Leesvordering:

Nuut by LAPA in Junie

Jun 6, 2018

Speurders, geraamtes, kinderhelde, donkies, ’n rofstoeier, ’n president en ’n gorilla – dit is maar ’n klein deeltjie van wat ons in Junie aan julle bied.

Fiksie

Doodsake op Karibib

Isa Konrad

Krimi

9780799388015

R265,00

Inspekteur Conrad Dorfling is terug! Isa Konrad laat die sonderlinge speurder van Karibib, Conrad Dorfling, weer krap waar daar ’n lyk is.

Sommer gou-gou ontdek Dorfling twee goed, nee drie:

  • Die lyk is oud. Dit gaan moeite kos om uit te vind wat aangaan.
  • Alet Gouws is terug in Karibib. Hoekom weet hy nie, maar hy is nie seker dat dit goeie nuus is nie, want …
  • die hele polisiestasie weet skynbaar reeds van sy en Alet se afskeidsoen …

Conrad weet nie wie se lyk dit is nie, maar hy is dankbaar dat dit ’n geraamte is, ʼn doodloopsaak dus. Hy kan nie twee moorde in twee weke onder sy neus laat gebeur nie. Boonop krap Alet se teenwoordigheid hom om. Hy het regtig gedink daardie soen was vaarwel. Sy is ’n mooi vrou en Con se vorige huwelik het rampspoedige gevolge gehad. Hy is bang, want hoekom het sy skielik teruggekom Karibib toe?

Intussen warm sy doodloopsaak op. Binnekort is hulle op soek na ’n tweede lyk, en binne in sy eie lyf bewe die geraamtes in hulle kaste.

Doodsake op Karibib volg op Moord op Karibib. Doodsake op Karibib word uit die manlike hoofkarakter, Dorfling, se perspektief aangebied. Dorfling is lieflike, onbeholpe karakter met ’n goeie hart. Daar is iets van Sally Andrews se “Detective Kannemeyer” te bespeur, maar Dorfling ontwikkel in ’n unieke, Namibiese speurder.

Konrad se fyn waarnemingsvermoë en lekker sin vir humor, asook haar deerniswekkende karakters, sorg vir ’n opkrullekkerboek. Nie te veel bloed nie. Net genoeg spanning en hope menslikheid, soos styfgeklitste room, bo-op.

 

Niefiksie 

Grootdrukblokraai 1

Ollie Olwagen

Blokraai

9780799371604

R90,00

Lang arms is vir dans gemaak. Dis egter ’n ou, bekende gevoel: Jy brand om jou blokkiesraaisel in te vul, maar kan om die dood nie uitmaak wat in daardie blokkies staan nie, maak nie saak hoe ver of hoe naby jy die boek hou nie! Hier is nou uiteindelik ’n oplossing, en dit het niks met ’n bril uit te waai nie: Ons eerste grootdrukblokraaiboek!

Grootdrukblokraai is ’n bielie van ’n blokraaibundel. Dit bevat al die heerlike bestanddele van jou gunsteling-blokraaiboeke, behalwe vir een ding: Elke blokraai en elke leidraad is twee keer so groot! Nou kan jy die blokraaie met gemak lees en invul sonder om jou oë te vermoei. Dalk doen jy dit nog sonder jou bril!

Die boek bestaan uit 27 woordraaisels wat jou brein sal laat uitdaag, maar nooit jou oë nie.

As jy steeds jou arms wil strek, gryp iemand om mee te dans.

Die boek kos minder as R100, maar sal ure se vermaak verskaf. Dit is dus goeie waarde vir geld.

Max die dapper gorilla en ander ware dierestories

Wendy Maartens

Illustrasies: Alex van Houwelingen

Ouderdom: 7+

9780799384505

R110,00

Ontmoet ’n paar dapper en interessante diere van regoor die wêreld! Vind uit hoe Max die dapper gorilla van die Johannesburgse Dieretuin dit reggekry het om ’n skurk vas te trek, reis meer as 1 600 kilometer ver saam met Huberta die seekoei wat besluit het om die land te verken, en ontmoet ’n oulike vlermuis wat deur ’n mens-mamma grootgemaak is! Hierdie boek bevat ses wonderlike ware dierestories:

  1. Max die gorilla vang ’n skelm
  2. Huberta die seekoei stap suid
  3. Noodle leer om ’n vlermuis te wees
  4. Kees kry lus vir koek
  5. Zhu, die sterk Chinese vark
  6. ’n Beer word soldaat

Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak!

Helde Van Suid-Afrika 1

Wendy Maartens

Illustrasies: Alex van Houwelingen

Niefiksie vir beginnerlesers

Ouderdom: 7+

9780799388565

R125,00

Ontmoet van die dapperste Suid-Afrikaanse helde! Hierdie boek bevat ses heldeverhale wat beginnerlesers maklik self kan baasraak.

Ontdek die ongelooflike verhaal van oudpresident Nelson Mandela wat ná 27 jaar in die tronk ons reënboognasie na vryheid gelei het; lees hoe Wolraad Woltemade en sy perd tydens ’n storm die see ingeswem het om die matrose van ’n sinkende skip te red; en ontmoet ’n dapper jong seun wat in die Anglo-Boereoorlog geweier het om sy mense te verraai.

Hierdie boek bevat ses verstommende ware heldeverhale:

  1. ’n Perd van ’n ander kleur
  2. Die matriekheld van Henley-on-Klip
  3. Nelson Mandela, ’n leier so na ons hart
  4. Nkosi Johnson veg vir hoop
  5. Wolraad Woltemade, ’n melkboer met durf
  6. Japie Greyling swyg

Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak!

Hoezit! Die wonderwêreld van die ruimte

Jaco Jacobs & Fanie Viljoen

Niefiksie vir kinders

Ouderdom 7+

9780799388787

R80,00

Meer as tweeduisend jaar gelede het iemand ’n bekende gedig oor die sterre geskryf. Daardie verwondering is steeds met ons, al weet ons vandag soveel meer as die digter wat Psalm 8 geskryf het.

Waaruit bestaan Saturnus se ringe?

Wat doen ruimtevaarders alles op ’n ruimtestasie?

Waarom word Mars die rooi planeet genoem?

Hoe word sterre gevorm?

Ontdek die ruimte met hierdie boek propvol prettige feite en aktiwiteite! Daar is 48 bladsye vol fassinerende feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy sterrestelsels kan verken. Hierdie boek gaan jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry!

Vind uit hoe die nuutste ruimteteleskope werk, ontdek wat alles onder die aarde se oppervlak gebeur, soek saam na lewe in die buitenste ruimte, en leer meer oor ons naaste ster, die Son.

Die temas en aktiwiteite wat deel is van hierdie reeks, maak hierdie boeke die perfekte hulpbron vir skoolprojekte en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis.\

Stories

Speelmaats-reeks

Rosie Greening

Illustrasies: Dawn Machell

Ouderdom: 3+

Krokodil is kwaad: 9780799388596

Skaap is bang: 9780799388602

Eekhoring is hartseer: 9780799388619

Seekoei is gelukkig: 9780799388626

Beer leer om te deel: 9780799388633

Hamster leer om te help: 9780799388640

Katjie leer om te luister: 9780799388657

Hondjie leer goeie maniere: 9780799388664

R55,00 elk

Almal het soms ’n af dag. Hierdie oulike reeks boeke is ontwerp om kinders meer oor emosies en sosiale vaardighede te leer. Elke storie fokus op en verken ’n spesifieke emosie of sosiale vaardigheid. Die stories is in eenvoudige, verstaanbare taal geskryf, en die pragtige illustrasies sal kinders boei en vermaak terwyl hulle lees. Agterin elke boek is vrae oor die storie. Dit gee volwassenes die geleentheid om die aangeleenthede te bespreek wat in elke boek aangeraak word, en op die tema voort te bou.

As konsultante vir hierdie reeks, het Alison Walker en Sarah Davis advies oor alle aspekte van die teks en illustrasies gegee. Walker (B.Ed) is ’n kleuterskoolonderwyser met meer as 20 jaar ondervinding in preprimêre onderwys vir kinders tussen twee en vier jaar oud. Sy lei ook verskeie opvoedkundige groepe, wat wissel van kleuters tot kinders jonger as vyf jaar. Davis (B.A. Hons, M.A.) is ’n ervare skrywer en redakteur van kinderfiksie en niefiksie, met ’n M.A. in Geïntegreerde Kinder- en Adolessentterapie.

404 redes om te lag!

101 Dieregrappe: 9780799389586

101 Klop-klop-grappe: 9780799389593

101 Lawwe grappe: 9780799389609

101 Pousegrappe: 9780799389616

Jaco Jacobs

Ouderdom: 7+

24 bladsye elk

R35,00 elk

Kom lag jou slap vir die lawwe grappies in hierdie fantastiese nuwe reeks grapboeke vir kinders! Elke boek bevat ’n volle 101 grappe waarmee jy jou maats kan laat lê van die lag. Daar is klop-klop-grappe, grappe oor olifante, erdvarke, koeie en ander snaakse diere, skaterlag-skoolgrappe en ’n hele klomp grappe wat sommer net heeltemal verspot is!

Wat is geel en rond en jaag bo-oor ’n rooi lig? ’n Suurlemoen sonder brieke.

Wat is die beste manier om ’n apie te vang? Klim in ’n boom en maak ’n geluid soos ’n piesang.

Wat kan erdvarke kry wat geen ander dier op aarde kan kry nie? Baba-erdvarkies.

Wat is geel en het vier wiele? ’n Piesang. Jammer, ek het gejok oor die wiele.

Klop-klop. Wie’s daar? ’n Bazoeka. ’n Bazoeka wie? ’n Bazoeka uit die buitenste ruimte!

Max die Masjien

Jaco Jacobs

Illustrasies: Stephen Wallace

Ouderdom: 9+

9780799388589

R130,00

Zander het nog nooit tevore iets gewen nie. Daarom is hy heeltemal uit die veld geslaan toe hy die groot prys in ’n kompetisie wen: ’n regte egte … ROFSTOEIER!

Die stoeier se naam is Max die Masjien. Hy is rof en onbeskof. Hy het nie hare nie. Hy het nie ’n nek nie. Maar hy het spiere. Sy spiere het spiere. Sy spiere se spiere het spiere. Bo-op al daardie spiere het hy ’n tatoe. Hy is Zander se persoonlike lyfwag! Vir ’n hele week lank sal hy Zander se persoonlike lyfwag wees!

Zander se tweelingboeties dink dit is die heel beste ding wat nog OOIT met hulle gebeur het. Maar Zander is nie heeltemal seker wat op aarde hy met Max moet doen nie. Niemand anders het nog ooit ’n rofstoeier as lyfwag saamgebring skool toe nie.

Miskien kan Max hom help om vir Wynand Wiese op sy plek te sit. Dalk kan hy hom in sy spesiale Soebat-en-smeek-greep beetkry en hom druk tot sy oë wil uitpop. Wynand het blonde hare en blou oë, en hy lyk so onskuldig soos ’n seuntjie in ’n waspoeier-advertensie. Maar hy is ’n regte boelie. Die soort wat nie eens vir ’n rofstoeier skrik nie.

Ongelukkig loop dinge by die skool lelik skeef.

Max het boonop ’n geheim van sy eie … Kom klim in die kryt saam met Max die rofstoeier. Of, nog beter, kom saam skool toe ek kyk wat gebeur wanneer ’n rofstoeier op die skoolbankie moet sit.

Agent Snoet: 5 in 1

François Bloemhof

Illustrasies: Alistair Ackermann

Kategorie: Strokiesprente

Ouderdom: 9+

9780799388572

R250,00

Al die spannende strokiesprente is nou almal in een!

Sy naam is Snoet. Agent James Snoet. Hy is ’n speurder. Klink gevaarlik, nie waar nie?

Wel, moenie vir die mensdom vertel nie, maar James is baie vergeetagtig. Die meesterbrein agter Snoet se suksesse, is Felino.

Ja, niemand anders nie as sy kat, Felino. Dié slim Siamees is ’n katjie wat jy nie sonder handskoene moet aanpak nie. Hy mag nou wel reeds agt van sy nege lewens verloor het, maar Felino skrik vir net mooi niks!

Saam het dié gedugte speurderspan al die geheim agter die verdwyning van die kosbare Botterdiamant ontrafel, ’n gevaarlike wapen genaamd die Genugtig uit gevaarlike skurke se kloue teruggekry en ’n BBH (Baie Belangrike Hond) se lewe beskerm.

Vir die eerste keer verskyn al vyf boeke in dié fantastiese strokiesreeks nou saam in een boek:

  • Agent Snoet en die Botterdiamant
  • Agent Snoet en die Kattekwaad
  • Agent Snoet en die Hondelewe
  • Agent Snoet en die Groen Genugtig
  • Agent snoet en die Windlawaai

Met hierdie reeks doen François Bloemhof en Alistair Ackermann baanbrekerswerk om eg Afrikaanse strokiesboeke vir kinders te skep. Die Agent Snoet-reeks is uiters gewild. Van die enkeltitels in hierdie reeks is meer as 42 200 kopieë verkoop.

Romanza

Geliefde Rebel

Frenette van Wyk

9780799388046

R225,00

’n Donkie is ’n wonderlike ding! Malaika bestuur ’n donkierehabilitasiesentrum op die plaas Salem in die Beaufort Wes-distrik. Sy huur die plaas van oom Michiel Steyn, wie se dogter, Heloise, saam met haar op skool was.

By ’n vriendin se troue ontmoet sy weer vir Baron op wie sy tien jaar gelede verlief was. Intussen word Heloise die eienares van Salem en sy begin haar neus indruk in Malaika se rehabilitasiesentrum. Baron besoek Malaika gereeld op die plaas – hy neem selfs een van die verwaarloosde donkies, Psalm aan, en haar gevoelens vir hom groei. Dit lyk egter vir haar asof Baron en Heloise hulle verhouding van skooldae hervat het. Heloise raak jaloers en besluit om die plaas aan Baron te verkoop vir die ontwikkeling van ’n gasteplaas.

Malaika se vriend, Wayne vra haar om te trou, maar dan sal sy Kaap toe moet verhuis en haar rehabilitasiesentrum asook haar donkies moet prysgee. Nou moet sy kies of sy kans sien om heeltyd in Baron en Heloise vas te kyk om by haar donkies te kan bly, en of sy met Wayne gaan trou en weggaan?

Die titel is opsetlik dubbelsinnig – Rebel is die leierdonkie se naam vir wie die heldin, Malaika baie lief is, maar dis ook wat die held, Baron, Malaika soms noem.

Watter Rebel gaan wen? Kan albei wen? Geliefde Rebel is halsstarrige, lieflike boek in ’n unieke omgewig, en is Frenette van Wyk se tweede SuperRomanza en twee en twintigste publikasie.

Onvergeetlike oomblikke

Dina Botha

416 bladsye

9780799388077

R225,00

Dit is Dina Botha se eerste omnibus! Dina Botha is een van die suksesvolste skrywers in Afrikaans. Sedert Februarie 2013 was Dina Botha 192 keer op Nielsen Bookscan se Top100 vir fiksieverkope.

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van haar vorige Romanzas, Sy rooikopbaas, Liefste Willemientjie en Liefdeskrale.

Sy rooikopbaas: Voor Sandra haar oë uitvee, sit sy met ’n manlike “sekretaresse” – Ryk Willemse. Maar haar firma word skielik bedreig, Oumsie soek verbete vir haar ’n man, en sy begin wonder: Is sy ’n verstokte oujongnooi, mannetjiesagtig, ’n rooikopheks?

Liefste Willemientjie: Wilmien het lankal vergeet om aan haarself te dink. Ná haar ouers se dood moet sý sorg, voog van haar vyf broers en suster wees, boer – al maak Rhys du Randt weer die vrou in haar wakker.

Liefdeskrale: Platsak moet rykmansdogter Esté oorleef, haarself bewys. Sonder haar ontwerpersklere, -skoene, sportmotor. Schalk Brink word haar baas, ’n man wat vroue vir brekfis opeet. En Esté moet net keer. Sy vlam mag haar nie ook skroei nie.

Ballerina en die lummel

Bets Smith

9780799389128

R90,00

Ballet is alles in Karmi Schoeman se lewe. Plek vir mans is daar nie, veral nie getroude mans met dwalende oë nie. Dat die lummel van ’n Jaco Liebenberg haar interesseer, krap net haar planne deurmekaar.

Alice se Ierse sprokie

René van Zyl

9780799389159

R90,00

Toe ’n sesjarige tweeling by die kleuterskool inskryf, raak Alice dadelik op hulle verlief. Die wewenaar-pa, Sean O’Connor, wat lyk soos ʼn beneukte Viking-afstammeling, is egter die probleem. Hy en sy perfekte aanstaande glo slegs aan die harde realiteit en nie in Alice se sprokies nie.

Kaalvoetnooi

Corné van Rooyen

9780799387957

R90,00

Elzani het nie net koffie op Xander se hemp gemors nie, maar ook sy motor gestamp en sowaar, hier staan hy ’n derde keer voor haar. Dié keer dreig sy hom met ’n mes. Met drie “ongelukke” agter die rug, kan hulle dalk nou uiteindelik op die liefde fokus?

Lisa se hartsgeheim

Lizelle von Wielligh

9780799387988

R90,00

Lisa oortree die belangrikste vereiste van haar skynverhouding met Roodt − sy raak verlief, en later lief vir hom. Hul skynhuwelik is haar ouers se reddingsboei, dus bêre sy haar liefde weg. Maar Roodt begin ook sy eie reëls verbreek. Lizelle von Wielligh is ’n debuutskrywer.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Onderneming in die Kollig: Ipixel web & graphic solutions

Hierdie week se kollig is op Ipixel web & graphic solutions in Nieu-Seeland. Ipixel web & graphic solutions is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om...

’n Netwerk wat vir jou werk

’n Netwerk wat vir jou werk

Deur Sue-Ann de Wet Die belangrikheid van ’n ondersteunende netwerk kan nie onderskat word nie. Die bou van ’n netwerk in ’n nuwe land gaan oor meer as net sake doen of werk soek; dit gaan ook oor die skep van ’n ondersteuningsbasis wat jou kan help om die gevoel van...

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?

Kyk die ouer garde van ander lande jou snaaks aan as jy nog na hulle as “Oom” en “Tannie” verwys? Langarmsokkie julle nog in die sitkamer op Afrikaanse sokkietreffers? Ons kultuur is meer as net melktert en braaivleis. Wat is daardie klein gewoontes wat jy net...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest