Leesvordering:

Nuut by LAPA in April

Apr 12, 2018

Ons skop af met ’n baie goeie, erg kloustrofobiese riller. Gelukkig is daar puik kinderboeke en heerlike liefdesverhale om die spoke weg te jaag!

Fiksie

Kringloop

Bets Smith

978079937773

R265,00

Reine Duvenage word geteister. Die sluipjagter speel met haar, maak haar bang en geniet haar vrees. Sy soek hulp, maar ander lag vir haar.

Uiteindelik word sy wreed aangeval. Nou lag niemand meer nie, veral nie toe dit blyk dat die wreedaard moontlik steeds aktief is nie.

Hoe leef ’n vrou met die wete dat daar ’n man rondsluip wat beloof het om haar leed aan te doen? Hoe begin ’n mens oor?

Onder ’n vals naam probeer Reine weer, maar haar poging om anoniem te bly, word bemoeilik toe ’n aantal mans uit haar verlede onverwags in die dorp opdaag waar sy skool hou. Hoekom nou? Is daar ’n rede voor?

Toe die tekens van die sluiper se nabyheid weer al hoe duideliker word, moet Pieter Taljaard, die speurder, alles doen om dié keer nie die te fouteer nie, want almal weet dat Reine nie ’n tweede keer sal kan ontsnap nie.

Watter een van hierdie mans was dit wat haar laas aangeval het? Of staar sy al weer haar vrees in die gesig en nie die werklikheid nie?

Hierdie keer lag niemand vir haar nie, maar hoe kan sy beskerm word teen ’n gesiglose persoon wat aan niemand bekend is nie?

Kan Taljaard, ’n gewone, feilbare mens, die regte inligting kry uit die polisie se ewe feilbare stelsels?

Bets Smith skep opsetlik gewone mense. Ja, Reine is mooi, maar sy is ’n plaasmeisie soos baie ander wat deelneem aan kompetisies op universiteit. Die res van die karakters is mans en vroue wat ons ken, juis daarom is hierdie boek soveel meer kloustrofobies. Dit kan met enige een gebeur.

Smith het dalk té lank in ander se skaduwees beweeg, maar stil-stil het sy reeds meer as 100 000 Afrikaanse boeke verkoop. Hierdie boek wys dat sy met groot honde kan draf.

Bets is getroud met Pieter Smith en hulle bly in Witrivier, daarom is die laeveld van Mpumalanga so ’n belangrike ruimte is in haar boeke.

Kinderboeke 

Bak en brou

Ellie Snowdon

9780799384420

R130,00

Jan-Daniël is mal oor bak. Hy bak graag kaneelrolletjies, krummelrige brosbeskuit, karringmelk-koekies en sy gunsteling – sjokoladekoek. Daarom is Jan-Daniël baie opgewonde toe hy op ’n dag ’n uitnodiging kry om aan die Groot Hasie-bak-en-brou-kompetisie deel te neem.

Daar is net een probleem: Jan-Daniël is nie ’n hasie nie – hy is ’n wolf. Daarom besluit hy om hom te vermom en aan die kompetisie deel te neem. Eers lyk dit of Jan-Daniël die ander deelnemers ’n ding of twee gaan wys, maar dinge loop lelik skeef toe een van die deelnemers probeer kul. Dan kry Jan-Daniël egter hulp uit ’n onverwagse oord – en hy ontmoet boonop iemand wat net soveel soos hy van sjokoladekoek hou!

Kleuters sal hulle lippe aflek vir hierdie heerlike bak-en-brou-storie vol aksie, avontuur en smullekker sjokoladekoek!

Knip verf plak

Susie Brooks

9780799384215

R180,00

Hierdie pragtige handwerkboek wys jong kunstenaars hoe om vingerafdrukke, voetafdrukke en alledaagse dinge te gebruik om inspirerende, goedkoop en ekovriendelike kuns te maak.

Dit bevat ’n versameling eenvoudige en goedkoop, maar uitdagende, handwerkprojekte wat ideaal is vir ouers met min tyd en skole met ’n beperkte begroting. Die projekte bevorder boonop hergebruik en herwinning. Die boek is ryklik geïllustreer met stap-vir-stap-instruksies en fassinerende kunswerke. Elke aktiwiteit is eenvoudig en kan maklik toegepas word, en daarom gee dit jou jong kunstenaar se selfbeeld ook sommer ’n hupstoot!

Knip Verf Plak wys jou hoe om botteldoppie-ballonne, ’n stokkieseerower, diereboekmerke, borrelplastiek-dinosourusse en veel, veel meer te maak. Tegnieke sluit in drukwerk, stempelwerk en eenvoudige collages – wat op slim maniere gebruik word vir fantastiese resultate!

Dit is pret om mooi goed van weggooigoed te maak, so kom ons spring weg en maak kuns!

Slymboek: alles wat jy moet weet

Dorling Kindersley

9780799384499

R120,00

Afgryslik! Jig! Meer as 30 glibberige, glyerige, grillerige, kleurvolle resepte wat die jongklomp wys hoe om slym te maak!

Rek, trek, druk en speel met hierdie fantastiese, eenvoudige resepte wat van goedkoop, bekombare, veilige en alledaagse produkte gebruik maak.

Maak jou eie Monsterslym met oë binne-in, koes vir die uitbarsting van Vulkaanslym, en lek jou lippe af vir heerlike, eetbare Sjokoladeslym!

Al die projekte word met behulp van duidelike stap-vir-stap-foto’s verduidelik. Vind ook in die feitekassies meer uit oor die wetenskap agter jou slymerige skeppings, en eksperimenteer met verskillende variasies van die resepte.

So, waarvoor wag jy – begin maak jou eie slym!

Die liefde

As dit proe soos liefde

Didi Potgieter

9780799387803

R220,00

Lisa Steyn keer ná ses jaar terug Suid-Afrika toe.

Toe sy Tafelberg weer sien, is die herinnering aan die pyn wat sy destyds ervaar het, baie fel. Nie net liggaamlik ná haar ongeluk toe nie, maar ook emosioneel. Gelukkig lyk die prentjie nou anders. Sy is gereed om haar regmatige plek te eis. Haar wonde en hart het intussen genees. Londen het immers alles gebied wat sy nooit in Suid-Afrika gehad het nie. Sy het mense ontmoet wat nader as familie geword het. Sy is die skepper van ’n baie gewilde blog en het twee boeke uitgegee. Haar huis in Italië wag op haar, sodra haar sake op die De Villierse se wynplaas, Assordante, afgehandel is.

Lisa se aansoek, as versorger vir Carel en Johann de Villiers se pa wat ’n beroerte gehad het, is suksesvol. Sonder dat sy dit beplan het, verander dít die koers van haar lewe …

Liefdesreis

Susan Olivier

9780799387834

R220,00

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Susan Olivier se vorige Romanzas, Bod op ’n biljoenêr, Kylie se keuse en Verborge obsessie.

Bod op ’n biljoenêr: Agtien maande was nie lank genoeg om Nico te vergeet nie, dit besef Eva die oomblik toe sy hom weer sien, en skielik is sy glad nie meer seker dat sy van hom wil skei nie.

Kylie se keuse: Toe Kylie ná jare in die buiteland terugkom om haar pa se plek in sy maatskappy in te neem, sit Alex du Preez daar. En daar’s groot fout in die maatskappy. Is hy die skuldige, heuningmond en al?

Verborge obsessie: Ná al die jare is Michael Meskin terug, nou die wêreldbekende sakeman. Maar hy straf haar, asof Sonika die skuld dra vir sy swakheid van destyds, toe hy die omkoopgeld aanvaar en die pad gevat het, landuit.

Liefste verleidster

Elize Davies

9780799387650

R90,00

Annette raak verlief op haar ridder-bestuurder-fotograaf. Maar Markus het vroeg-vroeg al geleer dat hy op niemand kan staatmaak nie en sy emosies is stewig verskans agter ‘n ondeurdringbare muur.

Wat moet Annette doen om by sy hart uit te kom

Held in blou jeans

Madelie Human

9780799387681

R90,00

“Is hy ’n bleeksiel met ’n dikraambril?” vra sy haar Ma. Maar toe die diep stem agter haar antwoord, besef Riëtte dadelik haar fout, want Brett is allesbehalwe! Sy weet dié held in blou jeans gaan haar hart laat les opsê.

Liefde in ’n hangkas

Madelein Stoltz

9780799387711

R90,00

Danelle se droomman is romanties, aantreklik, het ’n warm geaardheid en goeie maniere. Dis beslis nie Nardus Duvenage nie, alhoewel hy toonkrul-lekker-soen. En die liefde steur hom nooit aan ’n lys nie, of hoe?

Haar sprokies-prins

Corné van Rooyen

9780799387742

R90,00

Belinda is oortuig dat liefde slegs vir sprokies bedoel is, nie vir doodgewone meisies soos sy nie. As haar hart net wil verstaan dat hul buurseun, Werner, iemand anders se prins is. Maar wanneer sy saam met hom is, ervaar sy ’n vreemde tintelende sensasie en woon daar skielik vlinders in haar maag.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Deur Alana Bailey Sommige mense vrees hulle, ander hou hulle as troeteldiere aan … hoe dit ook al sy, spinnekoppe bly merkwaardige kreature. Sover ons kon vasstel, is daar 71 spinnekopfamilies, 471 genera en meer as 2 000 spesies in Suid-Afrika bekend. Omdat hulle in...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest