp het. Die stories gaan oor verlies, werkverwante stres, depressie, siekte, die dood van ’n kind, asook emosionele en fisieke mishandeling.

Een-en-twintig dapper vroue maak hul harte oop en vertel hul aangrypende verhale van stryd en uiteindelike oorwinning. Al kan hul omstandighede nie verander nie, word die probleme deurgaans op ’n konstruktiewe en kreatiewe wyse hanteer.

Die boek bevat een-en-twintig verhale met een-en-twintig gepaardgaande projekte en patrone wat die leser kan help om stres of trauma te verwerk.

Die boek kan gesien word as die Afrikaanse hekelweergawe van die bekende fliek How to Make an American Quilt. Lesers wat Zakes Mda se Cion geniet het, sal ook hierby aanklank vind.

Entoesiastiese beginners sal geskikte patrone hier vind, en daar is verwysings na hulpbronne indien dit nodig sou raak.

Ons ontwerper het helder kleure ingespan; bont genoeg om die leser se dag mee op te vrolik.

Nadia de Kock Nadia is ’n skrywer van Johannesburg.

Hilda Steyn is ʼn ontwerper van Pretoria. Haar patrone word wêreldwyd geniet.

100 beste blokraaie van 10 jaar!

Blokraaisels en speletjies

9780799393361

R160,00

Is jy verslaaf aan blokraaie? Dan is hierdie blokraaiboek vir jou! Dit is ’n bielie, ’n samestelling van die 100 beste kopkrappers uit blokraaiboeke wat voorheen deur LAPA gepubliseer is.

Slyp jou tande en maak jou potlood skerp! Die antwoorde is agter in die boek.

Kinderboeke

Betsie, Meneer Tier en die blou maan

Sally Gardner

Illustrasies: Nick Maland

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799391121

R180,00

Betsie se lewe is fantasties. Haar pa is ’n roomysmaker. Hy maak die lekkerste roomys op aarde in elke geur waaraan jy kan dink. Haar ma is ’n meermin wat in die see bly en gereeld kom kuier.

Betsie het twee drome: Sy wens dat Meneer Tier se sirkus haar eiland sal kom besoek, en sy droom oor roomys wat van towerbessies gemaak word sodat al haar drome waar kan word wanneer sy daarvan eet.

Dan daag Meneer Tier en sy Goebelgop-sirkusakrobate op. Dit is die begin van ’n enorme avontuur. Saam met ’n getoorde padda, ’n eensame reus en haar ma en pa vertrek Betsie om die maan te gaan blou kleur en om towerbessies te soek. As hulle dít kan regkry, kan hulle ’n baie belangrike wens laat waar word …

Betsie, Meneer Tier en die blou maan is ’n vernuwende, moderne feëverhaal met ’n sterk vroulike hoofkarakter.

Draakasem

Jaco Jacobs

Illustrasies: Linki Brand

Ouderdom 7+

9780799394122

R120,00

Darius se pa kan deur ’n rivier vol krokodille swem. Sy ma red ou tannies uit brandende geboue en sy kleinsussie skrik vir niks.

Darius? Hy is nie eens dapper genoeg om van die skool se duikplank af te spring nie.

Alles verander toe hy op ’n dag toe ’n baie vreemde present by sy oupa kry!

Jaco Jacobs se splinternuwe avontuurverhaal gaan oor bang wees en dapper wees, want in elkeen van ons is daar ’n draak wat ons kan help om ons vrese te oorkom.

Drake en malvalekkers (Die Zinzi en Saffraan-reeks)

Asia Citro

Illustrasies: Marion Lindsay

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799392340

R135,00

In die eerste boek van dié reeks ontdek Zinzi ’n gloeiende foto en leer sodoende ’n groot geheim. Magiese diertjies wat beseer is, besoek Zinzi en Saffraan se skuur in die agterplaas op soek na hulp. Een van hulle is ’n babadraak. Sal hulle die drakie betyds kan help?

Hierdie unieke reeks boeke prikkel jong meisies se belangstelling in die wetenskap deur opwindende verhale oor magiese diere, monsters, avonture en raaisels te vermeng met interessante feite en wetenskaplike eksperimente.

Monsters en muf (Die Zinzi en Saffraan-reeks)

Asia Citro

Illustrasies: Marion Lindsay

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799392357

R135,00

Die skuur in Zinzi en Saffraan se agterplaas is ’n veilige hawe vir magiese diere wat beseer is. In die tweede boek in die reeks het Gorp, ’n bosmonster, hulp nodig. Gorp kry ’n bietjie skaam oor sy probleem, maar Zinzi verseker hom dat sy vinnig kan help. Wanneer Zinzi se eerste paar oplossings egter nie vir Gorp help nie, huil hy lang trane. Zinzi en Saffraan se hande is vol met ’n huilende monster terwyl hulle ook aan ’n goeie oplossing vir sy probleem probeer dink.

Zinzi is die speurder en wetenskaplike. In haar avonture word sy bygestaan deur haar getroue kat, Saffraan.

Meerperdjies en borrels (Die Zinzi en Saffraan-reeks)

Asia Citro

Illustrasies: Marion Lindsay

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799392364

R135,00

In die derde boek van hierdie reeks ontdek Zinzi en Saffraan dat die meerperdjies van die stroom in groot gevaar is. Die twee maats moet vinnig aan ’n plan dink om die stroom, en die diere wat daarin woon, te help.

Katjievlinders en ys (Die Zinzi en Saffraan-reeks)

Asia Citro

Illustrasies: Marion Lindsay

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799392371

R135,00

’n Groot sneeustorm veroorsaak in die vierde boek van die Zinzi en Saffraan-reeks baie moeilikheid vir die magiese diere wat in die woud bly. Zinzi en Saffraan probeer om die eiers van ’n katjievlinder te red, maar begaan ’n fout. Voordat die diertjies uitbroei, moet Zinzi en Saffraan hulle fout probeer regstel.

Paddas en plante (Die Zinzi en Saffraan-reeks)

Asia Citro

Illustrasies: Marion Lindsay

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799392388

R135,00

In hierdie boek ontvang Zinzi en Saffraan ’n besoeker, Pip, wat ’n gloeiende saadjie het. Die drie vriende moet vinnig uitvind wat die saadjie nodig het om te groei voordat dit te laat is.

Towerponies en kieme (Die Zinzi en Saffraan-reeks)

Asia Citro

Illustrasies: Marion Lindsay

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799392395

R135,00

In die sesde boek van die reeks is daar ’n aardbewing wat Zinzi-hulle se huis laat skud. Is dit eerder ’n eenhoring-bewing? ’n Baie groot nuwe vriend daag met erge pyn by Zinzi en Saffraan op. Zinzi, haar ma en Saffraan moet spoedig ’n kuur bedink vir hierdie magiese vriend.

Pragtige piesangs

Elizabeth Laird

Illustrasies: Liz Pichon

Kleuterfiksie

Ouderdom 3+

9780799390520

R135,00

Tembi vat die pad deur die digte Afrikabos op pad na haar geliefde oupa toe. Sy het ’n tros pragtige piesangs wat sy as ’n spesiale geskenk vir hom wil gee.

Op pad verloor sy die piesangs en sy loop allerhande stoute diere raak – ’n kameelperd, apies, selfs ’n swerm bye … Sal sy op die ou einde vir haar oupa die pragtige piesangs kan gee?

Elizabeth Laird se slim, sirkulêre volksverhaal word pragtig aangevul deur Liz Pichon se helder illustrasies van Afrika en die kleurvolle diere wat hier bly.

Hierdie pragtige prenteboek is gegrond op ’n oorspronklike Oos-Afrika-volksverhaal.

Die beste toebroodjie

Jaco Jacobs

Illustrasies: Nicolene Louw

Kleuterfiksie

Ouderdom 3+

9780799394009

R140,00

Markus word in die middel van die nag wakker en is baie lus vir ’n lekker toebroodjie.

In die kombuis ontmoet hy ’n ysbeer en drie pikkewyne wat hom wil help. Hulle gaan saam die beste, briljantste bobaas-toebroodjie ooit maak.

Dit klink goed, nie waar nie? Wel, dit is, maar daar is ’n klein probleempie: Markus dink nie vissmeer en konfyt hoort saam op een broodjie nie! Sy helpers sien egter geen probleem daarmee nie.

Die beste toebroodjie, een van Jaco Jacobs se ou gunstelinge, word opnuut, watertandlekker met vars bestanddele voorgesit om die jongspan te laat gril van plesier.

Jaco Jacobs is die gewilde skrywer van talle bekroonde topverkoperboeke. Die stapel boeke is al amper soos hoog soos die beste toebroodjie wat nog ooit gemaak is. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy twee dogters, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetel-luislang. Die luislang dink hy kan pikkewyne in ’n toebroodjie sit, maar Jaco stem nie saam nie.

Romanza

Soet beloftes

Dina Botha

SuperRomanza

9780799394504

R240,00

Lezanne moet as rykmansdogter skielik, sonder geld en heenkome, as twee-en-twintigjarige op ’n vreemde dorp ’n nuwe bestaan maak as au pair.

Benjamin Streiger word onverwags die voog van sy oorlede broer se drie kinders. Hy het geen behoefte aan popspeel nie, en dis waar Lezanne betrek word.

Gou word sy lief vir die drie kinders in haar sorg, maar dis nie so maklik om dieselfde te doen met die ontoeganklike Benjamin nie.

Omdat Lezanne verstaan wat dit beteken om ’n ouer te verloor, tree sy uiters beskermend teenoor die kinders op – tot Benjamin se argwaan én heimlike vermaak.

Op hierdie manier wen Lezanne egter meer as net die kinders se harte. Saam met die leser sien sy hoe Benjamin geleidelik ontdooi teenoor die kinders en al hoe gemakliker raak in sy rol as kitspa.

Dan daag haar eksverloofde, Pieter Cronjé, op en hy lig haar in dat al haar finansiële probleme opgelos is. Sy kan terugkeer na haar lewe van gemak en rykdom. Sy vertel Benjamin; hy wend geen poging aan om haar te keer nie. Lezanne keer terug na Johannesburg, met Benjamin wat nie te lank neem om haar te volg nie.

Dina Botha se boeke is altyd vol humor. Hierdie teks vergelyk met oorsese boeke soos A Perfect Homecoming (Lisa Dyson) en Small-town Redemption (Beth Andrews).

Altyd wink die liefde

Anna van Tonder

Romanse

9780799394535

R240,00

Altyd wink die liefde is ’n samestelling van drie van die immergroen Anna van Tonder se vorige Romanzas wat sy onder die skuilnaam Annetjie van Tonder geskryf het.

Nuwe seisoen: Ronel het nie verwag dat ’n geskeide vroue-adjunkhoof so ’n opskuddinkie op die klein dorpie sou veroorsaak nie. Boonop kies die nuwe skoolhoof, Frans Hugo, sommer die eerste dag al kant teen haar ná kwaadwillige praatjies. Sy en Frans Hugo het egter baie gemeen – albei is nuut in die skool, al twee is enkelouers, en hulle dogters is ewe oud. Die meisiekinders word sommer dadelik boesemvriendinne. Frans en Ronel moet mekaar dus ná skool ook sien, maar met omsigtigheid, want die skinderstories loop reeds.

Tussen twee vure: Die laaste ding waarna Helette kom soek het, is om aangestel te word as die au pair van ’n bedorwe kleuter, maar sy is bereid om enigiets te doen in haar soektog na haar halfsuster. Die kleuter se pa is ’n aantreklike dog beduiwelde professor. Terwyl die professor se jonger broer begin flikkers gooi, begin die buierige prof se oë raaksien wat hy vroeër misgekyk het.

Raaiselvrou: Emma arriveer op ’n gasteplaas om uiteindelik haar roman te skryf. Daar gekom, sê die eienaar dit is nie meer ’n gasteplaas nie – maar sy suster sê dit is. Uiteindelik kom sy wel daar reg, maar word gepla deur ’n kat wat op haar bed kom lê en die hond wat haar uitsoek vir aandag. Emma is glad nie ’n dieremens nie, maar die eienaar met sy sagte bruin oë is juis ’n dieremens, verknog aan sy hond en sy kudde Nguni-beeste.

’n Man vol verrassings

Elize Davies

9780799394351

R95,00

Ses jaar gelede het Mia-Mari ’n duur, pynlike les geleer: Agter Wynand se sjarme en sy aantreklike uiterlike skuil ’n agterbakse plannemaker wat nie vertrou kan word nie. Wat hy gedoen het, is onvergeeflik. Haar hart is immuun teen seerkry en sy durf nie toelaat dat hy weer deur haar skanse breek nie, maar Wynand het die mag om haar hart ’n tweede keer te vernietig.

Die onderliggende tema gaan oor hoe ver smart uitkring. Die heldin se broer is ’n dwelmverslaafde en -verkoper. Die held se suster gaan dood aan ’n oordosis dwelms wat sy by hom gekoop het.

Liefde vir ’n feëprinses

Didi Potgieter

9780799394382

R95,00

Inge se nuwe werk as die Jouberts se au pair beteken sy hoef nie meer slapelose nagte oor finansies te hê nie. Sy sal niks doen wat dié standvastigheid kan bedreig nie.

Omdat sy haar tweelingsibbe van kleins af grootgemaak het, wen Inge gou Robbie se vertroue en liefde, en raak John ook teen sy sin besonder geheg aan haar. Inge het nie tyd of plek in haar lewe vir verhoudings nie, maar aangetrokkenheid tot haar baas, die aantreklike John Joubert, volg nie dié klousule nie en hy is nie by die werkskontrak ingesluit nie.

Liefde vir ’n feëprinses gaan oor ’n ouer suster wat ma vir haar jonger boetie en sussie moet wees. Ouerlose gesinne is ’n algemene maatskaplike probleem wat in Suid-Afrika voorkom.

In sy stilte

Felicia Snyman

9780799394412

R95,00

Sashen en Olivia deel tydelik ’n meenthuis, maar sy bly vir hom ’n raaisel. Hy moet homself elke dag herinner om nie na haar te staar nie. Dit is nie net haar skoonheid wat hom gevange hou nie, maar haar kwesbaarheid.

Sy dra egter swaar aan die bagasie van haar verlede, onder meer die alzheimers wat haar ma geknak het, en wil nie vir Sashen ’n kans gee nie. Wie sê hy sal nie ook net weggaan as sy hom nodig het, soos haar stiefpa met haar ma gemaak het nie? Hoe kan sy enige man ooit vertrou?

Olivia moet besluit of sy dit wil waag: onvoorwaardelike liefde nóú of ’n leeftyd van vrees vir die onbekende.

Ek vertrou jou

Ciska Olivier

9780799394443

R95,00

Yvonne se kêrel verdwyn oornag en sy arrogante maar onbehoorlik aantreklike broer, Kelvin, stel ondersoek in. Hy laat haar nekhare rys met sy aanname dat sy ’n opperste flerrie is.

Sy kan hom nie verdra nie, maar as hy die dag lus is, is hy sjarmant, begeerlik en laat hy haar hart in haar keel klop.

Ciska Olivier se boek speel in Namibië af. Haar beskrywingsvermoë skilder die roesrooi van dorre duine, die akwa lug en Namibiese kuswoestyn. Haar heldin het ook ’n buitengewoon hegte verhouding met ’n manlike randkarakter wat dien as “tolk” wanneer sy nie vir Kelvin verstaan nie.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest