Leesvordering:

Nuut by LAPA in September

Sep 15, 2017

Ons het wonderlike boeke vir ons lesers. Santie van der Merwe krap weer waar dit jeuk, Marilyn Gantana se kookboek is vars en anders, ons raak kreatief met palette en daar is ’n opwindende jeugdebuut. Plus nog baie meer.

Fiksie

Die einde van die storie
Santie van der Merwe
R230.00
ISBN: 9780799385694

Apatie het in hulle huwelik ingesluip en ’n sluwe derde huweliksmaat geword. Dit het al hoe groter geword, gevoed deur die stiltes tussen hulle wat langer geword het” (bladsy 8).

“Ek het jou nie meer lief nie.” Uiteindelik kry Lizzie dit gesê ná ’n huwelik van agt en twintig jaar. Nie oor ’n ander man nie, nie oor hy lelik is met haar nie, net oor daar niks meer tussen hulle is nie. Dis asof sy en Marthinus alles weet van huise bou – hy bou regte huise en sy pophuise – maar hulle eens dierbare huis het sonder ’n enkele slag inmekaargestort.

Dat dit haar man nie skok nie maar hom hoogstens in ’n besonder slegte bui laat, is nog erger. Marthinus praat mos nie, nie oor sulke goed nie.

Lizzie weet sy is nie die mooiste vrou wat hy ken nie, onder andere omdat sy nie juis sukses gehad het met al die diëte wat sy al probeer het nie.

Haar aankondiging laat nie almal sonder woorde nie. Hulle enigste kind begin haar soos ’n irriterende vreemdeling behandel. Ja, en dan is daar Lizzie se eienaardige naweek in die Bosveld tussen nog eienaardiger mense… Sy kan sterf van skaamte.

Bied so iets vir ’n man stof tot nadenke? Met Marthinus sal mens nooit weet nie.

Niefiksie

Marilyn kuier en kook
Marilyn Gantana
R200.00
ISBN: 9780799382846

Marilyn Gantana het aan die verkeerde kant van die spoor grootgeword. Sy het ’n renons ontwikkel in die boodskap van die kerk wat nie tot haar werklikheid gespreek het nie. Die jonge Marilyn het gerebelleer.

Raai wat? Toe trou sy met ’n VGK-dominee en die jong egpaar word beroep na Loeriesfontein. Hulle is die eerste bruin egpaar in hierdie gemeente, in die kerk wat destyds nog bekendgestaan het as die NG Sendingkerk. Die ouer susters wat erg bekommerd oor die jonge Marilyn. Hulle het haar skeef aangekyk, want wat weet sy? Die jonger susters, aan die ander kant, het hierdie mooi jong dominee só gekyk en gedink, sjoe.

Marilyn kón kook, sy het by haar ma geleer. Tog het sy besef dat sy nog baie sal moet leer om met min hulpbronne vir báie mense kos te maak. Toe gaan soek sy raad by die einste susters wat haar so skeef kyk. Sy vra, sy probeer, en sy begin kook haar kritici se monde vol kos – en sy maak seker haar mooi jong man bly eet uit haar potte!

Haar eerste kookboek is vir die kerkgemeenskap uitgegee, en Kuier het haar raakgesien. Sy is toe vir twee jaar as Kuier-huiskok aangestel.

Marilyn kuier en kook! is haar eerste kommersiële kookboek en LAPA is baie trots om deel te wees hiervan.

Marilyn Gantana het oor die jare baie geleer, nie net by die kerksusters nie, maar ook as ma van drie. Sy hou deesdae boonop voltyds skool ook. Marilyn weet dus presies hoe kosbaar tyd is. In Marilyn kuier en kook! nooi sy ons om te deel in haar beste resepte wat sy al vir meer as 30 jaar bymekaarmaak en toets.

Daar is familieresepte wat sy tydens haar grootwordjare by haar ma en tannies geleer het, ook die wenresepte van die wonderlike staatmakers wat geliefde gemeentelede van Loeriesfontein en Grabouw met haar gedeel het. Ons deel in smulkos, soos gebraaide lamsribbetjies, pannekoekies met ’n hoendervulsel, mini-seekosquiches en roosterkoek. Alles word op ’n eenvoudige en bekostigbare manier berei. Die resepte is sonder fiemies, doenbaar en gou om te maak.

Marilyn is baie lief vir ’n lekker slaai. Hier is ook hoofstukke in met resepte vir sop, ligte etes en bygeregte, vis en seekos, maalvleis, hoender, rooivleis, soetgoed en gebak.

Upcycling: Palette
Jason Kobrowisky
R210.00
ISBN: 9780799382822

Hierdie praktiese boek bied 33 selfdoenpaletprojekte waartydens die nederige palet omskep word in goedkoop, praktiese en ekovriendelike meubels, dekor, speelgoed, tuinprodukte en geskenkitems. Ons gebruik kreatiewe herwinning van afvalmateriaal of onbruikbare, ongewensde items, om nuwe produkte van waarde te skep.

Die boek is in volkleur met maklike stap-vir-stap-foto’s. Die moeilikheidsgraad van die produkte wissel, so die boek is ideaal vir beginners én selfdoen-entoesiaste met meer gevorderde vaardighede. Van die projekte sluit in: ’n wynrak, hangrak vir tuingereedskap, koffietafel, leunstoel, trousseaukis, boekrak, groenterakkie, fotoraam, planthouers, ’n speelgoedkombuis, -trollie, en -huisie.

Jong entrepreneurs kan van die produkte vervaardig en verkoop vir ekstra sakgeld.

Jason Kobrowisky is ’n gesoute meubelontwerper en skrynwerker met sy eie meubelfabriek in Johannesburg. Hout, en veral die herwinning van hout, lê hom na aan die hart, vandaar sy liefde om iets moois en nuuts uit afvalhout te skep.

Dagboek sonder grense
LAPA
R280.00
ISBN: 9780799384567

Dagboek sonder grense is ’n jaarbeplanner propvol inspirerende projekte. Dié pragtige hardebandpublikasie bevat ’n bladsy vir elke dag van die jaar en word nie aan ’n spesifieke jaar gekoppel nie. Elke dagblad bevat plek vir afsprake, notas, inkopielyste en ’n aanhaling deur een van LAPA se skrywers. Op verskillende plekke in die boek is volkleurafdelings. Dit pas baie mooi in ’n handsak en sal ’n baie oulike Kersgeskenk maak.

’n Keur uit LAPA Uitgewers se stal word in die boek ingesluit. Daar is iets vir almal: van hekel en brei, tot kosmaak en upcycling, doodle en woordspeletjies.

50 Blaaskansblokraaie 10
LAPA
R70.00
ISBN: 9780799382891

LAPA Uitgewers span saam met drie van Suid-Afrika se bekendste blokraaiverskaffers om die tiende boek in die 50 Blaaskansblokraaie-reeks bekend te stel teen ongeveer R1,50 per A4-blokraai.

Dugeot, Penpret en Xword verskaf al vir jare woordpret aan populêre gesinstydskrifte soos Taalgenoot, rooi rose en Vrouekeur. Nou bundel LAPA hulle werk saam om taalliefhebbers te vermaak, want elkeen van die verskaffers het ’n unieke stempel en só verseker die uitgewers dat woordvrate bladsy vir bladsy uitgedaag word. Elke bundel bestaan uit 50 woordraaisels wat taalliefhebbers sal uitdaag, laat kopkrap en hulle tone sal laat krul van lekkerkry.

Die eerste nege bundels is reeds bekendgestel en nog een 50 Blaaskansblokraaie.

Die blokraaie word verskaf in ’n maklik-hanteerbare A4-formaat, gekrambind met ’n sagtebandomslag om vashou, skryf en uitvee te vergemaklik. Teen R75,00 per kopie is die boeke met hulle 50 blokraaie ook uiters bekostigbaar.

Die oplossings word agter in die boek gepubliseer.

50 Blaaskansblokraaie bied aan woordraaiselliefhebbers die geleentheid om hulle skoene uit te skop, ’n koppie koffie te maak, ’n potlood op te tel en hulle gunstelingtydverdryf te beoefen.

In vandag se gejaagde samelewing is ’n blaaskans ’n noodsaaklikheid wat baie vir die produktiwiteit en die gesondheid beteken.

Vir die jonger leser

Kupido.com
Annabel Allers
Ouderdom: 13+
R150.00
ISBN: 9780799383829

Is jy gereed om die liefde van jou lewe te ontmoet?

Waarvoor wag jy? Sluit dadelik aan!

Léa kan dit nie help nie – die hoofseun, Philip Cronjé, laat haar hart tjoklits klop.

Philip is ’n regte Romeo. Hy het bruin oë, hy is slim en aantreklik… en hy het ’n meisie. Nie dat dit regtig saak maak nie, want Léa weet ’n ou soos Philip sal nie eens twee keer na ’n vaal, vervelige meisie soos sy kyk nie.

Maar dan skep haar beste vriendin, Kaylie, vir haar ’n vals profiel op Kupido.com, ’n kletskamer waar jy veronderstel is om die liefde van jou lewe te ontmoet. Kort voor lank is daar iemand wat met Léa wil gesels – Philip!

Daar is net een probleem: Die meisie op die profiel het rooi hare, sy is ’n bikinimodel in haar vrye tyd, en sy is baie avontuurlustiger as Léa.

Hoe lank sal Léa dit regkry om Philip te flous?

’n Snaakse, romantiese debuutroman vir tieners deur ’n opwindende jong, nuwe skrywerstem in Afrikaans!

Die leeutemmer se assistant
Solet Scheeres
Illustrasies: Marjorie van Heerden
Ouderdom: 9+
R150.00
ISBN: 9780799379143

Niks opwindends gebeur ooit op Kraaipan nie. Veral nie met Martjie wat in ’n eenvoudige huisie op die plaas Rietfontein net buite die dorp bly nie.

Toe Bertus Botha egter vir Martjie uitdaag om op die Mafikeng-trein te klim en te loer wat in een van die kratte is, begin ’n reuse-avontuur: Martjie beland pens en pootjies saam met ’n sirkusleeu op een van die trokke.

Sy leer ken die eksentrieke sirkusbase, Mister en Madame Pagel, en die ander artieste van Pagel se beroemde sirkus. Mister Pagel is die sterkste man in die wêreld en druk tydens die vertonings sy kop in ’n leeu se bek. Madame Pagel ry bank toe met ’n leeu langs haar in die motor.

Martjie-die-bywoner-se-dogter se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Hierdie opwindende verhaal is losweg geskoei op die geskiedenis van die Pagel-sirkus, wat in die vorige eeu alombekend was in Suid-Afrika.

Daar’s nie ’n krokodil in hierdie boek nie
Jaco Jacobs
Illustrasies: Chris Venter
R130.00
ISBN: 9780799383836

Maak nie saak hoe hard jy soek nie – daar’s nie ’n krokodil in hierdie boek nie. So sê die woorde. Die prentjies vertel ’n ander storie!

Daar is wel ’n mooi prinses, ’n dapper prins, ’n boontjierank, ’n reus, ’n ouma, ’n wolf, drie bere en ’n Goeie Fee. Maar ’n krokodil? Nooit! Dis wat die ouers sal lees, maar slim kabouters sal baie pret hê om die teendeel uit te wys!

In hierdie prettige, rymende prenteboekavontuur word die leser aan ’n klomp bekende en geliefde sprokieskarakters voorgestel – maar iets is nie heeltemal pluis nie… Waarom is Aspoestertjie se voet so skubberig terwyl die prins die glasskoentjie probeer aanpas? Hoekom lyk dit asof Gouelokkies ’n lang groen stert het terwyl sy by die Drie Bere se huis insluip om aan hul pap te proe? En waarom is Rooikappie se ouma se vel so groen en vol skubbe?

Die boek is ’n móét vir enige liefhebber van lees – veral as jy nie van krokodille hou nie!

Hoezit 13: Die wonderwêreld van seelewe
Jaco Jacobs en Fanie Viljoen
R80.00
ISBN: 9780799383645

Ontdek ons oseane met hierdie boek propvol feite en aktiwiteite! Maak van naderby kennis met van die vreemdste visse in die oseaan, verken die wonderwêreld van dolfyne, en ontmoet ’n paar van die gevaarlikste gediertes wat in die see bly!

Romanza
Robyn se ongetemde man
Dina Botha
R210.00
ISBN: 9780799385663

Robyn is ’n ontwerper. Sy is goed. Sy maak geld.

Robyn is mooi.

Philip wil haar hê. Sy pa is stinkryk. Is sy op hom verlief? Sy dink nie so nie. Maar ’n verbintenis tussen hulle sal die ideale sake-transaksie vir hul families se sakeryke wees.

Dan stap Connor met sy verbleikte jeans by haar kantoordeur in. Hy wil hê sy moet ’n ontmoeting met haar pa vir hom reël, en saam met hom gaan eet ook.

Eers toe Robyn nie daarin kan slaag om Connor by haar pa uit te bring nie, besef sy dat haar pa al die jare ’n geheim in hom dra, iets wat reëlreg bots met die etiek wat hy by Robyn en haar susters ingeprent het. Die gevoelens wat Robyn vir Connor begin ontwikkel het, is gewoon ’n onmoontlikheid, want hy blyk haar pa se aartsvyand te wees en sy wil ook nie haar pa geruïneer sien nie.

Toe gebeur die ondenkbare en haar lewe verander in ’n oogwink in die soort bestaan wat sy haar nooit eens sou kon voorstel nie.

Hart van ’n man
Madelein Stoltz
R85.00
ISBN: 9780799385632

Kiara weet feëverhale bestaan nie. Dít het sy aan vadersknie geleer. Daarom vermy sy mans soos die huislike Liam wat “vir altyd” beloof. Haar hart stem egter nie saam nie, want Liam maak vreemde verlangens in haar wakker. Is hy die een waarna sy onbewustelik soek?

Held in ’n voorskoot
Madelie Human
R85.00
ISBN: 9780799385540

Ron, die omroeper van die klassiekemusiekradiostasie se stem, is soos musiek vir Kate se ore. Wanneer sy hom in lewende lywe ontmoet, besef sy dat dit nie net sy stem is wat haar bekoor nie.

Reënmaker
Wilreza Smit-Theron
R85.00
ISBN: 9780799385571

In die hartjie van die Kgalagadi loop Kira hom raak – Melt, die meteoroloog met die goue hare en oë soos ’n leeu. Sal hierdie ‘reënmaker’ die droogte van haar hart kan opklaar?

Tussen seisoene
Karen de Villiers
R85.00
ISBN: 9780799385601

Die koms van die streekhoof, Rheeder, lewer net probleme vir Lente op. Vanaf die eerste oomblik sit hulle vas en hy het ’n probleem met alles wat sy doen. Is hy bloot moedswillig en lastig, of is daar ’n dieper rede vir sy optrede?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

In ’n wêreld vol onbekendes is daar een bekende: Afrikaans is Groot. Dis ’n saamkomplek omjou taal, jou kultuur en jou menswees te vier. En die jaar is geen uitsondering wanneer diegrootste familie-reünie nóg vanaf 8 to 17 November 2024 in die SunBet Arena in...

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar. Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest