Leesvordering:

Nuwe jaar, nuwe dinge

Jan 10, 2022

Om ’n voorneme aan die begin van ’n nuwe jaar te maak kan netsowel ’n nuwejaarsvoorneme op sy eie wees – en ’n suksesvolle een daarby! Elke jaar, so te sê klokslag, dink die meeste mense aan die veranderinge wat hulle in die nuwe jaar wil aanbring, of die tipe mense wat hulle in die nuwe jaar wil wees. Selfs diegene wat doelbewus nié konkrete nuwejaarsvoornemens opstel nie, dink tog aan die moontlike koers wat hulle nuwe jaar gaan inslaan en wat hulle kan doen om moontlike uitdagings die hoof te bied. Die probleem is egter dat nuwejaarsvoornemens selde realiseer en dat hulle teen Maart, wanneer die blink voorkoms van ’n nuwe jaar afgeweer het, vergete is. Dié tendens is so algemeen dat daar selfs sielkundige studies daaroor gedoen word.

Hoewel die algemene sukses van nuwejaarsvoornemens nie te goed lyk nie, is dit tog nodig om sekere doelwitte vir jouself in die nuwe jaar op te stel om sodoende te kan groei. Die sleutel tot sukses is miskien om hulle met ’n ander benadering aan te pak. Dink klein, maar ook buite die boks.

Hier is ’n paar wenke om algemene nuwejaarsvoornemens aan te durf op maniere wat vir jóú kan werk:

Eins, zwei, drei – ’n nuwe jaar, ’n nuwe taal

Soos Chanté Kelder-Jansen van Rensburg geskryf het is die aanleer van ’n nuwe taal ’n avontuur en kan dit ’n nuwe wêreld vir jou oopmaak. As jy onlangs na ’n ander land verhuis het, kan dit jou nuwe wêreld dalk meer toeganklik maak. Indien jy daarna smag om na ’n eksotiese land te reis, maar jou verlof laat dit ongelukkig nie toe nie, kan dit selfs jou alledaagse wêreld meer opwindend maak.

Om ’n nuwe taal aan te leer hoef nie veeleisend te wees nie – kombineer dit met aktiwiteite wat jy geniet om elke dag te doen. As jy graag ’n bier drink ná uitkloktyd en dan toevallig iets ligs eet voor jou eintlike aandete, leer watter Spaanse “cervezas” en “tapas” jy die meeste sal geniet op jou besoek na Madrid. Vervang jou gunstelingsepie met ’n program in die taal wat jy wil aanleer. Netflix het ’n versameling programme in tale die wêreld oor – toets jou kennis en skakel die onderskrifte af!

Gebruik dit waarin jy goed is om jou te help met dit waarin jy wil verbeter.

Aanlynaankope – ’n euwel of ’n seëning?

As jy graag jou geld beter wil bestuur in die nuwe jaar kan aanlynaankope jou óf help óf hinder. Die meeste aanlynwinkels bied groot promosies aan as jy vir die eerste keer koop en volg dit daarna op met selfs meer aanbiedinge. Indien dié aanbiedinge té aanloklik lyk en jy koop slegs omdat dit op promosie is en nie omdat jy dit nodig het nie, is dit miskien tyd om jou gunstelingtoeps te verwyder. Aan die ander kant kan aanlynpromosies jou ook help om geld te bespaar deur uit die winkels weg te bly. Aanlynaankope dui ook onmiddellik die somtotaal aan, anders as die kassier wat jou eers ná die tyd skok met die skade aan jou sak.

Die een moet egter die ander uitkanselleer – bepaal watter inkopie-ervaring vir jou werk en begroot daarvolgens.

Bou “low-stakes”-vriendskappe

Tim Herrera skryf in sy artikel 8 Ways to Be Kinder to Yourself in 2020 dat “low-stakes”-vriendskappe of “weak ties” ’n goeie uitwerking op jou geluk het en jou nader bring aan ander mense in verskillende sosiale groepe of gemeenskappe. “Low-stakes”-vriendskappe verwys na mense wat jy min of meer elke dag raakloop – die persoon by wie jy jou koffie en koerant in die oggend koop of die koerier wat gereeld pakkies by jou werk aflewer. Deur hierdie vriendskappe te kweek bou jy aan netwerke wat voordelig kan wees in die lang termyn.

Charl, wat onlangs na die VSA verhuis en daar getrou het, het gewoonlik slegs met mede-Suid-Afrikaners óf sy verloofde se familie gesosialiseer. “My gesprekke was beperk tot dit wat ek reeds van Suid-Afrika weet en mense wat terug verlang huis toe. Ek het gevoel asof ek dag na dag dieselfde stories hoor al was ek in ’n vreemde land,” vertel hy.

Nadat hy geselsies begin aanknoop het met ’n Honduraanse verkoopsman wat gereeld by sy werk omgekom het om produkte af te lewer, het sy netwerk verbreed en sy lus vir avontuur opgevlam.

“Ek vlieg in Maart saam met hom na San Pedro Sula en van daar gaan ek deur die land toer. Ek het nooit gedink aan Honduras as ’n moontlike vakansieplek nie, maar nou is ek baie gretig om die land te sien en te beleef,” vertel Charl.

Maak skoon en gooi uit

Hoewel daar ’n string studies is wat bewys dat skoonmaak goed vir jou gestel is, is min mense oortuig dat skottelgoed was hulle werklik gelukkig gaan maak die jaar. Skoonmaak hoef egter nie ’n tandetreksituasie te wees nie, maar ’n manier om nuwe musiek, stokperdjies of foto’s te ontdek.

Werk deur jou Apple Music of Spotify en verwyder die liedjies wat jy in elk geval altyd oorsien. Jy vind miskien ’n treffer waarvan jy vergeet het en maak plek vir nuwe, beter liedjies om op saam te sing in die stort. Doen dieselfde met jou boekrak. Gooi weg die Austens en Brontë’s en wees eerlik met jouself: Is Victoriaanse literatuur regtig wat jy langs die swembad wil lees? Verwyder die 300 foto’s van jou kat en gunstelingcappuccino en maak plek vir die foto’s wat jy in die nuwe jaar gaan neem.

Dis dalk ’n cliché, maar onthou: Rome is nie in een dag gebou nie. Gee jouself tyd om te vind waarvan jy hou. En as iets nie vir jou werk nie, onthou, jy het nog 365 dae oor om te probeer.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest