Leesvordering:

Nuut by LAPA in Oktober

Okt 4, 2018

Oktobermaand is ’n baie groot maand vir LAPA-Uitgewers. Nie net bring ons Armand Aukamp se naakte kookgewoontes na die tafel nie, ons spog ook met vele gloedwarm boeke om mense aan die lees te hou tot lank na die Kerstafels skoon geëet is.

Die #MeToo-beweging is met ons. Sophia Kapp se Kantelpunt ondersoek die identiteit van vrouwees soos nog nooit te vore in Afrikaans nie. Die memoires van Marita van der Vyver kyk met humor, ook patos, na die rol van die skrywer as vrou, ma en professionele vrou wat al onder misbruik moes deurloop. Ons bied ook, via ’n vennootskap met Imbali Academic & Trade Publishers, ’n bundel essays, Nasty women fight back en ’n roman oor die rol van die vrou in Engeland kort ná die val van die Romeinse ryk.

Martin Steyn, een van Suid-Afrika se bekendste vegters vir vroueregte, publiseer nog eens ’n lekkerleesroman waarin die ontvoering van ’n seun en die losprys wat geëis word, enige leser sal wakker hou tot die einde toe.

Daar is darem ook heelwat tyd vir lag tussen die potte en die lees. Ian Wessels se Lag sonder grense kan enige knorpot se dag ophelder.

Genoeg vermaak (en lekker smaak), dus, vir die hele gesin, ook, natuurlik, vir die kleingoed.

Fiksie 

Kantelpunt; Hipomnemata van ’n konvensionele, middeljarige wit, Afrikaanse vrou
Sophia Kapp
9780799390919
R315,00

Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding. Nellie is pas 50, ʼn konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing. Dan ondergaan sy ʼn histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ʼn vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte. Sy begin haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ʼn ontsettende prys. Sy word gedwing om alles wat sy tot dusver as ’n gegewe aanvaar het, te ondersoek, en in die proses moet sy nie net die mense naaste aan haar se aandeel in haar stryd erken nie, maar ook haar eie aandadigheid aan haar lot bepaal.

Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die geskiedenis en die konvensies wat haar stom gehou het, en kom sy nader aan die vrou wat sy van die begin af veronderstel was om te wees – die een met wie sý in vrede kan saamleef.

Wat maak die boek anders?

  • Kantelpunt is protesfiksie, die protes van ʼn vrou wat haar regte ontneem is deur ʼn patriargale samelewing én dit toegelaat het.
  • Dis nié ’n liefdesroman nie, maar daar is hoop aan teen die einde. Die leser word dus nie in ’n put gelaat nie.
  • Kantelpunt is anders as die skrywer se vorige boeke omdat dit feminisme as tema het.
  • Elke vrou wat al gesukkel het om haar plek te vind, as vrou, as mens, as burger, as ma, as eggenote, en om steeds te hou van wie en wat sy is, sal by Nellie aanklank vind.
  • Hipomnemata in die subtitel is ’n Griekse woord, wat “herinneringe” beteken. Dit was ʼn erkende genre in antieke tye, en het behels dat mense hulle waarnemings, goed wat hulle gelees het, en aanhalings wat vir hulle iets beteken het, in notaboekies neergeskryf het. Hierdie boek is Nellie se hipomnemata.

Kantelpunt is Sophia Kapp eerste roman wat ’n vrou se verhouding met haar omgewing ondersoek, eerder as net haar verhouding met haar geliefde(s).

Losprys
Martin Steyn
9780799390889
R295.00

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ’n vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ’n kind s’n. Dit is egter presies wat hy kry; dit is boonop ’n ontvoering vir ’n losprys, ’n hoë-profielsaak, dus. Die desperate Amerikaanse ouers is aan die een kant en die ambisieuse kaptein druk Lubambo aan die ander kant. Almal wil resultate hê.

Intussen trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in Llandudno in, adjudant Karla Blanckenberg is in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak – en te verbreek – kan sy net wag.

Die roman fokus op twee bene: die naspeur van leidrade, getuies en verdagtes, deur die oë van adjudant Enzo Ariefdien van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid, en die onderhandelings met die ontvoerders deur adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid.

Kort voor lank staar elkeen van die rolspelers ’n keiharde waarheid in die oë: dat ryk kinders altyd voorkeurbehandeling kry wanneer hulle wegraak. Die einde sal jou in die maag skop.

Soos met sy vorige romans het Martin Steyn met die mense gaan praat wat regtig sulke sake ondersoek, insluitend speurders en onderhandelaars. Hy het geloop waar sy karakters loop, van Houtbaai en Imizamo Yethu tot Mitchells Plain. Dit gee die verhaal ’n grinterige realisme.

Steyn se eerste roman is onlangs aanvaar vir publikasie in Turkye. Hou hierdie man dop, en lees hom!

Niefiksie

Armand kook kaal
Armand Aucamp
Kookboek (Volkleur)
9780799384727
R395,00

Hierdie boek het selfs kenners aan die praat!

“Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraat kookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!” – Prof. Tim Noakes

’n Model moet dikwels hemp uittrek vir ’n foto. Dan moet jy goed lyk. Armand Aucamp is een van die begeerlikste celebs in Suid-Afrika. Aanhangers begeer óf sy lyf óf om soos hy te lyk. Nou deel Armand sy geheim met almal: Hy eet kaal, gestroopte, heel kos soos Tim Noakes dit in sy Real Meal Revolution met Suid-Afrika gedeel het.

Aanvanklik het Armand Aucamp gedink Noakes is mal. Aangesien hy egter gesukkel het om gewig te verloor, probeer hy toe hierdie nuwe denkwyse en hy begin kook self gesonde kos. Oor ’n paar jaar het Armand 100 laekoolhidraatresepte, wat banting- of keto-vriendelik is, gekook en neergeskryf. Stap-vir-stap, en met pragfoto’s daarby, wys Armand jou hoe om smuldisse te skep uit heel, gestroopte bestanddele sonder om die skaal te laat ly.

Kies tussen eierdisse en vleisgeregte, lekkernye en nageregte en leer hoe om slank te bly soos Armand!

Retoer, Pretoria – Provence
Marita van der Vyver
Niefiksie
9780799384796
R160,00

Sy het ons oorrompel met Griet skryf ’n sprokie. Hoe kon so ’n jong vrou soveel patos in ’n boek vol Griekse mitologie en Grimm-sprokies pas? Hoe kan enige een so openlik ’n goue voël beskryf sonder om platvloers te wees? Deur die jare het die karakters in Marita van der Vyver se boeke ook myle bygekry. Sy het selfs al ’n oumaboek geskryf.

Hoeveel van ons het nie al lees-lees saam met haar gekuier in die huis met die blou deur nie? Volg jy haar op die sosiale media, waar sy baie bedrywig en altyd vrygewig is met haar tyd, dan weet jy hoe lyk haar kinders, haar man en die wêreld van haar hart.

Weet ons egter wat ín haar hart aangaan? Hierdie bundel essays en rubrieke skuif dáárdie deur so effens oop.

Marita sê self: “Ek het altyd gesê, nie heeltemal spottend nie, dat ek vreeslik oud sal moet word voordat ek eendag my memoires aandurf. Daar is net te veel mense wat eers moet doodgaan, van nare onderwysers tot formidabele familielede, voordat ek werklik eerlik oor hulle kan skryf. En nou is ek eensklaps ‘vreeslik oud’ – of dis altans hoe die sestienjarige meisiekind wat ek lank gelede was, my huidige beleë toestand sou beskryf het. Daarvan is ek doodseker. Ek het onlangs weer daardie tiener se dagboek in dromerige trant gelees, en besef sy sou haar kop in stomme ongeloof geskud het as sy my nou moes sien.”

Marita waarsku egter ook: “Ek beskou dit beslis nie as ’n amptelike outobiografie nie – daarvoor voel ek steeds te jonk!”

Boonop is fiksie haar gekose medium. Sy verduidelik: “Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf. Dis nie doelbewuste bedrog nie, bloot ’n beroepsrisiko – as jy heeldag en aldag jou verbeelding moet gebruik om die pot aan die kook te hou, kan dit moeilik wees om daarmee op te hou en jou tot die vervelige waarheid te beperk.”

Ten spyte van al die waarskuwings, is Retoer, Pretoria – Provence; Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma, ’n opregte manier om aan ’n waarderende gehoor die retoerrite van Marita van der Vyver se hart en lewe te openbaar.

Die boek is ingedeel in afdelings, en elke afdelings se naam is die titel van een van haar boeke. Al lesende gaan die leser dus op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence; en terug.

Die reis is nie altyd maklik nie. Een van die stukke wat in hierdie bundel verskyn, is ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is.

Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op ’n toer deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang.

Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid, skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”.

Lag sonder grense
Ian Wessels
Humor
9780799384666
R255,00

Het jy die een gehoor van die radio-omroeper, die boek en die honderde grappies? Jy gaan lag sonder grense as jy die antwoord hoor.

Ná die wegholsukses van Ian Wessels se vorige grapboek, Genade! EdeLAGbare, het hy nog ’n humoristiese boek saamgestel wat jou sal laat skaterlag.

Lag Sonder Grense is 240 bladsy dik en bars uit sy nate van die grappe.

Ian Wessels, die gewilde omroeper van Radio Sonder Grense (RSG), spaar niemand nie: Almal – van skoonma tot manlief; van baas tot Klaas – loop deur. Ian skeer heerlik die gek met alles wat ’n mens soms tog so swaar op die hart lê.

Dit is die ideale geskenk vir manlief wat graag sy pelle wat laat skud van die lag om die braaivleisvure.

Eintlik is dit ’n boek vir enige een wat hou van lag.

Kinder- en Jeugboeke

Jock van die Bosveld en ander ware dierestories
Wendy Maartens
llustrasies: Alex van Houwelingen
Ouderdom: 7+
9780799389289
R115,00

Ontmoet ’n paar dapper en interessante diere van regoor die wêreld! Ontdek die wonderlike, ware verhaal van Jock, die Suid-Afrikaanse hond wat wêreldberoemd geword het; leer ken ’n brilpikkewyn met die naam Gregory Peck en skud poot met Just Nuisance, ’n hond wat by die Britse vloot aangesluit het! Hierdie boek bevat vyf asemrowende ware dierestories:

  1. Seeman Just Nuisance

Het jy al gehoor van ’n hond wat lid van die vloot is? Of ’n pet dra en alleen trein ry? Dis wat Just Nuisance gedoen het.

  1. Visvriende Big Red en Blackie

’n Ware verhaal oor die wonderbaarlike vriendskap tussen twee troetelvisse.

  1. Jock van die Bosveld

Ontdek die wonderlike verhaal van Jock, die dapper Suid-Afrikaanse hond wat wêreldberoemd geword het.

  1. Die ysbeer en die kietsiekat

Die merkwaardige verhaal van ’n katjie wat op ’n dag in die ysbeerpoel by ’n diere-tuin beland het – en deur een van die gevaarlik bere gered is!

  1. Gregory Peck die brilpikkewyn

Vind uit hoe ’n brilpikkewyn genaamd Gregory Peck mense geïnspireer het om vir die natuur om te gee.

Bianca se briljante biblioteekdag

Joseph Coelho
Illustrasies: Fiona Lumbers
Ouderdom: 3+
9780799391077
R135,00

Elke week sien Bianca uit na daardie een spesiale dag die dag wanneer sy wonderlike dinge tussen die biblioteek se rakke ontdek; die dag waarop sy tyd saam met Pappa kan deurbring.

Saam verken hulle die rakke op soek na betowering, geheime en ’n manier om dinge tussen hulle twee reg te maak.

Bianca se briljante biblioteekdag is ’n inspirerende storie oor die betowering van boeke – en die krag van stories om moeilike persoonlike situasies te bowe te kom. Daar is ook ’n oulike “boek-binne-’n-boek” sodat jy die storie kan lees wat Bianca en haar pa saam geniet!

Groot Beer
Wendy Hartmann
Illustrasies: Zinelda McDonald
3+
9780799389197 (Afrikaans)
R135,00

Die eerste keer toe Lara vir Groot Beer sien, is op ’n skooluitstappie. Hy lyk nes haar teddie – net baie, baie groter.

Groot Beer lyk hartseer. Daarom gesels Lara met hom. “Moenie hartseer wees nie,” sê sy sag vir hom. “Ek is hier.”

Sy vertel vir hom hy is nie alleen nie. Sy sê vir hom hy hoef nie bekommerd te wees nie en sy vertel vir hom geheime waarvan niemand anders weet nie.

Toe Lara daardie middag by die huis kom, staan daar ’n tas en bokse in die gang. Sy hoor harde stemme en kort daarna ry Pappa weg.

“Moenie bekommerd wees nie, my skat,” sê Mamma vir haar. “Ek en jy gaan piekfyn wees.”

Daardie aand kan Lara nie slaap nie. Kort voor lank klim iemand deur haar venster. “Moenie hartseer wees nie,” sê ’n sagte stem. “Ek is hier.”

Daar is Groot Beer! Saam-saam beleef hulle hope avonture.

Groot beer is ’n trots-Suid-Afrikaanse boek. Dit is sensitiewe, roerende storie oor ’n kind se hantering van egskeiding, en die wonderlike genesende krag van verbeelding en stories.

Helde van Suid-Afrika 3
Wendy Maartens
Illustrasies: Alex van Houwelingen
7+
9780799389265
R125,00

Hierdie boek bevat ses verstommende ware heldeverhale. Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak! Dit is die derde boek in die reeks.

  1. ’n Klein brakkie met ’n groot hart

Wollie was ’n hawelose Maltese poedeltjie met ’n groot hart – en hy het dit reggekry om ’n man se lewe te red.

  1. ’n Reënboog vir Laingsburg

In 1981 het vreeslike vloedwaters Laingsburg getref. Die heldedade van daardie dag leef vandag nog voort.

  1. Desmond Tutu

Desmond Tutu was ’n arm klein seuntjie wat later een van die grootste leiers in ons land se geskiedenis geword het.

  1. Kaalvoet deur ’n oorlog

Ontmoet ’n dapper seuntjie wat al die pad van die Vrystaat na die Kaap gestap het om sy ouers tydens die Anglo-Boereoorlog op te spoor.

  1. Enoch Sontonga, ’n man met ’n lied in sy hart

Die inspirerende lewensverhaal van die man wat “Nkosi sikelel’ iAfrika” geskryf het.

  1. Die lang pad van Emilie Lehn

Ontdek die verstommende verhaal van Emilie Lehn, wat as ’n slavin in Kaapstad gebore is.

Kieme: Boosaardige bakterieë, woeste virusse en vieslike fungusse
Steve Mould
7+
9780799388848
R140,00

Ontmoet die bakterieë, virusse, ander kieme en mikrobes wat oral om ons is, maar te klein is om te sien. Ontdek hoe hulle ons en die wêreld aan die gang hou.

Wat het ’n gloeiende seekat, ’n groeiende swam en klein kreatuurtjies in die grond onder jou tone in gemeen? Dit is alles deel van mikrobiologie!

Hierdie fantastiese boek verduidelik waarom ons bakterieë nodig het en stel jong slimkoppe bekend aan virusse, fungusse, alge en protosoë.

Bakterieë is die belangrikste lewende organismes op aarde, 99 persent van hulle is nuttig, nie skadelik nie. Sonder bakterieë sou ons nie brood of kaas gehad het nie, en ons liggame sou nie kon werk soos dit moet nie. Mikrobes hou ons en ons wêreld op ’n verrassende maniere aan die gang. Hierdie boek wys jou hoe dit gebeur – met fantastiese voorbeelde van mikrobiologie in aksie!

Die publikasie is ’n prettige, leersame inleiding tot ’n onderwerp wat kinders van aangesig tot aangesig met die wonderwêreld van ’n piepklein wetenskap bring. Dit is vol verstommende foto’s, lawwe karakterillustrasies en hope prettige feite wat oud en jonk lekker sal laat gril. Jong wetenskaplikes sal hierdie boek oor mikrobiologie eenvoudig nie wil neersit nie.

Steve Mould (www.stevemould.com) is ’n wetenskapaanbieder en komediant. Volg hom gerus op YouTube.

Speurder Annika Omnibus
Elmarie Botes
Illustrasies: Kobus Faber & Johann Strauss
9+
9780799390513
R180,00

Annika is versot op speurverhale en raaisels. As sy in die omtrek is, gebeur daar altyd iets opwindends!

Kry jou vergrootglas en jou notaboek uit, maak gereed om leidrade te soek en ’n hele rits opwindende raaisels saam met Speurder Annika op te los. Daar is ’n uitstappie na die museum en ’n geheimsinnige veer wat Annika op ’n speurtog lei; ’n dief wat stink kunsmis by die skool steel; en selfs ’n kissie met geld wat uit ’n juffrou se klas verdwyn. Moenie bekommerd wees nie – Annika sal die raaisel gou-gou oplos!

Vir die heel eerste keer verskyn al vyf opwindende Speurder Annika-stories saam in een omnibus:

  1. Speurder Annika
  2. Speurder Annika kry snuf in die neus
  3. Speurder Annika maak ’n plan
  4. Speurder Annika los ’n raaisel op
  5. Speurder Annika stel ondersoek in

Meer as 37 300 kopieë van die baie gewilde Speurder Annika-reeks is al verkoop. Maklike taalgebruik maak hierdie stories perfek vir beginnerlesers. Hierdie 5-in-1-omnibus bied uitsonderlike waarde vir geld.

Zackie Mostert Omnibus 2
Jaco Jacobs
Illustrasies: Alex van Houwelingen
9+
9780799389456
R150,00

LAPA bied nou nog vyf Zackie-avonture in een fantastiese omnibus! Ons het die boekies eers individueel uitgegee en hulle het ontsettend goed verkoop. Deur hulle in een te bundel, kan ons die prys drasties afbring.

Hoekom? Want, Granaatstraat is ’n straat nes enige ander straat. Wel, nie heeltemal nie. Dis immers die straat waarin Zackie Mostert woon. En waar Zackie is, is daar altyd volop pret, avontuur en kattekwaad!

Kinders is versot op Zackie se skreeusnaakse avonture. Of hy nou kulkunsies doen, spoke jag, probeer om ’n superheld te word of ’n plan moet maak om uit die skoolkonsert te kom – waar Zackie is, is daar altyd hope pret en kattekwaad.

Sedert die verskyning van die eerste Zackie-boek in 2010 het dié gewilde karaktertjie en sy maats hope pret en humor na die Afrikaanse kinderboekwêreld gebring, en duisende aanhangers gekry.

Word deel van die opwinding saam met Zackie, sy beste vriend, Vincent, sy hond, Frankenstein, die kwaai buurtannie, mevrou Langenhoven – en natuurlik Anton die skoolboelie wat gedurig moeilikheid maak!

Vir die heel eerste keer verskyn vyf van Zackie se lawwe avonture saam in een briljante, bekostigbare omnibus:

  • Zackie Mostert druk ’n drie
  • Zackie Mostert en die geheimsinnige gedaante
  • Zackie Mostert en die wriemelende wurmkoekies
  • Zackie Mostert en die meisiemoles
  • Zackie Mostert en die baie beroemde hond
Romanza

Logika van die liefde
Marilé Cloete
9780799390858
R225.00

Emmerentia het borskanker oorwin maar is nog baie broos en vind veral haar emosionele herstel moeilik. Sy voel skuldig omdat sy herstel het van borskanker, terwyl haar ma daaraan gesterf het toe Emmerentia nog jonk was.

Sy en haar pa het ’n baie spesiale band. Hy nooi haar saam op ’n maandlange reis deur Australië waar hy en ’n kollega kongresse gaan bywoon en deur die land toer. Sy is eers teensinnig en stem langtand in, want sy is veral nie lus vir die vreemdeling wat saam gaan reis nie.

Brent is ’n bekwame jong wetenskaplike wat baie opkyk na Emmerentia se pa, en hom as sy mentor beskou. Brent het egter as jong seun ’n gesinstragedie beleef wat hom sku maak vir mense. Dit maak dat hy hom in sy eie wêreld toesluit.

Emmerentia en Brent sukkel om by mekaar aanklank te vind, maar deur haar pa se toedoen word hulle male sonder tal saamgegooi en leer hulle mekaar algaande beter ken; daar vorm wedersydse begrip.

Logika van die liefde is Marilé se eerste SuperRomanza.

Winterdroom
Alma Carstens
9780799390735
R90,00

Simoné is vir altyd klaar met mans, maar sy bly steeds ’n warmbloedige vrou met behoeftes. Al verpes sy Tristan Lindeque, tiek hy al haar boksies en pas hy perfek in haar plan. Sal hy instem om haar minnaar te word en al haar voorwaardes aanvaar?

Die meisie langsaan
Nellie Alberts
9780799390766
R90,00

Liebert het al die eienskappe van ’n trouman: humorsin, ambisie, eerlikheid, oneindige geduld en ’n bottersagte hart. Maar hy is vir nie Adamia bedoel nie, daarvoor ken sy hom te goed. Dus skryf sy hom in vir ’n Boer-soek-vrou-kompetisie. Maar nou wil sy egter ook deelneem!

Nellie Alberts is debuutskrywer.

Vir ’n oomblik, vir altyd
Ciska Olivier
9780799390797
R90,00

Guan van Wyk gaan haar nie om sy pinkie draai nie, besluit Anita. Sy is van ’n sterker stoffasie gemaak. Die man is ’n vleier, haar buurman en haar baas. Sy moet verbyhou. Sjoe, maar daardie oë …

’n Geur vir elke vrou
Ida Bester
9780799390827
R90,00

Theana se baas vra haar om die parfuummaker, Jean-Luc, te jag vir hul besigheid. Sy is gelukkig om hom al op haar vlug raak te loop. En weer later in Frankryk. Maar is hierdie ontmoetings met Jean-Luc terloops, beplan of deel van die noodlot?

Held op ’n Harley
Corné van Rooyen
E-Pub @ LAPA Uitgewers:
R29,99

Beskikbaar as ’n e-boek.

Mans op motorfietse assosieer Leah met bad-boys en dit is nie die tipe man waarvan sy hou nie. Maar Tristan op sy Harley laat haar hartklop versnel en sy glimlag maak haar knieë lam.

Bonuskortverhaal: “Die bruidegom se eks” deur Ria Richards

Wilde Sara trou. Dis nie aldag wat iets so opwindend op Sonika se klein dorpie gebeur nie, maar sy het ’n dilemma. Op die uitnodigingskaartjie staan uitdruklik: Mevrou Ellis en metgesel. Hoe sal dit lyk as sy alleen by die troue opdaag?

Haar vir-altyd-minnaar
Ildé Grové
E-Pub @ LAPA Uitgewers:
R29,99

Beskikbaar as ’n e-boek.

’n Man en sy silwermotorfiets. Gevaarlik aantreklik. Wat met ʼn blote blik en ʼn vlietende aanraking dinge in Chandré wakker maak wat sy geglo het lank reeds

dood en begrawe is.

Bonuskortverhaal: “Almal is rooikoppe” – Rita Swanepoel

Elke Sondagmôre word Gert Jonker se bose dade deur die vroue van die gemeente beskinder. Nou sit Petra op ’n reënerige nag in sy kombuis. Wat sal die vroue hier-van sê?

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest