Leesvordering:

Nuut by LAPA in Novemeber

Nov 9, 2017

Hans du Plessis (Drie vroue en ’n meisie) lewer ’n uiters aktuele, maar baie leesbare boek met verskeie leesvlakke, terwyl Peet Venter se angswekkende fiksie (Brand) klink of dit uit die koerant kan kom.

Ons kinderboeke is woelig so voor die Kersseisoen en natuurlik het ons wonderlike Romanza’s. Kyk veral na Elsa Winckler se Bewustelik joune.

Fiksie

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis
Fiksie
ISBN: 9780799386110
R270.00

“Ek het vir prof ’n storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan.

Wat volg is soms lig en sexy, maar dié roman belig te gelyke tyd die afgryslike armoede van wit en swart Suid-Afrikaners, asook die klasbeheptheid van die vroeë Afrikanerelite.

Hans du Plessis het die vermoë om die leser te tart met heerlik speelse inligting, net om jou daarna weer bloot te stel aan die ellende van hulle wat nie het nie.

Ons leef nou, in die een-en-twintigste eeu, weer in ’n fase waar die politieke elite hulle vergryp aan die duurste en die beste terwyl die armes gewoon van honger sterf. Du Plessis hou ’n spieël na die verlede op en wys hoe eenders dit was toe die vorige heersersklas net vir hulself gesorg het en niks vir ander omgegee het nie.

Die einde bring hoop en daar is beeldskone verhale ook in die boek, maar uiteindelik is Drie vroue en ’n meisie ’n roman wat ’n diep seer blootlê en geen pleisters vir die wonde bied nie. Armoede se pyn en die elite se argwaan is skynbaar universeel.

Die ingrepe van die kerk en die staat se maatskaplike werkers bring uiteindelik verligting.

Drie vroue en ’n meisie vertel die saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop, wat byna reeds uitgewerk is, begin. Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan ’t sterwe; maar die hoop bly, die hoop bly. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees.

Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een.

Die roman toon sterk ooreenkomste met JM Coetzee se Disgrace, hoewel die storie gans anders is; daar is ook iets van Herman Charles Bosman te bespeur.

Die Blondine? Hans sê hy wens ook die storie van mooie Katryn en die ou prof is dalk die reine waarheid. Hoekom dan nie? Hy is mos ’n prof wat fiksie opmaak.

Brand
Peet Venter
Politieke riller
ISBN: 9780799386141
R270.00

Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand.

Sagte kolonisasie, noem party mens dit. Staatskaping noem die media dit.

Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Kort daarna word hy deur internasionale agentskappe genader om te help, want ons korrupte president speel in die hand van buitelandse moondhede met imperialistiese ambisies. Die tentakels daarvan is al so diep in die struktuur van mense in sleutelposte, dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie.

Die diknekke word ryker. Die armes krepeer.

Die prez weet sy einde is naby. Hy soek ’n rede om ’n noodtoestand af te kondig.

Thys se speurwerk kom of ’n afgryslike ontdekking af… Hy vermoed traangas word gedokter met dwelms om mense heeltemal berserk te maak. Is mieliepap, die stapel van die armes, volgende?

Brand is ʼn donker, skokkende verhaal, veral op emosionele vlak. Venter het min genade vir sy leser. Dié boek bied oplossings, maar nie spookasemeindes nie.

Brand is die vyfde boek in die Thys Krige-reeks. Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en Plasenta was die eerste vier.

 

Niefiksie

50 Hoendergeregte
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799382853
R160.00

Jy loop ná ’n harde dag by die huis in, daar is die reuk van hoender wat prut… Ja, met hierdie resepte is dit moontlik, want selfs die niekokers in jou huis sal dit regkry. Of, as jy self moet kook, dan soek jy juis hierdie resepte met bestanddele wat reeds in jou koskas is of maklik by jou plaaslike supermark bekombaar is.

50 Hoendergeregte bevat vyftig veelsydige hoenderresepte wat aan gesinne maaltydinspirasie gedurende moeilike ekonomiese omstandighede bied.

Oondgerooster, oor die kole, as deel van bredies, sop of pasteie – hoender is maklik om voor te berei en ’n ekonomiese keuse vir elke gesin. Die resepte bestaan uit treffers soos:   Blatjanghoender, Oros-hoender, Hoenderbobotie, Romerige hoender-stroganoff, Pikante hoender-en-lensiesop, Pynappelhoender, Hoender-en-brokkoli, Hoendersamoesas ’n Appelkoos-en-hoenderpotjie.

Kinderboeke

Hoendervleis: Grillerige stories en rympies
Jaco Jacobs
Illustreerder: Juanette Smuts
ISBN: 9780799383874
R130.00

Kom slaap ’n nag lank in die spookkamer.
Vind uit wat gebeur as jy ’n poets op ’n onnie soos juffrou Grimbeek bak.
Waag dit om ’n paar baie spesiale handskoene aan te trek.
Ontdek die nuwe rugbyheld se grillerige geheim.
Vind uit waarom jou kleinboetie nog elke aand met sy bedlampie aan slaap.
En kom swem in die Middernagmeer… as jy dapper genoeg is.

Hierdie boek vol grillerige stories en rympies sal jou heerlik hoendervleis laat kry! Daar is ’n weerwolf wat saam op die skoolkamp gaan, ’n paar spokerige handskoene wat goed is met klavier speel, ’n baie vreemde onderwyseres – en iets wat jou die hardste van almal in die fliek sal laat gil!

Jong grilvrate sal versot wees op hierdie versameling stories en rympies uit die pen van Jaco Jacobs.

 

Volmaan
Jaco Jacobs
Illustreerders: Nico Meyer, Kobus Faber, Alistair Ackermann & Stephen Wallace
ISBN: 9780799380798
R150.00

Veertien jaar gelede het Jaco Jacobs se eerste boek, Troetelgedrog, verskyn. Nou word dit weer uitgegee in hierdie wonderlike omnibus saam met vier van sy ander boeke wat nie meer in omloop was nie: Tande, Nag van die monsters; Nagvlerke en Voelers.

Ontmoet ’n onderwyseres wat op volmaannagte in ’n weerwolf verander. Ontdek ’n speelding wat allerhande vreemde dinge begin aanvang. Vind uit van ’n eksperiment wat jou in ’n insek laat verander. Besoek ’n vakansieplaas waar reuse-vlermuise snags buite rondvlieg en gaan beleef ’n grillerige monsterfliek waaruit jy nie maklik ontsnap nie!

Kry jou flits uit, kruip onder die komberse in en maak gereed om lekker te ril en te gril met hierdie GROOT en GRILLERIGE versameling stories

 

La di da, Lulu
Fanie Viljoen
Illustreerder: Elsbeth Eksteen
ISBN: 9780799384291
R120.00

Lulu droom daarvan om eendag ’n modeontwerper te word. Niks is vir haar lekkerder as om pragtige ontwerpe in haar rooi tekenboek te skets nie.

Die skool beplan ’n spesiale verjaardagfees. ’n Groot fees met lekker kos, ’n pretpark en speletjies. Daarom vra die skoolhoof vir Lulu om nuwe uniforms vir die trompoppies te ontwerp. Iets asemrowends! Iets la-di-da waarmee hulle by die fees gaan optree.

Maar ongelukkig is daar ’n vreeslike misverstand – en Lulu verbrou haar enigste kans om die uniforms te ontwerp.

Lulu is stomgeslaan. Een van die ander kinders in die skool gaan die klere ontwerp en maak. Maar wie?

 

Lana en Rakker 7: Rakker word ’n ster
Holly Webb
Illustreerder: Kate Pankhurst
ISBN: 9780799366297
R100.00

Lana se maatjie, Lisa, is gekies om in ’n TV-advertensie te verskyn. Die enigste probleem is, dit is ’n advertensie vir hondekos – en Lisa is bang vir honde. Daarom besluit Lana om met haar hondjie, Rakker, saam te span om seker te maak Lisa skud vir eens en vir altyd haar vrees vir honde af. Maar dan kry die TV-mense onverwags ’n plaasvervanger-hond nodig – en Rakker kry uit die bloute die kans om ’n ster te word!

Jong troeteldierliefhebbers sal versot wees op Lana en haar ondeunde hondjie, Rakker, se skreeusnaakse avonture!

 

Lana en Rakker 8: Rakker en die troue
Holly Webb
Illustreerder: Kate Pankhurst
ISBN: 9780799366280
R100.00

Lana en haar sussie gaan blommemeisies op tannie Emma se troue wees. Maar Rakker is baie nuuskierig oor al die gewerskaf vir die troue – en hy wil ook deel van die planne wees. Lana wil graag hê Rakker moet troue toe kom, maar die res van haar gesin dink nie dit is ’n goeie plan nie. Kan Rakker hom lank genoeg soet gedra om ook na die troue genooi te word?

Jong troeteldierliefhebbers sal versot wees op Lana en haar ondeunde hondjie, Rakker, se skreeusnaakse avonture!

Stoot en trek

In Plaasdiere en Wilde diere kan babas en peuters uitvind wat ons oulike dierevriende doen. Hulle geniet hope genotvolle hand-oog-koördinasie terwyl hulle na die vrolike prentjies kyk, die interaktiewe elemente stoot en trek, en die stewige bladsye vasvat. Bekoorlike illustrasies leer hulle ook dat diere op verskillende en opwindende plekke bly.

Perfek vir klein vingertjies! Stoot hier en trek daar, en wat gebeur? Hope skaterlagpret en geleenthede om dinge te leer. Daar is twee titels in die reeks: Plaasdiere en Wilde diere.

Stoot en trek: Plaasdiere
Rachel Elliot
Illustreerder: Clare Fennell
ISBN: 9780799384246
R80.00

Stoot en trek: Wilde diere
Rachel Elliot
Illustreerder: Clare Fennell
ISBN: 9780799383812
R80.00

Ek lees self-reeks

’n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat jy vir jou kind kan gee!

Hierdie reeks is die perfekte wegspringplek vir beginnerlesers. Vind uit wat gebeur as Rooi Hen op ’n dag besluit om brood te bak, stap saam met die drie Rammetjies Rof oor die nare ou trol se brug, en ontmoet ’n padda wat op ’n dag baie, baie kwaad geword het…

Die Ek lees self-reeks bestaan uit pragtig geïllustreerde boeke, elkeen met ’n prettige dierestorie wat in eenvoudige taal oorvertel word sodat beginnerlesers dit maklik kan baasraak.

Elke boek bevat ook nuttige wenke wat ouers kan help om die jongklomp se leeslus aan te wakker.

 

Ek lees self: Rooi hen bak brood
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383706
R50.00

Ek lees self: Die drie rammetjies rof
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383713
R50.00

Ek lees self: Padda word kwaad
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383720
R50.00

Ek lees self: Muis red leeu se lewe
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383737
R50.00

Ek lees self: Die gans wat goue eiers kon lê
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383744
R50.00

Ek lees self: Sprinkaan leer werk
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383751
R50.00

Romanza

Bewustelik joune
Elsa Winckler
Superromanza
ISBN: 978 0 7993 8608 0
R210.00

Bruce Fordyce, die beroemde Comrades-atleet, het jare gelede al gewaarsku dat langafstandhardopers nie goeie troumateriaal maak nie…

Kris se lewe is weer op koers. Dit was vyf jaar van harde bene kou ná die aanval. Die letsel op haar gesig is steeds daar, die nagmerries ook. Haar verbreekte verlowing? Dit is iets van die verlede. Haar aanvallers is agter tralies.

Dit was ’n lang, lang pad waartydens sy baie van haarself geleer het. Om hierdie rede breek sy soms weg uit haar haar fisioterapiepraktyk om ander te help om bewustelik te lewe, mindfulness word dit in Engels genoem.

Tydens een van die kursusse kruis haar en Luca se paaie. Hy is ’n ultra-atleet wat nog verder hardloop as Bruce Fordyce. In sy wêreld daar nie plek is vir enigiets anders as hardloop nie, laat staan ’n vrou, veral nie een met issues nie. Daarvan het hy genoeg gehad.

Hoe gemaak as jy skielik ’n huis deel met iemand wat bewustelik dáár is? Wat doen jy as jy haar nagmerries nie kan ignoreer nie?

Luca moet fokus vir sy volgende wedren in Amerika om sy borge tevrede te hou. Hy moet wen, anders het hy verloor, dis sy leuse.

 

Liefde vir ’n ridder
Didi Potgieter
ISBN: 9780799385960
R85,00

Annabel en haar klein Ami moet vir drie maande in New York saam met JackParker in sy suite bly. Hy sal dit oorleef. Hy is tog immers nie die troutipe nie. Maar hoekom voel sy hart deesdae so snaaks?

 

Bêre my soen
Dina Botha
ISBN: 9780799385991
R85,00

Jaybee en Maxwell moet met mekaar trou want die eenwording van hul twee familiename sal ’n ongeëwenaarde sakeryk skep. Ai, maar sy is verlief op ’n ander man, Will, wat sy pas ontmoet het… Hoe gaan haar hart dit oorleef?

Maskerdans
Frenette van Wyk
ISBN: 9780799386028
R85,00

Loiselle is by Angelique Parfumeurs om die geur van Afrodite – die godin van liefde – in ’n bottel parfuum vas te vang. Nie om haar hart te verloor nie! Nie op haar baas Francois Valour of die geheimsinnige Kenzo wat sy by die maskerdans ontmoet nie.

 

Vonkelwyn en liefde
Madelein Stoltz
ISBN: 9780799386059
R85,00

Anouk se hardkoppige ouma veil haar in ’n e-pos aan haar gunstelingskrywer, Dexter Buys, op. Gelukkig sal sy nooit die man ontmoet nie. Maar Dexter is haar vriendin se nuwe swaer. Waarom voel Anouk afgehaal omdat hy haar nie herken nie?

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest