Leesvordering:

Nuut by LAPA in Augustus

Aug 3, 2018

Ons het vandeesmaand vier spanningsboeke. Die grillerigste is Madelein Rust se Lam ter slagting. Dan is daar is daar ’n tienerroman, Weg, wat jou sal laat naels kou. Selfs ons SuperRomanza, Reis deur die hart, is ’n naelbytroman. En praat van naels: Raai wat gebeur as ’n dapper hasie en ’n baie bang beer ’n harige monster met kloue gaan soek in ’n bos? Boonop is daar ’n riller van ’n restaurant waar niemand sal wil eet nie! Dit is maar ’n enkele van ons heerlike boeke vir Augustus. Onthou ook: Ons Steinhoff-boek was binne een week nommer 1 in SA!

Fiksie

 

Lam ter slagting

Madelein Rust

9780799390063

R295,00

Vyf meisies is reeds gemartel en vermoor voordat Renata Malan en haar span deur die polisie gekontrakteer word om ’n nuwe geval te ondersoek. Elkeen is doelbewus geplant sodat dit ontdek móés word en die modus operandi laat geen twyfel dat dit ’n reeksmoorde is nie.

Die spoor is egter koud. Identifikasie is onmoontlik vanweë die slagoffers se gesigbeserings en dit maak slagofferprofilering onmoontlik, want hoe vang mens ’n moordenaar as jy nie weet wie die slagoffers is of waar hulle vermoor is nie? Die enigste ander leidraad is ’n belofte van nog ’n moord oor drie en dertig dae.

Toe ’n outistiese, forensiese beeldhouer in hegtenis geneem word, gaan rooi ligte aan vir Renata. Word iets toegesmeer? Speel die obskure Noagsgemeente dalk ’n rol? Tot watter mate sal die Vrymesselaars een van hulle lede beskerm? Wat weet Mistress Raven, die eienares van die kerker waarin sado-masochiste hul seksspeletjies beoefen? En wat sal die versteurde Chanté Naudé-Mulder nóg doen om Stefan deel van haar lewe te maak?

Lam ter slagting vertel ’n verhaal van korrupsie, mensehandel, geldwassery, bissare seks en ’n buitensporige magsdrang teen die agtergrond van die donker bedrywighede, ’n kultus en die geheimhouding eie aan die hoogste graad van Vrymesselary.

Die lot van die gewone lede van die SAP wat gekniehalter word in die uitvoering van hulle pligte deur hoëlui in die politiek en polisie word oortuigend weergegee.

Bloemfontein is nou eenmaal die teelaarde vir reeksmoordenaars, as ’n mens vir Madelein Rust moet glo! Sy het lank in Bloemfontein gebly en gebruik die straatplanne in haar kop om boeke op te baseer. Haar skrywersloopbaan skop af met die skryf van kortverhale, waarvan verskeie gepubliseer is. Rust se debuutroman, Die 13de kaart, is in Julie 2014 op die rakke, verskyn kort daarna op Nielsen se topverkoperlys en word benoem vir ’n ATKV-Woordveertjieprys vir Spanningsliteratuur. Haar drie daaropvolgende romans verkoop nog beter. Lam ter slagting is die vierde boek waarin doktor Renata Malan die hoofkarakter is, ’n profileerder met ’n donker verlede en ’n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim.

Rust is ’n meester in die skep van spanning met humor daarby en skryf heerlik loslittig.

Kinder- en Jeugboeke

 

Weg

Nerine Ahlers & Alet Steenkamp

13+

9780799388824

R170,00

Iets is baie verkeerd. Niekie word iewers in ’n vreemde bed wakker met kneusplekke aan haar gesig en kabelbinders wat in haar polse en enkels insny. By haar in die vertrek is ’n man. Iemand wat sy kort tevore ontmoet het. Hy noem haar sy prinses. Hy wil vir haar ’n storie vertel. Hy sê Niekie is sy prinses. Dit is deel van die storie. En, as die storie eers verby is, gaan hy vir haar ’n spesiale towerdrankie gee om haar te laat slaap. Vir altyd.

Terwyl haar ouers oorsee werk, bly Niekie in haar matriekjaar op haar eie in ’n woonstel in die stad. Kort nadat sy en haar kêrel, Zack, baklei het, verdwyn Niekie spoorloos. Die polisie is nie dadelik agterdogtig nie – Niekie het immers ietwat van ’n kunstenaarstemperament en het al voorheen, uit die bloute, saam met haar kunstenaaroom die pad gevat om te gaan skilder.

Zack begin al hoe meer bekommerd raak. Waarom het Niekie nie opgedaag vir hulle afspraak nie? Hoekom antwoord sy nie haar foon nie? Ignoreer sy hom dalk net omdat sy vies is vir hom? Maar toe Zack boonop haar woonstel verlate aantref, weet hy iets is verkeerd. Baie verkeerd. Terwyl die uurglas vir Niekie leegloop, probeer Zack en Niekie se vriende die vreemde spoor van leidrade volg wat hulle hopelik na haar ontvoerder sal lei, voor dit te laat is.

Hierdie naelbyt-spanningsverhaal sal lesers tot die laaste bladsy vasgenael hou.

Weg was ’n finalis in die LAPA-Jeugromankompetisie in 2017. Daar is min Afrikaanse spanningsverhale vir tieners op die mark, terwyl die genre wêreldwyd onder jonger lesers gewild raak. Hierdie boek vul dus ’n belangrike gaping in die mark.

Bang Beer

Steve Smallman

Illustrasies: Caroline Pedler

3+

9780799388725

R135,00

Ontmoet ’n dapper klein hasie… en ’n groot, bang beer!

Het jy geweet?

In die diep, donker woud woon die HARIGE OU GROTE!

Met skerp tande in sy bek en skerp kloue aan sy pote.

Sy kwaai oë sal jou laat ril en laat gril

en dit klink net soos donderweer wanneer hy brul!

Klein Ben is ’n dapper hasie. Hy hou BAIE van pret en avontuur, maar hy hou GLAD nie van bed toe gaan nie. Toe sy ma hom een aand voor slaaptyd vertel van die Harige Ou Grote met sy skerp tande en skerp kloue wat in die woud woon, besluit Klein Ben om in die donker buitentoe te sluip en hom te gaan soek!

In plaas van ’n groot, harige monster ontdek Klein Ben ’n beer in die woud. ’n Baie bang beer.

Sommer gou word klein Ben en die beer groot maats, maar sal die beer dapper genoeg wees om na die monster te help soek?

Bang Beer is ’n oulike, avontuurbelaaide storie oor vriendskap en hoe om jou vrese te oorkom.

Die swakste restaurant in die heelal en ander stories

Jaco Jacobs

Illustrasies: Dale Blankenaar

9+

9780799388817

R160,00

Kom eet by die Swakste Restaurant in die Heelal. Vind uit wat gebeur as jy met supergom aan die mooiste meisie in die skool vasgeplak word. Ontmoet die seun wat Arnold Schwarzenegger se springmielies geëet het. Gee vir tannie Breggie ’n ou soentjie – as jy dapper genoeg is!

Vind uit hoe ’n mens toonkonfyt maak. Of: ontdek hoe ’n bol kougom die wêreld kan red!

Jy kan kies om te giggel, gil, brul, proes, snork of skater van die lag met hierdie versameling skreeusnaakse stories uit die pen van die gewilde Jaco Jacobs. Die bundel kortverhale bevat tien stories wat geskryf is om jong lesers se lagspiere oortyd te laat werk.

Zackie Mostert Omnibus 1

Jaco Jacobs

Illustrasies: Alex van Houwelingen

9+

9780799389449

R150,00

LAPA bied nou vyf Zackie-avonture in een fantastiese omnibus! Ons het die boekies eers individueel uitgegee en hulle het ontsettend goed verkoop. Deur hulle in een te bundel, kan ons die prys drasties afbring.

Hoekom? Want, Granaatstraat is ’n straat nes enige ander straat. Wel, nie heeltemal nie. Dis immers die straat waarin Zackie Mostert woon. En waar Zackie is, is daar altyd volop pret, avontuur en kattekwaad!

Kinders is versot op Zackie se skreeusnaakse avonture. Of hy nou kulkunsies doen, spoke jag, probeer om ’n superheld te word of ’n plan moet maak om uit die skoolkonsert te kom – waar Zackie is, is daar altyd hope pret en kattekwaad.

Sedert die verskyning van die eerste Zackie-boek in 2010 het dié gewilde karaktertjie en sy maats hope pret en humor na die Afrikaanse kinderboekwêreld gebring, en duisende aanhangers gekry.

Word deel van die opwinding saam met Zackie, sy beste vriend, Vincent, sy hond, Frankenstein, die kwaai buurtannie, mevrou Langenhoven – en natuurlik Anton die skoolboelie wat gedurig moeilikheid maak!

Vir die heel eerste keer verskyn vyf van Zackie se lawwe avonture saam in een briljante, bekostigbare omnibus:

  1. Zackie Mostert en die ongelooflike kulkunsie
  2. Zackie Mostert en die (Byna) Baie Briljante Idee
  3. Zackie Mostert en die super-aaklige soen
  4. Zackie Mostert en die Gemaskerde Groen Gevaar
  5. Zackie Mostert en die spokerige storie

As die kat weg is…

Annette Herzog

Illustrasies: Pe Grigo

9+

9780799388831

R150,00

Ontmoet vir Aristoteles, ’n kat met hope houding! Aristoteles is ’n silwergrys mannetjieskat in die fleur van sy lewe en hy is baie mooi – hy reken immers self so. Anna en haar gesin dink gelukkig ook so. Altans, dis wat Aristoteles dink. Dit hou aan tot die dag toe hy uitvind Anna wil graag ’n hond vir haar verjaardag hê.

’n Hond! Watter verstandige agtjarige dogtertjie wil so ’n irriterende, keffende dierasie hê?

Aristoteles is vasbeslote dat dit nie gaan gebeur terwyl hy die kat in die huis is nie! Al wat hy hoef te doen, is om Anna te laat besef hoeveel hy vir haar beteken. Hy gaan wegloop om sy punt te bewys.

Ongelukkig is die lewe van ’n straatkat nie heeltemal wat Aristoteles verwag het nie.

Hierdie snaakse, avontuurbelaaide storie word uit die perspektief van Aristoteles die kat vertel. Dit is briljant deur die veelbekroonde Kobus Geldenhuys uit die oorspronklike Duits vertaal.

Die leeu wat drukkies gee en ander ware dierestories

Wendy Maartens

Illustrasies: Alex van Houwelingen

7+

9780799389272

R115,00

Ontmoet ’n paar dapper en interessante diere van regoor die wêreld. Hierdie boek bevat ses asemrowende ware dierestories. Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak.

  1. Die leeu wat drukkies kon gee

Twee vriende koop ’n leeuwelpie in ’n afdelingswinkel in Londen – maar kort voor lank word hy ’n groot maanhaarmannetjie! Hulle besluit om hom in Afrika te hervestig, en jare later steel hy die wêreld se harte.

  1. Salty en die Twin Towers

Op 11 September 2001 het terroriste die Wêreldhandelsentrum in Amerika aangeval. Salty is een van die hondehelde van daardie verskriklike dag.

  1. Humphrey die walvis verdwaal

Toe Humphrey die boggelrugwalvis in ’n rivier beland, werk ’n hele span mense saam om hom te red.

  1. ’n Hond soos Knersus

Knersus is ’n bielie van ’n brak – wat op ’n dag twee skelms groot laat skrik het!

  1. ’n Perd met tekkies

Almal weet gidshonde kan blinde mense help. Maar het jy al van ’n gidsponie gehoor?

  1. O, die liewe Lulu

Lulu die boepensvarkie het ’n heldin geword – sy het hulp ontbied nadat haar eienaar ’n hartaanval gehad het!

Ek en my ouma

Alison Ritchie

Illustrasies: Alison Edgson

3+

9780799388732

R135,00

Deel in spesiale avonture saam met ’n spesiale ouma!

Ek en my ouma

is reg vir die dag.

Daar is hope avonture

wat op ons wag!

Beertjie verken graag die wêreld saam met sy ouma. Hulle klim saam boom, plas in waterpoele rond en vang vis. Dit is soveel pret dat Beertjie wens die dag kan sommer vir ewig aanhou! Maar ’n lekker stywe slaaptyddrukkie van Ouma is die perfekte manier om die opwindende dag af te sluit. Dit is vir almal wonderlik en prettig om ’n liefdevolle ouma in jou lewe te hê!

Hoe om ’n haas te vang

Claire Freedman

Illustrasies: Monika Filipina

3+

9780799389548

R135,00

G’n haas behoort weg te kom nie, want hierdie lekkerlag-avontuur is geskryf deur niemand anders nie as die beroemde, Nare Ou Wolf!

Vir honger wolwe is dié boek ’n wenner,

en dit is boonop geskryf deur ’n kenner!

Hou jy van haasbredie en haaspastei?

Kom leer hoe om ’n haas in die hande te kry!

Ja. Beroemd. Berug. Noem dit wat jy wil. Hierdie boek is geskryf deur ’n kenner, niemand anders nie as die beroemde Nare Ou Wolf. Dus, as jy ’n haas wil vang, is dit ’n fantastiese gids propvol wen-wenke! Lek gerus solank jou lippe af vir ’n sappige happie haas!

Onthou net: hou jou oë oop vir bere, bonsende vere met ’n bietjie te veel veerkrag, en natuurlik jou eie strikke…

Sizwe spring

Teks & Illustrasies: Gaia Cornwall

3+

9780799389487

R140,00

Sizwe is beslis gereed om van die duikplank af te spring. Sy swemlesse is agter die rug, hy het sy swemtoets met vlieënde vaandels geslaag, en hy kan spring soos min, so hy is glad nie bang nie.

“Dit lyk maklik,” sê Sizwe terwyl hy kyk hoe die ander kinders beurte maak op die duikplank. Maar toe Pappa sy hand ’n drukkie gee, druk hy terug. Hy moet buitendien eers besluit watter spesiale soort sprong hy gaan gee, en hy moet darem seker eers ’n paar strekoefeninge doen voordat hy op die duikplank klim…

In hierdie wonderlike storie oor hoe om jou vrese te bowe te kom, vang Gaia Cornwall ’n roerende oomblik vas tussen ’n geduldige en aanmoedigende pa en ’n vasberade seuntjie wat sommer dadelik jou hart sal steel.

Reënboogrant Maats Omnibus 2

Maritha Snyman

9+

9780799389494

R205,00

Kom deel in die lekkerste tye van Shani en Sunette se lewe – die Reënboogrant-jare!

Een van die gewildste Afrikaanse reekse is nou in ’n omnibus beskikbaar. In die Reënboogrant Maats-boeke is Shani-hulle op laerskool, en hulle beleef allerlei opwindende avonture – van ’n geheimsinnige hanswors wat sy verskyning tydens ’n skooluitstappie maak, tot ’n wetenskap-ekspo wat lelik skeefloop.

Hierdie omnibus bevat die volgende drie titels uit dié gewilde reeks:

  • ’n Nag van angs
  • Die hanswors
  • Teddie se geheim

Reënboogrant Tieners Omnibus 2

Louise van Niekerk

13+

9780799389500

R200,00

Die tweede omnibus met verhale uit hierdie gewilde reeks is nou beskikbaar. Kom deel in die opwinding, pret, liefdesteleurstellings, partytjies, kêrels en ander uitdagings van grootword.

Die reeks het al duisende jongmense bekoor. Daarom gee ons dit nou weer met ’n vars, nuwe aanslag uit as omnibusse.

Hierdie omnibus bevat drie titels uit dié gewilde reeks:

  • Drome en dramas
  • Hartebreker
  • Anderkant die reënboog

Romanza

Reis deur die hart

Leandra Naudé

9780799390094

R225.00

Arriana, ’n maatskaplike werker, brand uit. Haar ure is te veel en sy is moeg om die heeltyd met volwassenes en kinders se probleme te doene te kry. Teen die einde van ’n uitmergelende vergadering met die maatskaplike bestuur in die gemeenskap waar sy werk, bedank sy op die ingewing van die oomblik.

’n Vriend reël vir haar werk in Mauritius as ’n kroegdame/kelnerin by ’n eksklusiewe hotel in Mauritius, en binne maande word haar lewe handomkeer verander.

Sy ontmoet die enigmatiese biljoenêr-Ier Finnigian O’Reilly wat met sy sjarme en persoonlikheid haar hart kort voor lank in die palm van sy hand hou. Hy, aan die ander kant, is nie onaangeraak deur Arriana se plat-op-die-aarde-persoonlikheid nie.

Alles is egter nie pluis op die eiland nie. Jong meisies raak die een na die ander weg, en toe Arriana ook ontvoer word, word ’n nes van mensehandel oopgeruk. Gaan Finnigan, die plaaslike polisie en Interpol betyds wees om Arriana en die jong meisies se lot te keer?

Wat maak die boek anders?

  • Die storielyn bevat liefde vermeng met spanning.
  • Die heldin is nie perfek nie – sy is ’n driehoekblokkie wat in ’n ronde gaatjie moet pas.

’n Storieboekromanse

Dina Botha

9780799389906

R90.00

Juliette sien daarna uit om ’n onderhoud met die bekende liefdesverhaalskrywer Alice Beechman te voer, maar dan besef sy Alice Beechman is eintlik die skuilnaam van ’n man. ’n Baie aantreklike man …

Hoe om ’n hart te wen

Didi Potgieter

9780799389937

R90.00

Janke was van altyd af verlief op haar grootwordmaatjie, Louw. Maar nou is Louw verloof en hy trou binnekort. Janke en Henry gaan voorgee dat hulle ’n paartjie is om Louw jaloers te maak en sy oë oop te maak, maar hulle nou nie rekening met Kupido se streke nie.

Lang pad na liefde

Cynthia Robertson

9780799389968

R90.00

In Troosbosbaai by haar Ouma Saar wil Pascale haar stukkende lewe regmaak, haar wonde lek terwyl sy deur haar egskeiding gaan. Juis daarom is dit so vreemd dat God hierdie tyd kies om die Ierse biker, Callum Moriarty, oor haar pad te stuur. Lang pad na liefde is ’n Christelike inspirasieromanse. God is die derde “karakter” in die verhaal.

Langtermynafspraak

Bep du Toit

97807993899999

R90.00

Rika sal die verwende man van die restaurant ’n ding of twee wys. Sy haar gaan mojo terugkry en dan moet hy haar op die beloofde afspraak neem. Maar vinnig koester sy meer as net wraakgevoelens teenoor Maarten …

Nuwe drome

Cecilia Nortjé

9780799390124

R225.00

Cecilia Nortjé is bekend vir die diepte in haar romanses, en die eg menslike verhoudings tussen die karakters. Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Cecilia se vorige Romanzas, Die weddenskap, Toekomsbelofte en Net ’n stukkie papier.

Die weddenskap:

Sy’s uit die staanspoor teë op Bret de Koning. Hy’s ryk, báie ryk. En Sam kén rykes. Sy’t haar stel met hulle deeglik afgetrap. Teen haar sin doen sy die smeeysterwerk vir die restourasie van Koningskop. Sy’t die geld dringend nodig, maar nie Bret se onuitstaanbare inmenging nie.

Toe hy met die belaglike weddenskap vorendag kom, laat sy haar intrek, uit pure hardkoppigheid. As hy haar wil oortuig van die voordele van geld, sal hy moet mooi dink. ’n Besoek aan ’n eksotiese eiland sal haar nie oortuig nie.

Toekomsbelofte:

Katja hoef nie daarvan oortuig te word dat sy die vurige maar jonger Isao liefhet nie. Wat sy nie weet nie, is of die vyf jaar ouderdomsverskil tussen hulle ’n gesamentlike toekoms onmoontlik maak. Ja, en hoe gemaak met die groenoogmonster op haar skouer? Sy weet immers wat ’n mooi jong meisie aan haar eksman gedoen het.

Vir eers moet Katja in elk geval konsentreer op die nuwe klerereeks wat sy op die mark bring. Gelukkig is sukses iets wat soet op die tong lê. Maar o, daardie man wat sê hoe lief hy haar het…

Net ’n stukkie papier:

Pippa kan nie glo sy het uiteindelik ’n vaste werk as spabestuurder by ’n luukse oord nie. Uiteindelik kan sy as alleenma vir haar seuntjie sorg. Maar haar droom eindig toe sy besef die oord se eienaar is die man wat vyf jaar gelede soos ’n groot speld verdwyn het met haar casinogeld in sy rekening en haar hart in sy hande. Nee, sy wil hom beslis nie terughê nie. Sy wil net haar geld terughê en haar werk behou. Maar hoekom verafsku sy hom nie? Hy is immers ’n deurtrapte skelm. Eienaardig dat hy haar met soveel afsku bejeën – sy was immers nie die een wat verdwyn het nie?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest