Leesvordering:

Nuut op Showmax

Feb 23, 2018

Kom ons Braai – Nuwe episodes

Suid-Afrikaners se gunstelingtydverdryf is nou ’n sosiale eksperiment. In Kom ons Braai neem drie paartjies wat mekaar nog nooit ontmoet het nie die uitdaging op om die ander vir ’n braai te nooi – en die vonke begin elke week sommer vinnig spat! Familieresepte en uithangkos ontmoet tipiese braaigeregte en allerhande geselsies om die vuur en die tafel, met deelnemers wat mekaar lelik uithaal wanneer hulle met die kamera en kykers gesels oor die kompetisie se braaivaardighede. Soms sal jy jou ore en oë nie glo nie, soms sal die braaigoed jou rasend honger maak en soms sal jy maar net jou kop kan skud en lekker lag vir die dinge wat kompeterende braaiers aanvang en kwytraak. Sien sommer die land terwyl sy mense om die vuur kuier en konkel. Nuwe episodes van Kom ons Braai is uitsluitlik vir ShowMax se internasionale intekenare beskikbaar.

 

Laat die potte prut – Nuwe episodes

Piet Marais en Frik Oosthuizen is die aanbieders van die potjiekosprogram Laat die potte prut, waarin drie spanne per episode teen mekaar meeding om die beoordelaars – en mekaar! – te beïndruk met hul potjiekosvernuf. Jy sal stomgeslaan word deur die kreatiewe en unieke geregte wat mense in potte opdis: van besonderse geurkombinasies tot nuwe weergawes van klassieke geregte, en selfs onverwagse nageregte en bykosse. Piet en Frik ken hulle storie, maar wanneer dit by potjies kom, staan die man op straat se talente dikwels nie terug vir dié twee professionele sjefs nie. Die aanbieders sien kosmaak op die vuur as die kookmetode van die toekoms – so berei jou voor met die splinternuwe seisoen van Laat die potte prut, uitsluitlik vir ShowMax se internasionale intekenare beskikbaar. Die resepte is van so aard dat jy dit self maklik by die huis ook kan probeer, so word geïnspireer om weer ietsie van jou vaderland in jou eie potjie te gooi.

 

Die Kliek – Nuwe episodes

Die Kliek is deesdae die coolste plek om liefde te vind – dit is nou as jy die soort persoon is wat dié tipe ding graag op TV doen terwyl ’n komediant met ’n skerp tong jou uithaal. Die mans word op hulle sosialemediaprofiele getakseer deur ’n groep vroue en moet hulself deur middel van fisiese uitdagings aan die vroue bewys. Uiteindelik kan die kêrel kies met watter meisie hy op ’n date wil gaan. Geen plase, beesmis of koeiparades nie – dis regte romanse in die 21ste eeu. Komediant Schalk Bezuidenhout het harte gesteel as die reeks se eerste aanbieder, en in die jongste seisoen neem stoute ou Jack Parow die leisels by hom oor. Om liefde te vind in die era van realiteitstelevisie en Tinder kan ’n komiese en bisarre ervaring wees – en op Die Kliek sien jy die beste hiervan. Nuwe episodes uitsluitlik vir ShowMax se internasionale intekenare beskikbaar.

 

Angelique & Jr. – Nuwe reeks

Om vir die eerste keer ma te wees, is ’n avontuur vol uitdagings, opwinding, nuwe ervarings en ontdekkings – maar dis beslis nie maklik nie. In Angelique & Jr., die realiteitsreeks oor ma-wees, verwelkom aktrise en TV-aanbieder Angelique Gerber ons in haar huis om saam met haar te leer oor ma-wees en allerhande dinge vir die eerste keer deur die oë van klein Jacques, haar seuntjie te ervaar saam met haar man, die rugbyspeler Jacques Potgieter. Elke episode beeld eintlik ’n dag in die baba se lewe uit, en ons ontmoet almal wat ’n rol in die Gerber-Potgieter huishouding speel en wat in Angelique en klein Jacques se daaglikse lewe betrokke is. Angelique neem ook dagboekvideo’s op wat aan klein Jacques gerig is, sodat hy eendag kan sien hoe belangrik hy vir haar is. Almal wat vir ’n kindjie sorg, sal kan identifiseer met Angelique & Jr. – uitsluitlik vir internasionale intekenare van ShowMax beskikbaar.

Nisboere – Nuwe reek

’n Boerdery hoef nie groot te wees om ’n tamaai impak te hê nie. Nisboere, Via se jongste landbouprogram, fokus juis op boerderye wat klein stukkies grond op merkwaardige maniere aanwend. Boere wat met interessante dinge soos laventel, olywe, eksotiese sampioene en miniatuurperde woeker, is hier in die kollig. Selfs kykers wat niks van boerdery weet nie sal die stories oor hoe en waarom die boerdery tot stand gekom het geniet, terwyl boere heelwat by dié nisboere sal kan leer. Die mense is doodgewoon, maar die boerderye is uniek: Ons praat hier van krokodille, proteas en tropiese visse, en die boerderye kan enigiets van ’n hektaar grond tot ’n kleindorpse motorhuis beslaan. Die aanbieders, Anrich Herbst, Chris de Clerq en Simonia Magardie deel ook nuttige wenke oor tuisgroentetuine. ShowMax se internasionale intekenare kry eksklusiewe toegang tot Nisboere en al die vreemde en wonderlike boerderye wat dié program ondersoek.

Op pad met Dana – Nuwe episodes

Dana Snyman is ’n Suid-Afrikaanse ikoon; ’n bekroonde joernalis en skrywer met ’n unieke blik op die land en sy mense. In hierdie reisreeks vat Dana die pad om met Suid-Afrikaners oor die spektrum heen te gesels en insig te kry in hoe mense leef en die wêreld beleef. Dana wend ’n opregte poging aan om die land te leer ken en te verstaan – om die hart van Mzansi te vind. Hy gesels met gewone mense en deel sy waarnemings oor roerende oomblikke wat hy langs die pad opmerk. Dana se liefde vir mense en sy deernis is aansteeklik, en dié reeks is ’n wonderlike manier om ’n ander kant te sien van ’n plek wat in soveel maniere bekend, en tog só onbekend kan wees. ShowMax se internasionale intekenare kry eksklusiewe toegang tot nuwe episodes van Op pad met Dana. ’n Meer gevoelige reisgenoot sal jy moeilik vind.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest