Leesvordering:

Nuut by LAPA in September

Sep 9, 2019

September het ’n dik pak boeke om deur te werk! Ons is geweldig trots op hierop. Kyk veral na die sterk vrouestemme!

Fiksie

Vegters

Lucia Prinsloo

Druknaam: Wenkbrou

Algemene Fiksie

9780799397246

R295,00

Kliek… en jou lewe verander. Onomkeerbaar. So sal Markus Meyer en Regardt Muller, twee avontuurlustige vriende wat ná matriek by die Britse Weermag aansluit en as lede van die gerespekteerde 3-Valskermregiment in Afghanistan diens doen, weldra leer.

Dit is egter eers wanneer stilte oor die slagveld neersif en die gevolge van konflik beredder moet word, dat die wáre vegters na vore sal tree. Daardie slagveld is nie noodwendig in ’n oorlogsgeteisterde gebied waar die droë hitte iets lewendigs is nie; soms lê dit ook tussen kamerade, gesinslede en verál midde-in die liefde; selfs ’n soen is by tye ’n landmyn wat afgetrap word.

Vegters is die merkwaardige verhaal van uitdaging, lojaliteit en deursettingsvermoë. ’n Verhaal wat die leser deur drie valleie sal neem: van die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap na die Sanginvallei langs die Helmandrivier in Afghanistan, tot die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal waar die wêreldbekende Dusi-kanomarathon die twee vriende tot die uiterste sal beproef.

Wees gereed om oorbluf te word. Hierdie boek is nie ’n Sondagmiddagpiekniek nie – dis ’n ontsnappingsroete deur ’n slagplaas.

Vegters is ’n verhaal van hoop en versoening. Dis mooi. Dis bitter. Dis ’n emosionele wipplankrit. Daar is oomblikke van teerheid, maar voor jy te gemaklik raak, word jy aan die bek geruk; dié boek gaan by bly en jou uit jou gemaksone ruk, dit is gewis.

Louis Esterhuizen sê oor Vegters: “Hierdie werk is by verre een van die mees indrukwekkende tekste wat ek tot nog toe die voorreg gehad het om te hanteer.”

Uit die hart van ’n vrou

Rozaan de Wet

Druknaam: LAPA

Vrouefiksie

9780799396546

R285,00

Toe Claire die krat met leë drankbottels ontdek, skiet haar gemoed vol. Sy is tot sterwens toe moeg vir haar man se drinkery en verlaat hom tydelik deur te ontsnap na haar huis by die see. Aan die ander kant dra sy swaar aan haar aandeel aan Kris se probleem. Dit grief haar dat haar man so pateties afhanklik geword het van drank en dat dit veroorsaak dat selfs sy waardigheid in die slag bly. Die ergste is sy ontkenning van die probleem en dat hy halsstarrig op ’n pad van selfvernietiging is.

Daarenteen weifel Wanda by haar eie vurk in die pad. Net toe sy dink Sephus het sy ou streke laat staan, steek dit weer kop uit en moet sy uit noodweer optree om dinge stil te hou, want die dorp is klein. Sy ken haar man en sy beheer oor haar. Hy maak haar sag om haar lojaliteit te koop, maar sy is gekonfyt daarin om hom te paai en sy onbeheersde woedebuie te temper, hoewel dit nou so geëskaleer het dat dit onhoudbaar is.

Beide vriendinne sukkel om emosioneel kop bo water te hou, maar daar is troos in susterskap.

’n Goeie jaar vir rose

Santie van der Merwe

Druknaam: LAPA

Vrouefiksie

9780799396515

R285,00

Neil Viljee vlug Australië toe ná ’n tragedie, maar hy kom terug toe sy ma hom laat weet sy pa is terminaal siek: om afskeid te neem en sy ouers by te staan. Dis egter nie sy ma wat hom inwag nie. Hy tref sy pa, ’n familievriendin en sy niggie se ontwrigte tienerdogter aan, want sy ma is onverwags dood aan ’n hartaanval.

Neil besef dat hy in Australië net sy vroeëre rouproses uitgestel het, en die verlies aan sy ma dwing hom om die verwoestende gebeurtenis, wat hom landuit laat vlug het, in oënskou te neem. Karel probeer Neil help midde-in sy eie droefheid en fisieke agteruitgang. Millie skep orde terwyl sy ’n besluit probeer neem oor haar huwelik wat in gevaar is. Charlie weet dat sy nie terug kan gaan na haar bedenklike huislike omstandighede nie, en sy probeer haar agterstallige skoolwerk inhaal en ’n toekoms op haar eie karteer.

Elkeen verwerk die geliefde Lea se dood op ’n eiesoortige manier. Innerlike konflik word na die oppervlak gedwing en geheime en waarhede word ontbloot. Hulle vorm ’n unieke gesin, wat mekaar dwing tot selfondersoek, maar wat mekaar veral ondersteun en bystaan, en elkeen vind ’n mate van vrede.

Niefiksie

A Road Called Down on Both Sides

Caroline Kurtz

Imprint: Catalyst Press

Memoir

9781946395153

R245,00

Party mense word groot sonder om ooit in te pas. Hierdie verhaal is ’n baie goeie voorbeeld van kulturele ontheemding en hoe om daarmee saam te leef.

The Bosasa Billions: How the ANC sold its soul for braaipacks, booze and bags of cash

James-Brent Styan and Paul Vecchiatto

Imprint: LAPA

Nonfiction, Politics & Current Affairs

9780799396089

R295,00

Hoe het die Watson broers gunste gekoop? Hierdie verhaal is gewoon verstommend. As dit nie waar was nie, sou jy dit nie wou glo nie.

Jeugromans

Die ses weke van Thomas & Ella

Zelda Bezuidenhout

Drukaam: LAPA

Jeugfiksie

Ouderdom 13+

9780799395846

R185,00

Dit voel asof Thomas se lippe uiteindelik hul regte doel ontdek het… om Ella s’n te soen!

Wag, wag!

Thomas en Ella se wêrelde is ligjare van mekaar verwyder. Sy lewe in ’n wêreld van chauffeurs en rooi tapyte. Hy is die bywoner in die buitekamer. Die ou wat die perfekte meisie rondry; nié die ou wat haar kry nie.

Binne net ses weke kan baie dinge egter verander.

Ella van der Spuy kan ’n klein entjie die toekoms in sien – ’n talent wat sy wens sy nié gehad het nie. Boonop is sy ’n ietwat rare verskynsel: ’n rykmanskind wat geen waarde aan geld heg nie.

Toe sy aan die einde van graad elf vir Thomas Edeling ontmoet, verander Ella se lewe ingrypend. Thomas het ’n passie vir motorfietse. Ella wil modeontwerp in Milaan gaan studeer. Thomas woon saam met sy familie op ’n kleinhoewe. Ella het amper nie familie nie. Om die waarheid te sê, Thomas is alles wat Ella nie is nie.

Selfs Ella se derde oog kon nie voorspel wat in ses weke tussen hulle sou gebeur nie.

Hierdie besonderse jeugroman, vertel uit beide Ella en Thomas se perspektiewe, is ’n humoristiese en aangrypende verhaal oor ’n somerromanse tussen twee jongmense. Internasionaal val hierdie boek in dieselfde kategorie as kontemporêre jeugromanses soos To all the boys I’ve loved before en Always never yours.

This Thing Called the Future

J.L. Powers

Imprint: Catalyst Press

Young adult

Age 13+

9781946395313

R245,00

Hierdie boek speel af in Imbali, net buite Pietermaritzburg. LAPA is trots om hierdie boek, in samewerking met Catalyst Press, na Suid-Afrika te bring ná dit verskeie pryse verower het in die VSA.

Under Water

J.L. Powers

Young Adult

Imprint: Catalyst Press

Age 13+

9781946395320

R245.00

Dit is die opvolg op This thing called the future. Ons ontmoet Khosi drie jaar ná die einde van die eerste roman.

Elle-reeks: omnibus 1

Christien Neser

Tienerfiksie

Druknaam: LAPA

Ouderdom 13+

9780799394795

R280,00

Die eerste drie boeke van Christien Neser se gewilde Elle-reeks is nou beskikbaar in ’n omnibus.

Kondensmelk: Superhipermega-aaklig. Dis hoe Elle voel oor die vakansie wat voorlê. En daar is ’n paar baie goeie redes waarom sy so voel. Beskaafde mense hou nie vakansie in ’n tent in die bosse van Botswana nie. Haar pa en ma se universiteitsvriende, die Mosterts, kom sak en pak saam. Die Mosterts se twee irriterende, beterweterige, kondensmelkdrinkende seuns, Divan en Alex, ignoreer haar. Vir háár, Elle-Belle. Geen normale ou met gesonde hormone het haar nog ooit geïgnoreer nie. In die bosse van Botswana ontdek Elle ’n geheim oor haar ouers en sy leer die twee seuns beter ken.

Koshuiskoffie: Terwyl haar ouers ’n jaar lank oorsee werk, moet sy na ’n ander skool toe gaan. ’n Meisieskool. ’n Superstreng meisieskool. Boonop is haar selfoon doodstil terwyl sy die heeltyd wens Alex se naam wil op die skerm flits. Het hy ná hul Botswana-vakansie heeltemal van haar vergeet?

Blou sjokolade: Elle vind uit dat die orkestoer, Frankryk toe, afgestel is. Dit beteken sy gaan waarskynlik die hele vakansie alleen by die huis sit en kyk hoe die grasperk doodryp, want haar ma en pa is op ’n navorsingsending na Antarktika. Maar dan kry Elle die kans om die Otter-wandelpad te gaan stap saam met haar kamermaat, Refi, die aantreklike Mostert-boeties, Alex en Divan, en drie kinders wat kanker gehad het.

All I Know

Marita van der Vyver

Young Adult

Imprint: LAPA

Age 15+

9780799395761

R200,00

Dit is die Engelse vertaling van Marita van der Vyver se jeugroman Al wat ek weet.

King Shaka: Zulu Legend

Author and illustrator: Luke Molver

Foreword by Dr Sibongiseni Mkhize

Imprint: Story Press Africa

Graphic Novel

9781946498939

R190,00

Dit is die twee grafiese roman deur Luke Molver wat handel oor Shaka. In hierdie een is hy reeds die koning.

Vir die jongspan

Keegan en Samier: Die sleutelspeurders

Outeur en Illustreerder: André Trantraal

Kinderfiksie

Druknaam: LAPA

Ouderdom 7+

9780799397666

R60,00

Vrydagmiddag ná skool kuier Samier en Samia by Keegan totdat hulle pa klaar gebid het by die moskee. Op pad huis toe tel Jenni-Lee ’n bossie sleutels op. Ouma besluit om hulle te wys hoe vingerafdrukke werk en saam doen hulle ’n bietjie speurwerk. Sal hulle kan uitvind aan wie die sleutels behoort?

Ontmoet vir Keegan en Samier, LAPA se nuwe superhelde. Hulle is beste vriende en Samier se tweelingsussie, Samia, kuier ook gewoonlik saam. Dan is daar ook Jenni-Lee, Keegan se klein sussie, en Keegan se slim en streng ouma. Saam het hierdie vriende hope heerlike avonture! Ongelukkig is Brent Petersen, die klasboelie, altyd daar om dinge bietjie te versuur!

Hierdie splinternuwe reeks, geskryf en geïllustreer deur André Trantraal, is perfek vir beginnerlesers.

André Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler. Hy is die skrywer van verskeie strokiesprentboeke. Sy werk, geskryf in beide Kaaps en Engels, het al in Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus en die Cape Times verskyn en is al in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal. Sy Engelse vertalings van die Kaapse gedigte van sy broer, Nathan Trantraal, het in ’n uitgawe van die New England Journal verskyn. Hy en sy broer werk gereeld saam en is pioniers in die bevordering van Kaapse Afrikaans.

Blou Maandag

Jaco Jacobs

Illustrasies: Karen Lilje

Druknaam: LAPA

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799395945

R125,00

Toe Jana haar oë oopmaak, weet sy sommer: vandag gaan ’n BLOU MAANDAG wees!

Dit lyk asof ’n tornado haar hare getref het. Die hamster het haar huiswerk opgeëet. Daar is aspersies in haar kosblik. En dit is háár skuld dat die hele skool glo haar beste vriendin se kop is vol grillerige goggas!

Boonop is vanaand die groot talentaand waarna Jana al weke lank uitsien. Sy werk al so lank aan ’n liedjie vir die talentaand, maar sê nou dinge loop skeef op die verhoog? Hoe erg kan een Maandag wees?

’n Prettige, holderstebolder-avontuur vol skaterlag-humor oor daardie dae wanneer dit voel asof alles skeefloop!

Prettige Feite: Weer en die seisoene

Dorling Kindersley

Vertaler: Jaco Jacobs

Druknaam: LAPA

Niefiksie

Ouderdom 5+

9780799394948

R120,00

Ontdek wat alles in die lug aangaan met Prettige feite: Weer en die seisoene. Hierdie boek is propvol feite en aktiwiteite wat dit die perfekte boek vir alle weerstoestande maak!

Lesers kan uitvind hoe sneeuvlokkies vorm, waarom dit reën en waarom daar soms ’n reënboog in die lug verskyn. Daar is selfs prettige aktiwiteite om te voltooi: soos hoe om ’n reënwolk in ’n bottel te maak en hoe om ’n windwyser te maak wat sal wys watter kant toe die wind waai.

Hierdie boek is deel van die versamelbare Prettige Feite-reeks, wat spesiaal ontwikkel is vir kinders 5 jaar en ouer. Die reeks is die perfekte mengsel van opvoedkundige inhoud en eenvoudige, praktiese aktiwiteite.

Jong lesers leer meer oor ’n verskeidenheid interessante onderwerpe en kry die geleentheid om prettige projekte aan te pak wat by die temas aansluit. Die eenvoudige aktiwiteite dra by tot die ontwikkeling van geletterdheid, syfergeletterdheid, geheueontwikkeling en handvaardigheid. Hou die kleinspan besig terwyl hulle speel-speel leer!

Towerponie en die reënboogbollie

Emma Adams

Illustrasies: Katy Halford

Druknaam: LAPA

Kleuterfiksie

Ouderdom 5+

9780799396973

R140,00

Ontmoet vir Towerponie! Met manjifieke maanhare, ’n glinsterende horing en pikante pienk hoewe, is Towerponie net soos enige ander towerponie. Behalwe vir haar reënboogbollie!

’n Storie oor vriendskap, aanvaarding en om in jouself te glo, dit maak nie saak wat nie. Jong lesers sal mal wees oor hierdie kleurvolle prenteboek vol towerponies, drake, prinsesse, feetjies, pret en reënboogbollie!

My eerste boek oor perde en ponies

Andrea Mills

Vertaler: Jaco Jacobs

Druknaam: LAPA

Niefiksie

Ouderdom 7+

9780799394979

R130,00

Ontdek die wêreld van perde en ponies in hierdie gids propvol feite. Vind meer uit oor perde se gedrag, en ontdek hope nuttige wenke oor hoe om jou ponie te versorg. Verken meer as 20 rasse, van Arabiere tot Shetlandponies.

Hierdie boek is perfek vir enige iemand wat van perde hou, of jy nou reeds ’n perde-eienaar is, of daarvan droom om eendag jou eie ponie te kry. Leer wat perde met hul liggaamstaal wys, watter verskillende kleure en patrone hulle kan hê, en vind meer uit oor die verskillende maniere hoe perde beweeg. Hierdie nuttige gids is propvol fantastiese foto’s en feite oor perde.

Vind uit hoe verskillende rasse se unieke eienskappe van mekaar verskil, leer hoe om jou troetelperd te versorg sodat hy gelukkig en gesond bly en verstom jou aan hierdie wonderlike diere se supersintuie en atletiese vermoëns.

Romanse

Wedding Season

Various

Imprint: LAPA

Romance

9780799396577

R195,00

’n Versameling romantiese verhale deur hedendaagse skrywers; van hulle is stomend lekker!

Storm vol liefde

René van Zyl

Druknaam: Romanza

Superromanse

9780799396485

R240,00

’n Werksaanbod in Zambië wat vir Lienke Nielsen moes help om te herstel van die nagmerries ná ’n doodservaring tydens ’n sikloon, ontaard in ’n erger storm wat haar van binne af verteer. Sy was nie voorbereid op die verwoestende effek wat die televisieaanbieder, Armand Martinez, op haar hart sou hê nie.

Nie net moet sy voorgee dat sy haar ekstroverte tweelingsuster, Lika, is nie, maar sy moet haarself boonop beskerm teen die kragtige en sjarmante Orkaan Armand. Haar suster het immers die eerste opsie op hom. Lienke besef baie gou dat sy die een is wat met meer stormskade as vroeër gaan wegstap.

Hoogsomerliefde

Marilé Cloete

Druknaam: Romanza

Romanse

9780799396362

R95,00

Roelien en haar broer trek vanaf die stad na ’n Karoodorpie om oor te begin, maar ontmoet heel eerste die ongeskikte buurman, onmoontlik-aantreklike Wynand, en sy kwaai hond, Raka. Om dinge nóg te vererger hou Roelien en Wynand by dieselfde plek skool!

Roelien kan nie vir Wynand verdra nie, maar dit lyk nie of haar hart die memo gekry het nie. Wynand sukkel ook met sy toenemende gevoelens vir die blonde vrou langsaan. Hy weet hy sal dit nie kan verdra as sy uit sy lewe moet glip nie.

Toe die skoolhoof ’n ultimatum aan hom stel, besef Wynand dat hy hom moet regruk. Die vraag is: Het hy nie dalk reeds sy kanse by Roelien verspeel nie?

Lank, donker en dierbaar

Madelie Human

Druknaam: Romanza

Romanse

9780799396393

R95,00

Suster Jessica Vermaak is gelukkig … Wel, dinge kan seker beter wees. Haar kêrel is ietwat van ’n chauvinis, haar werk kan op die spel wees en haar hart klop darem té vinnig wanneer haar nuwe pasiënt – die verleidelike wildveearts, Herman Schoeman – na haar kyk. Herman word aangeval deur ’n groep moorddadige renosterstropers wat hom steeds jag, en die trauma van die aanval het skade gelos wat hy nie aan enigiemand, veral Jessica, wil erken nie. Hoe kan sy selfs droom om langs ’n man te slaap wie se nagmerries haar in gevaar kan stel? Wanneer Herman haar ’n werk aanbied as sy assistent besef sy gou dat om in die nabyheid van hierdie aantreklike vreemdeling te werk sy eie gevare inhou. As dokter Herman Schoeman haar hart breek sal nie hy óf sy dié tipe besering kan genees nie.

Die verkeerde man

Alexa Steyn

Druknaam: Romanza

Romanse

9780799396423

R95,00

’n Aantreklike vreemdeling red vir Tersia wanneer sy vasgevang is in ’n donderstorm. Daar is dadelik elektrisiteit tussen haar en aantreklike, suksesvolle Braam.

Braam stel duidelik belang in Tersia, maar die mooie, blonde Michelle stel in hóm belang; dit blyk of haar kloue reeds gehaak het. En wat van Len? Haar eks, “die een”, die “regte man”? Hy is ook op vakansie, saam met sy nuwe vrou!

Tersia vlug na Bakenbaai. As Braam regtig vir haar lief is, sal hy mos vir haar kom soek. Maar waar is hy?

Reënboogliefde

Magda Schmidt

Druknaam: Romanza

Romanse

9780799396454

R95,00

Christi gaan kuier vir haar ouma waar dié op ʼn klein dorpie bly, daar ontmoet sy die besonder aantreklike dorpspredikant, Philip. Hy laat só ’n indruk op haar na ’n paar terloopse kuiers dat sy besef dat sy eintlik baie meer van hom hou as van haar kêrel (en moontlike verloofde). Dus besluit sy sommer om hals-oor-kop ’n onderwyspos op die dorp te aanvaar en daarheen te trek.

Dáár aangekom, besef Christi dat iets nie pluis is nie en dat Philip dalk nie dieselfde voel oor haar as wat sy oor hom voel nie, want selfs ná sy egskeiding bly hy nog steeds weg en kom sien haar nie soos wat sy gehoop het nie. Mettertyd begin dinge regloop vir Christi en Philip, maar ʼn venynige opmerking dreig om hulle weer uitmekaar te skeur.

Christi kan maar net hoop dat ná al die reëndae in hulle verhouding, die son weer sal skyn en die reënboog (soos belowe) sal uitkom, juis omdat Philip die tipe man is wat sal veg vir die vrou wat hy met sy hele hart liefhet.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest